Sunday, February 17, 2013

E-PREEK No.31 - JH 17:3 - DIE WESE VAN DIE EWIGE LEWE [1]

Daar is baie waarhede wat vasbeton moet wees in ons oortuigings en harte voordat ons in waarheid kan sê ons is Christene. Voorts het elke dissipel van die Here Jesus 'n hele klomp prioriteite wat sy lewe in beslag neem. Maar vir ons mag daar nooit iets belangrikers wees as om God te ken nie. Soos Jesus hier bid: dis die wese van die ewige lewe. Meer as enigiets, sal dit ons lewens tot in alle ewigheid in beslag neem  -  dié van ons wat deur geloof met Christus verenig is.

❏    Keer op keer en konsekwent beklemtoon die Bybel die belangrikheid van die kennis van die Here:
    Jer 9:23-24 (OAV): "So sê die Here: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die Here is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek 'n behae ...".
    Hosea praat baie hieroor. In 2:17-19 (OAV) belowe die Here: "Verder sluit Ek in dié dag vir hulle 'n verbond ... Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming. En Ek sal My met jou verloof in trou; dan sal jy die HERE ken". Dan treur die profeet omdat sy volk te gronde gaan weens 'n gebrek aan kennis (4:6). Van watse kennis praat hy? Enkele verse vroeër verskaf hy die antwoord: "... die Here het 'n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie" (4:1). Uiteindelik rig Hosea 'n dringende oproep tot sy volksgenote in 6:3: "En laat ons ken - laat ons dit najaag om die Here te ken ..." En hy rugsteun die oproep met 'n versekering van die Here: "Want Ek het 'n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers" (6:6).
    En so kan ons voortgaan: Spr 9:10 (OAV); Eks 33:13vv; 2Pt 1:2-3 (OAV); 1Jh 2:3-4; 4:7-8.

WAT IS DIE KENNIS VAN GOD?
❏    Allereers moet ons drie penne goed inslaan:

    •    Eerstens: sowel die Hebreeus as die Grieks vir "ken" is vol en gelaaide begrippe: om deur waarneming, oordenking en ervaring te ken. Dit het dus te doen met sowel objektiewe kennis as subjektiewe belewing.
    Die Bybelse begrip "om te ken" dui dikwels op 'n intieme verhouding en gemeenskap tussen persone. Gen 4:1:"En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword ..." (OAV).

    •    Tweedens: as mens Bybels wil omskryf wat die kennis van God behels, val dit op hoe dikwels dit in verband gebring word met 'n begrip en 'n belewing van Sy attribute, oftewel, die uitnemendhede van Sy karakter. Byvoorbeeld: Jer 9:24 (OAV) en Hos 2:18-19.

    •    Derdens, soos met alle kennis en verhoudinge, is daar ook hier sprake van graadverskille. Elkeen moet homself dus beoordeel: is dit tipies van my lewe; herken ek dit in myself?

❏    Kennis van God behels drie onderskeibare, maar onskeibare elemente.
        Kennis van God is:

Begrip van wat God Drie-enig oor Homself openbaar,
wat saamhang met
'n voortgaande, bewustelike en persoonlike wandel met Hom,
wat meebring
insig in Sy wil en weë

❏    Die eerste element het te doen met begrip van dit wat God oor Homself in die Skrif geopenbaar het.
Dit het daarom te doen met denke en studie.
    In1Jh 5:20 skryf die apostel: "En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken ...".
    Omdat die kennis van God méér is as op hoogte wees met feite oor Hom, reken sommige hulle kan wegkom daarsónder  -  en dis 'n fatale fout! Presies dít is die rede waarom God so baie oor Homself aan ons geopenbaar het.
    Sonder gedissiplineerde, denkende en biddende bestudering van wat God oor Homself in die Skrif openbaar, verval ons in 'n moeras van subjektiewe en eensydige willekeur. En misleiding is onvermydelik: ons skep 'n god na óns beeld. Dit lei dus tot effektiewe afgodery en al die verwronge lewensuitinge wat noodwendig daaruit voortkom.
    Wie in 'n denkbeeldige god glo, sal met 'n denkbeeldige verlossing  tevrede moet wees.
    J.I.Packer sê oor die bestudering van God se karakter: "No topic is greater, grander, or more important, and by the same token none is more demanding. It is the theological Mount Everest, and no one ever masters it or does it full justice."

❏    Die tweede element het te doen met gemeenskap met God.
Henog van ouds "het met God gewandel" (Gen 5:22, 24, OAV). Om God te ken is dus ook 'n persoonlike verhoudingservaring en word op minstens twee maniere beleef:

In dit wat God vir my doen: in gelowige herkenning, dankbare belewing en vererende erkenning van Sy attribute in aksie in my lewe
en
in hoe ek in respons vir Hom leef: in geloofsvertroue in Hom, asook liefdestoewyding en dankbare gehoorsaamheid aan Hom.

    Ons mag nooit by die bloot teologiese ophou nie. God het Homself nie aan die mens geopenbaar met die oog op die intellektuele en die spekulatiewe nie. Nee, Hy het Homself aan ons geopenbaar sodat ons Hom daarvolgens sal aanbid, liefhê en dien. Dis waarom die Bybel, as dit oor God praat, nie volstaan met abstrakte mededelings oor Hom nie, maar soos klokslag deursteek na die belewing van Sy attribute in persoonlike en alledaags-menslike terme.
    Nooit beskou die Bybel 'n waarheid as geken, voordat dit nie die leerling se lewe beheers nie. En van niks geld dit meer as van die kennis van die Here nie.
    Hierdie beklemtoning help ons om nie in 'n bloot serebrale en skolastiese Godsbeskouing te verval nie  -  iets wat leerstellig baie suiwer mag wees, dog terselfdertyd emosioneel en geestelik morsdood.
    Maar ewe belangrik is dit om te beklemtoon dat die wandel met God nie 'n bloot subjektivistiese en mistieke dialoog met Hom is nie.
    Enersyds wandel ek met God as ek steeds gelowig deur die bril van die Woord na my ganse lewe kyk. So sien ek dan in my omstandighede en lewensvoortgang Sy intieme betrokkenheid by my raak.
    Andersyds wandel ek met God as ek steeds gelowig die praktiese implikasies uitleef van dit wat Hy oor Homself geopenbaar het, en dit wat Hy uitdruklik in Sy Woord aan my beveel het. Dis met ander woorde my respons op Sy reddende inisiatiewe, Sy voortgaande liefdestrou en Sy soewereine regering in my lewe.
    Só word die genadeverbond  -  dat die Here  vir my 'n Vader sal wees en dat ek vir Hom 'n kind moet wees  -  'n daaglikse ervaringswerklikheid.
    Dit word pragtig geïllustreer in Dawid se lewe. Neem byvoorbeeld Ps 139. Hy skryf oor God se verhewe karaktertrekke  -  Sy alwetenheid, almag en alomteenwoordigheid. Maar hy doen dit nie in abstrakte terme nie; hy doen dit aan die hand van sy persoonlike ervaringe daarvan.
    Hier in Ps 139 word die Naam van die Here 6 maal genoem; en persoonlike voornaamwoorde wat na Hom verwys ongeveer 30 keer. En na homself verwys Dawid 'n stuk of 50 keer. Dus, in Dawid se diepste godsdiensbelewinge is daar eintlik net twee betrokkenes  -  hyself en die Here. Daarom praat hy nie van "Hy" nie, maar van "U"; nie van "mense" nie, maar van "ek".

❏    Die derde element het te doen met 'n insig in God se wil en weë.
    Volgens die NIV pleit Moses só in Eks 33:13 by die Here: "If you are pleased with me, teach me your ways so I may know you and continue to find favour with you." Ps 103:7 (OAV) sê dan: "Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade."
    Dit gaan hier oor 'n wysheid en 'n voortgaande vernuwing van denke wat my help om mý rol in die uitwerk van God se wil vir my lewe duidelik te onderskei. Rm 12:2 vat dit raak: "Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is."
    Hierdie saak het egter met meer as my persoonlike gehoorsaamheid te doen. Dis ook 'n insig in hoe die Here normaalweg in hierdie wêreld, in Sy kerk en met mense werk of nie werk nie. Dis 'n begrip van Sy ordes en die toepassing van Sy universele beginsels. Dis 'n verstaan van Sy voorkeure en afkeure  -  van dit wat Hom behaag en dit wat Hom vertoorn.

WAT SÊ DIT VIR ONS?
Tot sover vir die oomblik oor ons tema. Eintlik het ons nog net 'n paar fondasieklippe in posisie geplaas. Ek beoog om in 'n volgende preek te praat oor die praktiese riglyne vir ons najaging van die kennis van die Here. Dís eintlik waaroor dit gaan.
    By wyse van afsluiting wil ek net 'n enkele oproep tot julle rig: Gaan besin lank en diep en eerlik oor dit wat ons vanmôre behandel het!
    Veral moet jy jouself afvra of jy gebalanseerd en Bybels-verantwoordelik met die Here wandel. Is al drie die elemente van wat dit beteken om God te ken dus teenwoordig in jou lewe? En het jy werklik 'n persoonlike verhouding met die Here? Sit Sy vingerafdrukke dus op jou elke dag se bestaan? Is Hy by jóú betrokke. Sien jy dit raak? En leef jy 'n lewe van geloofsvertroue, liefdestoewyding en beginselvaste, kompromielose gehoorsaamheid aan Hom? Is jy aan Hóm toegewy?
    Waarom is hierdie sulke belangrike vrae? As jy 'n vreemdeling daarvoor is, glo ek dat ek met Bybelse mandaat vir jou kan sê dat jy heel waarskynlik nog nie die ewige lewe het nie!
    Moenie maar klakkeloos aanvaar dat jy nog altyd 'n goeie kerkmens en gelowige was nie. Want talle van ons kom uit agtergronde waar bedenklike skeeftrekkings oor hierdie saak aan die orde van die dag was  -  of dit nou 'n eensydige beklemtoning van die bloot verstandelike was, en of dit 'n emosionalistiese oorreaksie daarteen was.
    Nee! Nee! Toets jouself of jy met die ware Jakob besig is (2Kor 13:5). Want die Skrif waarsku ons oor en oor teen verkeerde leringe, teen selfmisleiding en teen 'n verwagting oor die ewige saligheid wat tevergeefs mag blyk te wees.
    En as jy die toets dop? Dan kom jy in nederige verootmoediging na Hom toe en pleit om Sy genade  -  totdat Hy jou verhoor. Hy belowe om diesulkes aan te neem en vir hulle te gee wat nodig is.
    Mag die Here een en elkeen van ons begenadig met 'n nugtere, volwasse, voete-op-die-grond en Geesverligte self-beoordeling!

Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment