Friday, March 29, 2013

E-PREEK No.250 - JH 19:28-37 - DIT IS VOLBRING!

Vandag is Goeie Vrydag. Ons dink met dankbaarheid terug aan Jesus Christus se kruisiging, toe Hy die ewige dood wat ons verskuldig was, namens ons ondergaan het.
    Ten diepste is dit waarom Hy mens geword het  -  Hy het gekom om te kom sterf. Ja, ja, Hy het vir ons gewys hoe om te leef  -  dwarsdeur Sy openbare bediening het Hy vir ons geleer hoe lyk 'n lewe wat Hom behaag en verheerlik. Maar dit was ondergeskik aan Sy eintlike motivering en doel. Ek sê weer, Hy het gekom om te sterf.

●    Wat ek nou wil doen, is om aan te toon dat Christus se kruiswerk absoluut genoegsaam is vir die redding van die heel ergste sondaars wat hierdie wêreld ooit gesien het. Maar, natuurlik, dan moet so 'n sondaar sy algehele vertroue in die verdienste van Christus stel, sonder om enigsins op enige eie-verdienste staat te maak.
    Eers dan, en niks vroeër nie, skuif die hele kwessie van gehoorsaamheid en goeie werke in die prentjie in. Ek beklemtoon dit só, omdat daar so baie kerkmense is vir wie Christenskap feitlik uitsluitlik gaan oor 'n lewe van goeie werke en  godsdiens.  'n Duisend maal, nee! Jesus Christus het nie bloot gekom om ons voor te gaan in binne-wêreldse moraliteit nie, uiters belangrik  -  lewensbelangrik!  -  soos dit is. Maar hieroor het ons dit nie nou nie.
    Nee, Hy het gekom om te sterf!

Jesus se enkelhartige gerigtheid

●    In Mt 20:28 sê die Here Jesus self vir ons waarom Hy na hierdie wêreld toe gekom het: om "Sy lewe te gee as losprys vir baie mense."

●    Die Here se wonderlike publieke bediening van barmhartigheid en goeie werke was alles 'n voorspel tot Sy uiteindelike verwerping, veroordeling en finale teregstelling. Sy kruisdood was die klimaks en hoofonderwerp van die goeie nuus, oftewel die evangelie. Oor en oor vertel die Evangelieskrywers hoe die Here Jesus, veral tydens die laaste maande van Sy bediening, Sy dissipels op die hart gedruk het dat die eintlike doel van Sy koms na hierdie wêreld toe was om te kom sterf.

    •    Onmiddellik na die uiters betekenisvolle moment, as Petrus namens die dissipels bely, "U is die Christus, die Seun van die lewende God" (Mt 16:16), sê Hy in al drie die Sinoptiese Evangelies: "Van toe af het Jesus dit duidelik vir Sy dissipels begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly ... en dat Hy doodgemaak moet word ..." (Mt 16:21; Mk 8:31; Lk 9:22).

    •    Net hierna lees ons dat Hy op die berg van verheerliking met Moses en Elia oor Sy "uitgang" praat (Gr. exodus) wat Hy "in Jerusalem sou voltooi" (Lk 9:31). En kort daarna sê Hy dit nogeens vir Sy dissipels (Mt 17:22-23; Mk 9:31; Lk 9:44).

●    Mens kan dit verstaan dat die dissipels Sy woorde nie kon begryp nie. Volgens hulle sou dit die mislukking van Sy sending beteken. Want in hulle agterkoppe was nog altyd die verwagting dat Hy in daardie dae Sy koninkryk hier op aarde gaan oprig. Selfs ná Sy opstanding het hulle steeds vir Hom gevra, "Here is dit nou die tyd dat U weer die koninkryk vir Israel gaan oprig?" (Hd 1:6).
    Mens kan verstaan, dat Jesus moes sterf, was sekerlik vir hulle ondenkbaar en verwarrend. Maar, uiteraard, toe die Evangelies jare later geskryf is, het hulle al goed begryp waaroor alles gegaan het.

●    As Jesus se onwrikbare gerigtheid dan was om
met Sy versoeningsdood die uitverkorenes as ewige bruid vir Hom los te koop, moet die vervolmaking van ons erfenis in Hom mos ook óns enkelhartige passie wees  -  naamlik die ewige heerlikheid saam met Hom as Sy bruid. Dit móét tog, nie waar nie!
    Luister na Hb 12:1-3: "... laat ons die wedloop wat vir ons voorlê met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins ... Hou Hom voor oë ..."

Ou Testamentiese Messiaanse profesieë

●    Eintlik moes die Here Jesus se gerigtheid nie 'n verrassing vir Sy dissipels gewees het nie. Die Ou Testament is immers vol profetiese vooruitskouings na die komende Messias en Sy lyding.

    •    Reeds direk na die sondeval reageer Adam in die geloof op God se belofte (Gn 3:20). Hy noem sy vrou "Eva":  lewegewer (Hb). Daarmee bely hy sy geloof dat sy vrou die grootmoeder gaan word van die lewendes  -  en veral van die Saad wat die slang se kop gaan vermorsel  -  díé Lewende (Gn 3:15).
    God aanvaar Adam se geloofshandeling. Hy maak vir hulle velklere (21). Daarvoor moet Hy diere slag  -  waarskynlik 'n vooruitwysing na die komende offerstelsel, wat weer vooruit gewys het na Christus se groot offer. Die Hebreeuse woord "versoening" beteken immers om te bedek.

    •    Sentraal in die offerdiens was die boodskap dat die dood van 'n plaasvervangende offer  -  wat God self sou voorsien  -  in die volheid van die tyd versoening tussen Hom en Sy volk sou bewerkstellig.

    •    Dan was daar die talle Messiaanse profesieë. Van hulle is geeneen meer duidelik as die Kneglied van Jes 52:13-53:12 nie. En let op hoe uitdruklik Sy plaasvervangende lyding uitgespel word en dat Hy die sondes van baie op Hom sou neem (53:4-6, 12).

Die apostoliese prediking

Die Here se kruisdood om vir Hom 'n bruid los te koop, en Sy opstanding, was die hart van die apostoliese prediking.
    Net 'n enkele voorbeeld of twee. In 1Kor 1:23 skryf die apostel: "... maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin...".
    En dan in die volgende hoofstuk: "Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde" (2:2).

Dit is volbring!

●    Die Here word dan inderdaad buite Jerusalem gekruisig. En net voordat Hy finaal sterf, roep Hy die mooiste woord in die ganse Bybel uit: "Tetelestai!" (die sesde kruiswoord  -  Jh 19:30). Dit beteken: "Dit is volbring!", maar in Grieks is dit 'n enkele woord.
    Kom ons besin kortliks oor hierdie uitroep.

    •    Die werkwoordstyd is die perfektum, wat in Grieks nie net wil beklemtoon dat die werk waarvoor Hy gekom het, afgehandel is nie, maar veral ook dat die gevolge daarvan vir altyd sal voortduur.

    •    Hierdie is dus nie die weeklaag van iemand wat oorwonne boedel oorgee nie. Dit is die dankbare jubeling van Een wat weet dat die taak waarvoor Hy gekom het triomfantelik afgehandel is en dat dit vir altyd so sal bly. Niemand  -  ook nie Satan en sy hordes demone  -  kan Sy werk ongedaan maak nie.

    •    Die talle Ou Testamentiese Messiaanse profesieë is almal vervul  -  behalwe natuurlik die wat moet wag vir die Koning se terugkoms. Die tipes en skaduwees en beeldspraak van Ou Testamentiese godsdiens word finaal soos vergeelde ou dokumente weggesluit in God se kluis van vergetelheid.

    •    Niks, maar niks, is uitstaande nie. Die aktiewe en passiewe gehoorsaamheid wat Sy vader van elke mens vereis voordat hy of sy gered kan word, is in Hóm vervolmaak. God se wet is vervul. En die vloek vir oortreding daarvan is namens dermiljoene lewens vanuit alle eeue en nasies gedra.

    •    Die pad na die ewige saligheid saam met hulle hemelse Bruidegom, is finaal en permanent oopgestoot vir elke begenadigde van God. En geen valhek sal ooit daar opgerig word nie.

    •    Waarlik, hierdie is die hoogtepunt van Johannes se evangelie  -  indien nie van die hele Bybel nie! Die enigste uitsondering is dalk die oomblik van Christus se opstanding.

Ten slotte

Nou mag daar tog mense onder ons wees wat wonder of Jesus se kruisdood werklik alles afgehandel het  -  mense wat wonder of jy nie tóg darem iets van jou kant af moet bydrae nie. Daar mag mense wees wat wonder of ons nie dalk te veel van Jesus se uitroep, "dit is volbring!", maak nie. Per slot van rekening is daar so ontsaglik baie op die spel vir 'n mens, dat jy eenvoudig nie kan bekostig om hier 'n fout te maak nie.
    Vir seker moet ons hierdie dinge glo  -  net gló  -  as ons gered wil word. Maar tog kom die Vader sulke Thomasse tegemoet. En is ons nie maar almal twyfelaars nie? Hoe doen Hy dit?

●     As die Here Jesus die laaste asem uitblaas, skeur die voorhangsel in die tempel  -  van bo na onder. Hoe kom dit ons kleingeloof tot hulp?
    Eerstens, die feit dat dit van bo na onder skeur, sê vir ons dat dit God self is wat dit skeur.
    Tweedens maak dit die pad na die allerheiligste oop  -  die woonplek van God alléén tot op daardie moment. Net die hoëpriester kon eenmaal per jaar met 'n offer daar ingaan. Nou egter is dit oop vir elke kind van God om toe te tree  -  net wanneer hy wil.

●    Dat hierdie 'n geweldige moment is, blyk uit die feit dat die aarde skud en die rotse uitmekaar bars. En baie gelowiges wat dood was, word opgewek  -  om daarmee te toon dat die dood van Jesus as die Middelaar die opstanding van diegene wat deur 'n ware geloof vir altyd met Hom verenig is, onomkeerbaar waarborg.

●    Net 'n laaste versekering. Die eeue-oue Psalm wat Jesus in Sy vierde kruiswoord aanhaal, sluit wonderlik vertroostend af. Psalm 22:23-32 beskryf die verlossingsvreugde en ewige sekuriteit van God se begenadiges. En dan eindig die Psalm, wat begin met "My God, my God, waarom het U my verlaat?", met 'n enkele Hebreeuse woord  -  vertaal met, "Hy het dit gedoen!" (OAV).
    En dan kom die Septuaginta  -  die Griekse vertaling van die Ou Testament  -  eeue later, maar tog ook meer as twee eeue vóór die Here Jesus se kruisdood, en vertaal hierdie enkele Hebreeuse woord met 'n enkele Griekse woord: "tetelestai!".

●    Waarlik, versoening deur Christus se gestorte bloed aan die kruis, sal steeds die hart van die evangelienuus bly, die skerp punt van alle ware prediking, die tema van die verordeninge van doop en nagmaal, en die inhoud van ons lofprysing   -  tot in ewigheid. Soos Op 4 & 5 dit stel: Die ouderlinge, en die lewende wesens, en tienduisende maal tienduisende engele, en alle skepsele in die hemele en op aarde, sal die Lam se lof besing: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met U bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie." En die hele skepping sal uitroep: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid."
                                                                                                             Nico van der Walt

*    Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.
*    Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115.   E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 011 476 2907; 082  848 9396.
*    Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
*    Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
*    Geen kopiereg.     Dupliseer gerus.    Of stuur elektronies verder.
*    Preekopnames: E: info@nunide.org.za ;  T: 012-808 3906

No comments:

Post a Comment