Sunday, June 24, 2012

E-PREEK No.28 - HB 5:11-6:12 - GELOOFSAFVAL

Die Hebreërbrief word geskryf aan Joodse Christene wat begin moeg word in die geloofswedloop en oorweeg om na Ou Testamentiese godsdiens terug te keer. Die skrywer probeer met alles waaroor hy beskik om hulle van sulke dwase, fatale geloofsversaking te laat afsien.
    In die proses rig hy vyf baie, baie ernstige pastorale waarskuwings teen geloofsversaking: 2:1-4; 3:7-4:13; 5:11-6:12; 10:26-39 en 12:14-29.

'n Nadere kyk na Hb 5:11-6:12

❏    Van die Hebreërs loop gevaar om geloofskipbreuk te ly. Daarom moet nou reguit gepraat word. Hulle het wonderlike genadewerkinge van die Here beleef en sal geen verskoning hê as hulle die geloof versaak nie.

❏    Daar word baie gemaak van die lesers se kennis van die waarheid. Ja, 6:4-5 word van denkbeeldige mense gesê. Maar dit sinspeel op die Hebreërs se belewinge. Oor en oor het hulle onweerlegbare getuienis oor Christus ontvang.
     Vyf belewinge word in 6:4-5 genoem: hulle het op 'n stadium innerlike verligting ontvang, die hemelse gawe geproe, deel gekry aan die Heilige Gees, die goeie woord van God geproe en die kragte van die toekomstige wêreld geproe (lett.).

❏    Sou hulle egter terugdraai na die Joodse geloof, sal dit 'n verwerping van Christus wees. Dan sal dit onmoontlik wees om weer tot bekering te kom.

❏    Die sonde waarteen hier gewaarsku word, is bewustelike en berekende verwerping van waarheidsgetuienis oor Jesus Christus  -  wat oor 'n tydperk om jou en in jou eie lewe onweerlegbaar was en ook duidelik deur die Gees in jou hart bevestig is.
    Dis bes moontlik dieselfde sonde waarvan in Mt 12:31-32; Mk 3:28-30; Lk 12:10; 1Jh 5:16-17 en 2Pt 2:20-22 gepraat word.

Wat van die heiliges se volharding?

❏    Wat die skrywer hier sê maak sin. As mense na súlke belewinge van die Here se genade Hom die rug toekeer, verdien hulle om verwerp te word.
    Die probleem kom in as ons dit wat hier geskryf is, vergelyk met ander waarhede wat elders in God se Woord sterk beklemtoon word. Wat van die Here se versekering dat Hy ons sal vergewe as ons ná sonde in verootmoediging en belydenis na Hom toe terugkom? En wat van die Bybel se lering dat die Here diegene wat aan Hom behoort enduit vashou?
    Leer die Skrif nie dat geen enkele uitverkorene verlore sal gaan nie? Wat van Jh 10 waar die Here uitdruklik sê dat die skape wat die Vader aan Hom as Goeie Herder gegee het, nooit verlore kan gaan nie? Hy gee immers aan hulle "die ewige lewe". Niks kan hulle uit Sy of die Vader se hand ruk nie. Hulle sal "in alle ewigheid nooit verlore gaan nie".

❏    Dis alles waar! Maar die Hebreërskrywer dink nié aan mense wat die geloof versaak as wedergebore nie. Verse 7-8 is 'n kort gelykenis wat aan die voorafgaande met "want" (OAV) verbind word. Dit bied dus 'n verduideliking daarvoor.
    Die reën wat gereeld val, is 'n beeld in die Bybel vir God se seën. Hier dui dit op die ervaringe in v.4-5. Maar reën val op alle soorte grond. En solank die grond nog kaal is, weet mens nie wat daar gaan opkom nie  -  bruikbare gewasse of onkruid.
    Die verskil lê dus nie in die reën wat val nie, maar in die soort grond. Mense wat na súlke ervaringe die geloof versaak, bring onkruid voort. Dis wat ná die Here se goedheid volg, wat die gesteldheid van 'n mens se hart uitwys.

❏    Die Bybel beklemtoon dat daar 'n onverbreekbare verband tussen hart en uitlewing is. Die punt van hierdie gelykenis is dít: geloofsversaking is eenvoudig die bewys dat die hart nog nooit herskep is nie.
    Hb 6:9-12 bevestig ons slotsom. Die skrywer glo, ten spyte van sy waarskuwings, dat sy lesers wel gered is en gevolglik die geloof nie sal versaak nie: "... geliefdes, ons is aangaande julle van beter dinge oortuig ..." (OAV). Wat is die "beter dinge"?
    Verse 10-12 begin weer met "want" (OAV) en verduidelik dus v.9. Die "beter dinge" is die lesers se liefde (10), hoop (11) en geloof (12).
    Beter as wat is dit? Beter as die belewinge van v.4-5! Waarom? Omdat dit "saamhang met die saligheid" (v.9b, OAV). Die merktekens van ware redding  -  die enigste betroubare merktekens  -  is dus al lankal onmiskenbaar duidelik in hulle!

Kan ongeredde mense dit ervaar?

❏    Onmiddellik ontstaan daar nou 'n nuwe vraag. Is dit enigsins moontlik dat onwedergebore mense die belewinge van Hb 6:4-5 kan hê?
    Inderdaad! Dink aan die res van die Skrif. Dink aan 'n Saul en 'n Bileam  -  die klassieke dwaalleraar volgens die Nuwe Testament (Num 24:15-19; 31:8, 16; 2Pt 2:15-16; Jud 11; Op 2:14). En dink aan 'n Judas Iskariot, 'n Simon die Towenaar; 'n Demas. Het hulle nie almal die Heilige Gees se werk proefondervindelik geken nie?
    Wanneer mens se oë hiervoor oopgaan, is dit skokkend om in die Skrif te sien tot watter mate die Heilige Gees in en deur mense kan werk  -  alles duskant die wedergeboorte (vgl. Mt 7:21-23).

❏    Die vermaarde en regsinnige teoloog, John Murray, skryf:

 "Die Skrif leer ons dat dit moontlik is om 'n opwindende, lewensveranderende, veredelende ervaring van die krag en waarheid van die evangelie te hê  -  sonder om werklik saligmakende geloof te hê. Dit is moontlik om  so naby te kom aan die bonatuurlike kragte wat in God se koninkryk van genade werksaam is, dat dit effekte op jou het wat beswaarlik onderskeibaar is van dit wat God se wederbarende en heiligmakende genade voortbring  -  sonder om 'n deelgenoot van Christus en 'n erfgenaam van die ewige lewe te wees.
    'n Leerstuk van geloofsvolharding wat nie deeglik rekening hou met die moontlikheid en realiteit van sulke gevalle nie, moedig 'n laksheid aan wat volharding alles behalwe bevorder. Trouens, dit is hoegenaamd nie die Bybelse leer van die volharding van die heiliges nie"  (Redemption  -  accomplished and applied, p.153).

Wat is hierdie sonde dan?

❏    Ons moet die aard van hierdie sonde baie goed verstaan. Want baie opregte Christene word gefolter deur die misplaasde vermoede dat hulle skuldig is daaraan. Aan die ander kant glo duisende mense dat hulle finaal gered is as hulle eenmaal 'n sondaarsgebed gebid het. Hulle maak van "eenmaal gered, altyd gered" 'n vrypas hemel toe  -  ongeag hoe hulle ook al ná hulle "bekering" mag lewe.

❏    Die onvergeeflike sonde het drie fokuspunte:
    Eerstens word hierdie sonde gepleeg deur mense wat diep in hulle harte waarlik weet dat Christus presies is wat die evangelie van Hom getuig. Hulle het rondom hulle onbetwisbare bewyse daarvan gesien. En innerlik het hulle 'n diep oortuigingswerk van die Gees daaroor ervaar. Meestal het hulle ook die Here se genadewerkinge in 'n lewende gemeente beleef.
    Tweedens word hierdie sonde gepleeg deur mense wat, ten spyte van die Gees se bemoeienis in hulle verlede, Christus willens en wetens verwerp.
    Derdens is dit onmoontlik om so 'n persoon weer tot bekering te bring. Sondevergiffenis is nie meer moontlik nie. Dit loop noodwendig uit op God se verskriklike oordele. Die Skrif bedoel nie dat dit vir die Gees onmoontlik is om so 'n persoon tot inkeer te bring nie. Maar diegene wat hom of haar probeer bearbei, vind dat hulle niks uitrig nie. Waarom? Die Here gee eenvoudig nie die nodige bekeringsgenade nie. Gevolglik het so 'n persoon geen begeerte na redding nie.
    Wat dan van Esau wat onder trane begeer het om sy dwaasheid reg te stel (Hb 12:17)? Dit was nie egte berou nie, maar bloot hartseer oor die seën wat hy deur sy vingers laat glip het.

Wat is hierdie sonde dus nie?

❏    Hierdie sonde word nie onbewustelik gepleeg nie. In Lk 23:34 bid Jesus, "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie." In 1Tm 1:13 skryf Paulus dat die Here hom in Sy diens gestel het, "al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig ... omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek gedoen het nie."

❏    Mense wat opreg begeer na vrede met God en sekerheid van saligheid, het vir seker nie hierdie sonde gepleeg nie. Nee, hierdie sonde lei tot 'n hardheid van hart en 'n ongeërgdheid oor die Here.

❏    Mense wat die evangelie hoor  -  selfs herhaaldelik en duidelik  -  maar Christus steeds nie aanneem nie, het nie sonder meer hierdie sonde gepleeg nie. Natuurlik leef diesulkes in sonde, maar as hulle nie 'n diep oortuigingswerk van die Gees ervaar het nie, is hulle nie aan híérdie sonde skuldig nie.  Laat elkeen wat Christus tot nou toe verwerp het en bang is dat hy hierdie sonde gepleeg het, homself waarlik bekeer  -  en Hy sal sekerlik vind dat die Here hom aanneem.

❏    Mense wat in ongeloof, onkunde en dwaasheid onverantwoordelike, selfs lasterlike dinge teen die Gees gesê het, het verskriklik gesondig  -  maar dis nie die onvergeeflike sonde nie.

❏    Die Skrif waarsku dat ons met ons sonde die Heilige Gees bedroef (Ef 4:30), en dat ons Sy werk in ons midde kan uitblus (1Ts 5:19, OAV). Beide waarskuwings moet baie ernstig opgeneem word  -  maar ook dit is nie die onvergeeflike sonde nie.

Volharding van die heiliges

❏    Volgens die Skrif is dit 'n verskriklike moontlikheid om vir 'n lang tyd in die kring van die gemeente, en dus in die sfeer van God se genadewerkinge te beweeg  -  en tog uiteindelik vals blyk te wees. Dis waarom Johannes kan praat van mense wat eens in die gemeente was, maar hulle dan afgeskei het, omdat hulle nooit werklik deel van Christus se liggaam was nie (1Jh 2:19). Dis waarom Paulus gelowiges oproep om hulleself op die proef te stel of hulle in die geloof is (2Kor 13:5, OAV).

❏    Volharding van die heiliges is egter steeds 'n heerlike Bybelse waarheid. Maar dan moet dit reg verstaan word:

Diegene wat God vir Homself geheilig het (oftewel afgesonder het) sal Hy bekragtig om heilig te volhard tot die einde toe.
    En 'n heilige lewe het maar één watermerk van egtheid: gehoorsaamheid aan God se Woord, vanuit 'n hart vol geloof in Christus, en gedring deur 'n hartstog vir Sy eer.


                                                                                                        Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment