Saturday, June 23, 2012

E-PREEK No.219 - 2 SAMUEL 7:18-29 - DAWID SE GEBED

As die Here Sy planne aan ons bekend maak, dan is die veronderstelling dat ons nie net daarvan sal kennis neem nie, maar daarop sal reageer. Dit geld vir alle toekomsprofesieë in die Bybel. Ons moet ons daarin verlustig en die Here daarvoor dank, skouer aan die wiel sit om mee te werk aan die vervulling daarvan, en bid dat dit sal realiseer.
    Dawid het dit verstaan. Daarom is sy eerste reaksie op God se verbysterende beloftes om in sy binnekamer in te gaan (18a).
    Dit is meer as die moeite werd om nader na hierdie aangrypende gebed te kyk.

Dawid se verwondering (7:18-22)

Dis belangrik om raak te sien hoe Dawid begin ‒ met ekstatiese verwondering en lofprysing oor God se onuitspreeklike genade. En, onthou, genade is altyd die allerhoogste, algenoegsame, algeheel soewereine God se afbuig in liefdesguns na mense wat hoegenaamd nie Sy goedheid verdien nie; trouens, wat net Sy oordele verdien.
En presies hierdie wete oorheers Dawid se emosies op hierdie oomblik: "Wie is ek ... wie is my nageslag?" En presies hierdie belewing lê altyd aan die hart van 'n egte verhouding met die Here.
    Niks is 'n meer noodwendige uitvloeisel van ware geloof as nederigheid nie; en niks is meer onversoenbaar daarmee as trots nie.

God se genade in die verlede (18)

Ware dankbaarheid vergeet nooit nie. Kyk net hoe het U my en die volk tot hier toe gedra, sê Dawid. Nooit het hy vergeet dat die Here hom agter die skape gaan haal het nie (8). Was dit nie daarvoor nie, was hy steeds een van die brandarm kleinboere van destyds. En hoe vol drama en lewensgevaar was sy lewe nie in die jare wat daarop gevolg het nie! Maar deur dit alles was die Here se beskermende en versorgende hand steeds op en onder en om hom.

God se beloofde genade (19)

Heerlik soos Dawid se verlede is, is dit soos niks nie in vergelyking met God se duiselingwekkende beloftes vir Dawid se nageslag ‒ tot in die verre toekoms. En veral dít maak Dawid opgewonde.

    •    Die laaste sin van v.19 is eksegeties baie moeilik. Letterlik staan daar: en dis die torah (of wet) van die mens (vgl. OAV). Wat bedoel Dawid?
    As mens eenmaal deur al die vertolkingsmoontlikhede gewaad het, lyk dit asof Dawid bedoel dat hierdie plan van God alle mense se lewens gaan raak. Dalk dink Dawid hier aan God se soortgelyke belofte aan Abraham dat hy en sy nageslag tot seën sal wees vir alle nasies (Gn 12:1-3). Dawid is immers 'n nakomeling van Abraham.
    En is dit nie so nie? Hier leef ons 4000 jaar ná Abraham en 3000 jaar ná Dawid aan die suidpunt van Afrika, en hierdie beloftes van God het ook op ons 'n diep-ingrypende invloed. Trouens, waarskynlik is daar niks belangriker in ons lewens as die vervulling daarvan nie. En dit geld nie net vir ons nie, maar vir dermiljoene dwarsdeur die geskiedenis en regoor die aarde.

God se soewereine genade (20-22)

Dawid se hart wil steeds bars van dankbaarheid en verwondering, maar sy woorde het opgedroog. Wat kan hy nog verder sê? Maar hy het darem díé troos, die Here weet wat in sy hart lewe.
    Die mees geheimenisvolle van God se raadsplan en verlossingsgenade lê in die soewereine aard daarvan. Op die vraag waarom God besluit het om Dawid en sy nageslag so ryklik te begenadig, kan mens net een antwoord gee: dit was Sy wil! Net soos ons, as dit oor die genade gaan wat God se gunsgenote ontvang, kan ook Dawid niks verder kom met 'n verduideliking nie.
    En uiteindelik is daar maar één slotsom: God is groot en uniek. Daar is niemand bo of selfs naas Hom nie. Allermins kan die ander nasies se gode met Hom meeding. Hy is die Gansandere.

God se begenadigdes (23-24)

Nie alleen is God algeheel uniek nie, ook Sy begenadigde volk is uniek. Nie dat dit altyd so was nie, inteendeel ‒ maar dis die Here se genade wat hulle anders as elke ander volk gemaak het. Waarin dan lê Israel se uniekheid?
    Eerstens lê die volk se uniekheid in die feit dat hulle 'n verloste volk is (23b) ‒ in húlle geval uit Egipte. Maar die Here het hulle nie net uit slawerny verlos nie, Hy het hulle vir Homself verlos. By Sinai stel Hy dit só: Ek het julle op arendsvlerke na Mý toe gebring, en julle sal Mý eiendom uit al die volkere wees (Eks 19:4-6). Let op, die Here maak vry, maar nooit onafhanklik nie. Hy red ons nie bloot omdat Hy jammer voel vir ons nie. Hy los ons nie bloot in 'n vakuum nie. Nee, Hy red ons omdat Hy ons wil hê. God is nie 'n onpersoonlike krag nie. Hy is iemand wat liefhet en wil versorg. Hy het innige vreugde in Sy groot verlossingsdade en die liefdesgemeenskap van Sy verlostes. En Hy wil liefgehê word.
    Tweedens lê die volk se uniekheid in die feit van hulle onwankelbare permanensie (24a). Hulle is "bevestig" (OAV), oftewel "gevestig" (NAV). Die begrip beteken om veranker te wees. En só sal dit wees tot in ewigheid. Dis nie omdat hulle self so sterk is nie; dis omdat hulle deur God geplant is, en deur Hom in stand gehou word.
    Derdens is die volk onbeskryflik bevoorreg (24b). Hulle God is Jahweh. Watter heerliker voorreg kán daar wees! Hierdie woorde is deel van die tipiese verbondsformule wat ons regdeur die Skrif kry: Ek sal vir julle 'n God wees, en julle sal vir My 'n volk wees." Hierdie is die woorde van 'n huwelikstoewyding: ons sal aan mekaar behoort ‒ ek sal joune wees, en jy myne. En onthou, God is geen mens wat môre, oormôre Sy verbondstoewyding vergeet nie. Hy skei nie!

Dawid se pleitdooi (7:25-29)

Nou eers begin Dawid met Sy versoeke. En dis alles behalwe 'n inkopielys. Trouens, hierdie kort en kragtige petisie bevat 'n paar gebedsbeginsels wat vir ons van groot belang is.

1.    Die waarborg dat hierdie duiselingwekkende beloftes in vervulling kan en sal gaan, is die feit dat die Here niemand minder as God self is nie (28a).
Dawid is nie benoud dat die beloftes nie in vervulling sal gaan nie: "... Here, U is God. U woorde sal bewaarheid word. U het hierdie ... belofte ... gemaak." Dis immers die ewige, almagtige en soewereine God wat beloof het.
    Laat ons onthou met wie ons te doen het. Hy is geen mens wat vandag daar is, maar môre weg nie. Hy stuur alles volgens die raadsplan van Sy wil. Hy wat die hemel en die aarde met die spreke van Sy mond gemaak het, kán alles wat Hy besluit het tot stand bring  -  en Hy sál dit ook doen. En niks gee Hom groter vreugde as om te seën nie.
    Daarom kan Dawid só afsluit: "Here my God, U het gepraat en omdat U seën, is die koningshuis van u dienaar vir altyd geseën" (29b). Hieroor het Dawid geen twyfel nie; dis vaster as die berge.

2.    God se beloftes wil ons egter nie ontmoedig om te bid nie; veeleerder wil dit die wegwysers wees vir ons versoeke en versugtinge.
Dawid sit nie maar selftevrede agteroor nie  -  met 'n wag-en-sien houding. Die teendeel is waar: God se beloftes beteken harde gebedsarbeid vir hom. Hy vra dat God se verstommende beloftes historiese werklikheid sal word. Hy begin dan ook só (Hb. lett.): En nou, o Here God, die woord wat U gespreek het, oor U dienskneg en sy huis, bevestig dit vir ewig, en doen soos U gespreek het.
    Ons sien dit ook in v.27b: "U het ... gesê ... daarom het U dienaar die vrymoedigheid ... om hierdie gebed tot U te rig."
    God se beloftes is dus die basis van sy gebed ‒ sy uitgangspunt, sy inspirasie en sy riglyn. Hier is dus die beginsel: Gebed bepleit beloftes!

3.    Ware gebed word voortgestu deur 'n hartstog vir God se eer (25b-26a).
Uitdruklik motiveer Dawid sy pleitdooie só: "Doen tog soos U belowe het, sodat u Naam vir altyd groot kan wees as daar gesê word: 'Die Here, die Almagtige, is God van Israel'".
    Laat ons nie verwag dat ons selfsugtige gebede verhoor sal word nie. Ja, die Here het vir ons baie beloftes gegee, en vir die vervulling daarvan móét ons bid. Maar laat ons onthou, selfs dan gaan dit ten diepste altyd oor Sý eer.

Die reeds en nog nie van die vervulling

Presies hier lê ons gebedstaak vandag nog. Ons moet as die Here se medewerkers as 't ware Sy beloftes in vervulling in bid. Maar dan moet ons reg bid. Ons moet seker maak dat die beloftes inderdaad op ons betrekking het. Van die beloftes wat in hierdie hoofstuk aan Dawid gemaak word, kan ons egter sonder voorbehoud sê dat hulle vuurwarm relevant is in ons dag. Laat ons dus met ywer bid dat die koninkryk van Dawid se Messiaanse Seun in elke nasie, stam, volk en taal sal kom. Ja, Hy hét gekom en Sy koningskap is 'n werklikheid in miljoene lewens wêreldwyd, maar Sy regering is nog nie so volkome, publiek en universeel soos dit moet nie. In die realisering hiervan het ons as Sy medewerkers 'n groot rol om te speel. En dit sluit onder meer jou en my volhardende gebedsarbeid in.
    Ten slotte, hoe bevoorreg is ons nie! Net in die geloof kon Dawid God se beloftes vashou. Maar ons hoef bloot terug te kyk om te sien dat die finale Koning van Dawid se dinastie inderdaad gekom het presies soos God belowe het. En dag na dag beleef ons Sy aktiewe heerskappy.
                                                                                                             Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment