Saturday, June 23, 2012

E-PREEK No.218 - 2 SAMUEL 7 - GOD SE VERBOND MET DAWID

Die verbondsark is na vele omswerwinge en drama uiteindelik weer veilig in die tabernakel (h.6). Dawid is op die kruin van sy koningskap, al die vyande rondom sy landsgrense is verslaan, en hy en sy talle vrouens woon in 'n luukse paleis.
    Een dag begin iets die koning egter pla. Hy woon in 'n luukse paleis, maar die Here in 'n tent. Die ark, simbool van God se teenwoordigheid in die midde van Sy volk, staan in die tabernakel. Iets moet dadelik daaraan gedoen word. Die profeet, Natan, dink ook dis 'n briljante idee. Dis so voor die hand liggend. Hulle moes lankal daaraan gedink het.
    Wat nou volg, is God se verbondsluiting met Dawid. Die gedeelte bied ook vir ons wonderlike perspektiewe op God ‒ wie en wat Hy is.

Ons sien God die liefdevolle (5-7)

Eerstens sê die Here met Dawid deur die profeet: Het Ek ooit deur die eeue gemor omdat My volk My afskeep? Nee, Ek het nooit daarop aangedring om te vestig nie. Ek het kruis en dwars saam met My volk getrek. Solank Ek by My geliefde kinders is, is Ek vergenoegd.

Ons sien God die inisiatiefnemer (11)

Voorts sê die Here vir Dawid: Wil jý vir My 'n huis bou? Daar is so iets soos onvanpaste liefdesbetuiging teenoor God.
    Ja, later kan daar wel 'n tempel gebou word, maar eers as sekere ononderhandelbare beginsels stewig vasgemessel is. Waaroor dit nou eers gaan, is dat God vir Dawid 'n huis sal bou (11). Altyd, altyd, altyd, sal Hy die inisiatiefnemer bly. Só is dit konsekwent regdeur die Skrif. Dis 'n beginsel wat in beton gegiet is.
    Die huis wat die Here vir Dawid sal bou, sal 'n nageslag, 'n dinastie wees. Só word die begrip ook in die Bybel gebruik.

Ons sien God die genadige (8-11)

❏    Waarom dring die Here so kompromieloos daarop aan om altyd die inisiatief te behou? Dis omdat Hy by uitnemendheid 'n God van genade is, en per definisie is genade inisiatiefneming en nooit respons nie.

❏    Verse 8-11 onderstreep God se genadesinisiatief in die verlede en in die toekoms.

    •    Laat Dawid God se genade raaksien op sy pad tot hier toe. Die Here het hom verkies (8b). Die Here was altyd by hom (9a). Die Here het hom beskerm (9b).

    •    En laat Dawid verseker wees van die Here se genade in die toekoms. Die Here sal hom 'n groot naam gee op aarde (9c). Die Here sal hom rus gee van sy vyande (11b). Die Here sal vir hom 'n koningshuis vestig (11c).

    •    En, sentraal geplaas, word beklemtoon hoe goed God vorentoe vir Sy volk sal wees (10-11a).


Ons sien God die verbondsgetroue (12-16)

❏    Uiteindelik word dit glashelder duidelik dat, hoewel die woord self nie hier gebruik word nie, God besig is om 'n verbond met Dawid en sy nageslag te sluit. Dis die hart van wat hier aan 't gebeur is. Hierdie beloftes gaan nie deur die stormwinde van die geskiedenis weggewaai word nie. Nee, hulle staan vaster as die berge!

    •    Dawid se dood sal die beloftes nie ongedaan maak nie (12-13). Trouens, hierdie beloftes hou tot in ewigheid stand.

    •    Sonde sal die beloftes nie ongedaan maak nie (14-15). Ja, Dawid se nageslag gaan tragies misluk, maar, al is dit dan deur beproewing en loutering heen, sal die Here hulle terugbring. Mens sien dit in Salomo se lewe; mens sien dit in die volk se bestaan. Selfs 'n ballingskap is aangewend om die volk te suiwer.

❏    Veral sien ons die verbondskarakter van die Here se beloftes in twee dinge:

    •    Eerstens: in v.14 maak God 'n belofte wat regdeur die Skrif aan die hart van Sy verbondsonderneminge is: "Ek sal vir hom 'n Vader wees en hy sal vir My 'n seun wees." Dis hier gerig op Salomo spesifiek, maar sekerlik geld dit ook vir Dawid se hele nageslag. Die belofte word immers in die komende eeue  oor en oor aan hulle herhaal.

    •    Tweedens: in v.15 gebruik die Here 'n verbondswoord by uitnemendheid ‒ een van die heel kosbaarste woorde in die Bybel: "trou", "goedertierenheid" (Hb. chesed). Dit dui op God se getrouheid aan Sy verbondsbeloftes, op Sy onfeilbare liefde vir Sy volk ‒ op Sy ontfermingsgenade oor en vergewingsdeernis vir mense wat nie naastenby Sy volmaakte standaarde kan haal nie, maar Hom vasgryp om hulle uit hul hopelose toestand op te tel.

Ons sien God die ewige (13, 16)

God beklemtoon dat, hoewel die beloftes wat Hy so pas gemaak het veral op Salomo slaan, hulle meteen ook tot in alle ewigheid sal vasstaan.
    Die uitdrukking "tot in ewigheid" word 3 keer herhaal (13, 16, 16, OAV). Ja, Dawid se troon sal nooit vergaan nie.

    •    Van Dawid se troonsbestyging tot en met die Babeloniese ballingskap was ongeveer 4 eeue. Geen ander dinastie in die antieke wêreld het naastenby so lank gehou nie. Die enigste ander een wat hiermee kan vergelyk, is die agtiende dinastie van Egipte, wat 250 jaar bestaan het.
    Maar 4 eeue is nog nie die ewigheid nie. Hoe moet ons die kloutjie by die oor kry? Die Skrif bevestig oor en oor dat Dawid se regering en sy dinastie bloot 'n vooraf-skaduwee was van die regering van Jesus Christus. Soos die Levitiese priesterskap Sy ewige priesterskap geantisipeer het, en soos Moses en die profete Hom as groot en ewige Profeet voorafgegaan het, net so ook in die geval van Dawid en die konings uit sy nageslag. Dawid en sy troon het dus die liefdesregering van Christus geantisipeer.
    Sonder enige twyfel het ons dus hier 'n Ou Testamentiese Messiaanse profesie.

    •    Dawid self het hierdie waarheid al verstaan. In Hd 2 se pinksterpreek haal Petrus aan uit Ps 16 om aan te toon dat Dawid geweet het dat die Messias uit sy nageslag gebore sou word en op sy troon sou sit. God het dit vir hom met 'n eed belowe (Hd 2:30). Of dit sinspeel op die gebeurtenis wat in ons teksgedeelte beskryf word, kan ons nie met sekerheid sê nie. Maar dat die belofte hier in 2Sam 7 die gewig van eedaflegging dra, en dat dit vooruit wys na die koms en ewige heerskappy van Christus, staan soos 'n paal bo water.

Wat sê hierdie gedeelte vir ons?

1.    God stel nie in die eerste instansie in geboue of ander onpersoonlike voorwerpe belang nie; Hy stel in mense en verhoudinge belang.
"Die huis van die Here" is nie 'n tempel of ander gebou nie, maar 'n gemeente. Veeleerder is Hy waar twee of drie van Sy dissipels saam is en saamstem (Mt 18:19-20; Gr. sumfoneo), as in 'n weelderige katedraal.
    As die Skrif sê God is liefde, bedoel dit persoonlike verhoudingsliefde.

2.    Ons moet die allergrootste erns daarmee maak dat God altyd die Inisiatiefnemer is.
Hierop dring Hy kompromieloos aan. Al die godsdienste op aarde is net so gesteld op aanbidding van die Allerhoogste en op moraliteit en goeie werke soos die Christelike geloof. Maar daar is 'n wesensverskil tussen ons en hulle  -  en dis presies op hierdie punt.
    Arminianisme, wat God se reddingsgenade afhanklik maak van menslike keuse, is nie maar 'n ongelukkige mistasting nie  -  dis Godonterende kettery.

3.    Dat God 'n God van genade is, lê aan die hart van Sy selfopenbaring aan ons.
As Johannes in sy proloog skryf oor die feit dat Jesus Christus se menswording by uitnemendheid God se hoogste en finale selfopenbaring aan ons is, beklemtoon hy dat die Seun by uitnemendheid God se "genade en waarheid" aan ons kom toon het (Jh 1:14). Van al God se wonderlike attribute is dit meer as enigiets anders wat Hy wil hê ons van Hom moet verstaan en beleef en aanbid. Sy kinders ontvang dan inderdaad ook "genade op genade" (Jh 1:16). Dit breek dag na dag soos branders sonder ophou oor ons.

4.    Uiteindelik was daar Een van Dawid se nageslag wat nie misluk het nie ‒ Een in wie hierdie belofte sy volle vervulling kry.
Hoe bevoorreg is ons nie. Hierdie onaantasbare en onverganklike Koningskap is 'n reeds bestaande werklikheid. Ons hoef nie daarop te hoop nie; ons kan vanuit die realiteit daarvan leef!     En dit is vir enige mens moontlik om hom of haar by hierdie Koning van geregtigheid te skaar. Trouens, die evangelie roep alle mense met die grootste dringendheid op om "sonder geld en sonder prys" saan met hierdie Koning op Sy troon te kom sit.
    Is jý deel van die ewige dinastie van Dawid?
                                                                                                          Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment