Saturday, June 23, 2012

E-PREEK No.214 - EF 1:15 - 2:10 - DUISELINGWEKKEND IS 'N WARE CHRISTEN SE ERFENIS

In Ef 1:3-14 skryf Paulus oor verstommende waarhede: God se ewige plan, vasgemaak voor die skepping van die aarde, om in Christus sondegevalle mense vir Homself as kinders uit te kies en aan te neem,  en om hulle uiteindelik saam met die res van die skepping onder die hoofskap van Sy Seun te verenig - alles ten einde Homself te verheerlik (Ef 1:6,12,14, OAV).
    Dan, vanaf v.15, skryf die apostel dat en wat hy vir die gemeente in Efese bid en aanhou bid. Hieraan moet nou meer aandag gegee word.

Paulus se gebed en wat daaruit vloei

#    Kyk mens mooi na die gebed, sien jy dat Paulus ten diepste eintlik net één ding van die Vader vra  -  dat Hy aan die Efesiërs "die Gees van wysheid en openbaring" sal gee (17).
    Waarom is dít sy versoek?  Sodat hulle, in die eerste instansie, die Vader beter mag ken! (17). Maar ook, in die tweede instansie, dat die "oë van hulle harte" verlig mag word. Waarom?  Sodat hulle sal "wéét". Wat moet hulle weet? Hulle moet hulle erfenis in Christus verstaan! (18, 19).

    •    Dit is interessant en betekenisvol dat Paulus, elke keer as hy vir die gemeentes bid, vir hulle pleit om begrip, kennis, insig, wysheid! (vgl. 3:18; Fl 1:9-11; Kol 1:9-10a). Maar hy vra nie sommer maar enige begrip en wysheid nie. Waarvoor hy bid, is dat hulle 'n baie spesifieke soort kennis sal hê  -  dat hulle die Drie-enige God sal ken; sal begryp wat hulle erfenis in Christus is; en sal verstaan hoe hulle voor Sy aangesig moet leef.

#    Nou brei die apostel uit op dit waarvoor hy vir die Efesiërs bid. Hieroor moet hulle 3 dinge weet.

    •    Eerstens, die hoop waartoe Hy hulle geroep het (18).

    •    Tweedens, die rykdom van hierdie heerlike erfenis (18).

    •    Derdens, die grootheid van Sy krag wat nou reeds in hulle aan't werk is, en wat meteen die vervulling van die hoop en die finale inbesitname van die rykdomme waarborg (19). Só opgewonde is hy oor hierdie krag ('dunamis'), dat hy nóg 3 amperse sinonieme, gebruik om dit te beklemtoon: energeia - aktiwiteit, werking; kratos - uitgeoefende krag; ischus - groot inherente mag (19b).

#    Op die derde punt van hulle erfenis, God se krag in en vir hulle, brei hy nou verder uit (20vv). Hierdie krag is presies dieselfde krag wat in Christus na die kruisiging gewerk het. Paulus droom dus nie drome nie; hy praat van iets wat reeds gedemonstreer is. Kyk net waartoe was dit nie in God se Seun in staat nie! Hy gebruik drie werkwoorde om dit uit te lig (20).

    •    Hy het hierdie krag in Christus "uitgeoefen" (om iets effektief te bewerkstellig)  -  en sodoende lewe in Hom geskep.

    •    Met hierdie krag het Hy Christus "opgewek".

    •    Met hierdie krag het Hy Christus aan Sy regterhand in die hemele "laat sit"  -  en Hom in die proses oor alle "owerheid en mag en krag en heerskappy" (21, OAV) gestel; trouens, oor elke "vorm van gesag waarvan daar sprake mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom." (NAV).

#    Die apostel kan egter nie van die verhewe Here Jesus Christus praat, sonder om ook meteen aan Sy gemeente te dink nie. Waarom? Dis omdat daar 'n organiese lewenseenheid tussen die Hoof en die liggaam bestaan  -  iets waarvan Paulus intens bewus was (22-23)! Vanuit hierdie waarheid kan dit eenvoudig nie anders nie  -  Christus se posisie van onaantasbare en universele gesag (22) móét eenvoudig enorme implikasies inhou vir Sy gemeente.
    En hieroor skryf die apostel in hoofstuk 2  -  in duiselingwekkende terme!

Wat 'n verlossing!

#    Die fokus verskuif nou van wat God vir Jesus Christus gedoen het, na wat Hy vir Sy liggaam, Sy gemeente doen in hulle verbondenheid met Hom.
    Om die heerlikheid van wat God vir mense in Christus doen, des te beter uit te lig, skets die apostel eers die patetiese ellende waarin hulle vooraf verkeer het (2:1-3).

#    Ef 2:1-3 bevat waarhede van die allergrootste teologiese belang. Drie dinge is hiervolgens waar van die ongeredde mens, die mens in Adam.

    •    Hy is geestelik dood in sy oortredings (die positiewe oorsteek van 'n grens; rebellie) en sondes (die negatiewe 'mis van 'n kol'; dus mislukking). (1)

    •    Hy is 'n slaaf van die wêreld, die duiwel en die vlees (2-3).

    •    Hy is van nature (vanuit geboorte) onder die toorn van God (3. Gr lett; vgl. OAV).

#    Ef 2:4 is musiek in verlostes se ore. Dit begin met woorde waarop hulle ewige lotsbestemming skarnier: "Maar God ... " (vgl. ook Rom 3:21; Kol 1:22; Tit 3:4).
    Toe hulle nog magteloos vasgevang was in die lot van Adam se nageslag, het God in barmhartigheid en liefde 3 dinge vir hulle gedoen:

    •    Hy het hulle (wat dood was) saam met Christus lewend gemaak (5).

    •    Hy het hulle (wat onder Sy toorn was) saam met Christus opgewek (6a).

Die verband tussen "toorn" en "opgewek" moet soos volg verstaan word: toe die Vader Sy Seun opgewek het, het Hy daarmee verklaar dat Hy Sy versoeningsoffer aanvaar het en dat Sy toorn oor die sonde van  diegene vir wie Hy gesterf het gevolglik bevredig is. In Christus se opstanding sit dus die waarborg dat ons van ons grootste probleem  -  die toorn van God  -  bevry is (Rm 1:18).

    •    Hy het hulle saam met Christus in die hemele laat sit (6b).

#    Met betrekking tot bg. moet sekere dinge nie misgekyk word nie.

    •    Paulus skep 3 nuwe Griekse werkwoorde deur die voorsetsel, 'saam met', te kombineer met 'n bestaande werkwoord. Sodoende beklemtoon hy dat hierdie 3 dinge wat met gelowiges gebeur, uit en uit te danke is aan hulle lewenseenheid met Jesus Christus. Hierdie is een van die mees fundamentele aksente van die NT.

    •    Al 3 hierdie werkwoorde is in die verlede tyd. Hulle beskryf eens en vir altyd afgehandelde feite m.b.t. diegene in Christus. Dit kan net verstaan word i.t.v. die verbondenheid met Christus  -  wat  histories lewend gemaak is, opgewek is uit die graf en na die hemel opgevaar het.

#    Dit alles vloei vanuit God se genade (5, 8), met die doel dat Hý vir altyd daardeur verheerlik sal word (7).

    •    "Genade" dui op die verlossingsguns wat 'n sondaar van God ontvang, ten spyte van die feit dat God op geen wyse onder verpligting staan om dit aan hom te betoon nie. Hy het gevolglik geen aanspraak daarop het nie  -  inteendeel. Daarom kan niemand roem nie (9).

    •    Die werkwoord, "gered" (5,8), is passief. Die sondaar ondergaan dit dus, sonder enige aandeel van sy kant (9a). Dit beteken nie dat hy na redding passief bly nie; inteendeel, hy is juis herskep met die oog op "goeie werke" (10).

    •    Dit is voorts in 'n werkwoordstyd wat dui op 'n huidige realiteit o.g.v. 'n gebeurtenis in die verlede (die Perfektum = "Present Perfect"). Redding is dus blywend.

#    Paulus se beredeneringslyn is nou duidelik. Dit sluit die hele gedeelte oop.

Soos Christus lewend gemaak is (1:20),
    só is ons saam met Hom lewend gemaak (2:5);
        en dit was nodig omdat ons geestelik dood was (2:1).

Soos Christus opgewek is uit die dood (1:20),
    só is ons saam met Hom opgewek (2:6a);
        en dit was nodig omdat ons onder God se toorn was (2:3).

Soos Christus laat sit is aan die regterhand van die Vader (1:20),
    só is ons saam met Hom in die hemele laat sit (2:6);
        en dit was nodig omdat ons in slawerny was (2:2-3).

#    Uit bg. is dit nou duidelik hoe Ef 2:5-6 verstaan moet word: toe ons lewend gemaak is uit ons geestelike dood, is ons wedergebore; toe ons opgewek is onder die toorn van God uit, is ons geregverdig.
    Maar waarop dui dit dat ons in die hemele saam met Christus laat sit is?  In 1:21vv beklemtoon die apostel dat Hy in 'n posisie van gesag oor die bose magte geplaas is. Sonder twyfel wil hy dus sê dat toe ons saam met Christus in die hemele laat sit is, is ons in 'n posisie van gesag geplaas - oor die vlees, die wêreld en die duiwel en sy bose magte!

Slot

#    Hierdie komplekse stuk Skrifuitleg laat ons beswaarlik tyd vir enige praktiese toepassing. Daar is bloot ruimte vir 'n opmerking of twee.

    •    Hoewel dit wat hier oor 'n Christen geopenbaar word nie in die eerste instansie belewingswaarheid is nie, moet ons dit, soos alle geopenbaarde wesenswaarheid, of ons dit beleef of nie, in die geloof omhels.

    •    Indien jy weet dat jy weet dat die ou dinge vir jou verbygegaan het en dat alles nuut geword het (2Kor 5:17)  -  dat die Here jou dus in Sy genade wederbaar het  -  herinner jouself weer en weer aan jou verhewe posisie in Christus. Natuurlik is daar geen plek vir arrogansie in 'n Christen se lewe nie, maar die stryd teen die sonde moet ons op die voorvoet veg, in die wete dat ek nie nodig het om voor enige versoeking te swig nie. Laat die waarheid, nl. dat jy in 'n posisie van gesag in Christus leef, deel word van jou nuwe bewussyn, en jy sal verbaas wees oor die praktiese effekte daarvan.

                                                                                                              Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment