Wednesday, January 9, 2013

E-PREEK No240 - MK 10:17-31 - JOU AFGOD OF JOU LEWE [1]

Die Here Jesus se ontmoeting met die ryk jongman kom in al drie sinoptiese evangelies voor: Mt 19; Mk 10 en Lk 18.
    Hierdie jongman toon wonderlike Koninkrykspotensiaal: Hy is ywerig  -  hy hardloop na Jesus toe. Hy is nederig  -  hy val op sy knieë. Hy is moedig  -  hy kom nie in die donker soos Nikodemus nie. Hy is "geestelik"  -  hy verlang oënskynlik opreg na die ewige lewe. Hy is moreel  -  hy probeer met toewyding van kleins af die Wet onderhou.
    Hier het ons dus 'n model van 'n jongman. Voor ons sien ons leierskapmateriaal, 'n trofee vir elke gemeente.
    En hy is 'n evangelis se droom. Enige hedendaagse sielewenner sou binne minute van hom 'n Christen kon maak. Hoe lank vat dit immers om 'n kort sondaarsgebed te herhaal?
    Maar Jesus laat hom tussen Sy vingers deurglip! Waarlik, hier is lesse wat ons nie moet miskyk nie.

Die evangelie begin by God

Die eerste sleutel is in v.18. Jesus stel die jongman dadelik voor God. Voor mens oor die ewige lewe kan praat, sê Hy effektief vir hom, moet jy eers rekening hou met die algoeie en heilige God en alles wat dit impliseer.
     Die evangelie begin met God. Dit kan slegs na behore verstaan word as mens die skitterglans van Sy volmaaktheid en die tragedie van menslike verdorwenheid teenoor mekaar stel.
    Mense het baie probleme. Maar die oomblik as jy God sien, raak jy in 'n oogwink daarvan ontslae. Dan besef jy hoe gering en tydelik dit alles is.
    Maar onmiddellik kry jy 'n nuwe las, duisend maal swaarder  -  die las van die ewigheid en ons aanspreeklikheid voor God.
    Al wat hierdie las kan verlig, is die evangelie en jou omhelsing van Christus.
    As jy nie eers die las van God se geregtigheid, enersyds, en jou doemwaardigheid, andersyds, ervaar het nie, bly Christus vir jou bloot van akademiese belang. Reddende geloof is immers wesentlik iets anders as 'n bloot intellektuele opinie oor God. Ja, geloof begin met kennis en oortuiging, maar word afgerond deur 'n desperate en persoonlike vlugtog in Christus in.
    Vir te veel goeie kerkmense is God beswaarlik meer as 'n welwillende en saghartige oupa.
    Ja, duisend maal, ja   -  Hy is 'n barmhartige God van vergiffenis en genade. Maar Hy is ook 'n God van heiligheid en geregtigheid.
    Onthou, en vergeet dit nooit nie, as jy 'n denkbeeldige God dien, sal jy tevrede moet wees met 'n denkbeeldige redding.

Die wet  -  'n kragtige stuk gereedskap in Jesus se evangelisering

Die volgende sleutel kry ons in v.19-21. Vir die meeste hedendaagse evangeliste is dit 'n baie vreemde verwikkeling in hierdie stukkie geskiedenis.     Mens sou verwag dat Jesus sal begin praat oor regverdiging deur geloof alleen, en dat jy Hom as persoonlike Saligmaker moet aanneem.
    Nee! Maar van alle dinge praat Hy oor die wet!
    Twee maal lees ons in die evangelies dat iemand Jesus kom vra hoe mens die ewige lewe kan beërf. Ook 'n wetgeleerde vra die vraag  -  wat dan tot die gelykenis van die  barmhartige Samaritaan lei (Lk 10:25).
    Dis uiters betekenisvol: in beide gevalle vat Jesus die vraagsteller na die wet toe. Waarom? Die Skrif antwoord ons: "Deur die wet leer 'n mens wat sonde is" (Rm 3:20). "Sonde is immers oortreding van die wet" (1Jh 3:4).
    Wat sê dit vir ons? Sonde is inhoudloos sonder God se wet. En verstaan jy sonde nie, verstaan jy ook nie die kruis nie  -  en daarom ook nie die evangelie nie, want redding is vir die desperates en slegs vir hulle (Mt 5:3).
    Té dikwels is die hedendaagse aanbieding van die evangelie mensgesentreerd. Die verlossingsplan word aangebied as ten diepste ter wille van die mens. "Kom na Jesus toe  -  Hy brand om jou behoeftes te vervul!" Natuurlik ervaar gelowiges God se goedheid, maar in die reddingsplan gaan dit ten diepste oor Hom en Sy eer. En voordat 'n mens dit nie verstaan nie, ontgroei jy nooit jou doeke nie. En jy loop 'n wesentlike kans om op jou geloofspad  -  as ons dit so mag noem  -  te verdwaal.
    In 'n neutedop: die wet toon mens jou sonde. En tot die mate wat jy jou sonde sien, tot daardie mate sien jy jouself as van God vervreemd.
    Wanneer dit met jou gebeur, lei dit dikwels eers tot 'n periode van godsdienstige inspanning en vroomheid. Maar as jy begenadig word en omdat niemand die wet sonder God se genade naastenby kan uitleef nie, lei dit mettertyd al hoe meer tot wanhoop. Algaande maak dit van jou 'n bedelaar om God se genade. En só kwalifiseer dit jou vir die koninkryk van God. En uiteindelik wys die Heilige Gees jou dan Jesus Christus die Gekruisigde.
    Die ryk jongman het egter 'n baie oppervlakkige siening van die wet: "dit alles het ek van my kinderdae af nagekom." (Mk 10:20). Daarom vind die Here dit nodig om die wet toe te pas. En in die proses skiet hy op die man se Achilleshiel. Hy gebruik die tiende gebod. Want die man is baie materialisties. "Gaan verkoop alles ... en gee ... vir die armes!"
    Dit kan die ryke nie hanteer nie. Hy draai dan hartseer om, maar nie oor sy sonde nie. Hy sien nie kans om van sy besittings afstand te doen nie. Hy is nog nie gereed vir die koninkryk nie.
    Let  wel, die Here hardloop nie agter die man aan nie. Miskien sal die ploeg van die lewe hom gereed maak vir 'n volgende keer. Jesus laat hom met ander woorde rustig oor aan die oortuigingswerk van die Gees en die wet. Só word gou-gou 'n einde gemaak aan selfvoldaanheid en selfregverdiging en rasionalisering.

'n Oproep tot bekering

Kom ons keer net vinnig terug na wat die Here vir die jongman sê. As hy alles verkoop het en die geld weggegee het, moet hy terugkom en Jesus begin volg.
    Wat Jesus dus vir hom sê, is dit: Jy vra My hoe om by die ewige lewe uit te kom? Ek is die enigste pad en die enigste gids. Kom val by My in. Maar van die afgode wat jou nog vashou moet jy eers ontslae raak.
    Weer en weer spel die Here Jesus die voorwaardes vir egte dissipelskap uit. Hy doen dit nie in fyndruk nie. Inteendeel, Hy doen dit openlik en reguit: verloën jouself, neem jou kruis op, en volg My.
    God se genade is gratis; maar dis nooit goedkoop nie. 'n Mens neem Hom tevergeefs aan as jy Hom net as Verlosser wil hê, maar jou nie volkome aan Sy koningskap onderwerp nie.
    Dit kom dus hierop neer: onderwerp jou aan die Here Jesus se voorwaardes en órdes, of gaan terug en geniet jou lewe voluit. Daar wag immers 'n baie, baie lang ewigheid.
    Waarom sukkel soveel goeie kerkmense om te verstaan dat diepgaande bekering 'n ononderhandelbare Bybelse noodsaaklikheid is. Bekering red nie, maar daarsonder is daar geen redding nie. Die koninkryk van die hemele is steeds 'n skat in die saailand waarvoor jy alles moet verkoop om dit in besit te kry.

'n Oproep tot navolging

Hierna is reeds heelwat verwys, maar dis nodig om dit spesifiek uit te lig. As 'n negatiewe wegdraai van sonde noodsaaklik is vir egte Christenskap, is 'n positiewe heendraai na en navolging van Christus ewe onmisbaar. Dis twee kante van dieselfde munt. Die een kan nie sonder die ander nie. Luister wat skryf Johannes: "Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het" (1Jh 2:6).
    Waartoe roep Jesus hierdie man en elkeen van ons? Kom, sê Hy, gee My jou hart, emosies, verstand en liggaam  -  jou hele lewe. Gee My jou lojaliteite, jou energie, jou toewyding, jou drome, jou ambisies, jou potensiaal. Gee My jou besittings, jou geleerdheid, jou gawes, jou verlede en jou toekoms. Kom dan, dien My onvoorwaardelik. En Ek sal jou verliese honderdvoudig kompenseer. En daarbenewens sal jy die ewige lewe kry (29-31).
    Wat 'n opwindende uitnodiging! Wat 'n skrikwekkende opdrag!
    Elkeen van ons gaan eendag voor die Regterstoel van die Allerhoogste staan. Volgens die Bybel sal die Regter nie bloot konsentreer op my regte verstaan van en geloof in die waarheid nie  -  noodsaaklik soos dit is. Nee, dit sal uiteindelik gaan oor die uitlewing van Sy opdragte! Onder die loep sal geneem word my gehoorsaamheid terwyl ek in hierdie lewe was. Ons gaan volgens ons werke geoordeel word! (Mt 16:27; 25:31-46; Rm 2:5-11; 2Kor 5:10; Op 19:8; 20:12-13; 22:12-15).
    Maklik en dikwels word so erg oorreageer teen die dodelike dwaling van redding deur werke, dat in die slagyster van die ewe bedenklike kettery van redding sonder werke getrap word!
    Besef ons hoe belangrik hierdie saak is? Navolging van Christus is ononderhandelbaar!
    Destyds kon die Here Jesus nie dubbelhartiges verduur nie. Waarom sou dit nou anders wees? Hy spoeg steeds die louwarmes uit (Op 3:15-16).
    Nie een van ons het die gesag om Sy standaarde te verlaag nie. Tog word dit so dikwels gedoen. Die ryk jongman sou hom gemaklik kon tuismaak in feitlik elke gemeente van ons dag  -  en spoedig sou hy dalk nog in die kerkraad ook gedien het.
    Maar Jesus Christus kan ons nie kry nie  -  tensy ons die wêreld versaak.
    Iemand het Jesus gevra: "Sal min gered word?" (Lk 13:23vv). Wat antwoord Hy? "Span al jul kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie."
    Sonder vrees vir teëspraak kan mens sê dat baie min kerkgangers afsydig staan teenoor hul ewige lot. Maar dit beteken nie dat hulle sonder meer gered is nie. Want benewens hulle wat gered is, en hulle wat duidelik ongered is, is daar 'n derde kategorie  -  'n baie groot kategorie. Dit is die "baie" wat sal probeer ingaan, maar dit nie regkry nie, sê die Here Jesus hier.
    Here, gee my tog genade op genade sodat ek nie verkleefd aan my besittings sal wees nie, sodat ek ware barmhartigheid sal betoon, sodat ek my sal bekeer van elke sonde waarvan ek bewus raak, sodat ek getrou in U voetspore sal volg, sodat ook ek eendag die koninkryk sal beërf!

                                                                                                              Nico van der Walt

*    Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.
*    Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115.   E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 011 476 2907; 082  848 9396.
*    Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
*    Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
*    Geen kopiereg.    Dupliseer gerus.    Of stuur elektronies verder.
*    Preekopnames: E: info@nunide.org.za ;  T: 012-808 3906

No comments:

Post a Comment