Friday, January 11, 2013

E-PREEK No.10 - Pred 11:1-6 - DIE HART VAN LEWENSWYSHEID

In hoofstukke 1-10 takel die prediker (feitlik vir seker Salomo) met onbetwisbare logika die lewens- en wêreldbeskouing af van iemand wat net vir hierdie huidige wêreld leef — asof daar nie 'n hiernamaals is nie. Hy praat omtrent 30 keer van die mens wat bloot "onder die son" leef (OAV; NAV: "in hierdie wêreld"), sonder in agneming dat hy eendag aan God verantwoording sal moet doen.
    So 'n lewe is "tevergeefs" (OAV; 36 maal; NAV: dit "kom tot niks"). Dis 'n woord wat dui op 'n asemteug — dis leeg, waardeloos, sinneloos.
    Dan gebruik hy 'n derde uitdrukking oor en oor. So 'n tevergeefse lewe onder die son is 'n "gejaag na wind". Dit bereik absoluut niks nie. Dis 'n gehardloop agter 'n seepbel of 'n lugspieëling aan. Dis sinneloos. Dis futiel.

    •    Dit beteken nie dat die prediker nét swartgallig en sinies is nie. In die loop van hierdie eerste tien hoofstukke hou hy darem hier en daar die leser se hoop lewend met kort brokkies lig (bv. 2:24-26; 5:17-19). Dan kry ons sy ontknoping in hoofstukke 11-12. En les bes kry ons sy trefreël in die heel laaste twee verse van die boek (12:13-14).

    •    Ons kyk dus nou na die heel eerste gedeelte van die prediker se ontknoping. Nóú is hy vir 'n slag positief. Nóú sê hy hoe ons moet leef om sin en betekenis in hierdie lewe te vind.

DIE BASIESE SLEUTEL TOT LEWENSIN

Die beeld wat in 11:1 gebruik word — "werp jou brood op die water" — is destyds goed verstaan.
    Die Hebreeuse woord wat met "brood" vertaal word, kan ook dui op saadkoring (Jes 28:28: "broodkoring", OAV). Waarop hierdie beeld dan sinspeel, is die gebruik om koring in byvoorbeeld die Nyldelta te saai wanneer die vloedwaters na die reëntyd begin sak. Die saad land dan in die vlak en stilstaande water, sak af tot in die slik op die bodem, en word dan algaande met verdere slik bedek soos die water heeltemal wegsak. As die waters weg is, groei die saad natuurlik en lewer wonderlike vrug.

    •    Die beeld praat daarom van 'n handeling met die oog op vrug mettertyd. En dis noodwendig iets wat jy in die geloof doen. Jy glo dat dit wat jy nou onherroeplik weggooi, sal terugkom as volgende jaar se brood. Wat die prediker dus wil tuisbring, is dat daar maar één manier is om sin te maak van ons bestaan hier en nou: om in die geloof te leef dat dit wat jy nou saai, eendag sy opbrengs sal lewer.

    •    Net só 'n lewensinstelling bring sin in die oënskynlik koerslose geharwar wat ons "hierdie lewe" noem. Haal geloof daar uit, en al wat jy sien, is die futiliteit van hoofstukke 1-10.
    Wat is ál wat 'n mens sien as jy nie met 'n geloofsoog kyk nie? Tye, seisoene en lewenssiklusse wat sonder ophou roteer (1:4vv). Onbeheerbare omstandighede wat die geskiedenis na willekeur stuur (3:1vv; 9:11vv). Die dood vir almal, sonder dat dit enige verband hou met hoe mens geleef het, goed of sleg (7:15; 8:8). Mense wat soos diere sterf — baie dikwels goeies soos slegtes en wyses soos dwase (2:14, 17; 9:2vv). Boosheid wat ongebreideld amok maak (3:16; 4:1; 5:8; 8:11; 9:3). Slegte mense wat suksesvol is, en goeie mense wat teëspoed kry (8:14).
    Niemand kan dus kop of stert uitmaak van wat aan die gang is nie. Die ongelowige wat bloot "onder die son" leef, kan tot geen ander gevolgtrekking kom nie: dit móét die god van toeval wees wat so regeer — vir seker nie 'n algoeie en alwyse God wat dit wat reg is beloon en dit wat sleg is straf nie!

ONS DILEMMA: 'N VERSKUILDE GOD

Waarom praat die Bybel so dikwels oor geloof? Waarom is dit vir die Here so belangrik dat ons Hom in die geloof dien. Waarom bly daar eenvoudig niks oor nie as jy geloof uit ons Christenskap haal? Waarom kan jy sonder geloof tot geen ander gevolgtrekking kom nie as dat alles futiel is?
    Sekerlik is daar meer as een rede — maar dalk is die grootste enkele rede die feit dat ons God nie sintuiglik kan waarneem nie. Hy leef eenvoudig in ander dimensies as ons. Hy is die Deus Absconditus — die verskuilde God.
    Die bietjie wat ons van Hom weet, moet ons uit die skepping aflei — en uit dit wat in die Bybel staan. En hierop moet ek my hele lewe bou, hiermee moet ek die ewigheid in.
    Nie baie mense sien hiervoor kans nie!
    Wat 'n dilemma sit ons nie in nie! Óf ek leef bloot met wat ek kan sien, voel, hoor, proe en ruik — en verval in die uitsiglose waansin van sinloosheid. Óf ek aanvaar dat daar tog 'n Hoërhand is wat uiteindelik sin en orde en geregtigheid sal skep uit die chaos van die lewe "onder die son." Maar hieraan kan ek net in die geloof vashou!

WARE WYSHEID

Dít is wat die prediker by ons wil tuisbring: omdat ons 'n verskuilde God het, moet ons in die geloof leef. Ons moet vrede maak met die feit dat God besig is om 'n nuwe skepping te bou uit die asse van 'n gevalle wêreld. En as alles so sinneloos, koersloos en onregverdig lyk, moet ons onthou dat konstruksieterreine altyd chaoties voorkom. Net as jy 'n geloofsbril dra, bly dinge in fokus. Die oomblik as jy hom afhaal, verwring en verdof alles.
    Kyk hoe stel die prediker dit. Só lyk 'n lewe van geloof. Só saai mens met die oog op 'n opbrengs.

    •    V.5: Maak eens en vir altyd vrede daarmee dat daar 'n duisend dinge is wat jy nooit sal verstaan nie. Allermins sal jy alles verstaan wat God doen.

    •    V.2 (OAV): Hou op tob en watertrap. Begin voluit leef in die vertroue dat God regverdig is en dat Sy geregtigheid tog uiteindelik sal seëvier.
    Daarom, lewe 'n lewe van uitdeling. Wat jy ook al het, gee net — en hou aan daarmee. Gee tot op sewe — die volheidsgetal. Dus nie afknypgawetjies nie, maar voluit. En as jy dan alles gegee het, steek deur na agt toe. Gee ekstra, gee meer as voluit. Stap die tweede myl saam.
    Wees dus 'n uitdeler sonder weerga! Wees 'n voetwasser; wees 'n dienskneg. Lê jou lewe neer vir jou naaste volgens die wil van die Here.
    En moenie uitstel nie, want onheil kom onverwags. Môre, oormôre, is jy nie meer in staat tot die dinge wat die Regverdige eendag sal beloon nie.

    •    V.3-4: Moenie uitstel en gedurig huiwer nie. 'n Boer wat heeldag die wolke dophou, kom nooit tot ploeg en plant nie. As dit dan wel kom reën, dan loop die water doelloos weg.
    En as 'n boom val, is dit sinneloos om te wens hy het eerder anderkant toe getuimel. Die feit is — hy het nie. En hy sal lê waar hy lê. Tob oor alles wat kon gewees het, en jy bly op een plek rondmaal. Los jou gedurige "waaroms" en "as maar nets".

    •    V.6: Daarom, kyk jou verantwoordelikhede vierkantig in die oë. Doen wat jy moet. Leef op die voorvoet. En laat dit waaroor jy geen beheer het nie by God — in die geloof.

WAT SÊ DIT VIR ONS?

1.    Daar is eenvoudig nie 'n ander pad as die pad van geloof nie — geloof in Jesus Christus.
Het jy ook al partykeer die gevoel gekry dis malligheid om jou alles — jou lewe, jou toekoms, jou ewigheid — te laat hang aan jou oortuiging dat 'n Man tweeduisend jaar gelede aan 'n kruis gesterf het en toe uit die dood opgestaan het?
    Maar presies net dit is rasegte Christenskap! Dit gaan alles oor afhanklike geloof in Christus — as God se groot Profeet, Priester en Koning.
    Geloofsvertroue in alles wat Hy is en doen — en in Hom alleen — is regtig al opsie wat ek het. Laat ek Hom los, tuimel ek onmiddellik in die waansin van sinloosheid in. In 'n sin, dit moet ek beken, is ek 'n Christen omdat niks anders in hierdie lewe sin maak nie. Alle ander alternatiewe is, soos Oom John Vorster gesê het, "too ghastly to contemplate"!
    En selfs al leef ek vir die ewigheid, is elkeen van hierdie wêreld se godsdienste ondenkbaar as alternatief. Té diep is ek oortuig van my sondigheid, gebrokenheid en onvolmaaktheid, om te dink dat ek self teen 'n leer van moraliteit en seremonies na 'n heilige God toe kan opklim. Geloof in Christus is al wat oorbly! Net Hý bewaar my van waansin!

2.    Die geloofspad is egter nie irrasioneel nie.
Dink aan die geïntegreerdheid en konsekwentheid van die Bybelboodskap. Dit ten spyte van ses-en-sestig boeke deur 'n stuk of veertig skrywers van uiteenlopende agtergronde wat oor 'n millennium en 'n half skryf! Dis omdat die Bybel eintlik net één Skrywer het — God die Heilige Gees.
    Dink aan al die Bybeluitsprake wat sonder twyfel histories wáár is. Dosyne Ou Testamentiese  profesieë oor Christus is in die fynste besonderhede in Hom vervul. Jesaja 53 is eeue voor Sy koms geskryf! Daarbenewens toon argeologiese ontdekkings in honderde gevalle die verstommende historiese akkuraatheid van die Bybel.
    Dink aan die verryking wat die Bybel vir jou gebring het. Op ons intellektuele en filosofiese vrae bied dit weer en weer lig. Die norme en riglyne daarvan lei tot 'n lewe van sin en uitnemendheid, terwyl dit soos klokslag op katastrofe uitloop as mens daarvan afwyk. En, kosbaarste van alles, dit gee vir ons die allerantwoord op die vraag hoe 'n skepsel regverdig voor sy Maker kan staan.
    Dink aan die positiewe effekte wat 'n lewe van gehoorsaamheid aan God vir jou gebring het. Lei die Bybelse ordes nie altyd weer tot voorspoed nie — geestelik, emosioneel, moreel en materieel?
    En dit geld nie net individue nie. Tot die mate wat 'n samelewing die Bybelboodskap gelowig omhels, tot daardie mate veredel dit so 'n samelewing. En tot die mate wat die Bybel oorboord gegooi word, tot daardie mate tree verval en verrotting soos klokslag in.
    Meer nog, deur die eeue kon geen aanslag ooit diepgaande Bybelse oortuigings in gelowiges onderploeg nie. Tewens, hoe feller die vervolging, hoe kragtiger word die kerk. Daarenteen bly geen twyfelaar in tye van aanslag staan nie.

3.    Laat ons die Drie-enige God al die eer gee vir die feit dat ons glo.
My en jou geloof is die werk van God die Heilige Gees. Dis gebaseer op die Seun se volmaakte middelaarswerk in my plek. En dit vloei voort vanuit die Vader se uitverkiesende inisiatiefneming.

SLOT

Psalm 126:5-6: "Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra."

                                                                                                            Nico van der Walt

*    Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.

*    Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115.  

E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 011 476 2907; 082  848 9396.

*    Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)

*    Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.

*    Geen kopiereg.    Dupliseer gerus.    Of stuur elektronies verder.

*    Preekopnames: E: info@nunide.org.za ;  T: 012-808 3906


No comments:

Post a Comment