Saturday, May 28, 2011

E-PREEK No.100 - Gl 1:6-10 : DAAR IS NET EEN EVANGELIE

ANDERS AS SY GEWOONTE, BEGIN PAULUS HIERDIE BRIEF MET 'N SKERP VERMANING. Waarom sy ontsteltenis? Wat in Galasië aangaan, bedreig sy werk, hulle geloof en saligheid, die voortbestaan van die gemeentes, en - ergste van alles - die suiwerheid en voortgang van die evangelie.
Ook vir ons is dit van lewensbelang om noukeurig ag te slaan op hierdie verse. Ons mag eenvoudig nie hier mistas nie.

Die Galasiërs se ontrouheid

# Paulus spreek sy verbasing uit oor sy lesers se afvalligheid (v.6). Die Grieks dui op 'n verplasing van lojaliteit - soos soldate wat dros, of 'n politikus wat na 'n ander party oorloop. Die Galasiërs is besig om 'n "ander evangelie" (v.6) aan te neem!

# As Paulus van 'n ander evangelie praat, impliseer dit dat daar 'n ware evangelie is. Wat is dit? Hierdie ware evangelie word aan twee dinge geken: sy oorsprong en sy inhoud.
Die ware evangelie het 'n baie spesifieke oorsprong. Dis die evangelie wat die geïnspireerde apostels verkondig het - die een wat in die Nuwe Testament uiteengesit word. Niks anders nie! Selfs 'n engel uit die hemel het nie die gesag om dit aan te pas nie. Hoeveel te minder enige mens! (v.8).
Watter evangelie kry ons by die apostels? Oor en oor word beklemtoon: die inhoud daarvan het 3 onmisbare fokuspunte:

* Een, sondaars word uit vrye genade alleen gered! (o.a. Hd 20:24; Rm 3:24; 11:6; Ef 2:5, 8-9).

* Twee, sondaars word op grond van Christus se verdienste alleen gered! (o.a. Jh 14:6; Hd 4:12; Rm 5:8; Gl 1:4; 3:13; 1Tm 2:5-6).

* Drie, sondaars word deur geloof alleen gered! (o.a. Rm 1:16-17; 3:22,28; Gl 2:16; 3:7; Ef 2:8)

# Waar kom die Galasiërs aan hierdie ander evangelie? Hulle is "betower" (3:1, OAV) deur die Judaïste. Dit was Jode wat gesê het hulle is volgelinge van Jesus, maar wat voortgesette onderhouding van Ou Testamentiese seremonies - veral die besnydenis - as noodsaaklik vir redding verkondig het (Hd 15:1).
Let op, Judaïste en hulle moderne eweknieë ontken nie die noodsaak van Christus se versoeningswerk nie. Maar hulle glo nie dis genoegsaam nie. By Christus se verdienste moet die mens s'n gevoeg word: God het Sy deel in Christus gedoen; nou is dit die mens se beurt!

Die vrug van dwaalleer

# Die Judaïste "verdraai" (v.7) die evangelie van Christus. Die woord dui op 'n omdraai van iets - om dit agterstevoor te draai. Die woordkeuse is in die kol. Die evangelie sê: eers redding, dan volg werke. Die Judaïste leer: eers werke, dan volg redding.

# Hierdie dwaalleer veroorsaak "verwarring" (v.7) by die Galasiërs. Die bepaalde werkwoord beteken om heen en weer te skud. Die dwaling maak hulle dus deurmekaar; dit krap hulle om. Dwaalleer bring nie net verwarring in denke nie, maar ook in verhoudinge. Dit ruk uitmekaar! Die teendeel is egter ook waar: evangeliewaarheid en suiwer leer bring begripsklarigheid, koersvastheid en hartseenheid.

Paulus se reaksie

# Paulus is geweldig ontsteld en verontwaardig. Twee keer roep hy oor so 'n dwaalleraar uit: "die vloek van God sal hom tref!" (v.8,9).
In die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuaginta, van so twee, drie eeue voor Christus) word die bepaalde woord (Gr. anathema) gebruik vir die uitoefening van die banvloek - om in opdrag van God alles dood te maak wat lewe.
Paulus se uitroep kom dus hierop neer: Laat die banvloek van God hom tref! Mag so 'n leraar sterf!

# Waarom voel die apostel so sterk oor die saak?
Eerstens, die eer van Christus is op die spel. Die Judaïste se boodskap impliseer dat Christus se werk onvoldoende was - dat mense dit moet aanvul. In 1Tm 1:11 word gepraat van "die evangelie van die heerlikheid van die goeie God." In die evangelie word die heerlikheid van God dus gesien. Doen die evangelie geweld aan, en jy tas God se heerlikheid aan. En dit is geen geringe saak nie. Dis immers waaroor die hele verlossingsplan ten diepste gaan (Rm 9:20-24; Ef 2:7). Daarin sien ons attribute van God wat andersins onmoontlik sou wees - onder meer Sy liefde, Sy genade en Sy trou!
Tweedens, om aan die evangelie van God se vrye genade in Christus te peuter, is 'n veragtelike belediging vir Hom! Wie sal dit waag om 'n Rembrandt met 'n garage-kwas te dokter? Hoeveel te minder durf ons die evangelie verwater? Nee, laat dit maar 'n aanstoot vir die godsdienstiges wees, en onsin vir die ongelowiges (1Kor 1:23) - hulle wat die krag van die evangelie ken, sal die ware evangelie kompromieloos bly verkondig!
Derdens, die redding van mense is op die spel. Die Judaïste se dwaling is veel meer as 'n denkfout, 'n teologiese mistasting. Dis 'n fatale kettery! Waarom? Dis 'n rugdraai op "God wat julle ... geroep het" (v.6). Om die evangelie van God se vrye genade te versaak, is om die God van genade te versaak! In Gl 5:2-4 word dit uitdruklik gesê. Wie homself nog laat besny omdat hy dink dít sal hom vir God aanvaarbaar maak, sal die teenoorgestelde bereik: hy sal nié gered word nie! Christus het vir hom "geen betekenis" nie; hy het sy "band met Christus verbreek"; hy het "die genade van God verbeur". Daar bly gevolglik vir hom net een reddingsalternatief oor: "om die hele wet van Moses te onderhou" (v.3). In beginsel is dit makliker om só gered te word as deur Christus plus werke. Want dít sal God in der ewigheid nie aanvaar nie.

Wat sê dit alles vir ons?

1. Daar is net één evangelie.
In v.6-7 gebruik Paulus twee betekenisvolle woorde. Beide word met "ander" vertaal: die Galasiërs word verlei om 'n ander evangelie aan te neem; tog is daar geen ander evangelie nie.
In die eerste geval word die Griekse woord, heteros, gebruik. Dit dui op iets anders - van 'n ander aard. Dis kwalitatief anders. Dis verskillend. Die NASB vertaal dit met "different".
In die tweede geval word allos gebruik. Dit dui op iets anders, maar van dieselfde soort. Essensiëel verskil twee dinge nie van mekaar nie - dis bloot alternatiewe. Hier vertaal die NASB met "another".
Die Judaïste se evangelie verskil dus wesentlik van die ware evangelie! Húlle evangelie en dié van die apostels is dus nie twee legitieme alternatiewe nie. Dis nie twee ewe geldige roetes na God toe nie.
Jy kan nie die ware evangelie aanpas, sonder om dit te vernietig nie - met katastrofiese gevolge.
Ons móét predikers en hulle evangelie beoordeel! En onthou: die status, geleerdheid en begaafdheid van die boodskapper waarmerk nie 'n boodskap nie; die wáárheid van die boodskap waarmerk die boodskapper. Preek hy onverwaterde Nuwe Testamentiese openbaring of nie? Preek hy die boodskap van God se vrye genade in Christus alleen - wat slegs deur geloof in besit gekry word? Wie 'n ander evangelie as hierdie verkondig, plaas homself onder die banvloek van God! Wie 'n ander evangelie as hierdie aanneem, maak homself van Christus los en verbeur God se genade!

2. God is die alleenredder - of gladnie.
Die sestiende eeuse Reformasie het besef hoe kardinaal belangrik die evangelie se waarheidsinhoud is, met sy drie fokuspunte. Vandaar die Latynse wekroepe: Sola Gratia! Solus Christus! Sola Fide! In 'n sin kan ons sê dat die hele Reformasie om 'n vierletter-woordjie gedraai het: sola (Afr. alleen).
Nóóit mag ons hierdie alleen vergeet nie - nie wat genade, of Christus, of geloof betref nie. Waarom nie? Dit dra elke keer dieselfde boodskap: as God 'n sondaar red, sal daar nooit enige menslike bydrae wees nie - nie moraliteit, godsdiens, seremonies, ordentlikheid, wysheid, geleerdheid, finansiële bydraes, dienswerk nie - niks nie!
Die les van Kornelius is lewensbelangrik (Hd 10:1-2; 11:14). In h.10 sien ons 'n man van uitsonderlike morele verdienste: godsdienstig, godvresend, ywerig en getrou in barmhartigheidswerk, 'n bidder sonder weerga. Maar, sê 11:14, hy was nie gered nie! Waarom nie? Wat het geskort? Hy moes die evangelie van God se vrye genade in Christus hoor - en in die geloof omhels. Dis waarom Petrus na hom toe gestuur is.
Is jy baie seker dat jy in Christus alleen vertrou, en nie óók in godsdienstige moraliteit en seremonies nie? Begryp jy hoe lewensbelangrik dit is?

3. Die ware evangelie sal altyd te kampe hê met die verwyt dat dit té maklik is.
Dis waarop v.10 sinspeel: "Klink dit nou asof ek die guns van mense soek ...?" Waarskynlik het die Judaïste Paulus verdag probeer maak met die beskuldiging dat hy met 'n goedkoop evangelie witvoetjie by mense soek. Maar, gaan Paulus voort, hy het nog nooit vir die pawiljoene gespeel nie. Hy het maar één ambisie: om sy Sender getrou te dien. En dit sal hy doen deur die ware evangelie te bly verkondig - die gratis evangelie!
As ons dan inderdaad deur 'n ware geloof met Christus verenig is, moet ons onwrikbaar vas bly staan in die vryheid wat ons in Hom geniet. Ons mag ons nie onder 'n slawejuk laat indwing nie (5:1).
Ja, in sy eerste brief gee Johannes vir ons die merktekens van wedergeboorte - die dinge wat in elke geredde persoon se lewe tot uitdrukking kom (1Jh 5:13). En ons moet ons daaraan meet om seker te maak ons het die ewige lewe. Maar hy praat oor die vrug van God se herskeppingswerk in ons. Hy antwoord die vraag: hoe lyk redding, waartoe lei dit? Hier in Galasiërs gaan dit oor iets anders en meer fundamenteel: hoe word ek gered?
Laat ons verstaan: God se genade is gratis - maar nooit is dit goedkoop nie! Die sola-evangelie maak nie 'n agterdeur vir losbandigheid oop nie. Waar die Here inderdaad red en herskep, volg 'n heilige lewe van dissipelskap altyd. Die geloof wat red, kom altyd tot uitdrukking in goeie werke (Jk 2:17). Die Reformatore was reg: Sola fides justificat, sed non fides sola est (geloof alleen red, maar nie geloof wat alleen is nie).
Ons verwerp daarom 'n goedkoop evangelie. Maar ons bou in die eerste instansie ons sekerheid van saligheid op God se beloftes - naamlik dat Hy elke sondaar red wat vanuit sy of haar geestelike bankrotskap in Christus invlug en daar bly skuil.
O, ons kan die komende regterstoel en die ewigheid daarna in die gesig staar, omdat die Here gesê het: Ek sal hom wat na My toe kom, nooit, maar nooit, verwerp nie! (Jh 6:37b, Gr. vry vertaal).
Waarlik, niemand kan wegkom met die verskoning dat redding té moeilik is nie!

Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment