Saturday, May 28, 2011

E-PREEK No.167 - Op 22:17 : DIE BYBEL SE VYFDE LAASTE VERS

Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê moet dit kom kry, verniet! (Op 22:17).

DIE EERSTE HELFTE VAN DIE VERS KAN OP TWEE MANIERE VERSTAAN WORD. Sommige Skrifverklaarders vertolk dit as 'n roepe tot Jesus Christus om terug te keer en Sy volk te kom beloon. Sekerlik maak so 'n beskouing baie sin in die konteks (22:12, 20). Ander lees dit as 'n oproep wat gerig word tot 'n verlore wêreld - as met ander woorde 'n evangelistiese uitnodiging.
Vir my lyk laasgenoemde vertolking die voor die hand liggende. Sonder twyfel is die tweede helfte van die vers gerig tot dorstige sondaars om die water van die lewe te kom drink - en duidelik beheers dit die eerste helfte. Binne die groter konteks is die implikasie dan duidelik: Jesus Christus kom vir seker terug, en wanneer dit gebeur sal dit te laat wees vir regmaak met God. Maar tot tyd en wyl staan die deur nog oop vir elkeen wat dors is om die water van die lewe te kom drink.

Openbaring se Groot Opdrag

Mens sou kon sê dat al vier die Evangelies, asook Handelinge, 'n Groot Opdrag bevat - 'n bevel van die Here Jesus aan Sy dissipels om die gevalle wêreld te evangeliseer (Mt 28:18-20; Mk 16:15-18; Lk 24:45-49; Jh 21:21-23; Hd 1:7-8). Ons teks is die Openbaringboek se Groot Opdrag! (vgl ook 21:6-7).
Die uitnodiging, oftewel bevel, word gerig deur "die Gees" - die Heilige Gees. Dit word ook gerig deur "die bruid" - sonder twyfel die gemeente van Christus. Maar, in die lig van die res van die Bybel, kan ons met stelligheid sê dat hulle nie apart werk nie. Die Gees werk deur die bruid - soos feitlik altyd. Beide is aktief betrokke. En nooit kan die gemeente sy verantwoordelikheid systap nie.
Die vers gaan dan betekenisvol verder. Elkeen wat gehoor gee aan die uitnodiging, word onmiddellik self ook 'n draer van presies dieselfde uitnodiging. Terwyl daar 'n verskeidenheid van gawes en roepinge in die gemeente is, staan dit soos 'n paal bo water dat elke lid van die liggaam op een of ander manier by die uitdra van die evangelie betrokke moet wees. Het jy dus die uitnodiging aanvaar? Hier is jou marsbevel!

Die uitnodiging

Die water van die lewe
Water is 'n lewensnoodsaaklikheid. Daarom word dit dikwels in die Bybel gebruik as simbool vir God se seën en die ewige lewe. Sonder twyfel dui dit hier op laasgenoemde. En dis 'n gawe van die Een wat genoem word die Alfa en die Omega (21:6).

Dis 'n oop uitnodiging - gerig aan elkeen

Hoewel die oorspronklike taal nie die woord "elkeen" het nie (die OAV is 'n letterlike vertaling), vat die NAV wel die idee vas. Dis 'n oop uitnodiging gerig tot almal wat dors het - ongeag wie dit is. Die NIV beklemtoon ook die gedagte: "Whoever is thirsty ... whoever wishes ..."
Terwyl die Bybel glashelder duidelik en skaamteloos is oor die feit van die uitverkiesing en die toegespitse versoeningswerk van Christus, mag ons nooit huiwer om hierdie evangelie-uitnodiging tot alle mense te rig nie. Per slot van rekening is dit nie aan ons geopenbaar wie die uitverkorenes is nie. Wat ons wel weet, is dat die Here mense red vanuit elke denkbare kategorie op aarde. En aangesien Hy middellik werk (Hy gebruik ons as instrumente), moet ons diegene wat die Vader aan die Seun toevertrou het en nog nie met Hom verenig is nie, oraloor gaan soek en uitsnuffel. Hoe sal ons weet wie hulle is? Ons sal die realiteit van die uitverkiesing in mense se lewens herken wanneer hulle positief op hierdie uitnodiging - wat ons tot almal rig - reageer en die water van die lewe met diep teue drink en bly drink. Want sonder die inisiatiefnemende werk van die Gees (wat middellik déúr ons uitnodiging werk), kry niemand ooit híérdie dors nie. En só werk Hy net in die uitverkorenes (Hd 13:48; 18:9-11; Rm 10:13-17).

Die water van die lewe is gratis

Die woord wat met "verniet" vertaal word is nou verwant aan die Griekse woord vir 'n geskenk. Letterlik beteken dit sonder oorsaak (vgl. Jh 15:25). Die water word dus gegee sonder enige aanleidende oorsaak in die ontvanger. Mens hoef nie daarvoor te kwalifiseer nie. Verdienste is nie ter sprake nie. Dis verniet, kosteloos, gratis!
Hierdie uitnodiging het al in die Ou Testament gegeld. Let op hoe sterk Jesaja die feit beklemtoon dat dit gratis is: "Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook die wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk ..." (55:1-3).

Vier werkwoorde

Hierdie uitnodiging bevat in die oorspronklike taal vier kardinaal belangrike werkwoorde: om dors te hê; om te wil; om te kom; om te vat. Hierdie begrippe impliseer nie enige verdienste nie, maar beskryf bloot die toestand van 'n opregte hart en die optrede van ware geloof. Hiersonder stel mens gewoon nie belang in die water van die lewe nie. As mens nie dors is nie, drink jy nie water nie. En as jy wel sou drink, sit die lewegewende krag nie in wat jy doen nie, maar in die water.
Die gelykenis van die verlore seun illustreer pragtig hoe hierdie werkwoorde in iemand se lewe tot uitdrukking kom (Lk 15:11-24).

# So 'n persoon het dors. Dit dui op 'n diep begeerte; 'n bewussyn van verlorenheid; 'n verlange na redding en vrede met God. Dit lê dus op 'n meer emosionele vlak (vgl. Mt 5:6). So 'n maerte in die siel kan reddende geloof soms vir 'n lang tyd voorafgaan - totdat dit onhoudbaar raak.
Dis die verlore seun se verlange huis toe.

# So 'n persoon wil. Die begrip dui op 'n besliste voorneme en 'n doelgerigte besluit (Gr. thelo). Dit lê meer op 'n verstandelike vlak. Dit gaan oor denke, oorweging, keuse en besluitneming.
Die verlore seun het nie net verlang nie, hy het tot 'n definitiewe besluit gekom om klaar te maak met sonde, sy rug eens en vir altyd op die varkhok te draai, en terug te gaan na sy pa toe.

# So 'n persoon kom. Hy verskyn in nederige bankrotskap voor die Here om die saak uit te maak.
Die verlore seun het nie net besluit nie; hy het inderdaad opgestaan en na sy vader toe gegaan. Dis die bewys dat sy aanvanklike besluit ernstig en opreg was - dat hy besigheid bedoel het.
Hierdie is 'n intens persoonlike saak en die grootste gedeelte van die ontmoeting - indien nie in sy geheel nie - sal normaalweg in afsondering en privaatheid plaasvind. Dis 'n saak tussen 'n persoon en die Here alleen. Die tydsduur is nie belangrik nie. Wat wel belangrik is, is dat die transaksie deeglik en finaal sal wees. Berou, belydenis, oorgawe, toewyding en dikwels trane, is tipies van ware bekerings. In elk geval is dit níé 'n ligtelike formaliteit volgens 'n simplistiese en goedkoop formuletjie nie - 'n vinnige en onfeilbare bid-agter-my-aan worsmasjien nie. Maar laat ek dadelik byvoeg, dit beteken nie dat mense nie soms ook só tot redding kom nie. Dit gaan immers nie oor die uiterlike nie, maar oor die innerlike hartsgesteldheid. Maar waarteen wel ernstig gewaarsku moet word, is evangelisasiemetodes waarin hierdie praktyk die tipiese is. Dit maak mense maklik wys dat hulle gered is, terwyl daar dikwels - gewoonlik - geen egtheid in sit nie. As hulle dan later agterkom dat niks verander het nie, laat dit hulle ontnugter en immuniseer dit hulle teen die evangelie. Hierdie is 'n praktyk wat oor die afgelope eeu of twee oneindig baie skade gedoen het.

# So 'n persoon neem die water (OAV). Hy drink dit dus. Hy omhels God se genadegawe in Christus. Hy werp homself op die Here se beloftes in die evangelie. Ook dit is 'n intens persoonlike saak. Dit is 'n transaksie, 'n verbondsvasmaking tussen 'n mens en die lewende God.
Die verlore seun was wel bereid om net 'n huurling vir sy pa te wees, maar toe hy sy vergewende liefde sien, het hy homself in sy pa se omhelsing gewerp en hom in sy gemeenskap en geskenke verlustig.

'n Lewensbelangrike kwalifikasie

'n Lewensbelangrike kwalifikasie is egter nog uitstaande. Luister na 1Kor 10:4, na aanleiding van Eks 17:1-7 en Num 20:1-13: "... hulle (Israel in die woestyn) het gedrink uit 'n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus." Sien jy dit? Die Here Jesus Christus, en Hy alleen is die lewensbron. Daarom kan Hy vir die Samaritaanse vrou sê, "... wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie" (Jh 4:13-14).
Die geloof wat instrumenteel is in redding vertrou algeheel in Christus en Sy middelaarskap. Dis om jou oë op Hóm vas te nael, om in Hóm te skuil, om aan Hóm te hang met jou volle gewig - vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid.

Al vier werkwoorde is nodig

Ten slotte net hierdie kardinaal belangrike opmerking: die vier werkwoorde hierbo is 'n werklikheid in elkeen wat gered word - nie net een, of twee, of drie daarvan nie! En vir seker moet mens by drink uitkom. Mens kan langs 'n borrelende fontein van dors versmag as jy nie die water drink nie. En uiteraard, 'n ware gelowige kry nooit klaar gedrink nie. Christenskap is nie ten diepste om op 'n hoër morele peil as ander mense te leef nie, dis om weer en weer, en weer en weer, diep teue te drink van die lewenswater wat uit Christus vloei.

Twee baie belangrike vrae

# Is jy met God versoen in Christus? Het jy die water van die lewe gedrink, en sluk jy steeds dag na dag diep teue daarvan? Maak seker jy bluf jouself nie. Hoe sal jy weet? Toets jouself hieraan:
Drie "toe's" kenmerk egte, reddende geloof.
Jy het God se beloftes in Jesus Christus as Groot Profeet vir jouself toegeëien.
Jy het jouself aan Jesus Christus as Groot Hoëpriester toevertrou.
Jy het jouself ongekwalifiseerd en lewenslank aan Jesus Christus as Groot Koning toegewy.

# Is jy 'n draer van hierdie uitnodiging in die Bybel se vyfde laaste vers? Jy sê jy is maar 'n sukkelende stamelaar, 'n skaam stotteraar. Luister dan na die Here Jesus se belofte in Jh 7:37-39 en gryp dit vas in die geloof: "As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê 'Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.' Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang."
Goed en wel, sê jy, maar hóé moet ek getuig; hóé lei mens iemand na die Here Jesus toe? Daar is beswaarlik 'n beter en makliker riglyn in die Bybel as hierdie vyfde laaste vers. Werk stapsgewyse met 'n dorstige deur die vier werkwoorde, en gou-gou sal hy of sy weet hoe om in Christus in te vlug.
Nico van der Walt

No comments:

Post a Comment