Saturday, August 3, 2013

E244 - 1 JH 2:6 - DIE NAVOLGING VAN JESUS

Lees mens die Nuwe Testament met 'n oop gemoed, kan jy tot net een slotsom kom, naamlik dat net dissipels, oftewel navolgers van Jesus, ware Christene is. Noem jy jouself dus 'n Christen, maar volg nie in Jesus se voetspore nie, bedrieg jy jouself, en is jy 'n huigelaar.
    Luister wat sê die Here Jesus self: "As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal My dienaar ook wees" (Jh 12:26). En luister wat skryf die leier van die apostels: "Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle 'n voorbeeld gestel het, sodat julle in Sy voetspore kan volg" (1Pt 2:21).
    Natuurlik word nie van ons verwag om Hom in alles na te doen nie. Talle aspekte van Sy lewe was uniek aan Sy Messiaanse sending. Maar in sóveel dinge was hy die volkome en universele mens. Met Hom kan enigeen identifiseer  -  ongeag ouderdom, tydvak, kultuur, lewenstandaard, intellektuele vermoë, geleerdheidspeil, geslag.

Waarin lê ons navolging van Jesus?

1.    Ons moet Jesus se heilige lewe navolg

So stel die apostel Johannes dit: "Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is" (1Jh 3:3). Natuurlik kan ons nie Sy volmaaktheid bereik nie. Almal van ons het nog soveel oorblywende sonde. Maar sonder twyfel moet sekere van Sy karaktertrekke ook óns heiligmaking en navolging kenmerk.

1.1    Eerstens moet innerlike opregtheid my lewe beheersl. Christenskap is 'n hartsaak. Kom dit nie uit jou diepste wese nie, is dit gewoon nie eg nie. Lees mens die Evangelies, sien jy dat daar één ding is wat die Here Jesus nie kon verduur nie  -   huigelagtigheid.

1.2    Tweedens moet my lewe gekenmerk word deur konsekwentheid en bestendigheid. My waardes en gerigtheid moet koersvas bly, jaar in en jaar uit. Per slot van rekening volg ek die universele en tydlose voorbeeld.

1.3    Derdens moet my lewe een wees van toewyding en nougesetheid. So stel Paulus dit in Fl 2:15: "Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld" (Fl 2:15). En kan dit meer radikaal gestel word as in 1Kor 7:29-31: "Ek bedoel dít, broers: die tyd is min. Van nou af moet dié wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie; en dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie; en dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie; dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie. Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken, is aan die verbygaan."

2.    Ons moet Jesus se gehoorsaamheid navolg

As daar een ding is wat die Here Jesus se lewe gekenmerk het, is dit gehoorsaamheid aan Sy Vader. Trouens, dis die onderliggende en samebindende beginsel van Sy genoegdoening en versoeningswerk. Die regsbasis vir die redding van sondaars het Hy daargestel deur Homself as Hoëpriester in totale gehoorsaamheid aan Sy Vader te offer.
    Luister na Fl 2:5, 8: "Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: ... Hy was gehoorsaam tot in die dood ..."
    Veral vier dinge het die Here Jesus se gehoorsaamheid gekenmerk.

2.1    Eerstens was Sy gehoorsaamheid vrywillig en blymoedig. So voorsien die Messiaanse Ps 40 dit: "Om U wil te doen, my God, is my een begeerte, U woord is my hele lewe" (v.7-9). En die Hebreërskrywer eggo dit as hy Christus aanhaal: "Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie; U wil gehoorsaamheid hê. Daarom het ek gesê: 'Hier het ek gekom soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is." (Hb 10:5-10). Waarlik, klaende, morrende en langtand-Christenskap voldoen net eenvoudig nie aan die Here se standaarde nie.

2.2    Tweedens was Jesus se gehoorsaamheid vry van selfbelang. Hy was totaal gerig op die eer van die Vader. Altyd het dit vir Hom oor die belange en wil van Sy Sender gegaan. Aan die einde van Sy tyd hier op aarde kon Hy in opregtheid en eerlikheid bid: "Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen (Jh 17:4)." Dis duidelik, vir selfsug is daar in 'n Christen se lewe geen plek nie. Ja, almal van ons ken die stryd teen hierdie gewetenlose en immerteenwoordige indringer, maar oorwinning begin met die erkenning dat dit geen bestaansreg het nie.

2.3    Derdens is Sy gehoorsaamheid altyd gekenmerk deur werksywer. Hoewel Hy oënskynlik nooit gespanne en oorhaastig was nie, was Hy kennelik steeds bewus dat die tyd kort is. As Hy 'n blinde genees, sê Hy: "Solank dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat my gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie." (Jh 9:4). Onthou dit altyd, ons as Sy volgelinge, is eweneens rentmeesters van ons tyd.

3.    Ons moet Jesus se naasteliefde navolg

Is Jh 13:34-35 nie van die Here se bekendste woorde nie? "Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle disspels van My is."
    Veral drie dinge het Sy naasteliefde gekenmerk.

3.1    Eerstens was Hy altyd vol empatie. Keer op keer lees ons dat Hy innig jammer vir die mense gevoel het. Matteus stel dit so: "Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie" (Mt 9:36).

3.2    Tweedens het Sy liefde tot uitdrukking gekom in diensbaarheid en selfverloëning.
    Destyds was dit die geringste onder die slawe se taak om gaste  -  wat met oop sandale oor stofpaaie aangestap gekom het  -  se voete te was voordat hulle die huis of eetvertrek binnegaan. Nadat Hy hulle voete in die bovertrek gewas het, sê die Here Jesus dan vir Sy dissipels: "As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel ..." (Jh 13:14-15). En nooit het Hy Sy dissipels méér gedien, as toe Hy hulle met Sy bloed gewas het nie.
    Luister na Paulus: "Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was. Hy wat in die gestalte van God was ... het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word ... " (Fl 2:5-8). Verstaan ons nou iets meer van Jesus se roeping: "Neem jou kruis op en volg My"? In ons lewens is daar geen plek vir selfsug, selfvertroeteling en selfbejammering nie. Christenskap is dienskneg-wees!

3.3    Derdens het die Here Jesus Sy liefde in algehele nederigheid uitgeleef. Daarom kon Hy vir Sy dissipels sê: " ... leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart ... " (Mt 11:29). Niks is meer strydig met ware Christenskap as hoogmoed nie.
   
4.    Ons moet Jesus se lyding navolg (Eng. "suffering")

Hoe kan mens Jesus hierin navolg? Christene moet tog nie lyding soek nie. Natuurlik nie. Ons is nie smartvrate nie! Maar mens kan ook sê dat ons nie lyding ten alle koste moet probeer vermy nie  -  en volg jy Jesus getrou en kompromieloos, gaan swaarkry, ontbering en smarte vir seker jou pad kruis (Rm 8:17; 2Kor 4:10vv; Kol 1:24).
    Petrus gebruik 'n baie sprekende beeld as hy oor lyding in 'n Christen se lewe praat: "Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg" (1Pt 2:21).
    Baie interessant is Petrus se woordkeuse. Die woord, "voorbeeld" (Gr. hupogrammos) kom uit die opvoedkundige wêreld van destyds. As 'n kleintjie vir die eerste keer skool toe is, het hy 'n vlak pannetjie vol byewas gekry. Die onderwyser het dan die Griekse alfabet met 'n stilus in die was geskryf  -  waarna die kleintjie met sy eie stilus versigtig oor en oor die groefies moes volg. So het hy geleidelik gewoond geraak om die letters te vorm. Nou gebruik Petrus hierdie beeld om vir ons te verduidelik hoe versigtig ons tree vir tree in Christus se voetspore moet volg  -  soos daardie klein seuntjie of dogtertjie die onderwyser se groefies moes volg  -  al sou dit lyding en vervolging, hoon en smaad vir ons meebring.
    Hierdie dinge moet ons nie verbaas nie. Die Here sê daar is 'n kruis wat ons moet opneem in ons navolging van Hom. Die kruis was 'n instrument van teregstelling. Dit sinspeel op die prys van dissipelskap. Gratis is die genade van God; nooit goedkoop nie.
    Vervolging en lyding kom vir dissipels tipies op vier maniere tot uitdrukking.

4.1    Eerstens is daar natuurlik properse vervolging. Dit neem verskillende gestaltes aan. Selfs in ons dag moet baie Christene oor die wêreld heen elke jaar die hoogste tol betaal. Duisende sit in tronke vir hul geloof. En elke ware Christen ken tot 'n mindere of meerdere mate verwerping, diskriminasie en spot.

4.2    Tweedens hou gehoorsaamheid dikwels allerlei ontberinge in. Dink aan die swaarkry van party sendelinge wat hulleself in moeilike omstandighede afsloof. Dink aan die plesiere en geriewe van hierdie wêreld wat mens jouself ontsê ter wille van die Here en Sy evangelie. John Wesley het byvoorbeeld vir amper vier jaar grootliks op artappels geleef, sodat hy meer kon hê om vir die armes te gee.

4.3    Derdens is daar ons Hemelse Vader se tugtinge en kastydinge wat alle ware kinders van God deelagtig is. En moenie dink die Landbouer se snoeiskêr is 'n ligtelike saak nie (Jh 15). Het jy al 'n wingerd gesien pas nadat dit gesnoei is. Dis so kaal dat dit lyk asof dit nooit weer gaan herstel nie. Om die beeld van Christus in ons te vorm, sny diep.

4.4    Vierdens is daar die lyding wat die stryd teen die vyande van ons siele meebring. Ons veg die stryd op drie fronte: teen die wêreld, die duiwel en die sondige natuur, Veral laasgenoemde, die vlees, is die ergste. Die stryd daarteen hou net nooit op nie.

5.    Ons moet Jesus se ewigheidsgerigtheid navolg

Van die Here Jesus sê die Hebreërskrywer: "Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins .. " (Hb 12:2). Hy was dus duidelik ingestel op die loon wat na kruis en opstanding op Hom gewag het.
    Hierin het Paulus sy Here nagevolg: "Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike. Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie." (1Kor 9:25-27). En inderdaad was die lourierkrans deurgaans in die apostel se visier.
    Om in die lig van die ewigheid te leef, is volgens die Nuwe Testament een van die uitstaande kenmerke van 'n ware gelowige se lewe.
    Die groot Amerikaanse prediker en teoloog, Jonathan Edwards, het gereeld gebid: "Lord, please stamp eternity on my eyeballs!"

Troos vir sukkelaars

Die Bybel het baie troos vir die van ons wat gebroke is, omdat ons so ver tekort skiet in ons najaging van die verhewe roeping om Christus te volg.
     Iemand wat deur die Gees wederbaar is, se nuwe hart dring hom of haar om die voorbeeld van die Here na te volg. Maar die swakheid van die vlees, die teenstand van die Duiwel, en die suigkragte van die wêreld, bring mislukkings sonder tal mee. Tog bly 'n dissipel se versugting steeds dié van die Psalmdigter: "As ek tog maar net op 'n vastekoers kan bly en my aan U voorskrifte kan hou!" (Ps 119:5).
    Vir die opreg-gebrokene herinner die Woord van God weer en weer: sulke mislukkings hef nie jou regverdiging op nie! Onthou, ons verlossing berus ten diepste nie op óns gehoorsaamheid nie, maar op die volmaakte gehoorsaamheid van Chrístus. Ten diepste is redding objektief; dit lê buite ons! Wat sou geword het van ons as dit nie so was nie? Wie sou gered kon word?
    Gebrokenheid oor dissipelskap-mislukkings word wonderlik deur die Heilige Gees in ons lewens gebruik. Ons swakheid word soos klokslag in geestelike wins omskep. Midde-in ons mislukkings leer ons ons eie harte en God se standaarde beter ken. Ons leer om sonde meer en meer te haat. Ons raak net dankbaarder oor Christus se volmaakte middelaarskap. En, les bes, groei ons in ons liefde vir die Here. Elke keer as ek die spoor byster raak, as die kruis my in die grond indruk, as ek wanhopig wil opgee, gebruik die Here dit ten goede. My trots word gekasty, my eie-geregtigheid gesnoei, ek kry meer waardering vir genade, ek verlang sterker na die hemel, en ek raak al hoe meer gereed vir die dood. En omdat God se krag in swakheid volbring word (2Kor 12:9-10), word hierdie krom stok  -  ja, ék  -  al hoe bruikbaarder om reguit houe mee te slaan.
    Onthou, die Here het 'n behae in my hartseer oor my mislukkings. Dawid het dit verstaan: "Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart, sal U, o God, nie verag nie" (Ps 51:19).
                                                                                                              Nico van der Walt

E116 - JH 14:1-3 : DIE BRUID VAN CHRISTUS

Dis die aand voor die Here Jesus Christus se kruisiging. Hy is saam met Sy dissipels in die bovertrek. Om regtig te verstaan wat Hy hier vir hulle sê, moet mens die kultuur-historiese agtergrond in ag neem. Kom ons kyk daarna.

Die Joodse huwelik

Die Joodse huweliksluiting het drie fases gehad: die verlowing, die wagperiode en die eenwording.

Die verlowing
'n Verlowing destyds was veel meer gewigtig as tans. Reeds by hierdie geleentheid is die huweliksverbond tussen die man en die vrou gesluit.
    Dit is voorafgegaan deur die jongman se besoek aan die pa van die jongmeisie op wie hy sy oog gehad het. Hy het dan sy hartsbegeerte aan die oom bekend gemaak, en as dié hom die versoek laat welgeval het, is daar onderhandel oor 'n bruidsprys, oftewel die lobola. Dit kon hy dadelik en kontant betaal, maar baie dikwels sou hy dit oor 'n tydperk afbetaal. Só moes Jakob byvoorbeeld sewe jaar vir elk van sy twee vrouens werk (Gn 29:18-30).
    Die verlowing was 'n uiters gewigtige verbondsluiting, wat geformaliseer is as die twee jongmense saam wyn uit 'n beker gedrink het.
    Na hierdie seremonie sou hulle so goed soos man en vrou wees  -  behalwe dat hulle nie seksueel één sou word nie. Die bruid was nou geheilig, oftewel afgesonder vir die bruidegom, en omgekeerd. Dit was dan ook die staat waarin Josef en Maria was toe sy swanger geraak het met die Messiaskind. Josef se geweldige ontsteltenis toe hy daarvan hoor, is dus heeltemal begryplik.

Die wagperiode
Hierdie tydperk kon jare duur (soos in Jakob se geval), maar twaalf maande was algemeen.
    In hierdie tyd het sowel die bruidegom as die bruid bepaalde verantwoordelikhede gehad. Afgesien van die bruidsprys se afbetaling, moes die jongman 'n blyplek vir hom en sy bruid gereedkry. Die bruid weer, moes haarself en haar bruidsuitset, oftewel haar trousseau, gereed kry  -  en veral haar trourok.

Die eenwording
Wanneer die dag van hulle finale eenwording in die huwelik aangebreek het, het die bruidegom sy bruid gaan haal vir die huweliksfees. Tipies sou hy 'n klomp vriende saamgeneem het, en dikwels het hulle eers teen die aand by haar huis aangekom.
    Intussen sou die bruid opgewonde gewag het. Sy het sekerlik snuf in die neus gehad min of meer wanneer die jongmanne sou opdaag, maar uiteraard, in die wêreld van destyds kon dit maklik 'n dag of twee vroeër of later gewees het.
    Ook die bruid het vriendinne gehad wat haar bygestaan het. Dikwels het hulle buite gewag om die aankomende manne betyds te sien.
    As die bruidegom binne hoorafstand was, sou een van die jongmanne hard roep om die klomp meisies te waarsku dat hulle gereed moet wees.
    Uiteindelik sou die klompie jongmense al laggende, singende en dansende terug vertrek na die plek van die huweliksfees. En elkeen sou 'n fakkel of 'n lamp dra om te kan sien. Dis nie moeilik om jou die uitbundige vreugde, opgewondenheid en afwagting van so 'n optog in te dink nie.
    'n Hoogtepunt van die fees was wanneer die bruid se sluier gelig is en sy bekendgestel is. Sekerlik het talle snuf in die neus gehad wie sy was, maar nou was dit oop en bloot en amptelik.
    Hierdie fees het as 'n reël ook heelwat meer om die lyf gehad as óns onthale vandag. Dit kon so lank soos sewe dae duur! (vgl. Rig 14:12, 14 -18).

Toepassing in die Nuwe Testament

Baie huweliksbeelde in die Skrif raak nou duideliker.
    Die kerk is die bruid van Christus (Op 19:7-8).
    Christus het gekom om ons  -  dié wat waarlik aan Hom behoort  -  aan Hom te verloof. Die verhouding tussen ons en Hom word ook die verbond genoem. Ook hierdie huwelik is verseël met die drink uit 'n gemeenskaplike beker. Dit geskied nie net eenmaal nie, maar weer en weer (1Kor 11:25). Die kulminering van hierdie verlowing of huwelik sal egter eers eendag gebeur tydens die bruilofsmaal van die Lam (Lk 22:14-18).
    Ons hemelse Bruidegom het sommer dadelik die bruidsprys betaal. En wat 'n prys was dit nie! (vgl. AH 52). Vir seker is dit 'n aanduiding van hoe kosbaar Hy die bruid ag.
    Toe is die Here Jesus terug na die Vaderhuis toe  -  om vir ons plek gereed te gaan maak (Jh 14:2-3).
    Die kerk is vir Christus afgesonder. Sy flankeer nie met ander minnaars in hierdie wêreld nie  -  sy raak nie wêreldgelykvormig nie. Sy hou haar besig met die regkry van haar trousseau en trourok.
    Wanneer die bruid in haar volheid gereed is, sal Christus terugkom vir die vervolmaking van die huwelik. Dan sal die verlowingstyd verby wees.
    Wanneer ons hemelse Bruidegom terugkom, sal Hy 'n gevolg saambring  -  al die engele (Mt 25:31).
    As die Here terugkom, sal die aartsengel roep en God se trompette sal weerklink (1Ts 4:16). En ons sal vir altyd by die Here wees.
    In die Vaderhuis sal jubelend feesgevier word. Die Bybel noem dit die bruilofsmaal van die Lam. En dit sal nie net vir sewe dae duur nie, maar vir ewig.
    Ook by hierdie geleentheid sal die bruid publiek en finaal bekendgestel word. Só stel Kol 3:4 dit: "Wanneer Christus ... geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word." En Rm 8:19: "Die skepping sien ... daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is."

2Kor 11:2-4 : So lyk 'n ware gemeente

As mens 2Kor 11:2-4 lees, sien jy hoe die apostel die gemeente van Korinte beskou. Hy sien hulle as 'n meisie wat hy aan Een Man toegesê het as Sy bruid en wat hy vlekkeloos na Hom toe wil bring. Die man is Christus. Maar hy is bang dat hulle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus. Hy sê dit omdat hulle so maklik daarmee genoeë neem as iemand 'n ander Jesus kom verkondig as wat die apostels verkondig. En hulle neem maklik 'n ander gees en 'n ander evangelie aan as wat hulle by Paulus geleer het."
    Hier sien Paulus die gemeente as 'n jongmeisie wat aan Christus verloof is. Ja, die kulminering van die huwelik het nog nie plaasgevind nie, maar die verlowing is 'n voldonge feit. En die apostel se taak is om hulle voortdurend hieraan te herinner en aan die verantwoordelikhede wat dit inhou.
    Waarvoor beywer die apostel hom met 'n ywer wat van God kom (en stel in die proses 'n voorbeeld vir alle pastors deur die eeue wat sou volg)?
    Paulus beywer hom vir die maagdelikheid en vlekkeloosheid van die bruid. Hier gaan dit oor die gemeente se heiligheid (2).
    Paulus beywer hom vir die bruid se onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus. Hier gaan dit oor die gemeente se liefde vir Christus (3).
    Paulus beywer hom dat die bruid nie verlei sal word om 'n ander Jesus, 'n ander gees, of 'n ander evangelie as die ware aan te hang nie. Hier gaan dit oor die waarheid van die gemeente se geloof, oortuigings en toewyding.
    As mens bogenoemde in sy volle omvang vertolk, kan jy sê dat dit die hart is van wat die Here van ons verlang. Die res is óf daarby inbegrepe, óf kom vanself, óf is onbelangrik.
    Ons sou voorts kon sê dat die gemeente waarvan dit nie waar is nie, 'n ontroue, ontugtige, losbandige en sedelose "kerk" is.

'n Heilige bruid

Hoe lyk 'n heilige bruid, oftewel gemeente? (Onthou, die mense en nie die instituut nie, is die gemeente).
    Mens sou lank hieroor kon praat. Maar dinge wat die Woord van God baie sterk beklemtoon, is onder meer die volgende (die OAV word veral aangehaal):
    'n Ware gemeente jaag dit na om sonder vlek of rimpel voor die Here én voor die wêreld te leef  -  heilig en sonder gebrek (Ef 5:25-27).
    'n Ware gemeente weet dat vriendskap met die wêreld, vyandskap met God is (Jk 4:4). Daarom vlug hulle vir die begeerlikheid van die vlees en die oë, asook die grootsheid van die lewe (1Jh 2:16).
    'n Ware gemeente dien nie God én Mammon nie. Hulle weet die godsaligheid saam met vergenoegdheid is 'n groot wins (1Tm 6:6).
    'n Ware gemeente weet hulle is vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld. Hulle is op pad na die ewige stad as vrou van Christus. Daarom slaan hulle nie hulle penne híér te diep in nie.
    'n Ware gemeente ken die vrese van die Here en bewe vir Sy Woord (Jes 66:2).
    'n Ware gemeente word deur godvrugtige ouderlinge gelei en bewaak hulle nagmaalstafel.
    'n Ware gemeente maak erns met hulle onderlinge verhoudinge.

'n Verliefde bruid

Kan 'n huwelik voltrek word as die bruid in die verlowingstyd met ander minnaars flankeer en haar bruidegom nie meer liefhet nie? In Op 2 lees ons dat ons werke, arbeid en volharding nikswerd is nie as ons ons eerste liefde verloor het. En Jh 17:3 sê vir ons baie duidelik dat Christenskap nie die najaag van 'n ideologie is nie, maar 'n persoonlike verhouding. Daarom is gebed so belangrik  -  dis die bruid se liefdesbriewe. Elke bruid droom oor haar huwelik. Net so bedink Christene gereeld "die dinge wat daarbo is" (Kol 3:1-4). Hulle het die Here se verskyning lief (2Tm 4:8). Hulle is heelhartig ingestel op Christus en Sy eer  -  Hy vul hulle hele blikveld.

'n Waarheidsbruid

Ware gelowiges ondersoek hulself gedurig of hulle nie besig is met 'n ander Jesus, 'n ander gees of 'n ander evangelie nie. Daarom is die prediking in só 'n gemeente ondersoekend en deurtastend.
    Jesus roep ons om ons kruis op te neem, maar talle gemeentes roep mense om hulle in 'n "ander Jesus" se Naam te kom geniet. Selde hoor jy in so 'n gemeente dat mens moet afsien van jou dierbares en jouself en jou besittings. Dikwels word só gevlug vir die dwaling van verlossing deur werke, dat 'n verlossing sonder gehoorsaamheid gepreek word.
    En word daar nie dikwels 'n "ander gees" gepreek nie? Hierdie gees wederbaar mense sodat niemand dit agterkom nie. En sy taak is om van Christenskap 'n bokjol te maak.
    En 'n "ander evangelie" preek vir helgedoemdes "vrede, vrede". Dis nie tweesnydend nie.

Die trourok

Hoe berei die bruid haar trourok voor? Openbaring 19:7-8 sê vir ons. Elke regverdige daad is nóg 'n stekie daarin. As jy dan inderdaad in Christus is, hoe gaan jy eendag voor Hom staan  -  met 'n asemrowende trourok en 'n sleep, of halfkaal met net die minimum om jou skaamte te bedek?

                                                                                                              Nico van der Walt

Wednesday, July 31, 2013

E264 - JH 13:1-17 - IS JY REGTIG 'N NAVOLGER VAN DIE HERE JESUS?

Mt 16:15-16
As die Here Jesus Sy dissipels vra of hulle weet wie Hy is, antwoord Petrus namens hulle: "U is die Christus, die Seun van die lewende God."
    Hulle het dus geweet dat Jesus die Messias was  -  die Here, die Koning.
    Sekerlik sou hulle baie hieroor nagedink het. En hulle sou verder gedink het: 'n koning het nie net onderdane nie, maar hy het ook helpers, adjudante, 'n kabinet, ministers.
    Sonder twyfel was dit nie vir spek en boontjies dat Hy húlle twaalf uitgekies het om orals saam met Hom te wees nie  -  nou al vir 2 jaar. Dis so duidelik soos daglig  -  vir seker gaan húlle Sy kabinet word as Hy eers die troon oorvat.
    Daar het egter één tergende raaisel oorgebly. In 'n kabinet is daar altyd 'n eerste minister! En wie gaan Jesus vir hierdie hoë amp kies? Hierdie vraag het gewis die ambisie hoog in hulle laat opvlam.

Mt 18:1-4

In die komende dae en weke sou hulle baie getob het oor wie die hoogste pos gaan kry. Sonder twyfel sou hy uit hulle geledere kom!.
    Dan besluit hulle om die Here reguit te vra: "Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemele?"
    Jesus roep dan 'n klein kindjie om by Hom te kom staan. "Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel." Trouens, sê Hy, as julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle nie eers in die koninkryk kom nie  -  wat staan nog die grootste daarin wees.
    Duidelik weet die Here wat in die dissipels se agterkoppe sit. Vandaar hierdie antwoord. Vergeet van die premierskap, sê Hy, maak allereers seker dat julle wel in die koninkryk kom. Dis tog die belangrikste!
    Waarlik, hierdie is 'n uitspraak van die Here Jesus wat ons nie ligtelik durf opneem nie! Maar hiervan verstaan die klompie dissipels niks nie.

Mk 9:33-37

Dis 'n ruk later. Hulle is op pad. Dan kry die dissipels stry oor wie van hulle die belangrikste is.
    In Kapernaum begin die Here hulle dan met groot geduld leer: As iemand die eerste wil wees, moet hy nie omgee om laaste te wees nie. En hy moet bereid wees om almal se dienaar te wees.
    Hier wil die Here dus beklemtoon dat daar in Sy koninkryk 'n baie hoë premie op diensbaarheid gestel word.
    Hy laat dan 'n kindjie tussen hulle staan en sê: "Elkeen wat so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My ... ook vir Hom wat My gestuur het." Hierdie is 'n sprekende voorbeeld. Kindertjies gee nie om as grootmense hulle rondstuur nie. Trouens, hulle is baie trots daarop as 'n oom of tannie hulle só vertrou. Selfs meer as vandag het kinders in die wêreld van destyds geen status gehad nie. En allermins het hulle opdragte gegee; nee, hulle het opdragte ontvang. Dit was vir hulle 'n eer om die grootmense se stuurjongens te wees.
    Maar oënskynlik het die dissipels steeds nie verstaan nie  -  want onmiddellik hierna lees ons van nog 'n voorval..

Mt 19:13-15; Mk 10:13-16; Lk 18:15-17

As die mense hulle kindertjies na Jesus toe bring sodat Hy hulle kan aanraak, stamp die dissipels hulle daarteen. Maar Hy sê, nee, Hy wil juis hê die kinders moet na Hom toe kom  -  omdat die koninkryk van God vir mense soos die kinders is. Trouens, dis 'n absolute voorwaarde vir ingang in die koninkryk. Mens wil amper wonder of Jesus homself nie verspreek nie. Of is dit dalk 'n drukfout? Maar, nee, Hy gebruik die voorbeeld weer en weer
    Sonder twyfel stel die Here 'n hoë premie op die voorbeeld van hierdie geen-status-mensies. Hoe moet mens dit vertolk.?
    Die antwoord lê daarin dat Christus se koninkryk 'n andersom koninkryk is. En tipies van hierdie koninkryk is opregtheid en diensbaarheid, asook ongeërgdheid oor kleur en titels en aansien en rykdom. Dis hoe kinders is. Presies só moet ons ook wees. Trouens, ons moet al hoe meer so word. Waarlik, niks is meer strydig met die koninkryk van die hemele as snobisme en ambisie en naywer nie.
    Maar steeds het die dissipels nie verstaan nie. En kennelik het hulle bly wonder wie van hulle nommer een gaan word in die komende koninkryk.

Mt 20:20-28

Dis omtrent ses maande na die vorige insident. Jesus en Sy manne is op pad na Jerusalem (17-19). Sonder twyfel weet hulle: nou gaan die dinge begin gebeur. In die hoofstad gaan die poppe dans!
    Jakobus en Johannes se ma is ook saam met hulle. Sy besef die tyd raak min en sy sal vinnig moet spring. Met ambisie wat in haar brand, gaan sy na Jesus toe. Reguit vra sy vir Hom of haar seuns nommer 1 en 2 in Sy koninkryk kan wees  -  of nog beter, nommer 1a en 1b. Jesus moet darem in gedagte hou dat hulle 'n ryk pa het (Mk 1:20). Nog meer, hulle beweeg lankal reeds saam met Petrus in Jesus se binnekring. En as daar een man is wat sy wil voorspring, is dit die voortvarende Petrus.
    In v.22-23 lees ons hoe Jesus haar antwoord  -  en vir die twee seuns, wat duidelik geweet het wat hulle ma vir die Here gaan vra. Hulle was immers net 'n halftree agter haar, of so lyk dit. Nee, sê die Here , dis Sy Vader se prerogatief om te besluit oor mense se posisie en status eendag in die koninkryk van die hemel.
    Duidelik verstaan die dissipels steeds nie dat prominensie in die koninkryk van Christus uitgemeet word met die maatstok van nederigheid en diensbaarheid. As Hy dus voortgaan om met eindelose geduld hierdie beginsel weer op hulle harte te druk (teen hierdie tyd luister al die dissipels), praat Hy in meer uitdruklike terme as ooit vantevore.     Elkeen wat in Sy koninkryk groot wil wees, moet allermins baasspelerig en grootmeneer wees, maar veeleerder diensbaar by uitnemendheid. Nou draai Jesus nie meer doekies om nie  -  mens moet 'n "dienaar" word (Gr. diakonos, 'n bediende) (v.26). En as jy die eerste wil wees, moet jy almal se "slaaf" wees (Gr. doulos, 'n slaaf) (v.27).
    Onthou, in die antieke wêreld het 'n slaaf geen regte gehad nie; uiters dalk 'n paar voorregte (Lk 17:7-10). Iets soos werksure, byvoordele, vakbonde en waardering het nie bestaan nie.
    Die les van hierdie stukkie interaksie tussen die Here en Sy dissipels kan dus só saamgevat word: Grootheid in die koninkryk word gemeet met die maatstok van diensbaarheid.

Lk 22:24-27

Dis 'n dag voor die kruisiging. Die dissipels is vol afwagting. Hulle ambisie bereik 'n hoogtepunt. In Jerusalem is spanning en druk besig om rondom Jesus op te bou. Iets móét nou begin gebeur!
    Dan ontstaan daar weer 'n gestry tussen die dissipels oor wie van hulle die belangrikste is.
    Baie geduldig leer die Here Jesus weer vir hulle dieselfde les as die vorige kere. Mens kan jou indink hoe elkeen van hulle baie verleë en kop onderstebo na Hom luister: "die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is soos die een wat dien ... Ek is in julle kring soos die een wat dien."

Jh 13:1-17


Daardie selfde aand is Jesus en Sy dissipels in 'n bovertrek saam om die paasmaaltyd te vier. Judas is ook daar, hoewel hy reeds besluit het om Jesus te verraai.
    Eensklaps staan Jesus op, trek Sy bokleed uit en bind 'n handoek om sy lyf vas. Dan gooi Hy water in 'n wasskottel. Die dissipels se oë is vasgenael op Hom en die atmosfeer kan met 'n mes gesny word.
    Die dissipels verstaan maar te goed wat aan die gang is. Mense het destyds sandale gedra. En in daardie dorre wêreld, met sy snuifgetrapte stofpaaie, was jou voete behoorlik vuil teen die tyd dat jy by jou bestemming aangekom het. Dit was dan ook die gebruik dat gaste hulle skoeisel by die voordeur gelos het, om dit eers weer aan te trek as hulle vertrek.
    Aangesien mens toe nie aan 'n tafel gesit het vir ete nie, maar op jou sy en elmboog gelê het, het dit beteken dat jou voete nie ver van die tafelgenoot langs jou se neus af was nie. Daarom was dit gebruik om gaste se voete te was voordat hulle plek inneem by die lae "tafel".
     As 'n gasheer 'n vermoënde man was, sou een van sy slawe die gaste se voete gewas het  -  gewoonlik sy mees junior slaaf, aangesien dit as 'n baie nederige werk geag is. Was daar nie 'n slaaf beskikbaar nie, sou die gasheer óf een van die jonger besoekers die taak verrig het.
    In doodse stilte (kan ek my voorstel) stap Jesus dan na die naaste dissipel toe, kniel by hom, was sy voete, en droog dit rustig af met die handoek. Dan tel Hy die skottel op en beweeg na die volgende dissipel toe. En hoewel Jesus presies weet dat Judas Iskariot op die punt is om Hom te verraai, was Hy ook díé se voete.
    As Hy egter by Petrus kom, reageer die impulsiewe karakter op 'n tipiese manier: "Here, gaan U mý voete was?" "As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie", is Jesus se respons dan. Petrus verstaan kennelik iets van die implikasies van Jesus se woorde en roep gevolglik uit: "Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig!" (v. 6-10).
    Uiteindelik voltooi Jesus die sirkel en die dissipels kan die ete met skoon voete nuttig. Nie dat dít op sigself is waaroor dit gegaan het nie. Want dit lyk immers asof die Here self die ete met stofbesmeerde voete genuttig het, want ons lees nie dat iemand Sý voete gewas het nie.
    As die Here Sy bokleed aantrek en weer Sy plek inneem, hou twaalf paar oë Sy elke beweging in doodse stilte dop. "Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?" (12).
    In v.13 bevestig Jesus Sy gesag om sulke lewensbepalende lering vir hulle te gee. En inderdaad is die opdrag wat Hy nou vir Sy dissipels gaan gee rigtinggewend vir elkeen wat dit ernstig opneem en daarvolgens begin leef.
    Ons vind die opdrag in v.14: "As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was." Die Grieks beklemtoon dat dit nie 'n eenmalige aksie moet wees nie, maar 'n gereelde handeling  -  weer en weer  -  'n lewensgewoonte. Hulle was waarskynlik verras. Miskien het hulle verwag dat Hy sou sê: "As Ek, julle Here, julle voete gewas het, behoort julle nou ook Mý voete te was." Maar wat hulle nog moet leer, is dat 'n mens Hóm dien as jy Sy broers en susters dien.
    In v.15-17 gee Hy die bevel uitdruklik en onmiskenbaar: Hy het vir hulle die voorbeeld gestel en nou gee Hy die opdrag in soveel woorde. Daar kan dus geen misverstand wees nie. En dis 'n sleutel tot 'n lewe van saligheid. En let op hoe Hy afsluit: "As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen."

Wat sê dit alles vir jou en my?

Natuurlik het hierdie roeping tot diensbaarheid diep en ingrypende implikasies vir elke dissipel van die Here Jesus. En ons sou lank daarmee kon besig wees. Maar kom ons kyk net na die basiese roeping in die algemeen  -  en wat dit vir ons inhou.
    Ons kan aanvaar dat die beginsel van diensbaarheid uiteindelik lewensveranderend in die apostels se harte vasgelê is. Nooit was hulle lewens ooit weer dieselfde nie, veral nie na die vervulling met die Heilige Gees op die Pinksterdag nie. Só radikaal gehoorsaam het hulle hierdie roeping tot diensbaarheid uitgeleef, dat die lewens wat hulle gelei het die wêreldgeskiedenis verander het. En tot vandag toe, tweeduisend jaar later, is hulle name steeds aan dermiljoene mense bekend.
    Waarlik, hulle lewens het volledig opgegaan in diens, in voetewas. Dit het natuurlik 'n bepaalde koers ingeslaan volgens die Here se roeping (dit geld vir elkeen van ons; ons roeping is uniek en persoonlik). Wat hulle betref, kan 'n mens waarlik vra: kan 'n mens jou naaste  -  en uiteraard ook ons Saligmaker  -  meer uitnemend dien, as om die boodskap van die ewige saligheid ver en wyd uit te dra. En dis waarin hierdie manne se lewens hierna volledig opgegaan het, ten spyte van die verskriklike ontbering en lyding wat dit ingehou het. Trouens, een en elkeen van hulle  -  met die uitsondering van Johannes  -  het uiteindelik 'n marteldood gesterf, omdat hulle geweier het om af te sien van hierdie roeping. En wat Johannes betref, het hy so geweldig gely oor sy gehoorsaamheid, dat hy waarskynlik sou verkies het om eerder soos die ander te sterf.
    Ek dink jy sal saamstem, beswaarlik was daar iets in die Here Jesus se opdragte aan Sy dissipels wat Hy sterker beklemtoon het as die roeping tot diensbaarheid.
    En ons vandag, is hierdie roeping werklik ook op ons van toepassing? Vir seker!
    Goed, ons roeping mag anders wees as díé van die apostels. Maar sonder twyfel word een en elkeen van ons wat beweer dat ons navolgers van Christus is, geroep om voetwassers te wees. En onthou, die werkwoordsvorme wat Jesus in v.14-15 gebruik, praat uitdruklik van voortdurende handeling. En al is ons besondere roeping anders, het Jesus en die apostels vir ons gedemonstreer hoe  gehoorsaamheid uitgeleef moet word. Só besig was hulle met die uitnemende, dat hulle nie tyd gehad het vir die belangrike nie  -  om van die irrelevante nie eers te praat nie. Dit was hulle lewenshartstog!
    Sekerlik is geloof in Christus meer fundamenteel as gehoorsaamheid en diensbaarheid. Want dis deur geloof  -  en deur geloof alleen  -  dat ons gered word. Geloof op sigself is egter subjektief en innerlik  -  en as sodanig is geloof onsigbaar. Maar die Bybel leer dat ware saligmakende geloof nie onsigbaar kan bly nie. Dit mond sonder uitsondering uit in gehoorsaamheid en diensbaarheid. En so word geloof dan duidelik sigbaar. Trouens, Jk 2 is duidelik: geloof sonder werke is dood. En op geen wyse kom ware geloof duideliker tot uitdrukking as in 'n lewe van gehoorsame diensbaarheid nie. Omdat die ware kerk dit al vir eeue verstaan, het 'n Latynse spreuk tydens die 16de eeuse reformasie ontstaan: sola fides justificat, sed non fides sola est  -  alleen geloof regverdig, maar nie geloof wat alleen is nie.
    Niemand hoef dus te wonder of hy of sy saligmakende geloof het nie  -  jou lewe wys dit uit. En dis glashelder duidelik!
    Vra jouself dus af en antwoord so eerlik moontlik: Ly ek 'n lewe van liefdesdiens, sonder om ingestel te wees op kompensasie van watter aard ook al? Doen ek dit uit dankbaarheid vir die diensbaarheid van die Here Jesus in my belang, en in gehoorsaamheid aan Hom as my Koning?
    Jou antwoord, mits dit eerlik is, sal vir jou sê of jy gehoorsaam leef al dan nie. Vir die gehoorsames kan ek dan met vrymoedigheid sê: jou lewe dui daarop dat jy waarlik gered is. Vir die ongehoorsames kan ek ongelukkig niks sê nie. Ek het nie die gesag daarvoor nie. Maar wat ek wel kan sê, is dat jy baie seker moet maak of jy inderdaad gered is. Want nêrens, dink ek, gee die Bybel vir 'n ongehoorsame (en wat ongehoorsaam bly) die versekering van redding nie.
                                                                                                           Nico van der Walt

E259 - Rm 5:12-21 - ADAM EN CHRISTUS - die hart van Romeine

Ons het reeds in diepte gekyk na Rm 5:1-11 (E202-E207), waar die apostel oor die vrug van regverdiging skryf. Nou begin hy in 5:12 oënskynlik met 'n totaal ander tema. Dit is so. En tog begin hy die gedeelte met "daarom" (OAV), wat impliseer dat daar 'n verband met die voorafgaande is. Om hierdie verband te verstaan, is belangrik om ons teksgedeelte na behore te vertolk.
    Allereers moet ons in gedagte hou waarmee Paulus in hierdie deel van sy brief besig is. Hy is besig om die ewige sekuriteit van diegene wat geregverdig is op elke denkbare manier in sy lesers se gemoedere vas te lê. Dis die oorhoofse tema.
    Vra ons egter hoe verse 12-21 aan die voorafgaande koppel, is die antwoord nie so eenvoudig nie. Kommentatore verskil. Waarskynlik is die mees bevredigende uitleg die volgende:
    In verse 9-10 word die sekerheid van diegene wat geregverdig is se komende redding uitgespel. Dit staan vas dat ons met God versoen is en "deur die lewe van sy Seun gered sal word" (10b).

Mense word in Christus gered

Toe ons 5:1-11 behandel het, is uitgewys dat dit gaan oor ons lewenseenheid met Christus  -  die fundamentele beginsel van ons redding. Dit is die onwankelbare rotsbodem van ons ewige sekuriteit. Christus het rééds verheerlik opgestaan; dus is die uiteindelike opstanding van diegene wat met Hom verenig is (wat in Hom is) 'n noodwendigheid.
    Hierdie paragraaf is waarskynlik die mees uitgebreide behandeling in die Bybel van die gelowige se organiese lewenseenheid met Christus. Die verband tussen 5:1-11 en 5:12-21 lê dus hierin: Paulus vat die laaste fundamentele gedagte van die vorige paragraaf en vou dit hier vir ons oop.
    Benewens bogenoemde verduidelik die apostel hier ook vir ons die beginsel onderliggend aan sy hele betoog in Rm 1:18-3:20. Hy toon aan dat álle mense, Jode sowel as heidene, skuldig voor God staan en onder Sy toorn verkeer. Hier gee hy vir ons die worteloorsaak van die universele verskynsel van die radikale verdorwenheid van die natuurlike mens.
    Ter wille van duidelikheid moet verstaan word dat die erfsonde twee komponente het: die erfskuld (die ganse mensheid is in Adam skuldig en doemwaardig voor God), en die erfsmet (die sondige natuur waarmee elke mens gebore word  - wat uiteraard aanleiding gee tot eindelose persoonlike sondes in elkeen se lewe).
    As mens die Nuwe Testamentiese geheimenis van ons lewenseenheid met Jesus Christus begin verstaan en na waarde skat, word dit vir jou die mees wonderskone verlossingsmusiek. Niks is grootser as dit, of bring meer verwondering, of bied meer troos en sekuriteit nie. En as jy eers só vasgegryp word, begin jy hierdie waarheid orals in die Nuwe Testament raaklees  -  veral in Paulus se geskrifte. Niks het hom meer gefassineer nie. Oor en oor gebruik hy die uitdrukking "in Christus".
    Dit is dus geen wonder nie dat talle kommentatore hierdie paragraaf as die hoogtepunt van die brief beskou. Anders Nygren sê: "the point where all the lines of (Paul's) thinking converge, both those of the preceding chapters and those of the chapters to follow." Martyn Lloyd-Jones verwys na hierdie gedeelte as "the very heart and centre" van die brief.
    Dis asof die apostel hier met 'n kragtige teleskoop in sowel die verre verlede as in die verre toekoms intuur. En so gee hy vir ons 'n bykans ongeëwenaarde panorama van God se ewige raad en onuitspreeklik kosbare verlossingsplan in Christus. Ja, die ganse mensdom is in die uiterste ellende gedompel deur (in) hulle hoof, Adam. Maar eweneens het 'n nuwe en verloste mensheid ontstaan in Christus Jesus  -  húlle Hoof.

Oorsig oor die paragraaf

Die basiese punt van hierdie 10 verse is dit: soos die ganse mensheid onder God se oordeel verkeer, omdat Adam se sondeskuld aan hulle toegereken word, net so word gelowiges in Christus geregverdig, omdat Sý sondelose geregtigheid aan húlle toegereken word.
    Die onderliggende beginsels van redding en verlorenheid is dus presies dieselfde  -  dis die gevolg van wat 'n Ander, 'n Verteenwoordiger, 'n Verbondshoof, gedoen het!

●    5:12-14: Sonde het in die wêreld ingekom deur die eerste mens, Adam. So het die dood, wat die gevolg is van sonde, na alle mense versprei. Alle mense het op een of ander manier in Adam gesondig. En niemand kan hierdie universele verskynsel van sonde en die dood ontken nie. Dis vaster as die berge.
    Hoewel die apostel sekerlik in die eerste instansie hier aan die liggaamlike dood dink, strek dit vir seker veel verder: dit sluit ook die ewige dood in.

    ○    In 5:13-14 onderbreek Paulus sy argument. Die vergelyking tussen Christus en Adam word in werlikheid eers in v.18 verder gevoer. Eers wil hy sy stelling in v.12 verduidelik  -  'n stelling wat vir die ongelowige tot groot aanstoot is. Sy argument loop só:
    Aangesien sonde die oortreding van 'n wet is, kan daar geen sondeskuld sonder 'n wet wees nie (13).
    Voorts, aangesien alle mense tussen Adam en Moses gesterf het, ook babas (waarop Paulus sinspeel as hy praat van mense wat nie op dieselfde manier as Adam oortree het nie), beteken dit dat almal skuldig was aan die oortreding van een of ander wet (14).
    Hierdie wet kan nie dié van Moses wees nie. Hy het immers toe nog nie geleef nie. Meer nog, aangesien babas nie kan sondig nie, beteken dit verder dat die diepste grond vir daardie mense se skuld ook nie hulle oortreding van die natuurlike wet kan wees nie  -  waarvan Paulus in 2:14-15 praat.
     Daar bly dus net één moontlikheid oor: daardie mense was skuldig op grond van Adam se sonde.
    Hierdie waarheid word oor en oor beklemtoon: deur die oortreding van een het baie gesterf (15); op die oortreding van een het die oordeel gevolg (16); deur die oortreding van een het die dood heerskappy gevoer (17); een oortreding het gelei tot veroordeling vir alle mense (18); baie het deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword (19).
    Alle mense is dus ten diepste skuldig te wyte aan één man se sonde  -  selfs nog voordat hulle
baie persoonlike sondes daarby gevoeg is.

    ○    In v.14b word Adam 'n "voorbeeld" van Christus genoem (OAV). Wat bedoel Paulus daarmee?
    Soos wat Adam die hoof en verteenwoordiger is van die ganse mensheid wat uit hom voortgekom het, so is Christus die hoof en verteenwoordiger van diegene wat deur 'n ware geloof met Hóm verenig is. Die een se sonde het vir sy afstammelinge die dood gebring; die ander se geregtigheid het vir Sý mense die lewe gebring.

●    5:15-17

Voordat Paulus voortgaan met die vergelyking tussen Adam en Christus, wil hy alle misverstande uit die weg ruim. Ja, daar is 'n wonderlike parallel tussen Adam en Christus, maar tog is daar ook radikale verskille tussen hulle. Waar die gevolge van Adam se sonde skrikwekkend negatief is, is die gevolge van Christus se gehoorsaamheid onuitspreeklik heerlik. Nog meer, dit het nie bloot die effekte van die sondeval kom ophef nie, dit het baie, baie verder gegaan as dit  -  dis veel "oorvloediger" (15).
    Gelowiges ontvang 'n "oorvloed van genade" (17). Christus se middelaarswerk maak voorsiening vir die vergiffenis van al ons persoonlike sondes ("baie oortredings" - 16). Nog meer, dit bring nie net vergiffenis nie, dit maak dit ook vir God moontlik om ons "die gawe van die geregtigheid" te skenk (Gr. 17, OAV). En nóg meer, teenoor die voortgaande mislukking van Adam se nageslag, "heers" diegene in Christus "in die lewe." (17, OAV).
    Ons leie  -  in God se kluis  -  wat van hoek tot kant bekrap was met groteske verhale van tragiese mislukking, afstootlike sonde en verdoemende skuld, is nou nie net skoon gevee nie; dis vol geskryf met verhewe getuienisse van volmaakte en heilige gehoorsaamheid aan die Here!

●    5:18-19

Die vergelyking waarmee v.12 begin het, word nou uiteindelik voortgesit. Die hoofgedagte van hierdie paragraaf kry ons dus in die eerste vers (12), saam met hierdie twee verse: net soos mense veroordeel word op grond van die toegerekende sondeskuld van Adam, word hulle geregverdig op grond van die toegerekende geregtigheid van Jesus Christus.
    Die NAV mag ons dalk verlei om v.19 verkeerd te verstaan (baie het deur die ongehoorsaamheid van een mens "sondaars geword"). Die OAV waak teen so 'n mistasting met sy gebruik van "gestel".
    Die betrokke werkwoord word twee keer in v.19 gebruik. Basies beteken dit om formeel in 'n definitiewe kategorie geplaas te word. In hierdie geval is daar twee kategorieë: die van sondaars en die van regverdiges. Dis 'n handeling van juridiese of wetlike aard. Dikwels word dit ook gebruik as iemand in 'n posisie van gesag aangestel word  -  soos 'n regter (Hd 7:27, 35), of 'n goewerneur (Hd 7:10). Dit word ook gebruik vir die bevestiging of ordening van diakens en priesters ("aanstel", in Hd 6:3; Hb 5:1; 7:28; 8:3).
    Die punt wat ons dus goed moet verstaan, is dat dit nie hier gaan oor 'n morele verandering nie, maar oor 'n verandering in wetlike en objektiewe status. In Adam is baie sondig en skuldig; in Christus is baie regverdig en onskuldig.
    Dis waarom Paulus so dikwels die woord "toereken" in hierdie verband gebruik (vgl. Rm 4 waar dit 11 keer voorkom). Ook dit is 'n formele en wetlike term, en dui basies op 'n inskrywing in 'n rekeningeboek ‒ om te debiteer of te krediteer.

●    5:20-21

Hier klaar Paulus 'n moontlike misverstand in sy lesers se gemoedere op. Tussen Adam en Christus het Moses gekom; hoe pas die wet in die prentjie?
    Anders as wat baie dink, het God nie die wet gegee as morele leer waarteen mense na die saligheid moet opklim nie. Die teendeel is waar (5:20a). Nee, die wet is bloot gegee om sonde te definiëer en uit te lig. En, natuurlik, hoe beter mens die sondigheid van sonde sien, hoe meer waardeer jy genade. En tot daardie mate het dit Godvererende vrug in ons lewens.
    Paulus sluit dan hierdie grootse gedeelte af deur net weer te herinner dat alles in en deur Jesus Christus gebeur.

Slot

Duideliker as enige ander plek in die Bybel onderstreep hierdie paragraaf dat God na die ganse mensheid deur die eeue kyk as ingedeel onder twee hoofde  -  Adam, wat die dood gebring het, en Christus, wat die lewe gebring het. Niemand het dit beter raakgevat as die ou Puritein, Thomas Goodwin (1600-1680) nie:

    There are but two men standing before God, Adam and Christ  -  and between them these two men have all other men hanging from their girdles.

    God het nog altyd met die mens gewerk deur 'n verteenwoordigende verbondshoof. Die geskiedenis van die wêreld kan saamgevat word in wat as gevolg van Adam se optrede gebeur het  -  én as gevolg van wat Jesus Christus gedoen het en steeds doen.
    Die heel diepste probleem van enige mens is nie sy of haar persoonlike sondes nie. Dis selfs nie sy sondige natuur nie. Die mees fundamentele probleem van die mens  -  van elke mens  -  reeds vanaf geboorte, trouens, vanaf ontvangenis (want ook ongebore baba's kan sterf), is die erfskuld. Elke mens word gebore as deel van 'n gevalle mensheid in Adam en onder God se verwerpende toorn. Daar is maar één oplossing  -  Jesus Christus, wat Sy lewe gegee het vir baie (ook ongebore baba's).
    Ons wat met Jesus Christus deur 'n ware geloof verenig is, moet verstaan dat ons nie net as individue vergewe en regverdig verklaar is nie  -  wonderlik soos dit is  -  maar ons het deel geword van die nuwe mensheid; trouens, van die nuwe skepping in Christus (Ef 2:15). Die mens Christus Jesus is die Hoof daarvan. Hy is die eerste onder baie broers en susters.
    Mense wat aanstoot neem aan die Bybelse openbaring oor die erfsonde, veral die erfskuld  -  omdat dit kwansuis onregverdig sou wees dat soveel miljoene mense te wyte aan één man se sonde moet ly  -  is kortsigtig en dwaas. Want só trek hulle 'n minagtende streep deur die mees fundamentele beginsel van hulle enigste hoop op redding.
    As alle mense dan deur hulle stamvader, Adam, in ellende gedompel is, ontvang een en elkeen wat gered word dit eweneens op grond van húlle Verbondshoof se verdienste  -  en op grond daarvan alleen.
    En met Hóm word 'n sondaar net deur die geloof verenig!
                                                                                                             Nico van der Walt

Sunday, April 14, 2013

Mt 3:1-17; 11:7-15; Jh 3:22-4:3 - DIE DOPER EN DIE DOOP

"WIE MOET GEDOOP WORD EN OP GROND WAARVAN?", is 'n vraag waarmee die kerk al vir eeue worstel. Die doop is egter die oortjies van die seekoei. Daaronder lê onder meer die kwessie van kerkbeskouing. Bestaan die kerk net uit gelowiges, of uit gelowiges én hulle kinders? En hierdie vraag hou weer verband met die verhouding tussen die Ou Verbond en die Nuwe.
    Dat daar sterk kontinuïteite tussen die Ou en die Nuwe Verbond is, staan vas. Maar wat van die diskontinuïteite? Hoe radikaal is die verskille? In die Ou Testament was die kinders deel van die verbondsvolk, soos hulle besnydenis getuig. Geld dit ook in die Nuwe Testament? Of is die verskil sodanig dat mens nie meer kan sê dat Christene se kinders vanself deel van die gemeente is nie. Het die kinderdoop die besnydenis vervang of nie?
    Kardinaal belangrike lig op die kwessie van die verhouding tussen Ou en Nuwe Verbond word gebied deur die werk en prediking van Johannes die Doper. Dit loon oor en oor die moeite om behoorlik daarna te kyk.

'N REUSEFIGUUR

❏    Gewis is dit betekenisvol dat al 4 Evangelies met Johannes die Doper se prediking afskop ‒ as iets van 'n voorwoord tot die Here Jesus se publieke bediening.

❏    Ook die apostels het kennelik 'n hoë dunk gehad van die openbaringshistoriese betekenis van Johannes se werk as wegbereider van die Messias (Hd 10:37; 13:24).
    Opvallend is dat die apostel in eersgenoemde uitspraak spesifiek Johannes se dóóp as die beginpunt van alles beskou.

❏    Daar kan geen twyfel wees nie dat die vroeë kerk Johannes se optrede beskou het as die waterskeiding tussen die ou bedeling van belofte en die nuwe bedeling van vervulling in Christus.
    'n Betekenisvolle uitspraak kry ons in Mt 11:7-15 (gelees). Dit lei tot 'n paar belangrike afleidings:

    •     Die Ou Testamentiese profetiese boodskap bereik sy klimaks in Johannes se optrede. Hy is die grootste van die profete. Hy is trouens meer as 'n profeet. Al die profete het gesê dat die Messias sou kom, maar Johannes kon sê dat Hy inderdaad gekom het: "Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!" (Jh 1:29).

    •     Hoewel sy geskiedenis in die Nuwe Testament opgeteken is, is hy in werklikheid nog deel van die Ou Testamentiese bedeling. Die koninkryk kom ná sy optrede en die kleinste in die koninkryk is groter as hy. Dis asof hy wydsbeen staan ‒ een voet in die bedeling van verwagting, een voet in die bedeling van vervulling. Hy gee as 't ware die fakkel van God se openbaring en verlossingsplan oor aan die Here Jesus Christus.

    •     Johannes die Doper se optrede en prediking is dus die skarnierpunt tussen twee bedelings, twee epogte. Niemand met enigsins 'n geheelbeeld op die Skrifopenbaring , sal die geïntegreerde deurlopendheid tussen die Ou en die Nuwe verbond geringskat nie. Maar ewe belangrik is dit om die radikale diskontinuïteit tussen die oue en die nuwe te verreken. Inderdaad kan ons praat van twee bedelinge wat weliswaar onderling verbonde is, maar tog ook totaal verskillend is. Dis beloftes wat vervul is ‒ en die vervulling is veel heerliker as wat die beloftes ooit kon suggereer. Skaduwees het tot substansie oorgegaan!
    Nêrens word dit kragtiger beklemtoon as in die boodskap van Hebreërs nie. Só stel die skrywer dit byvoorbeeld in 8:13: "Deur van ’n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn" (vgl. v.7-13).

❏    Dus, onontkombaar: Johannes se optrede en prediking in die Bybelse openbaring was kardinaal belangrik en koersveranderend.

UITSTAANDE KENMERKE

❏    As Johannes dan so 'n belangrike figuur is, en as hy nie verniet die Doper genoem word nie, moet ons aanvaar dat die lig wat hy op die doopkwessie laat skyn in vele opsigte rigtinggewend is.

1.    Johannes begin met iets radikaal nuut (Vgl. Mt 3).
Die Doper roep die Israel van sy dag dringend op tot bekering in die lig van die naderende koms van die Koning uit die hemel. In God se boord lê die byl al teen die wortels van dié bome wat nie die vrug van bekering dra nie. Die Here se skop waarmee Hy die koring en die kaf op Sy dorsvloer gaan skei, is reeds in Sy hand. Nie langer gaan die onheilige vermenging van eg en vals wat die Ou Testamentiese verbondsvolk gekenmerk het, voortduur nie. En daar is net één manier om die vuur van God se oordele vry te spring: sondebelydenis en bekering, verseël met 'n waterdoop. Van nou af gaan die Godsvolk net bestaan uit bekeerde en gedoopte mense wat nie skaam is om hulle openlik en formeel by die Koning te skaar soos Sy wegbereider voorskryf nie!
    Die ou bedeling is verby; God begin op 'n nuwe manier werk. Dis Jode wat hier opgeroep word om hulle af te skei van volksgenote wat nie die verbond uitleef nie. Afstamming van Abraham is nie genoeg nie; al wat tel, is bekering. Dis besnedenes wat hier gedoop word!

2.    Jesus identifiseer openlik met die nuwe koers wat ingeslaan word.
Jesus is besny. En Hy het geen sonde om te bely nie. Daar is niks om afgewas te word nie. Tog dring Hy daarop aan om gedoop te word ‒ deur een wat nie werd is om sy skoene vas te maak nie. So is dit God se wil! Waarom? Daar kan net een rede wees: Jesus skaar Hom openlik by die bekeerde oorblyfsel ‒ diegene vir wie Hy reddend gekom het. Meer nog, Hy wys vir hulle die pad aan. Só sal dit van nou af in Sy koninkryk wees.

3.    Jesus sit Johannes se dooppraktyk voort.
As Jesus Sy publieke bediening begin, gaan ook Hy voort met bediening van die bekeringsdoop. En dis kennelik nie vir Hom 'n randsaak nie: Hy maak en doop meer dissipels as Johannes (Jh 4:1). Dit ontstel die wegbereider egter nie; inteendeel. Dis die Vader wat die mense na Sy Seun toe laat stroom (Jh 3:27). Die Bruidegom moet immers meer word (3:30). Só sal dit van nou af in die koninkryk van God werk!
    Betekenisvol is die mededeling dat die Here Jesus self nie gedoop het nie, maar Sy dissipels dit laat doen het (Jh 4:2). Waarom? Hulle is besig met opleiding!

RADIKAAL NUUT OP GOD SE GESAG

❏    Mt 21 werp bevestigende lig op ons onderwerp. Die Joodse leiers vra vir Jesus wie Hom die gesag gegee het om die vorige dag die handelaars uit die tempel te dryf (12-13; 23). Met Sy wedervraag plaas die Here hulle dan in 'n lastige dilemma: waar het Johannes die gesag gekry vir sy bekeringsdoop? Sê hulle dit was van God, moet hulle verduidelik waarom hulle hul nie onderwerp aan Johannes se boodskap nie. Sê hulle dit was menslike voorbarigheid, kom hulle in die moeilikheid by die volk wat Johannes sterk aanhang (24-27).

❏    Twee dinge blyk uit hierdie gesprek:
    Eerstens: Johannes het gesag uit die hemel gekry ‒ om 'n nuwe koers in te slaan. Dit was 'n nuwe hoofstuk in die ontwikkeling van God se verlossingsplan.
    Tweedens: Die gesprek gaan eintlik oor Jésus se gesag. Deur dus na Johannes se gesag te verwys, koppel Hy Homself en Sy werk aan die Doper. Hulle twee loop hand aan hand; hulle is beide deur die Vader gestuur.

ENKELE GEVOLGTREKKINGS

❏    Johannes se doop is nie, soos die besnydenis, 'n teken van toetrede tot die nasionale volk van Israel nie; dis 'n teken van toetrede tot die Koning se volk. En dis iets totaal anders.
    Álle seuntjies in Ou Testamentiese Israel moes besny word ‒ selfs slawe wat vanuit die heidendom aangekoop is (Gn 17:12-13). Dit verskil dus radikaal van Johannes se "doop van bekering tot vergifnis van sondes" (Mk 1:4, OAV) ‒ wat in die koninkryk waar daar nie meer man of vrou is nie aan beide geslagte bedien moet word (Gl 3:28).
    Só het die vroeë kerk dit verstaan. Vir seker het die apostels nie vir die Joodse Christene geleer dat die babadoop in die plek van die besnydenis gekom het nie. Want hulle het steeds voortgegaan om hulle seuntjies te besny. En hulle het baie sterk daaroor gevoel. Hd 21:17-24 sê dat die Joodse gelowiges in Jerusalem knorrig was vir Paulus toe hulle verneem het dat hy Joodse bekeerlinge in die verstrooiing geleer het om nie meer hulle kinders te besny nie. En onthou, dit gebeur omtrent vyf-en-twintig jaar ná Pinkster.
    Waarom het Joodse Christene hulle babaseuntjies besny, maar nie gedoop nie? Hulle het in die spore van Jesus en Sy voorganger geloop. Hulle het verstaan dat die nuwe verbond 'n nuwe teken van toetrede het: "die doop van bekering tot vergifnis van sondes."

❏    Daar kan geen twyfel wees nie dat Johannes ‒ met sy kompromielose aandrang op sondebelydenis voor die doop ‒ afgesien het van die Ou Testamentiese beginsel van "jy en jou nageslag". En hierin volg Jesus en Sy dissipels die Doper na.
    Om nou daarop aan te dring dat die beginsel van "jy en jou nageslag" weer ná die Here Jesus se hemelvaart in plek geskuif het, is algeheel onhoudbaar. Dwarsdeur die Bybel het God se openbaring 'n voortgaande en ontwikkelende karakter. Die openbaringsgeskiedenis is lineêr, dis progressief en kumulatief, dit maak nie allerlei jakkalsdraaie nie!

❏    Waarom doop Paulus die dissipels van Johannes in Efese dan weer? (Hd 19:1-7). Daar is 'n reuse inhoudsverskil tussen die doop van Johannes en die Christelike doop. In die paar dekades tussen die twee gebeurtenisse het enorme stukke Godsopenbaring bygekom. Van die kruis en die opstanding het die Doper nie geweet nie ‒ en dit lê aan die hart van die Christelike doop. Maar dat die Christelike doop op die openbaringshistoriese verlengingslyn van Johannes se doop lê, is so duidelik soos daglig.

❏    Is dit verbasend dat die Nuwe Testament soos die graf swyg oor die doop van babas? Dit kan nie anders nie. Die evangelies se eerste hoofstukke berei ons reeds daarop voor. Die openbaringshistoriese reus, Johannes die Doper, verduidelik vir ons waarom dit so is: die doop is vir hulle wat hulle bekeer, hulle sonde bely, en die Koning uit die hemel omhels. Die burgers van Sy koninkryk is hulle wat in nederige afhanklikheid hulle kruis opneem en Hom volg. Sy gemeente bestaan uit die wat met 'n bruidsliefde hulle lewe aan Hom wy.

❏    Sekerlik red die doop nie. In Sy genade red God mense wat nie aan al Sy voorskrifte hou nie. Maar allermins gee dit ons 'n vrypas om Sy duidelike bevel in die wind te slaan. In elk geval gaan dit nie ten diepste om jou en my redding nie; dit gaan om die Here se eer. En wat verheerlik Hom meer in hierdie wêreld as 'n kerk wat waarlik kerk is?

❏    Beteken dit dat die Here Sy rug op ons kinders gedraai het? Allermins! Maar soos alle mense moet ook húlle die koninkryk binnegaan soos die Here Jesus en Sy voorganger ons leer.
                                                                                                              Nico van der Walt
                                                                              E: nico.vanderwalt@reformed.org.za

Sunday, March 31, 2013

E-PREEK No.243 - Mk 16:6 - JESUS CHRISTUS SE OPSTANDING - persoonlik, histories, liggaamlik

Een van die waarhede wat die Skrif in lesers se harte wil ingrafeer, is dat Christus persoonlik, liggaamlik en histories opgestaan het uit die dood. Wat 'n triomfantelike vers is Mk 16:6 nie: "Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie!"
    Al vier die Evangelies beskryf dit uitvoerig. In Handelinge is dit saam met die kruisiging keer op keer aan die hart van die apostels se prediking (vgl. o.a. Hd 2:29-32; 3:15; 5:30). Dis geen wonder nie, want hulle het uitdruklik opdrag gehad om daarvan te getuig (Lk 24:46-48) en het dit duidelik as 'n absolute prioriteit verstaan. Toe 'n opvolger vir Judas Iskariot aangewys moes word, is sy taak en kwalifikasies in soveel woorde uitgespel: hy moes 'n oog- en oorgetuie van Jesus se lewe en werk wees; en van alles wat hy beleef het, moes hy veral van die opstanding gaan getuig (Hd 1:21-22).
    In die briewe kom die opstanding gereeld ter sprake en die betekenis daarvan word haarfyn uitgewerk. Gewis het die apostels in 'n persoonlike, liggaamlike en historiese opstanding geglo en daarvan getuig  -  en dit saam met kruis en Pinkster as die essensie van die evangelie beskou.

Waarom so belangrik?

Daar is veral 3 redes waarom dit lewensbelangrik is dat Jesus Christus waarlik opgestaan het  -  en waarom Christene deur die eeue dit so glo en preek.

●    Dit is die onomstootlike bevestiging van die Here Jesus se persoonlike aansprake.
Sonder blik of bloos het Jesus dikwels verbysterende aansprake gemaak. Hoeveel maal het Hy nie gesê dat Hy die Seun van God en God die Seun is; dat Hy vervulling van Ou Testamentiese profesieë is; en dat Hy die wêreld se Regter is nie?
    Sou hierdie aansprake nie wáár wees nie, is niks wat Hy ooit gesê het werklik betroubaar nie, allermins Sy beloftes. Hoe kan ons weet dis waar?
    Op aarde is Sy aansprake deur talle asemrowende tekens en wonders bevestig. En dit moes beslis Sy dissipels gehelp het in hulle geloof.
    Maar dan word Hy gekruisig en sterf! En almal twyfel. Is dit die einde van net nóg 'n versteurde se grootheidswaan? Die Emmausgangers het byvoorbeeld hiermee geworstel: "Ons het so gehoop dat dit Hý is wat Israel sou verlos" (Lk 24:21).
    Op die derde dag gebeur die grootste en finaalste van alle tekens egter! Dit is presies wat Hy lank tevore belowe het (Jh 2:18-22). Sy opstanding was die onbetwisbare bevestiging van Sy hemelse gesag en sending. Die Emmausgangers verstaan dit as hulle Hom herken. En hulle hardloop al die pad terug Jerusalem toe  -  12 km  -  net om te gaan vertel: Hy is presies wie en wat Hy gesê het Hy is!
    Ja, ja, ek weet ons was nie daar om die wonders en die opstanding te beleef nie. Ons moet bloot glo! Dankbaar is ek vir die woorde aan  Tomas: "Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo."

●    Dit is die onfeilbare waarborg dat Sy middelaarswerk deur die Vader aanvaar is.
Is daar regtig vir my versoening gedoen? Kan ek regtig die dood met vertroue tegemoet gaan? Die Nuwe Testament antwoord duidelik: As jy in Christus ingevlug het, vir seker! Waarom? Hy het opgestaan!
    Die Jode het eeue gewag vir die Messias. Ten spyte van die volk se aanvanklike opgewondenheid oor Jesus, raak hulle algaande ontnugter, want Hy vestig nie die nuwe politieke bedeling wat hulle verwag het nie. Die kruisiging, teken van God se vervloeking (Dt 21:23), is dan die laaste strooi. Tog, as hulle Hom spottend uitdaag om van die kruis af te kom (Lk 23:35-36), sit daar nog 'n sprankie hoop in. Sou Hy nie dalk op hierdie dramatiese oomblik met 'n goddelike kragtoer kom nie? Maar Hy sterf!
    Die opstanding is egter God se uitverkiesende handeling. Dít is die Vader se proklamering dat die Seun Sy reddingsmissie volmaak voltooi het (Rm 1:4; Hd 17:31). Alle eise van geregtigheid is bevredig  -  die uitverkorenes is onomkeerbaar losgekoop!
    Sonder die opstanding het ons geen versekering gehad dat Christus se werk enige gewig by God dra nie  -  maar nou staan dit vaster as die berge!

●    Dit is Christus se toetrede tot 'n volgende, absoluut noodsaaklike fase van ons verlossing.
Terwyl die regsbasis vir die uitverkorenes se verlossing finaal daargestel is aan die kruis, word die uitwerk daarvan eers met hulle heerlikmaking voltooi. Met hierdie werk bly Christus steeds besig.
    Hoe werk Hy hier op aarde uit wat uitstaande is? Hy doen dit deur die werk van die Heilige Gees! (Hd 2:32-36). Die Nuwe Testament is vol hiervan.
    As Profeet is Hy Here van die oes, wat werkers in die oes uitstuur om die evangelie aan alle nasies te verkondig (Mt 9:36-38). As Priester tree Hy vir ons by die Vader in, ten einde ons in volkomenheid in (Gr) te red (Hb 7:25; vgl. ook Jes 53:12; Rm 8:34; Hb 9:24; 1Jh 2:1). As Koning regeer Hy oor ons, onderwerp Hy Sy vyande en oordeel Hy hulle (Hd 17:30-31; 1Kor 15:24-28; Ef 1:20-23).
    Elke Christen weet die Here moes sterf sodat mense gered kan word, maar hoeveel besef dat dit net so noodsaaklik was dat Hy weer moes léwe!
       
Sonder die opstanding - alles tevergeefs

In 1 Kor 15:12-19 werk Paulus die implikasies uit indien Christus nie sou opgestaan het nie (v. 14,17). Vernietigend sou die implikasies vir ons geloof wees.

    •    Die apostels se prediking was dan sonder inhoud en gevolglik tevergeefs (v.14). Hulle navolgers  -  tot vandag toe  -  het dan 'n leuen geglo en 'n dooie verlosser vertrou.

    •    Ons geloof was dan tevergeefs (v.14). Die hand waarmee ek weer en weer na Christus gryp, het dan net lug gegryp. Die wedergeboorte waarvan ek getuig, was dan net bluf; die heerlikmaking waarop ek hoop, bloot 'n lugspieëling; my kruisdra en self-aflegging, absoluut futiel!

    •    Ons was dan nog gevangenes van ons sondes (v.17). Dan was ek steeds geestelik dood en in slawerny van my vlees, die wêreld en die duiwel  -  en steeds onder die toorn van God (Ef 2:4-10).

    •    Diegene van wie ons glo dat hulle in Christus gesterf het, sou verlore wees (v.18). Waarom? Omdat die Vader dan nooit Christus se middelaarswerk aanvaar het nie!

●    "Wag!", protesteer iemand. "Ons het darem Sy inspirerende lering en voorbeeld. Hoeveel armer sou ons nie gewees het sonder die veredelende invloed van, byvoorbeeld, die bergpredikasie nie! Al sou Hy nie opgestaan het nie, leef Hy ten minste voort in ons harte, ons herinneringe, ons medemenslikheid."
    So 'n argument hou egter geen troos vir Paulus in nie, en sy respons is eenvoudig: "As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense" (1Kor 15:19). Waarom? Vir hom (onthou, hy skryf onder inspirasie van die Gees) verdwerg die behoefte aan 'n beter wêreld voor sy allesoorheersende nood, nl.  verlossing van sondes, vrywaring van God se toorn, en beërwing van die ewige saligheid!
    Die apostel kan tot net een slotsom kom: "As die dooies nie opgewek word nie, laat ons eet en drink, want môre sterf ons!" (v.32).
    Kennelik het sy Christenskap nie oor 'n beter wêreld gegaan nie, maar oor 'n salige hiernamaals!

Die historisiteit van die opstanding

Ons móét dus weet! Het Hy régtig opgestaan  -  persoonlik, liggaamlik, histories? Hoe kan ons vasstel, waar kan ons uitvind?
    Daar is meer hieroor te sê, maar ek hou by die Bybelse argument. Honderde mense het die opgestane Christus gesien, en wanneer die apostels daarvan getuig, leef die meeste van hulle steeds  -  om die egtheid en betroubaarheid van die apostoliese getuienis te bevestig (1Kor 15:5-8).
    Natuurlik leef die apostels vandag nie meer nie, maar ons het hulle geskrifte, waarvan die historiese outentisiteit bo alle twyfel vasstaan.

Wat beteken die opstanding van Christus vir my lewe hier en nou?

●    Party teoloë sê dat Jesus net in die herinneringe van die vroeë kerk opgestaan het.
    Daar was wel 'n tyd toe Jesus se dissipels nét herinneringe aan Hom gehad het, niks meer nie. Dit het drie dae geduur  -  tussen kruis en opstanding. En hulle was die mees moedelose en uitsiglose mense in Palestina! Die oomblik toe hulle egter besef  dat Hy opgestaan het, het alles verander. Hulle is gelanseer om onstuitbaar doelgerig van die mees dinamiese en invloedrykste lewens ooit te leef.
    Herinneringe kon hulle nie troos of inspireer nie  -  dit was die wete dat Hy régtig opgestaan het!

●    Die opgestane Christus heers in hulle wat aan Hom behoort  -  met ingrypende, ervaarbare en waarneembare effekte!
    Wat is die aard van hierdie effekte? Paulus werk dit o.a. in Rom 6 en Ef 1:19-2:7 uit.
    In Rom 6 sê hy dat die gelowige nie net saam met Christus gekruisig is nie, maar dat hy ook saam met Hom opgestaan het. En wat is die gevolg? Hy kán eenvoudig nie in sonde volhard nie, maar lei 'n nuwe lewe (v.4), 'n lewe van heerskappy oor sonde.
    Ons kan eenvoudig nie daarvan wegkom nie:  'n Ware Christen se lewe is ánders as die van die ongelowiges  -  en dit het enorme getuieniswaarde.
   
Wat beteken Christus se opstanding vir my in die hiernamaals?

●    As ek in Christus is, het ek alle rede om seker te wees van ook mý toekomstige opstanding!
Volgens 2Tim 1:10 het die Here deur Sy opstanding die mag van die dood verbreek. En 1Kor 15:20-23 verseker ons dan dat daar 'n onbreekbare band is tussen Sý opstanding en die opstanding van diegene in Hom (vgl. ook Rm 8:11).
    Sy opstanding en ons opstanding is bloot twee fases van een en dieselfde proses  -  die vervolmaking van God se nuwe mensheid: Hy, die Eersteling, en Sy gemeente wat mettertyd volg!

●    As ek in Christus is, sal die Vader my aanvaar soos Hy Sy Seun aanvaar het.
    Almal sal opstaan en vir ewig leef (Jh 5:28-29), maar nie almal sal aanváár word nie. Vir diegene in Christus is daar egter geen veroordeling nie, maar heerlike liefdesaanvaarding!
    In Rm 8:31-34 daag Paulus as 't ware die hele wêreld uit om Saulus die moordenaar skuldig te bewys. Sy argument kom hierop neer: Wie sal my veroordeel met só 'n Middelaar? Ek het in Hom ingevlug; ek skuil in Hom; ek is met Hom verenig deur die geloof. Wat van Hom waar is, is van my waar! Wie my skuldig wil bevind, moet Hóm eers skuldig bevind. Nee, vir God se verwerping vrees ek nie. Hy het my Plaasvervanger se offer aanvaar; Hy het dit bekragtig deur Hom op te wek  -  gewis sal Hy my ook opwek en aanvaar!

Is Christus se opstanding sentraal in jou diepste oortuigings (net soveel soos die kruis)? Is Sy opstanding die hoeksteen van jou salige hoop?
                                                                                                         Nico van der Walt


*    Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.
*    Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115.  
E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 011 476 2907; 082  848 9396.
*    Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
*    Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
*    Geen kopiereg.     Dupliseer gerus.    Of stuur elektronies verder.
*    Preekopnames: E: info@nunide.org.za ;  T: 012-808 3906

Friday, March 29, 2013

E-PREEK No.250 - JH 19:28-37 - DIT IS VOLBRING!

Vandag is Goeie Vrydag. Ons dink met dankbaarheid terug aan Jesus Christus se kruisiging, toe Hy die ewige dood wat ons verskuldig was, namens ons ondergaan het.
    Ten diepste is dit waarom Hy mens geword het  -  Hy het gekom om te kom sterf. Ja, ja, Hy het vir ons gewys hoe om te leef  -  dwarsdeur Sy openbare bediening het Hy vir ons geleer hoe lyk 'n lewe wat Hom behaag en verheerlik. Maar dit was ondergeskik aan Sy eintlike motivering en doel. Ek sê weer, Hy het gekom om te sterf.

●    Wat ek nou wil doen, is om aan te toon dat Christus se kruiswerk absoluut genoegsaam is vir die redding van die heel ergste sondaars wat hierdie wêreld ooit gesien het. Maar, natuurlik, dan moet so 'n sondaar sy algehele vertroue in die verdienste van Christus stel, sonder om enigsins op enige eie-verdienste staat te maak.
    Eers dan, en niks vroeër nie, skuif die hele kwessie van gehoorsaamheid en goeie werke in die prentjie in. Ek beklemtoon dit só, omdat daar so baie kerkmense is vir wie Christenskap feitlik uitsluitlik gaan oor 'n lewe van goeie werke en  godsdiens.  'n Duisend maal, nee! Jesus Christus het nie bloot gekom om ons voor te gaan in binne-wêreldse moraliteit nie, uiters belangrik  -  lewensbelangrik!  -  soos dit is. Maar hieroor het ons dit nie nou nie.
    Nee, Hy het gekom om te sterf!

Jesus se enkelhartige gerigtheid

●    In Mt 20:28 sê die Here Jesus self vir ons waarom Hy na hierdie wêreld toe gekom het: om "Sy lewe te gee as losprys vir baie mense."

●    Die Here se wonderlike publieke bediening van barmhartigheid en goeie werke was alles 'n voorspel tot Sy uiteindelike verwerping, veroordeling en finale teregstelling. Sy kruisdood was die klimaks en hoofonderwerp van die goeie nuus, oftewel die evangelie. Oor en oor vertel die Evangelieskrywers hoe die Here Jesus, veral tydens die laaste maande van Sy bediening, Sy dissipels op die hart gedruk het dat die eintlike doel van Sy koms na hierdie wêreld toe was om te kom sterf.

    •    Onmiddellik na die uiters betekenisvolle moment, as Petrus namens die dissipels bely, "U is die Christus, die Seun van die lewende God" (Mt 16:16), sê Hy in al drie die Sinoptiese Evangelies: "Van toe af het Jesus dit duidelik vir Sy dissipels begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly ... en dat Hy doodgemaak moet word ..." (Mt 16:21; Mk 8:31; Lk 9:22).

    •    Net hierna lees ons dat Hy op die berg van verheerliking met Moses en Elia oor Sy "uitgang" praat (Gr. exodus) wat Hy "in Jerusalem sou voltooi" (Lk 9:31). En kort daarna sê Hy dit nogeens vir Sy dissipels (Mt 17:22-23; Mk 9:31; Lk 9:44).

●    Mens kan dit verstaan dat die dissipels Sy woorde nie kon begryp nie. Volgens hulle sou dit die mislukking van Sy sending beteken. Want in hulle agterkoppe was nog altyd die verwagting dat Hy in daardie dae Sy koninkryk hier op aarde gaan oprig. Selfs ná Sy opstanding het hulle steeds vir Hom gevra, "Here is dit nou die tyd dat U weer die koninkryk vir Israel gaan oprig?" (Hd 1:6).
    Mens kan verstaan, dat Jesus moes sterf, was sekerlik vir hulle ondenkbaar en verwarrend. Maar, uiteraard, toe die Evangelies jare later geskryf is, het hulle al goed begryp waaroor alles gegaan het.

●    As Jesus se onwrikbare gerigtheid dan was om
met Sy versoeningsdood die uitverkorenes as ewige bruid vir Hom los te koop, moet die vervolmaking van ons erfenis in Hom mos ook óns enkelhartige passie wees  -  naamlik die ewige heerlikheid saam met Hom as Sy bruid. Dit móét tog, nie waar nie!
    Luister na Hb 12:1-3: "... laat ons die wedloop wat vir ons voorlê met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins ... Hou Hom voor oë ..."

Ou Testamentiese Messiaanse profesieë

●    Eintlik moes die Here Jesus se gerigtheid nie 'n verrassing vir Sy dissipels gewees het nie. Die Ou Testament is immers vol profetiese vooruitskouings na die komende Messias en Sy lyding.

    •    Reeds direk na die sondeval reageer Adam in die geloof op God se belofte (Gn 3:20). Hy noem sy vrou "Eva":  lewegewer (Hb). Daarmee bely hy sy geloof dat sy vrou die grootmoeder gaan word van die lewendes  -  en veral van die Saad wat die slang se kop gaan vermorsel  -  díé Lewende (Gn 3:15).
    God aanvaar Adam se geloofshandeling. Hy maak vir hulle velklere (21). Daarvoor moet Hy diere slag  -  waarskynlik 'n vooruitwysing na die komende offerstelsel, wat weer vooruit gewys het na Christus se groot offer. Die Hebreeuse woord "versoening" beteken immers om te bedek.

    •    Sentraal in die offerdiens was die boodskap dat die dood van 'n plaasvervangende offer  -  wat God self sou voorsien  -  in die volheid van die tyd versoening tussen Hom en Sy volk sou bewerkstellig.

    •    Dan was daar die talle Messiaanse profesieë. Van hulle is geeneen meer duidelik as die Kneglied van Jes 52:13-53:12 nie. En let op hoe uitdruklik Sy plaasvervangende lyding uitgespel word en dat Hy die sondes van baie op Hom sou neem (53:4-6, 12).

Die apostoliese prediking

Die Here se kruisdood om vir Hom 'n bruid los te koop, en Sy opstanding, was die hart van die apostoliese prediking.
    Net 'n enkele voorbeeld of twee. In 1Kor 1:23 skryf die apostel: "... maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin...".
    En dan in die volgende hoofstuk: "Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde" (2:2).

Dit is volbring!

●    Die Here word dan inderdaad buite Jerusalem gekruisig. En net voordat Hy finaal sterf, roep Hy die mooiste woord in die ganse Bybel uit: "Tetelestai!" (die sesde kruiswoord  -  Jh 19:30). Dit beteken: "Dit is volbring!", maar in Grieks is dit 'n enkele woord.
    Kom ons besin kortliks oor hierdie uitroep.

    •    Die werkwoordstyd is die perfektum, wat in Grieks nie net wil beklemtoon dat die werk waarvoor Hy gekom het, afgehandel is nie, maar veral ook dat die gevolge daarvan vir altyd sal voortduur.

    •    Hierdie is dus nie die weeklaag van iemand wat oorwonne boedel oorgee nie. Dit is die dankbare jubeling van Een wat weet dat die taak waarvoor Hy gekom het triomfantelik afgehandel is en dat dit vir altyd so sal bly. Niemand  -  ook nie Satan en sy hordes demone  -  kan Sy werk ongedaan maak nie.

    •    Die talle Ou Testamentiese Messiaanse profesieë is almal vervul  -  behalwe natuurlik die wat moet wag vir die Koning se terugkoms. Die tipes en skaduwees en beeldspraak van Ou Testamentiese godsdiens word finaal soos vergeelde ou dokumente weggesluit in God se kluis van vergetelheid.

    •    Niks, maar niks, is uitstaande nie. Die aktiewe en passiewe gehoorsaamheid wat Sy vader van elke mens vereis voordat hy of sy gered kan word, is in Hóm vervolmaak. God se wet is vervul. En die vloek vir oortreding daarvan is namens dermiljoene lewens vanuit alle eeue en nasies gedra.

    •    Die pad na die ewige saligheid saam met hulle hemelse Bruidegom, is finaal en permanent oopgestoot vir elke begenadigde van God. En geen valhek sal ooit daar opgerig word nie.

    •    Waarlik, hierdie is die hoogtepunt van Johannes se evangelie  -  indien nie van die hele Bybel nie! Die enigste uitsondering is dalk die oomblik van Christus se opstanding.

Ten slotte

Nou mag daar tog mense onder ons wees wat wonder of Jesus se kruisdood werklik alles afgehandel het  -  mense wat wonder of jy nie tóg darem iets van jou kant af moet bydrae nie. Daar mag mense wees wat wonder of ons nie dalk te veel van Jesus se uitroep, "dit is volbring!", maak nie. Per slot van rekening is daar so ontsaglik baie op die spel vir 'n mens, dat jy eenvoudig nie kan bekostig om hier 'n fout te maak nie.
    Vir seker moet ons hierdie dinge glo  -  net gló  -  as ons gered wil word. Maar tog kom die Vader sulke Thomasse tegemoet. En is ons nie maar almal twyfelaars nie? Hoe doen Hy dit?

●     As die Here Jesus die laaste asem uitblaas, skeur die voorhangsel in die tempel  -  van bo na onder. Hoe kom dit ons kleingeloof tot hulp?
    Eerstens, die feit dat dit van bo na onder skeur, sê vir ons dat dit God self is wat dit skeur.
    Tweedens maak dit die pad na die allerheiligste oop  -  die woonplek van God alléén tot op daardie moment. Net die hoëpriester kon eenmaal per jaar met 'n offer daar ingaan. Nou egter is dit oop vir elke kind van God om toe te tree  -  net wanneer hy wil.

●    Dat hierdie 'n geweldige moment is, blyk uit die feit dat die aarde skud en die rotse uitmekaar bars. En baie gelowiges wat dood was, word opgewek  -  om daarmee te toon dat die dood van Jesus as die Middelaar die opstanding van diegene wat deur 'n ware geloof vir altyd met Hom verenig is, onomkeerbaar waarborg.

●    Net 'n laaste versekering. Die eeue-oue Psalm wat Jesus in Sy vierde kruiswoord aanhaal, sluit wonderlik vertroostend af. Psalm 22:23-32 beskryf die verlossingsvreugde en ewige sekuriteit van God se begenadiges. En dan eindig die Psalm, wat begin met "My God, my God, waarom het U my verlaat?", met 'n enkele Hebreeuse woord  -  vertaal met, "Hy het dit gedoen!" (OAV).
    En dan kom die Septuaginta  -  die Griekse vertaling van die Ou Testament  -  eeue later, maar tog ook meer as twee eeue vóór die Here Jesus se kruisdood, en vertaal hierdie enkele Hebreeuse woord met 'n enkele Griekse woord: "tetelestai!".

●    Waarlik, versoening deur Christus se gestorte bloed aan die kruis, sal steeds die hart van die evangelienuus bly, die skerp punt van alle ware prediking, die tema van die verordeninge van doop en nagmaal, en die inhoud van ons lofprysing   -  tot in ewigheid. Soos Op 4 & 5 dit stel: Die ouderlinge, en die lewende wesens, en tienduisende maal tienduisende engele, en alle skepsele in die hemele en op aarde, sal die Lam se lof besing: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met U bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie." En die hele skepping sal uitroep: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid."
                                                                                                             Nico van der Walt

*    Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.
*    Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115.   E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 011 476 2907; 082  848 9396.
*    Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
*    Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
*    Geen kopiereg.     Dupliseer gerus.    Of stuur elektronies verder.
*    Preekopnames: E: info@nunide.org.za ;  T: 012-808 3906