Wednesday, December 14, 2011

E-PREEK No.197 - HB 12:1-3 - DIE CHRISTELIKE WEDLOOP [1] v.1c - Inleidend

Hb 12:1c : "... laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop."

Vier inleidende opmerkings

Respons op God se voorafgaande genade

Hierdie drie verse lê in die tweede gedeelte van Hebreërs - die imperatiewe deel, oftewel die praktiese of toepassingsdeel (10:19vv). Dit is begrond in die eerste deel van die brief, wat handel oor God se groot verlossingsinisiatiewe in Christus (die indikatiewe gedeelte). Hierdie orde is tipies van die Nuwe Testament - en nóóit word dit omgekeer nie. Christelike dissipelskap is nie 'n godsdiens wat moet verdien nie, maar dis 'n lewe gedring deur dankbaarheid vir dit wat die Here soewerein en uit genade reeds vir jou gedoen het.

Dis 'n veeleisende en lewenslange wedloop

Tog, soos meermale elders in die Nuwe Testament, word die Christelike lewe ook in hierdie drie verse as 'n wedloop voorgestel (vgl. Hd 20:24; 1Kor 9:24-27; Gl 2:2; Fl 2:16; 3:14; 2Tm 2:5; 4:7). Dis nie 'n elfuur-tee by Antie Edith nie. Dit impliseer doelgerigtheid, inspanning en volharding as jy die prys wil hê - en struikelblokke. Dis dus nie 'n naelloop nie; dis 'n maraton - vir die res van jou lewe. En die roete is alles behalwe gelyk. Dis 'n hindernis-wedloop - en vir die meeste van ons in bergwêreld. Voorts, min is so gelukkig soos die misdadiger aan die kruis wat uiters 'n paar uur moes vasbyt.

Moenie hieroor enige illusies hê nie. As jy die prys wil hê, moet jy hardloop - enduit. Dis onvermydelik. As jy nie wil hardloop nie, versaak jy by voorbaat die lourierkrans - die ewige lewe! So werk dit; so het God dit verordineer.

Oordryf ek? Gaan gesels maar met dissipels van die Here wat al so 'n paar dekades op die pad is. Ek praat van mense in wie se lewens jy duidelik hulle toewyding kan sien. Moenie jou ore uitleen aan 'n groentjie wat nog ligvoets huppel en slim is nie.

Die skrywer moet sélf ook hardloop

Derdens, nogeens gebruik die skrywer sy tipiese kohortatief ("laat ons ..."; vgl. 10:22, 23, 24) - sy oproep dat hulle sáám met hom die wedloop sal hardloop. Hy is nie 'n vet, onfikse atletiekafrigter wat op 'n sitkierie bevele van die kantlyn af te blaf nie. Hy verwag niks van sy lesers wat nie ook vir homself geld nie. Ook vir hom, soos vir elke Christen, is dit lewensnoodsaaklik om die wenpaal te bereik. Só het God bepaal werk dit as jy die ewige prys wil verkry. So was dit nog altyd, van die begin af (vgl. Hb 11). En so sal dit bly.

Ek hardloop met sekere afwagting

As die wedergeboorte dan nie die wenpaal is nie, maar die wegspring, en as ek met alles in my moet hardloop, beteken dit egter nie ek hoef gedurig in vertwyfeling te wees of ek die prys gaan kry nie. Dis nie 'n goudstormloop waar net een van die duisend fortuinsoekers die skat kry nie.

Nee, juis omdat Christus reeds alles gedoen het en steeds doen, daarom hardloop ek met opgewonde afwagting. Die prys - mý prys - wag al vir my. Elke uitverkorene se erfenis is destyds al vir hom of haar opsygesit. En niks of niemand kan dit verander nie. Die wedloop mag rof wees, maar tog hardloop ek voluit soos 'n seuntjie na sy Pa se oop arms toe - vang sal Hy my vang, gewis!

Belangrike perspektiewe vanuit Hb 11

Die vorige hoofstuk word gewy aan 'n klomp Ou Testamentiese helde se geloofswedlope - as illustrasies. Per slot van rekening begin ons teks: "Daarom dan ..." (OAV). Dit hou kosbare lesse in.

Eintlik gaan ek in sekere opsigte sê wat ek reeds gesê het, maar hierdie beginsels is só belangrik dat 'n bietjie herhaling net goed kan wees.

Een, die wedloop is 'n manier van lewe

Ware Christenskap is nie bloot die handhawing van 'n stel oortuigings nie (hoewel dit óók dit behels). Dit is ook nie bloot die belewing van 'n klomp emosies nie (hoewel dit óók dit sal inhou). Dis 'n praktiese en dinamiese manier van lewe.

Kyk na h.11. Elke keer word die helde se geloof duidelik in wat hulle gedoen het. Noag het 'n ark gebou; Abraham het weggetrek; Moses het die leierskap van sy volk opgeneem; Israel het die see gekruis, deur die woestyn getrek, die beloofde land ingeneem. Ensovoorts, ensovoorts.

Let op, niks wat hierdie mense moes doen, was maklik nie. Dit het elke keer alles van hulle gevra.

Dikwels moes hulle teen hulle natuurlike sin optree. Hulle aangebore versugting na gerief, sekuriteit en vrede moes tweede viool speel. Die hartstog van hulle wedergebore harte het hulle oorrompel. Die verlange om God te behaag en te kry wat Hy beloof, het elke keer geseëvier.

Let ook op, vir elkeen was sý besondere stuk gehoorsaamheid die oorheersende feit van sy lewe.

Twee, die wedloop geskied in die geloof

Die Skrif is duidelik: ware dissipelskap is dikwels baie veeleisend. Sonder genade wat aanmekaar deur geloof in jou lewe invloei, hou geen mens dit baie lank uit nie.

Dikwels moet mens 'n ongewilde en onkonvensionele koers inslaan. Soms is die roete uiters riskant. En om alles te kroon, skreeu jou eie sintuie en natuurlike denke aanmekaar op jou dat jy jouself gaan verongeluk. Tog laat Geesgewerkte en diepgesetelde oortuigings jou volhard - trouens, dit maak van die geloofslewe dikwels 'n huppelgang.

Ek het al dikwels gewonder waarom die Here vir Petrus geroep het om uit die boot te klim (Mt 14:22-32). Ek dink Hy wou 'n handelingsgelykenis skep om die fundamentele beginsels waaroor ons hier praat te illustreer. 'n Christen leef op die water! En wat is die geheim? Jy moet jou oë op Jesus Christus vasnael. En dit is die wese van geloof.

Oordryf ek dalk? Wel, miskien moet ek tog darem kwalifiseer. Nie alle Christene ervaar hulle roeping ewe intens en dramaties nie. En vir seker wil ek niemand aanmoedig om sy of haar verantwoordelikheidsin en nugtere beoordeling van sake op hierdie roete oorboord te gooi nie.

Maar tog, tóg - gaan lees weer hoofstuk 11! En dink diep na oor jou lewe, meedoënloos eerlik.

Om in hierdie wedloop te volhard, is geloof dus die sleutel. Slegs dít is vir die Here aanvaarbaar en slegs dít verheerlik Hom. En slegs dít verseker dat Hy ons bekragtig om enduit aan te hou.

Só stel Hb 11:6 dit: "En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag ..." Wat is die aard en inhoud van hierdie volhardingsgeloof?

Ons moet glo die Here is 'n beloner van die wat Hom soek (11:6c). Afgesien daarvan dat ek weet Hy sal my enduit deurdra, sal my uitsien na die prys by die wenpaal my tree vir tree voortdra.

Maar daar is nóg iets wat mens moet glo. Jy moet glo dat "Hy is" (die OAV vertaal letterlik).

Meeste moderne vertalings slaan ongelukkig die bal hier mis. Dit gaan oor veel meer as net die oortuiging dat God bestaan. Nee, hierdie is waarskynlik 'n verwysing na Eks 3, waar God Homself openbaar as die groot en ewige "Ek is" (vgl. E161, 162, 164). Dit sinspeel dus op Sy verhewe en onveranderlike soewereiniteit en algenoegsaamheid. En bowenal is hierdie stuk selfopenbaring van God ten nouste geassosieer met Sy verbondsnaam, Jahweh. Ook is God se onkreukbare verbondstrou dus hier ter sprake.

Die geheim van 'n suksesvolle geloofswedloop het daarom alles te doen met my vertroue dat God alles is wat Hy oor Homself geopenbaar het. In die besonder gaan dit daaroor dat ek wéét dat Hy gereedstaan om my as Sy geliefde uitverkorene te dra as ek nie meer kan nie - en dat Hy by die wenpaal vir my wag met die prys van die ewige welgeluksaligheid, presies soos Hy beloof het.

Die suksesvolle geloofsatleet hardloop die wedloop dus vol geloof, vertroue en verwagting!

Drie, sukses in die wedloop het alles te doen met volharding tot die einde toe

Hy wat nie wil hardloop nie, het sommer reg van die begin af die oorwinnaarskroon versaak - want nét oorwinnaars word bekroon.

Het jy al 'n middelafstand-wedloop dopgehou, sê maar die myl. Amper elke keer is daar mos 'n onbekende atleet wat verstommend belowend wegspring. Reg van die begin af is hy 10m voor. En het hy 'n pragtige styl! Waar kom hý so uit die bloute vandaan? Maar dan - terleurstelling! Op die 800m merk gee hy skielik twee treë na links. Sy wedloop is verby. Hy was bloot die pas-aangeër!

Só hardloop baie wat oënskynlik dramaties tot bekering kom, soos pas-aangeërs. Indrukwekkend aanvanklik. Maar die wenpaal sien hulle nie.

Dis meer as tragies. Want God se Woord is duidelik: slegs hulle wat volhard tot die einde toe, sal gered word (vgl. Fl 3:14). Net hulle kry die prys.

Volharding impliseer die versoeking om tou op te gooi. Dis omdat die geloofswedloop uiters uitputtend kan wees. Die kniehalter van die vlees, die suigkragte van die wêreld en die verleidinge van die duiwel is soos 'n sterk wind en 'n steil hoogte waarteen 'n maratonatleet moet opbeur.

Daar kom dus dae wat dit vir 'n mens voel jy kan nie aangaan nie. Al wat dan oorbly, is om in naakte geloof vas te hou aan jou Verbondsgod se liefdestrou, jou Hoëpriester se voorspraak en jou Helper se bekragtiging. En voor jy jou oë uitvee is jy oor nóg 'n Pollyshorts.

Is jy 'n vreemdeling vir hierdie soort ervaring? Vra jouself dan af of jy hoegenaamd hardloop.

Die roetekaart van God se Woord

Terwyl ek hier skryf is die derde skof van die 50ste Bergriviermaraton aan die gang. Dit vul my met nostalgie. Want jare gelede het ook ek die Berg geroei. En as voorbereiding daarvoor het ek en 'n paar vriende die Oranjerivier geroei. Wat 'n avontuur? Altyd maklik? Aikona! Die son het ons dag na dag tot kaiings verskroei. Daar was bulderende versnellings met branders so hoog soos mense wat jou maagsenuwees laat knoptrek het. Daar was pikswart rotse net onder die watervlak wat lê en wag het om jou boot oop te kloof. En daar was kilometers plat water wat jou arms na water laat voel het.

Ons het egter 'n wonderlike hulpmiddel gehad - 'n stel 1:50 000-kaarte. Hierop kon ons sien hoe ver ons gevorder het; aan die kontoere kon ons sien waar om versnellings te verwag; ons kon keerwalle betyds raaksien. Onnodig om te sê, hierdie kaarte het ons soos goud in 'n verseëlde plastiekpyp opgepas.

Die geloofsatleet se Bybel is uiteraard veel meer, maar vir seker is dit ook 'n kosbare roetekaart vir hom. Wat sekere sake betref, weet ons presies watter struikelblokke, oftewel "keerwalle", op ons wag. Maar in die meeste gevalle - soos met die versnellings - sê die Woord vir jou dat bepaalde uitdagings wag, maar oor die presiese aard daarvan het jy geen benul nie. Tog bly God se Woord vir jou oneindig belangrik en kosbaar - 'n duisend maal meer werd as 'n 1:50 000-kaart.

Hier moet ek nou ophou. Sterkte op die water hierdie komende week. As daar 'n versnelling voor my donder en my arms soos water voel, sal ek aan jou dink. Want dalk is jy net om die volgende draai.

Nico van der Walt

E-PREEK No.198 - HB 12:1-3 - DIE CHRISTELIKE WEDLOOP [2] v.1a - Kyk terug


Hb 12:1a : "... Daarom dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het ..." (OAV).
Waarom is dit so belangrik dat die Hebreërskrywer se lesers, en daarom alle gelowiges deur die eeue, lewenslank en end-uit in die geloof moet volhard? Dis omdat die afronding en vervolmaking van ons redding tydens hierdie lewe nog toekomstig is! Die Nuwe Testament leer immers dat ons gered is, gered word en gered sal word. Redding is 'n proses.
Hierdie verse, soos sovele ander in die Nuwe Testament, leer dat die Christelike lewe 'n wedloop is (vgl. bv. 2Tm 4:6-8). Alleen diegene wat dit voltooi, kry die prys - eers by die wenpaal. Wie volhard tot die einde toe sal gered word.
Een van Satan se gevaarlikste leuens is dat die Christelike lewe iets staties is. Al waarom dit sou gaan, is dat 'n mens Christus aanneem - en dan bloot wag.
Maar die Christelike lewe het alles te doen met hardloop en volharding - op 'n baan wat "voor ons lê" (12:1c). Die oorspronklike taal dra die idee van 'n baan wat vir ons uitgemeet is (vgl. NIV). En inderdaad het die Here soewerein vir elkeen van ons 'n unieke baan vasgelê.
Sommige se roete is moeiliker as ander s'n. Sommige s'n langer. Party s'n meer in die publieke oog. Party hardloop in hierdie land; ander in 'n verre land. Sommige in die eerste eeu; ander in die een-en-twintigste. Al wat uiteindelik saak maak, is dat ek my sal onderwerp aan God se soewereine wil vir my, en getrou sal volhard op die pad wat vir mý vasgelê is.

Ons moet in vier rigtings kyk

Hierdie 3 verse beklemtoon dat die Christen-atleet oop-oë moet hardloop as hy 'n sukses van sy wedloop wil maak. Hy moet in vier rigtings kyk:
1. Kyk terug! : Jy is nie die eerste om die wedloop af te lê nie (v.1a).
2. Kyk af! : Daar is baie struikelblokke (v.1b).
3. Kyk op! : Nael jou oë vas op die Here Jesus (v.2).
4. Kyk vorentoe! : Daar wag 'n lourierkrans (v.2).

Die noodsaak om terug te kyk

# Kom ons fokus nou net eers op eersgenoemde - dat ons moet terug kyk.

# Daar is nie 'n eksplisiete opdrag in v.1 om terug te kyk nie, maar die skrywer begin die gedeelte met "daarom" (OAV), wat beteken dat hy sy argument op die voorafgaande baseer.
         Volgens Heb 11 is geloof en hoop die sleutel tot volharding. Dit word geïllustreer aan die hand van talle Ou Testametiese lewens. Die geloofshelde van die verlede het onder die moeilikste omstandighede denkbaar volgehou - omdat hulle nie vir hierdie lewe geleef het nie, maar vir die een wat kom.

# Hierdie Ou Testamentiese geloofshelde word genoem: 'n "groot wolk van getuies rondom ons" (OAV).
Die Griekse woord, "wolk", dui nie net op 'n enkele wolk nie, maar op 'n massa wolke.
"Rondom" is 'n sterk begrip - die wolk omring ons, omhul ons, en toring bokant ons uit.
Die geloofshelde se getuienis is dus kragtig en onontkombaar.

# Die beeld wat die skrywer hier gebruik, is dié van 'n atletiekbyeenkoms. Hy beskryf gelowiges as deelnemers in 'n arena wat omring is deur 'n massa mense in 'n volgepakte stadion.

* Hy noem hierdie massa mense in die pawiljoene "getuies".

In Afrikaans kan hierdie begrip op twee maniere verstaan word. Hulle is óf getuies van ons - toeskouers wat ons dophou. Óf hulle is getuies vir ons - 'n skare wat ons aanmoedig.
Dat die gelowiges van vorige geslagte ons uit die hemel dophou, mag vir sommige 'n romantiese gedagte wees, maar die idee is vreemd aan die Nuwe Testament. En daarbenewens word die Griekse werkwoord, "getuig", nie so gebruik nie. Dit beteken om getuienis te gee.
Ons kan met sekerheid aanvaar dat die skrywer nie in gedagte het dat massas mense ons met aandag dophou nie, maar wel dat die skare geloofshelde van die verlede ons aanspoor - deur hulle getuienis en hulle voorbeelde. Ons moet daarom ag slaan op hulle geloofsvertroue en volhardende gehoorsaamheid - en hulle navolg.
Hebreërs gebruik die beeld ook in 6:12 en 13:7.

Wat beteken dit vir ons vandag?

Ons hét getuies

# Geïnspireerde, oftewel Bybelse lewensbeskrywings. Die Bybel is vol daarvan. En dat dit 'n belangrike openbaringsmiddel is, is duidelik uit die hoeveelheid ruimte wat die Skrif daaraan afstaan. Sonder doekies omdraai, word die goeie en heroïese, sowel as die slegte en skandelike genoem. Sommige figure was geliefd en inspirerend, ander weer tragies en veragtelik. Maar in almal is geïnspireerde lesse te vind. Per slot van rekening het die Heilige Gees dit goed geag om dit te laat opteken sodat ons kan leer. En ek weet nie van jou nie, maar op 'n manier kan ék met elkeen van hulle identifiseer.

# Ongeïnspireerde, oftewel buite-Bybelse lewensbeskrywings. Historiese kontinuïteit is 'n onomstootlike feit. Ons staan op die skouers van ons voorgangers. En wie nie die lesse van die geskiedenis leer nie, is gedoem om die foute van die vaders te herhaal.

* 'n Fatale fout wat in sekere kringe in die kontemporêre kerk voorkom, is die arrogante geringskatting van die feit dat ons wortels het, en dat historiese kontinuïteit 'n onontkombare werklikheid is. Hooghartig word gereken dat ons bloedweinig te leer het by die kerk van gister en eergister. Ons vadere, word geleer, was maar besig met melkkossies, terwyl ons in hierdie dae tot veel hoër hoogtes deur die Heilige Gees gevoer word.
Hierdie leringe word gegooi oor die boeg van God se plan om die kerk geleidelik te restoreer. Hy voer die kerk glo terug na die vlakke en belewinge van die boek Handelinge; trouens, ver verby dit. Daarom rig Hy kwansuis weer apostels op, wat glo wonderwerke kan doen soos die apostels destyds. O ja? En waar is hulle, nogal, hierdie super-saints?

* Van die mees sinvolle leesstof vir Christene is biografieë van Godsmanne en -vroue van die verlede. As ek maar die godsvrug kon hê van 'n Robert Murray McCheyne (1813 -1843); die insig van 'n Aurelius Augustinus (354-430) of 'n Jonathan Edwards (1703-1758); die toewyding van 'n Johannes Calvyn (1509-1564); die predikingskrag van 'n George Whitefield (1714-1770) of 'n Charles Spurgeon (1834-1892)! Wat van die Puriteine? En ek het nog nie eers na die nie-engelssprekende wêreld verwys nie. Mens kan aanhou en aanhou!
Die tragiese gevolg van ons arrogante weiering om terug te kyk, is dat bykans elke skande en skade van die verlede vandag opnuut sy tol eis - tot oneer van die Here en struikeling van ontelbaar baie mense. Nee, ons moet saam met Spurgeon kan sê: "As ek deur die gange van die tyd terugstap, staan een na die ander man en vrou van God op om my hand te skud!"
Het jy al geleer om vreugde en wysheid te put uit die kerkgeskiedenis?

Ons wórd getuies

# Vir ons wat hier en nou lewe, is die wenpaal om die draai. As die Here talm om te kom, hardloop ons kinders en kleinkinders binnekort die wedloop. Ook hulle sal Heb 12 lees en bepeins - en terugkyk. Sal hulle ons getuienis hoor? Sonder twyfel! Ons is immers nie net erfgename nie, ons is ook erflaters. Dis waar van elke geslag. Wat gaan óns nalaat - as individue, as egpare, as ouers, as gemeentes? Gaan my lewe 'n rigtingwyser en aansporing wees op die pad van Godsverheerliking en ewige saligheid? Of sal my getuienis 'n bron wees van misleiding en sinisme en ewige ellende? Wat sal my nalatenskap wees?

# Op geen wyse en op niemand het ons voorbeeld 'n groter impak as op die kinders wat in ons huise groot word nie. Niemand het 'n groter vormende invloed op hulle as ons nie. Wat 'n enorme verantwoordelikheid stapel dit nie op jou en my nie!
Die vraag wat dus op hierdie moment vierkantig en onontkombaar voor jou staan, is of jou voorbeeld jou kinders (en gewis ook jou kleinkinders) voorthelp op die pad na die ewige saligheid. Of sal jy tot in ewigheid die verskriklike wete soos 'n witwarm yster in jou gemoed voel inbrand dat jy 'n groot aandeel daarin gehad het dat hulle die ewigheid in die verdoemenis moet deurbring?
My vriend, net in Christus is vergiffenis te vind vir ons opvoedingsmislukkings. En net in Hom is genadekrag om van hier af vorentoe reg te stel wat ons in die verlede verbrou het. Maar onthou, jou en my voorbeeld praat harder as enigiets anders. En natuurlik gebed, gebed! Waarlik, gebed het krag!

'n Aangrypende lied

'n Paar jaar gelede het die Amerikaanse Gospelsanger, Steve Green, 'n aangrypende lied gesing. Dit vat dit waaroor ons nou besin het aangrypend vas. Ek sluit daarmee af.

We're pilgrims on the journey of the narrow road
and those who've gone before us line the way
cheering on the faithful
encouraging the weary
their lives a stirring testament to God's sustaining grace
Surrounded by so great a cloud of witnesses
let us run the race not only for the price
but as those who've gone before us
let us leave to those behind us
the heritage of faithfulness passed on through godly lives
After all our hopes and dreams have come and gone
and our children sift through all we've left behind
may the clues that they discover
and the memories they uncover
become the light that leads them
to the road we each must find
Oh may all who come behind us find us faithful
may the fire of our devotion light their way
may the footprints that we leave lead them to believe
and the lives we live inspire them to obey
oh may all who come behind us find us faithful
  
Nico van der Walt

E-PREEK No.199 - HB 12:1-3 - DIE CHRISTELIKE WEDLOOP [3] v.1a - Kyk af!

Hb 12:1b : "... laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik ...".

Dit is nie 'n wonder nie dat sommige van die gelowiges aan wie die Hebreërbrief gerig word, begin swig onder die druk en eise wat ware dissipelskap meebring. Oënskynlik stel hulle navolging van Jesus amper onhoudbare eise aan hulle.Hulle oorweeg dit gevolglik om na die Joodse geloof terug te keer (vandaar die talle waarskuwings teen geloofsversaking in die brief). Uiterlike godsdienstige rituele is immers veel minder veeleisend as dissipelskap in gees en waarheid - as 'n geloofswedloop wat alles van jou verg. En nog meer, dit sal 'n einde bring aan die vervolging en verwerping wat hulle waarskynlik moet lei.


Die Christelike wedloop verg alles1

Soos die vorige twee keer gesien, is die ware Christelike lewe 'n wedloop - 'n hinderniswedloop. En om die ewige saligheid te bekom, is minstens twee dinge nodig. Een, ons moet in hierdie wedloop volhard tot die einde toe. En, twee, ons moet oop-oë hardloop, want daar is baie dinge wat mens se wedloop wil laat skipbreuk lei. Daarom, anders as in 'n gewone wedloop, moet mens aandagtig rondkyk. Ons moet voortdurend in vier rigtings kyk:

Ons moet terug kyk - want ons is nie die eerste om die wedloop af te lê nie (v.1a).

Ons moet af kyk - want daar is baie struikelblokke wat ons kan laat val (v.1b).

Ons moet op kyk - ons moet ons oë vasnael op die Here Jesus (v.2).

Ons moet vorentoe kyk - want daar wag 'n lourierkrans (v.2).

Ons het reeds inleidend en in die algemeen oor hierdie verse besin - oor die feit van die Christelike wedloop. En laas keer het ons dit gehad oor ons roeping om terug te kyk.

Nou besin ons oor die noodsaak om af te kyk.

Die noodsaak om af te kyk

In v.1-3 word twee struikelblokke uitdruklik genoem ( "laste" en "sonde"), en drie word geïmpliseer: die "kruis" wat ons soos die Here Jesus moet dra (v.2); die "skande" wat ons dikwels soos Hy moet verduur (v.2); en die "vyandige optrede van die sondaars" (v.3) wat Christen-atlete, soos Hy, goed ken.

Laste

Die Griekse woord dui op 'n massa, of 'n swelsel, of oortollige vet. Atlete het destyds, soos vandag, alles in hulle vermoë gedoen om niks onnodig saam te dra nie. So fanaties was hulle daaroor dat van hulle blykbaar selfs kaal meegeding het.

Ook ons weet om nie iets onnodig saam te dra nie. As mens byvoorbeeld gaan voetslaan, is slegs die noodsaaklike in jou rugsak (ek weet van 'n man wat sy tandeborsel se steel korter gesaag het!). Jy hardloop nie 'n maraton met stewels aan nie. Vir die Christenatleet geld: Keep your luggage light!

Mens moet van alles ontslae raak wat jou geestelike vordering of jou dienswerk vir die Here belemmer. Mens sou byvoorbeeld kon dink aan daardie dinge wat jou tyd opvreet, wat jou kragte - liggaamlik of emosioneel - uitput, en wat jou ywer vir en honger na die dinge van die Here afstomp.

Sonde

Dit verstrik ons so maklik, sê v.1. Die Griekse woord is interessant. Dit is 'n samestelling van 3 begrippe: vinnig of rats, plus rondom, plus staan. Die idee is díé van 'n skare mense wat só om jou saamdrom dat jy beswaarlik kan beweeg.

Voor mens jou oë uitvee, kan sonde - wat aanvanklik skadeloos lyk - jou van alle kante toepak. Dan raak dit onmoontlik om te hardloop. Ontelbaar baie het al wonderlik belowend weggespring, maar weldra in die dryfsand van sonde beland - en nooit hulle wedlope voltooi nie.

Kruis

Soos die Here Jesus het ook ons 'n kruis om te dra. Meermale roep Hy Sy dissipels op om hulle kruise op te neem en Hom te volg. Wat bedoel Hy?

In die antieke wêreld het mense nie 'n silwerkruis om hulle nekke gedra nie. Nee, die kruis was 'n verskriklike instrument van teregstelling. Nooit was daar 'n afgrysliker manier om te sterf nie. Ware dissipels draf dus nie ligvoets en lag-lag in Jesus se voetspore nie. Hierdie wedloop is nie vir huiweriges, lafaards en papperds nie!

Nog meer, die kruis is nie iets wat permanent op jou skouer vasgesweis word nie. Volgens die Here moet mens jou kruis "elke dag opneem" en Hom volg (Lk 9:23). Die implikasie is duidelik. Jy moet dag na dag die besluit neem om die prys van dissipelskap te betaal. Dit is moontlik om op enige stadium te besluit jy het genoeg gehad. Voortdurende toewyding is noodsaaklik en ons kan nooit ons verantwoordelikheid ontkom nie.

Skande

Daar was geen groter skande as om gekruisig te word nie. Net die heel ergste misdadigers is so tereggestel. Op geen wyse kon die Jode die Here méér verag het, as om daarop aan te dring dat Hy gekruisig word nie.

Geen dissipel van die Here Jesus moet verbaas wees as hy die hoon en smaad en skindertonge van ongelowiges moet verduur nie. Die wedloop van dissipelskap is nie vir diegene vir wie dit oor wêreldse applous gaan nie. Jesus se volgelinge is vreemdelinge en bywoners hier op aarde (Hb 11:13; 1Pt 2:11).

Vyandige optrede van sondaars

Die Here Jesus is nie net verag nie. Die Jode wou Hom uit die weg ruim en het nie gerus voordat hulle daarin geslaag het nie (of so het hulle gedink). Net so moet geen Christen verwag om die applous van 'n ongelowige wêreld te ervaar nie; trouens, laat ons nie verbaas wees oor vervolging nie. Die Skrif verseker ons dat toegewyde gelowiges dit wel op een of ander wyse sal ervaar: "Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word" (2Tim 3:12).

Hierdie vervolging kan natuurlik op talle maniere tot uitdrukking kom - van fisieke vervolging tot beswaddering, diskriminasie en spot.

Wat sê dit vir ons in die 21ste eeu?

1. Dis nie net sonde wat ons in ons wedlope moet oorkom nie.

Dis waarom die skrywer sê dat meer dinge as sonde ons kan belemmer. Trouens dit kan selfs partymaal van die goeie gawes wees wat die Vader "ryklik aan ons gee om te geniet" (1Tm 6:17).

Dit moet ons onmiddellik waarsku dat daar 'n fyn balans is om te handhaaf. Aan die een kant moet ons, ten einde suksesvol te hardloop, askese vermy. Want dit kan mens isoleer van die wêreld waarin ons lig en sout moet wees - en jou verlei tot wettisisme. Maar aan die ander kant kan al die wonderlike dinge van ons welvaartsgemeenskap laste word wat ons so besig hou dat ons nie by hardloop uitkom nie. Veral laasgenoemde is vir die meeste van ons 'n gevaar.

Ernstige en ervare dissipels weet dat handhawing van hierdie balans geen eenvoudige uitdaging is nie. Opregte en biddende selfondersoek is voortdurend nodig. Mens moet jou balans op jou knieë vind.

2. Mens ontdek baie van jou laste eers terwyl jy hardloop.

Dis eenvoudig so dat 'n atleet sekere probleme nie kan voorsien terwyl hy nog by die huis sit nie. Begin hy egter hardloop, kom hy gou agter waar sy nuwe hardloopskoene hom skaaf. Elke ernstige geloofsatleet sal dus gereeld tydens die wedloop laste afgooi. As jy nooit iets afgooi nie, moet jy jouself afvra of jy hoegenaamd hardloop.

3. Ons leef nog ín die wêreld.

Daar is sekere noodsaaklikhede in die lewe waaraan mens eenvoudig móét aandag gee. Voorbeelde kan vermenigvuldig word. Soveel dinge voel na beuselagtighede wat jou tyd só steel dat jy nie behoorlik kan hardloop nie. Dink maar aan 'n ma se tydrowende versorging van haar kinders, of die omsien na 'n gestremde kind, of die sleur van huiswerk, of die instandhouding van jou eiendom, of die voltooing van belastingopgawes. En wat van die talle dissipels wat moet saamleef met 'n ongelowige eggenoot. En so kan mens aanhou, nie waar nie. Maar jy kan hierdie dinge eenvoudig nie ontkom nie. Trouens, dikwels getuig getrouheid daarin juis van jou toewyding as geloofsatleet. Moet dus nie voor die versoeking swig om pligte te versuim onder die voorwendsel dat dit kwansuis ter wille van die wedloop is nie. Hierdie pligte is deel van die wedloop en dien dikwels juis tot jou heiligmaking.

4. Tog is ons nie meer ván die wêreld nie.

Terwyl ons dus allerlei mundane pligte het waaraan ons met Christelike toewyding aandag moet gee, moet ons terselfdertyd alles afgooi wat nie werklik vir ons wedlope noodsaaklik is nie.

Die spanning tussen ín die wêreld wees, maar tog nie ván die wêreld nie, wil elke ernstige Christen-atleet meermaal uitmekaar skeur. Tog kan ons dit nie ontkom dat die baan dikwels op hierdie snykant van 'n mes langs loop nie.

In 1Kor 7:29vv spreek Paulus hierdie saak aan, spesifiek met betrekking tot die huwelik. Almal van ons wat getroud is, sal weet hoeveel addisionele pligte 'n huwelik en 'n gesin meebring. Só belangrik ag die apostel die wedloop, dat hy hier in 1Kor 7 aanbeveel dat Christenatlete moet oorweeg om ongetroud te bly ter wille van hulle roeping. Maar natuurlik, die meeste dissipels trou wel een of ander tyd - en dis reg so.

Terwyl 'n lewe van armoede swaar en uitmergelend kan wees, is dit veral welvaart wat jou lewe kompliseer en groot eise aan jou wedloop stel. Hoe meer jy het, hoe meer is daar wat jou aandag vereis en hoe meer probleme het jy!

Dis waarskynlik een van die redes waarom die Skrif ons dikwels waarsku teen die gevare van rykdom. Dit kompliseer ons wedlope. Luister na Jesus Christus: "Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom" (Lk 18:24). Let egter op, Hy sê nie dis onmoontlik nie; Hy sê dis moeilik. Maar let óók op: in hierdie ryk jongman se geval het dit hom heel moontlik die ewige saligheid gekos!

Mag die Here jou en my help om te volhard en om elke struikelblok duidelik raak te sien - want niks, maar niks, is belangriker as om die wedloop seëvierend te voltooi nie!

Nico van der Walt


11. Die skrywer van hierdie preek glo met sy hele hart aan die Bybelse leerstuk van die volharding van die heiliges, maar ons het nie nou spasie om te besin oor die samehang van ons verantwoordelikheid, wat in hierdie preek beklemtoon word, en die instandhouding van Sy uitverkorenes deur God nie.