Skryfwerk van Nico van der Walt ter wille van Godgesentreerde, Christusgefokusde en Bybelgefundeerde waarheid, oortuiging en praktyk
Wednesday, December 14, 2011
E-PREEK No.198 - HB 12:1-3 - DIE CHRISTELIKE WEDLOOP [2] v.1a - Kyk terug
E-PREEK No.199 - HB 12:1-3 - DIE CHRISTELIKE WEDLOOP [3] v.1a - Kyk af!
Hb 12:1b : "... laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik ...".
Dit is nie 'n wonder nie dat sommige van die gelowiges aan wie die Hebreërbrief gerig word, begin swig onder die druk en eise wat ware dissipelskap meebring. Oënskynlik stel hulle navolging van Jesus amper onhoudbare eise aan hulle.Hulle oorweeg dit gevolglik om na die Joodse geloof terug te keer (vandaar die talle waarskuwings teen geloofsversaking in die brief). Uiterlike godsdienstige rituele is immers veel minder veeleisend as dissipelskap in gees en waarheid - as 'n geloofswedloop wat alles van jou verg. En nog meer, dit sal 'n einde bring aan die vervolging en verwerping wat hulle waarskynlik moet lei.
Soos die vorige twee keer gesien, is die ware Christelike lewe 'n wedloop - 'n hinderniswedloop. En om die ewige saligheid te bekom, is minstens twee dinge nodig. Een, ons moet in hierdie wedloop volhard tot die einde toe. En, twee, ons moet oop-oë hardloop, want daar is baie dinge wat mens se wedloop wil laat skipbreuk lei. Daarom, anders as in 'n gewone wedloop, moet mens aandagtig rondkyk. Ons moet voortdurend in vier rigtings kyk:
Ons moet terug kyk - want ons is nie die eerste om die wedloop af te lê nie (v.1a).
Ons moet af kyk - want daar is baie struikelblokke wat ons kan laat val (v.1b).
Ons moet op kyk - ons moet ons oë vasnael op die Here Jesus (v.2).
Ons moet vorentoe kyk - want daar wag 'n lourierkrans (v.2).
Ons het reeds inleidend en in die algemeen oor hierdie verse besin - oor die feit van die Christelike wedloop. En laas keer het ons dit gehad oor ons roeping om terug te kyk.
Nou besin ons oor die noodsaak om af te kyk.
Die noodsaak om af te kyk
In v.1-3 word twee struikelblokke uitdruklik genoem ( "laste" en "sonde"), en drie word geïmpliseer: die "kruis" wat ons soos die Here Jesus moet dra (v.2); die "skande" wat ons dikwels soos Hy moet verduur (v.2); en die "vyandige optrede van die sondaars" (v.3) wat Christen-atlete, soos Hy, goed ken.
Laste
Die Griekse woord dui op 'n massa, of 'n swelsel, of oortollige vet. Atlete het destyds, soos vandag, alles in hulle vermoë gedoen om niks onnodig saam te dra nie. So fanaties was hulle daaroor dat van hulle blykbaar selfs kaal meegeding het.
Ook ons weet om nie iets onnodig saam te dra nie. As mens byvoorbeeld gaan voetslaan, is slegs die noodsaaklike in jou rugsak (ek weet van 'n man wat sy tandeborsel se steel korter gesaag het!). Jy hardloop nie 'n maraton met stewels aan nie. Vir die Christenatleet geld: Keep your luggage light!
Mens moet van alles ontslae raak wat jou geestelike vordering of jou dienswerk vir die Here belemmer. Mens sou byvoorbeeld kon dink aan daardie dinge wat jou tyd opvreet, wat jou kragte - liggaamlik of emosioneel - uitput, en wat jou ywer vir en honger na die dinge van die Here afstomp.
Sonde
Dit verstrik ons so maklik, sê v.1. Die Griekse woord is interessant. Dit is 'n samestelling van 3 begrippe: vinnig of rats, plus rondom, plus staan. Die idee is díé van 'n skare mense wat só om jou saamdrom dat jy beswaarlik kan beweeg.
Voor mens jou oë uitvee, kan sonde - wat aanvanklik skadeloos lyk - jou van alle kante toepak. Dan raak dit onmoontlik om te hardloop. Ontelbaar baie het al wonderlik belowend weggespring, maar weldra in die dryfsand van sonde beland - en nooit hulle wedlope voltooi nie.
Kruis
Soos die Here Jesus het ook ons 'n kruis om te dra. Meermale roep Hy Sy dissipels op om hulle kruise op te neem en Hom te volg. Wat bedoel Hy?
In die antieke wêreld het mense nie 'n silwerkruis om hulle nekke gedra nie. Nee, die kruis was 'n verskriklike instrument van teregstelling. Nooit was daar 'n afgrysliker manier om te sterf nie. Ware dissipels draf dus nie ligvoets en lag-lag in Jesus se voetspore nie. Hierdie wedloop is nie vir huiweriges, lafaards en papperds nie!
Nog meer, die kruis is nie iets wat permanent op jou skouer vasgesweis word nie. Volgens die Here moet mens jou kruis "elke dag opneem" en Hom volg (Lk 9:23). Die implikasie is duidelik. Jy moet dag na dag die besluit neem om die prys van dissipelskap te betaal. Dit is moontlik om op enige stadium te besluit jy het genoeg gehad. Voortdurende toewyding is noodsaaklik en ons kan nooit ons verantwoordelikheid ontkom nie.
Skande
Daar was geen groter skande as om gekruisig te word nie. Net die heel ergste misdadigers is so tereggestel. Op geen wyse kon die Jode die Here méér verag het, as om daarop aan te dring dat Hy gekruisig word nie.
Geen dissipel van die Here Jesus moet verbaas wees as hy die hoon en smaad en skindertonge van ongelowiges moet verduur nie. Die wedloop van dissipelskap is nie vir diegene vir wie dit oor wêreldse applous gaan nie. Jesus se volgelinge is vreemdelinge en bywoners hier op aarde (Hb 11:13; 1Pt 2:11).
Vyandige optrede van sondaars
Die Here Jesus is nie net verag nie. Die Jode wou Hom uit die weg ruim en het nie gerus voordat hulle daarin geslaag het nie (of so het hulle gedink). Net so moet geen Christen verwag om die applous van 'n ongelowige wêreld te ervaar nie; trouens, laat ons nie verbaas wees oor vervolging nie. Die Skrif verseker ons dat toegewyde gelowiges dit wel op een of ander wyse sal ervaar: "Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word" (2Tim 3:12).
Hierdie vervolging kan natuurlik op talle maniere tot uitdrukking kom - van fisieke vervolging tot beswaddering, diskriminasie en spot.
Wat sê dit vir ons in die 21ste eeu?
1. Dis nie net sonde wat ons in ons wedlope moet oorkom nie.
Dis waarom die skrywer sê dat meer dinge as sonde ons kan belemmer. Trouens dit kan selfs partymaal van die goeie gawes wees wat die Vader "ryklik aan ons gee om te geniet" (1Tm 6:17).
Dit moet ons onmiddellik waarsku dat daar 'n fyn balans is om te handhaaf. Aan die een kant moet ons, ten einde suksesvol te hardloop, askese vermy. Want dit kan mens isoleer van die wêreld waarin ons lig en sout moet wees - en jou verlei tot wettisisme. Maar aan die ander kant kan al die wonderlike dinge van ons welvaartsgemeenskap laste word wat ons so besig hou dat ons nie by hardloop uitkom nie. Veral laasgenoemde is vir die meeste van ons 'n gevaar.
Ernstige en ervare dissipels weet dat handhawing van hierdie balans geen eenvoudige uitdaging is nie. Opregte en biddende selfondersoek is voortdurend nodig. Mens moet jou balans op jou knieë vind.
2. Mens ontdek baie van jou laste eers terwyl jy hardloop.
Dis eenvoudig so dat 'n atleet sekere probleme nie kan voorsien terwyl hy nog by die huis sit nie. Begin hy egter hardloop, kom hy gou agter waar sy nuwe hardloopskoene hom skaaf. Elke ernstige geloofsatleet sal dus gereeld tydens die wedloop laste afgooi. As jy nooit iets afgooi nie, moet jy jouself afvra of jy hoegenaamd hardloop.
3. Ons leef nog ín die wêreld.
Daar is sekere noodsaaklikhede in die lewe waaraan mens eenvoudig móét aandag gee. Voorbeelde kan vermenigvuldig word. Soveel dinge voel na beuselagtighede wat jou tyd só steel dat jy nie behoorlik kan hardloop nie. Dink maar aan 'n ma se tydrowende versorging van haar kinders, of die omsien na 'n gestremde kind, of die sleur van huiswerk, of die instandhouding van jou eiendom, of die voltooing van belastingopgawes. En wat van die talle dissipels wat moet saamleef met 'n ongelowige eggenoot. En so kan mens aanhou, nie waar nie. Maar jy kan hierdie dinge eenvoudig nie ontkom nie. Trouens, dikwels getuig getrouheid daarin juis van jou toewyding as geloofsatleet. Moet dus nie voor die versoeking swig om pligte te versuim onder die voorwendsel dat dit kwansuis ter wille van die wedloop is nie. Hierdie pligte is deel van die wedloop en dien dikwels juis tot jou heiligmaking.
4. Tog is ons nie meer ván die wêreld nie.
Terwyl ons dus allerlei mundane pligte het waaraan ons met Christelike toewyding aandag moet gee, moet ons terselfdertyd alles afgooi wat nie werklik vir ons wedlope noodsaaklik is nie.
Die spanning tussen ín die wêreld wees, maar tog nie ván die wêreld nie, wil elke ernstige Christen-atleet meermaal uitmekaar skeur. Tog kan ons dit nie ontkom dat die baan dikwels op hierdie snykant van 'n mes langs loop nie.
In 1Kor 7:29vv spreek Paulus hierdie saak aan, spesifiek met betrekking tot die huwelik. Almal van ons wat getroud is, sal weet hoeveel addisionele pligte 'n huwelik en 'n gesin meebring. Só belangrik ag die apostel die wedloop, dat hy hier in 1Kor 7 aanbeveel dat Christenatlete moet oorweeg om ongetroud te bly ter wille van hulle roeping. Maar natuurlik, die meeste dissipels trou wel een of ander tyd - en dis reg so.
Terwyl 'n lewe van armoede swaar en uitmergelend kan wees, is dit veral welvaart wat jou lewe kompliseer en groot eise aan jou wedloop stel. Hoe meer jy het, hoe meer is daar wat jou aandag vereis en hoe meer probleme het jy!
Dis waarskynlik een van die redes waarom die Skrif ons dikwels waarsku teen die gevare van rykdom. Dit kompliseer ons wedlope. Luister na Jesus Christus: "Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom" (Lk 18:24). Let egter op, Hy sê nie dis onmoontlik nie; Hy sê dis moeilik. Maar let óók op: in hierdie ryk jongman se geval het dit hom heel moontlik die ewige saligheid gekos!
Mag die Here jou en my help om te volhard en om elke struikelblok duidelik raak te sien - want niks, maar niks, is belangriker as om die wedloop seëvierend te voltooi nie!
Nico van der Walt
E-PREEK No.200 - HB 12:1-3 - DIE CHRISTELIKE WEDLOOP [4] v.1a - Kyk op
Die Christelike wedloop moet versigtig en met toewyding gehardloop word as jy dit met sukses wil aflê. Soos gesien, is dit noodsaaklik om oop-oë te hardloop en voortdurend in 4 rigtings te kyk: terug, af, op en vorentoe. Op die eerste twee hiervan het ons reeds gelet. Kom ons kyk nou na die noodsaak om gedurig op te kyk.
Om ons oë op Jesus vas te nael
Die Hebreërskrywer gebruik betekenisvolle begrippe om hierdie verantwoordelikheid te beskryf.
V.2a: "die oog gevestig"
# Hier is 'n interessante woord. Dit dui op 'n doelbewuste en volgehoue wegkyk - nie ván nie, maar ná. Dis om doelbewus weg te kyk van alles wat jou aandag kan aftrek, sodat jy kan konsentreer op iets anders - in hierdie geval Jesus.
Mens hoor gedurig dat Christene nie oogklappe moet dra nie. Daarmee word bedoel dat hulle nie naïef, enkelvoudig en bekrompe moet wees in dit waarmee hulle hul besig hou nie.
Dis natuurlik waar. Maar daar is ook so iets soos heilige oogklappe. Christene hou hulle nie op met al die nonsens van hierdie wêreld nie. Al mag dit heeltemal legitiem wees, lê dit net eenvoudig nie hoog genoeg op jou prioriteitslys nie.
# Let op, hier word net die eienaam van die Here se mens-wees gebruik: "Jesus". Duidelik het die skrywer vir Christus in Sy vernederde staat in gedagte. Dit gaan dus nie in die eerste instansie oor vertroue in Hom as waarlik God nie, maar oor navolging van Hom as waarlik mens. Hy was volkome mens, en daarom kan ons as mense Hom inderdaad navolg. Ons kan lewe soos Hy gelewe het.
V.3a: : "Hou Hom voor oë ..."
# Nogeens is die Grieks betekenisvol. Die werkwoord praat van berekening. Dit dui dus op die noukeurige en akkurate maak van somme.
Ek moet daarom met erns ag slaan op die Here Jesus se voorbeeld, lering en wil in elke gegewe situasie. Ek moet daarmee rekening hou, al lyk dit met die eerste oogopslag nie so nie, dat die Here vir ons al die nodige beginsels en riglyne gegee het om in elke situasie reg te besluit en reg op te tree.
# Dat ons Christenskap oor die volle spektrum van ons lewens tot uitdrukking moet kom, is 'n belangrike beginsel. Ons moet en kan ons christenskap op elke denkbare lewensterrein uitleef. Maar as dit my enigste beklemtoning is, lei dit baie maklik tot wêreldgelykvormigheid. Mens raak so kniediep betrokke in hierdie wêreld dat jy spoedig vasval in die "laste" waarvan v.1 praat.
Hierdie beklemtoning moet óók gebalanseer word met die waarheid wat hier onderstreep word. Só Christusgefokus moet my dissipelskap wees dat ek gedurig en doelbewus besig sal wees om hierdie komplekse en Godvyandiggesinde wêreld se apèlle en aansprake uit my lewe uit te sny - ten einde te konsentreer op my eintlike roeping.
Om hierdie balans te handhaaf is nie maklik nie. Dit verg nadenke, oorweging en selfs in sommige gevalle die raad van broers en susters in die Here. In laasgenoemde geval moet mens net seker maak jy leen nie jou ore uit aan elke Jan Rap en sy maat nie. Doen moeite om die raad te kry van ryp Christene wat al deur die meul gekom het.
Paradoksaal, hoe meer Christus jou blikveld vul, hoe beter sal jy die struikelblokke en verleidinge van hierdie lewe raaksien.
Die geloof se Pionier en Vervolmaker
Vergelyk mens verskillende Bybelvertalings, kom jy gou agter dat die Grieks van die benaminge wat hier vir Jesus gebruik word, dubbelsinnig is. Selfs ons twee Afrikaanse vertalings vertolk die oorspronklike taal verskillend.
Ons gaan egter nie nou in allerlei tegniese ingewikkeldhede vasgevang raak nie. Ek gaan net my konklusies aan jou voorhou.
# As die Here in die OAV "die Leidsman" genoem word, is die implikasie (so lyk dit vir my) dat Hy wat hierdie saak betref voor geloop het en as sodanig vir ons gedemonstreer het hoe die geloofslewe geleef moet word - en dit moet ons navolg.
Die NAV se "die Begin" wil weer beklemtoon dat ons geloof sy oorsprong in Hom het (?) - Hy is die Gewer, die Outeur, die Inisiëerder van my geloof. Beide is eksegeties moontlik, en beide is Bybels. Maar ek dink tog dat die Hebreërskrywer eersgenoemde in gedagte gehad het.
# Wat die tweede begrip betref (nét hier in die Nuwe Testament), vertaal beide OAV en NAV met "die Voleinder". Presies wat die Afrikaans met hierdie woord wil sê, is nie presies duidelik nie. Maar die Grieks bied weer twee moontlikhede.
Óf die begrip wil sê dat Jesus diegene wat die Vader vir Hom gegee het se geloof tot vervolmaking voer. Hy bekragtig hulle dus en dra hulle deur.
Óf die begrip wil sê dat Jesus self die geloof vervolmaak het. Hy het gedemonstreer hoe mens die werdloop moet hardloop. Hy is die allerstandaard van geloofsvolharding end-uit - en ons moet Hom dit nadoen.
Hoewel eersgenoemde vir seker Bybels is, is dit tog my oortuiging (na baie wik en weeg) dat die skrywer híér laasgenoemde in gedagte het.
Indien my eksegese korrek is, wil die Hebreërskrywer dus hier sê dat die Here Jesus as volkome mens vir ons gedemonstreer het hóé 'n Christenatleet in die geloof moet hardloop en enduit moet volhard. Ons moet die wedloop hardloop net soos Hy dit gedoen het - dan sal ons vir seker seëvier.
Wat het Jesus se wedloop gekenmerk?
# Die Here Jesus was absoluut doelgerig
Hy is voortdurend aangespoor deur "die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was."
Hier is nogeens verskillende eksegetiese moontlikhede.
* Die voorsetsel "ter wille van" (NAV; Gr. anti), kan ook vertaal word "in plaas van". So vertaal meer as een regsinnige teoloog dit (o.a. Calvyn). Dan is daar twee moontlike vertolkings.
Óf die Here het gekies om in gehoorsaamheid aan Sy Vader en ter wille van ons, die vreugde wat Hy in die hemel geniet het die rug te keer ten einde hier op aarde die geloofswedloop te kom hardloop.
Óf die Here het gekies om gehoorsaam aan Sy Vader te wees, eerder as om die vreugdes wat hierdie wêreld bied na te jaag.
* Maar ek meen tog beide ons Afrikaanse vertalings is reg. Die deurslag word vir my gegee deur die woorde, "wat vir ... Hom voorgehou is" (OAV), of "wat vir Hom in die vooruitsig was" (NAV). Letterlik sê die uitdrukking dat die vreugde voor Hom neergesit is - kennelik as belonining (vgl. 6:18, waar die woord ook gebruik word). Dan maak ons vertalings se weergawes net soveel meer sin.
# Die Here Jesus moes sterk opposisie oorkom
Hy het geduldig volhard in Sy wedloop, ten spyte daarvan dat dit sou uitloop op die kruis (2).
Hy moes die verskriklike skande van die kruisiging verduur, maar het nie daarvoor terug gedeins nie (2).
Al moes Hy teen die stroom van menslike opinie inbeur, het dit Hom nie daarvan weerhou om Sy wedloop end-uit te hardloop nie (3).
* Kruis: Wat die kruisiging betref, het Hy geweet dat dit onvermydelik was. Dit was immers waarvoor Hy gekom het. Hierdie realiteit het Hy vierkantig in die oë gekyk.
Nooit het Jesus gemurmureer nie. Daarom kon Hy vir Petrus sê, "Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?" (Jh 18:11).
Tog was Hy nie gevoelloos en traak-my-nie-agtig oor Sy komende lyding nie. Hy was nie Stoïsyns nie. Dink maar aan Sy vrees en worsteling in Getsemane. Hy het waarlik en intens gely!
Laat ons goed verstaan: volgens God se Woord sal egte Christenskap nooit sonder 'n goeie kwota swaarkry wees nie. Ook ons moet onsself verloën en elke dag ons kruis opneem.
* Skande: Die Here Jesus het nooit toegelaat dat enigiets Hom van koers bring in die uitlewing van Sy roeping nie - allermins die feit dat Hy skande, minagting en geringskatting moes verduur.
Laat dit ook ons gesindheid wees. Soos 13:13-14 sê: "Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het, want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige."
* Teëspraak: Al wat vir die Here Jesus getel het, was God se Woord; nooit mense se opinie nie. En dit moet ook van my en jou gesê kan word. Hoor wat sê die Here Jesus: "Wie hom vir My en vir My Woord skaam, vir hom sal die Seun van die Mens Hom skaam."
# Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God
Omdat die Here Jesus Sy wedloop absoluut getrou aan Sy Vader seëvierend voltooi het, het Hy 'n ereposisie in die hemel gekry. Weliswaar sal nie een van ons ooit so 'n verhewe posisie beklee nie, maar die punt is dat die Vader elkeen wat tot die einde toe volhard, ryklik sal beloën - presies soos Hy beloof het.
Ten slotte
Petrus gebruik 'n baie interessante woord as hy in 1Pt 2:21 skryf: Christus het vir ons 'n voorbeeld gestel, sodat ons in Sy voetspore kan volg.
Die woord "voorbeeld" (Gr. hupogrammos) is interessant. Dit kom uit die wêreld van die Griekse laerskool. Klein kindertjies het nie op papier leer skryf nie; ook nie op klipleie nie. Hulle het 'n vlak pannetjie gehad wat met byewas gevul was. In die was het hulle dan met 'n staalstilus met 'n skerp punt geskryf. In die geval van die heel kleintjies, het die onderwyser eers, sê maar, die Griekse alfabet gekrap. Die leerling moes dan die groefies oor en oor met sy stilus volg, en so leer om die letters te vorm.
Die punt aan die ander kant van die stilus was plat, soos 'n skroewedraaier. Daarmee kon hulle dan die was weer gelyk maak vir 'n nuwe klompie letters wanneer dit nodig geraak het.
Hierdie voorbeeld wat die onderwyser eers in die was vir die kleintjies gekrap het, is 'n hupogrammos genoem. Wat wil Petrus dus tuis bring? Soos wat daardie kindertjies versigtig elke hoekie en draaitjie van 'n hupogrammos se groefies moes volg, net so moet 'n Christen versigtig in die voetspore van sy of haar Here en Meester trap!
Nico van der Walt
E-PREEK No.201 - HB 12:1-3 - DIE CHRISTELIKE WEDLOOP [5] v.2 - Kyk vorentoe
Hoewel dit nie uitdruklik gesê word nie, word dit onmiskenbaar geïmpliseer dat ons in ons wedlope net soos Jesus vorentoe moet kyk. Soos Hy Sy oë vasgenael het op die loon wat op Hom gewag het, moet ook ons aangespoor word deur die Skrif se beloftes dat daar vir elke geloofsatleet wat end-uit volhard, 'n oorwinnaarskroon wag. Jesus het geweet dat daar op Hom vreugde gewag het en dat Hy vir ewig aan die regterkant van God gaan sit. En, hoewel ons nie dieselfde loon as Hy sal kry nie, is die Skrif vol wonderlike beloftes vir elkeen van ons, mits ons getrou tot die einde toe volhard.
Waarlik, amper sonder uitsondering, is Jesus in Sy vernederde staat vir ons die uitnemende voorbeeld hoe om te lewe.
Jesus se oorwinnaarsloon
# Wat is die vreugde wat vir Jesus in die vooruitsig was? Sekerlik sou mens baie antwoorde kon gee, maar kom ons bly by die konteks.
Hier word dit beklemtoon: Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.
Hierdie is 'n swaargelaaide uitdrukking wat veral twee dinge wil onderstreep.
* Hy sit nou. Dit onderstreep dat Sy werk afgehandel is - dit waarvoor Hy na hierdie wêreld toe gekom het. Om te sit is om in 'n posisie van rus te verkeer. Dat Sy werk afgehandel is, word sterk in Hebreërs beklemtoon,al is dit met ander woorde. So byvoorbeeld word daar oor en oor in Hebreërs gesê dat Hy Homself as Hoëpriester eens en vir altyd geoffer het - deur Homself oor te gee om gekruisig te word.
* Hy het gaan sit aan die regterkant van die troon van God. Dit is die posisie van gesag en regering. Ook hierdie idee word sterk in Hebreërs beklemtoon - as dit baie prominensie verleen aan Sy voortgaande Hoëpriesterlike en Koninklike werk. Onder meer was Sy taak om die mense wat die Vader aan Hom toevertrou het veilig te bewaar (2:17-18; 4:14-16), en om hulle verlossing tot vervolmaking te voer (7:24-25).
# Waarin lê die Here Jesus se vreugde dus? Waarvoor het Hy die kruis verdra; die skande verag; die vyandige optrede van mense verduur?
* Sy vreugde lê daarin dat Hy die werk wat die Vader Hom gegee het, afgehandel het. Hy het Sy Vader behaag en verheerlik. En hierin, meer as in enigiets anders, het Sy genoegdoening gelê en lê dit steeds. Hierdie vreugde van Hom word reeds in Ps 40 voorsien en in Hb 10:5-10 beskryf.
* Sy vreugde lê voorts daarin dat Hy deur die eeue die "buit" van Sy groot oorwinning kan inpalm (Hb 2:5-18)
En hierdie "buit" sal Hy tot in alle ewigheid geniet - want dis nie net Sy buit nie, maar inderdaad Sy bruid!
Dis ons roeping
Dit word sterk in die Skrif beklemtoon dat ons Christus moet navolg. En soos Hý moet ons die oorwinnaarsprys najaag. Dit is nie selfsugtig en ongeestelik nie. Inteendeel, niks behaag die Here meer nie, niks is 'n duideliker bewys van geloof nie - as dat ek die Here op Sy woord vat.
# In hierdie verband bring die Griekse teks vir ons iets baie betekenisvol en prakties na vore. Ongelukkig sien 'n mens dit nie in ons vertalings raak nie.
Die skrywer sê in v.1 dat daar 'n wedloop vir ons "voorlê". En in v.2 sê hy dat daar vreugde vir die Here Jesus "in die vooruitsig was." In die Grieks word in beide gevalle presies dieselfde woord gebruik. Dit verwys gewoon na iets wat voor 'n mens neergesit is. Nie net was daar lyding voor Jesus neergesit nie, maar ook vreugde.
Wat ons nou moet raaksien, is dit: terwyl die Here Jesus sekerlik baie bewus was daarvan dat daar vir Hom groot lyding en smarte voorlê, het Hy kennelik gekonsentreer op die vreugde wat ná die kruis en die opstanding op Hom gewag het. Dit is ter wille daarvan dat Hy die kruis verdra het. Nog meer, doelbewus het Hy daarop gekonsentreer. En dit het Hom baie gehelp om die smarte van die kruis te deurstaan, want Hy het geweet Hy is eintlik op pad na onuitspreeklike vreugde toe.
Soos Hy Sy lewenstaak verrig het, moet ons ons wedloop aflê. En ongeag deur watter swaarkry ons pad van dissipelskap ons ook al neem, moet ons ook voortdurend konsentreer op die feit dat dit tydelik is en dat ons spoedig 'n onuitspreeklike en ewige heerlikheid en vreugde sal ervaar.
Konsentreer dus op die wagtende loon, en nie op die swaarkry nie. Dit sal jou baie help om die huidige smarte met geduld en waardigheid te verduur. Dit is 'n baie voor die hand liggende waarheid, maar ons is so geneig om dit te vergeet wanneer ons deur die vuur moet gaan.
Onthou dit: hierdie lewe is net 'n stippeltjie aan die begin van 'n oneindige lang lyn!
# Waarin sal die loon vir óns lê?
* Een, oorwinnaars sal die ewige en onuitputlike bevrediging hê: Ek het my Vader behaag en verheerlik!
* Twee, ons sal die loon van 'n ewige en onbeskryflik heerlike erfenis in Christus ontvang. Die Skrif sê dis 'n erfenis wat geen oog gesien, geen oor gehoor en geen verstand bedink het nie (1Kor 2:9).
Wat is die imlikasies van hierdie skrifgedeelte vir ons?
1. Dis nie ongeestelik om ook met die oog op die loon te leef nie; inteendeel.
Ons is gewoond daaraan dat dit beklemtoon word dat ons Christelike gehoorsaamheid moet voortkom uit ons dankbaarheid vir God se groot verlossingsdade in ons lewens. Dis natuurlik heeltemal reg. Maar wat nie korrek is nie, is die idee dat daar geen eiebelang as motivering teenwoordig mag wees wanneer ons die Here dien nie. Nee, ons het pas gesien dat selfs Jesus gehoorsaam was ter wille van ewige loon. En hierin moet ons Hom vir seker navolg.
Kyk maar net na Hb 11.
Abraham was gehoorsaam omdat hy uitgesien het na die stad met fondamente waarvan God die bouer is (11:10). Die geloofshelde het almal uitgesien na die stad wat God vir hulle berei het (11:13-16). Moses het die skatte van Egipte die rug gekeer omdat hy uitgesien na die beloning wat God aan hom sou gee vir gehoorsaamheid (11:24-26).
Ook Paulus se hele lewe is deur hierdie ambisie beheers. Hy skryf byvoorbeeld in 2Tm 4 dat sy oë tydens sy wedloop hier op aarde gedurig vasgenael was op die prys - die oorwinnaarskroon van geregtigheid (v.6-8; OAV).
2. Dit is uiters belangrik om tydens die wedloop drie dinge te onthou.
# Eerstens, ons gaan nie almal dieselfde prys kry nie.
# Tweedens, dis omdat jou en my wedlope baie deeglik beoordeel gaan word. Ons alwetende en absoluut regverdige Here sal toesien dat geeneen van ons meer kry as waarvoor sy wedloop hom of haar laat kwalifiseer nie; maar terselfdertyd ook nie 'n greintjie minder nie.
# Derdens, God het aan ons geopenbaar watter norme Hy gaan aanlê as Hy ons wedlope beoordeel. Die wedloop is dus soos 'n oopboek-eksamen waarvan ook die memorandum aan ons uitgedeel is. Die Here het presies aan ons geopenbaar wat Hy van ons verwag.
3. Terwyl ek met alle inspanning moet hardloop, is daar geen twyfel oor die uiteinde van my wedloop nie.
Terwyl ons ons heil met vrees en bewing moet uitwerk (Fl 2:12-13); terwyl ons moet ywer om ons roeping en verkiesing vas te maak (2Pt 1:10) - hoef ons nooit oor die uitkoms te wanhoop nie.
Ten diepste, heel ten diepste, word my uiteindelike volharding in die wedloop nie bepaal deur my getrouheid of inspanning nie, maar deur die Here Jesus wat die wedloop reeds suksesvol afgelê het. My verlossing en ewige heil word in die finale analise nie deur mý volharding en prestasie bepaal nie, maar deur Sý oorwinning. Vir ons bly dit 'n geheimenis - Sy volkome en soewereine verdienste en ons onontkombare verantwoordelikheid, maar ons moet dit eenvoudig in die geloof vat.
Dis 'n vaste geloofswet: hoe meer ek my eie swakheid begryp en op die Here staat maak, hoe beter sal ek hardloop. Dis omdat dit 'n geloofswedloop is, en die essensie van geloof is dat ek my oë op Christus vasnael.
Onthou Jesus Christus het op die troon aan die regterkant van die Vader gaan sit. Aangesien ek deur die geloof met Hom verenig is, is die basis van my verlossing onomkeerbaar gelê. Die oorwinning wat Hy behaal het, het Hy ter wille van my behaal.
Nog meer. Hy sit aan die regterkant van die Vader. Dis die posisie van uitvoerende volmag. Hy sien dus toe dat ek enduit volhard. Ek is immers onlosmaaklik aan Hom verbind.
Waar Jesus Christus nou reeds is, daar moet ek - en sal ek - uiteindelik eindig (Jh 17:24).
Ja, soos John Newton sing, ons geloofspad loop "through many dangers, toils and snares", maar oor die uiteinde is daar geen twyfel nie. Deur die geloof wat deur die wonder van die wedergeboorte aan my geskenk is, is ek vir tyd en ewigheid aan Hom verbind.
4. My ewigheidsgerigtheid speel 'n deurslaggewende rol in my lewe.
Vir seker is dit so dat elke mens deur sy verlede gevorm word. Maar dit is ewe waar dat dit waarheen ek in die toekoms doelbewus op pad is - dit waarop ek my oë vasgenael hou - 'n wesentlik belangrike rol in my lewe speel. Jou ambisies en prioriteite, veral met betrekking tot jou toekoms - spesifiek die dinge wat jy wil bereik - het 'n baie sterk vormende effek op jou vandag.
Dis waarom ware geloof en jou hoop so 'n ingrypende effek op jou het. Dis waarom bekering nie net 'n verandering van oortuigings is nie, maar inderdaad 'n hele koersaanpassing van lewe. Na 'n ware bekering is niks ooit weer dieselfde nie.
Die vraag is dus, waarheen mik jy - ek bedoel, waarheen mik jy in absolute erns en opregtheid? Huldig jy die apostel se oortuigings in Fl 3:7-15a?
Hardloop ek en jy ter wille van 'n "beter opstanding" soos die naamlose heiliges van die Ou Verbond in Hb 11:33-38a - hulle wat selfs bereid was om dood gemartel te word, ten einde die opstanding tot 'n beter lewe deelagtig te word?