Wednesday, December 14, 2011

E-PREEK No.200 - HB 12:1-3 - DIE CHRISTELIKE WEDLOOP [4] v.1a - Kyk op

Hb 12:2a : "... die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof ..."; Hb 12:3a : "Hou Hom voor oë ..."

Die Christelike wedloop moet versigtig en met toewyding gehardloop word as jy dit met sukses wil aflê. Soos gesien, is dit noodsaaklik om oop-oë te hardloop en voortdurend in 4 rigtings te kyk: terug, af, op en vorentoe. Op die eerste twee hiervan het ons reeds gelet. Kom ons kyk nou na die noodsaak om gedurig op te kyk.

Om ons oë op Jesus vas te nael

Die Hebreërskrywer gebruik betekenisvolle begrippe om hierdie verantwoordelikheid te beskryf.

V.2a: "die oog gevestig"

# Hier is 'n interessante woord. Dit dui op 'n doelbewuste en volgehoue wegkyk - nie ván nie, maar ná. Dis om doelbewus weg te kyk van alles wat jou aandag kan aftrek, sodat jy kan konsentreer op iets anders - in hierdie geval Jesus.

Mens hoor gedurig dat Christene nie oogklappe moet dra nie. Daarmee word bedoel dat hulle nie naïef, enkelvoudig en bekrompe moet wees in dit waarmee hulle hul besig hou nie.

Dis natuurlik waar. Maar daar is ook so iets soos heilige oogklappe. Christene hou hulle nie op met al die nonsens van hierdie wêreld nie. Al mag dit heeltemal legitiem wees, lê dit net eenvoudig nie hoog genoeg op jou prioriteitslys nie.

# Let op, hier word net die eienaam van die Here se mens-wees gebruik: "Jesus". Duidelik het die skrywer vir Christus in Sy vernederde staat in gedagte. Dit gaan dus nie in die eerste instansie oor vertroue in Hom as waarlik God nie, maar oor navolging van Hom as waarlik mens. Hy was volkome mens, en daarom kan ons as mense Hom inderdaad navolg. Ons kan lewe soos Hy gelewe het.

V.3a: : "Hou Hom voor oë ..."

# Nogeens is die Grieks betekenisvol. Die werkwoord praat van berekening. Dit dui dus op die noukeurige en akkurate maak van somme.

Ek moet daarom met erns ag slaan op die Here Jesus se voorbeeld, lering en wil in elke gegewe situasie. Ek moet daarmee rekening hou, al lyk dit met die eerste oogopslag nie so nie, dat die Here vir ons al die nodige beginsels en riglyne gegee het om in elke situasie reg te besluit en reg op te tree.

# Dat ons Christenskap oor die volle spektrum van ons lewens tot uitdrukking moet kom, is 'n belangrike beginsel. Ons moet en kan ons christenskap op elke denkbare lewensterrein uitleef. Maar as dit my enigste beklemtoning is, lei dit baie maklik tot wêreldgelykvormigheid. Mens raak so kniediep betrokke in hierdie wêreld dat jy spoedig vasval in die "laste" waarvan v.1 praat.

Hierdie beklemtoning moet óók gebalanseer word met die waarheid wat hier onderstreep word. Só Christusgefokus moet my dissipelskap wees dat ek gedurig en doelbewus besig sal wees om hierdie komplekse en Godvyandiggesinde wêreld se apèlle en aansprake uit my lewe uit te sny - ten einde te konsentreer op my eintlike roeping.

Om hierdie balans te handhaaf is nie maklik nie. Dit verg nadenke, oorweging en selfs in sommige gevalle die raad van broers en susters in die Here. In laasgenoemde geval moet mens net seker maak jy leen nie jou ore uit aan elke Jan Rap en sy maat nie. Doen moeite om die raad te kry van ryp Christene wat al deur die meul gekom het.

Paradoksaal, hoe meer Christus jou blikveld vul, hoe beter sal jy die struikelblokke en verleidinge van hierdie lewe raaksien.

Die geloof se Pionier en Vervolmaker

Vergelyk mens verskillende Bybelvertalings, kom jy gou agter dat die Grieks van die benaminge wat hier vir Jesus gebruik word, dubbelsinnig is. Selfs ons twee Afrikaanse vertalings vertolk die oorspronklike taal verskillend.

Ons gaan egter nie nou in allerlei tegniese ingewikkeldhede vasgevang raak nie. Ek gaan net my konklusies aan jou voorhou.

# As die Here in die OAV "die Leidsman" genoem word, is die implikasie (so lyk dit vir my) dat Hy wat hierdie saak betref voor geloop het en as sodanig vir ons gedemonstreer het hoe die geloofslewe geleef moet word - en dit moet ons navolg.

Die NAV se "die Begin" wil weer beklemtoon dat ons geloof sy oorsprong in Hom het (?) - Hy is die Gewer, die Outeur, die Inisiëerder van my geloof. Beide is eksegeties moontlik, en beide is Bybels. Maar ek dink tog dat die Hebreërskrywer eersgenoemde in gedagte gehad het.

# Wat die tweede begrip betref (nét hier in die Nuwe Testament), vertaal beide OAV en NAV met "die Voleinder". Presies wat die Afrikaans met hierdie woord wil sê, is nie presies duidelik nie. Maar die Grieks bied weer twee moontlikhede.

Óf die begrip wil sê dat Jesus diegene wat die Vader vir Hom gegee het se geloof tot vervolmaking voer. Hy bekragtig hulle dus en dra hulle deur.

Óf die begrip wil sê dat Jesus self die geloof vervolmaak het. Hy het gedemonstreer hoe mens die werdloop moet hardloop. Hy is die allerstandaard van geloofsvolharding end-uit - en ons moet Hom dit nadoen.

Hoewel eersgenoemde vir seker Bybels is, is dit tog my oortuiging (na baie wik en weeg) dat die skrywer híér laasgenoemde in gedagte het.

Indien my eksegese korrek is, wil die Hebreërskrywer dus hier sê dat die Here Jesus as volkome mens vir ons gedemonstreer het hóé 'n Christenatleet in die geloof moet hardloop en enduit moet volhard. Ons moet die wedloop hardloop net soos Hy dit gedoen het - dan sal ons vir seker seëvier.

Wat het Jesus se wedloop gekenmerk?

# Die Here Jesus was absoluut doelgerig

Hy is voortdurend aangespoor deur "die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was."

Hier is nogeens verskillende eksegetiese moontlikhede.

* Die voorsetsel "ter wille van" (NAV; Gr. anti), kan ook vertaal word "in plaas van". So vertaal meer as een regsinnige teoloog dit (o.a. Calvyn). Dan is daar twee moontlike vertolkings.

Óf die Here het gekies om in gehoorsaamheid aan Sy Vader en ter wille van ons, die vreugde wat Hy in die hemel geniet het die rug te keer ten einde hier op aarde die geloofswedloop te kom hardloop.

Óf die Here het gekies om gehoorsaam aan Sy Vader te wees, eerder as om die vreugdes wat hierdie wêreld bied na te jaag.

* Maar ek meen tog beide ons Afrikaanse vertalings is reg. Die deurslag word vir my gegee deur die woorde, "wat vir ... Hom voorgehou is" (OAV), of "wat vir Hom in die vooruitsig was" (NAV). Letterlik sê die uitdrukking dat die vreugde voor Hom neergesit is - kennelik as belonining (vgl. 6:18, waar die woord ook gebruik word). Dan maak ons vertalings se weergawes net soveel meer sin.

# Die Here Jesus moes sterk opposisie oorkom

Hy het geduldig volhard in Sy wedloop, ten spyte daarvan dat dit sou uitloop op die kruis (2).

Hy moes die verskriklike skande van die kruisiging verduur, maar het nie daarvoor terug gedeins nie (2).

Al moes Hy teen die stroom van menslike opinie inbeur, het dit Hom nie daarvan weerhou om Sy wedloop end-uit te hardloop nie (3).

* Kruis: Wat die kruisiging betref, het Hy geweet dat dit onvermydelik was. Dit was immers waarvoor Hy gekom het. Hierdie realiteit het Hy vierkantig in die oë gekyk.

Nooit het Jesus gemurmureer nie. Daarom kon Hy vir Petrus sê, "Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?" (Jh 18:11).

Tog was Hy nie gevoelloos en traak-my-nie-agtig oor Sy komende lyding nie. Hy was nie Stoïsyns nie. Dink maar aan Sy vrees en worsteling in Getsemane. Hy het waarlik en intens gely!

Laat ons goed verstaan: volgens God se Woord sal egte Christenskap nooit sonder 'n goeie kwota swaarkry wees nie. Ook ons moet onsself verloën en elke dag ons kruis opneem.

* Skande: Die Here Jesus het nooit toegelaat dat enigiets Hom van koers bring in die uitlewing van Sy roeping nie - allermins die feit dat Hy skande, minagting en geringskatting moes verduur.

Laat dit ook ons gesindheid wees. Soos 13:13-14 sê: "Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het, want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige."

* Teëspraak: Al wat vir die Here Jesus getel het, was God se Woord; nooit mense se opinie nie. En dit moet ook van my en jou gesê kan word. Hoor wat sê die Here Jesus: "Wie hom vir My en vir My Woord skaam, vir hom sal die Seun van die Mens Hom skaam."

# Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God

Omdat die Here Jesus Sy wedloop absoluut getrou aan Sy Vader seëvierend voltooi het, het Hy 'n ereposisie in die hemel gekry. Weliswaar sal nie een van ons ooit so 'n verhewe posisie beklee nie, maar die punt is dat die Vader elkeen wat tot die einde toe volhard, ryklik sal beloën - presies soos Hy beloof het.

Ten slotte

Petrus gebruik 'n baie interessante woord as hy in 1Pt 2:21 skryf: Christus het vir ons 'n voorbeeld gestel, sodat ons in Sy voetspore kan volg.

Die woord "voorbeeld" (Gr. hupogrammos) is interessant. Dit kom uit die wêreld van die Griekse laerskool. Klein kindertjies het nie op papier leer skryf nie; ook nie op klipleie nie. Hulle het 'n vlak pannetjie gehad wat met byewas gevul was. In die was het hulle dan met 'n staalstilus met 'n skerp punt geskryf. In die geval van die heel kleintjies, het die onderwyser eers, sê maar, die Griekse alfabet gekrap. Die leerling moes dan die groefies oor en oor met sy stilus volg, en so leer om die letters te vorm.

Die punt aan die ander kant van die stilus was plat, soos 'n skroewedraaier. Daarmee kon hulle dan die was weer gelyk maak vir 'n nuwe klompie letters wanneer dit nodig geraak het.

Hierdie voorbeeld wat die onderwyser eers in die was vir die kleintjies gekrap het, is 'n hupogrammos genoem. Wat wil Petrus dus tuis bring? Soos wat daardie kindertjies versigtig elke hoekie en draaitjie van 'n hupogrammos se groefies moes volg, net so moet 'n Christen versigtig in die voetspore van sy of haar Here en Meester trap!

Nico van der Walt

E-PREEK No.201 - HB 12:1-3 - DIE CHRISTELIKE WEDLOOP [5] v.2 - Kyk vorentoe

Hb 12:2b,d : "Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was ... Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God"

Hoewel dit nie uitdruklik gesê word nie, word dit onmiskenbaar geïmpliseer dat ons in ons wedlope net soos Jesus vorentoe moet kyk. Soos Hy Sy oë vasgenael het op die loon wat op Hom gewag het, moet ook ons aangespoor word deur die Skrif se beloftes dat daar vir elke geloofsatleet wat end-uit volhard, 'n oorwinnaarskroon wag. Jesus het geweet dat daar op Hom vreugde gewag het en dat Hy vir ewig aan die regterkant van God gaan sit. En, hoewel ons nie dieselfde loon as Hy sal kry nie, is die Skrif vol wonderlike beloftes vir elkeen van ons, mits ons getrou tot die einde toe volhard.
Waarlik, amper sonder uitsondering, is Jesus in Sy vernederde staat vir ons die uitnemende voorbeeld hoe om te lewe.

Jesus se oorwinnaarsloon

# Wat is die vreugde wat vir Jesus in die vooruitsig was? Sekerlik sou mens baie antwoorde kon gee, maar kom ons bly by die konteks.
Hier word dit beklemtoon: Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.
Hierdie is 'n swaargelaaide uitdrukking wat veral twee dinge wil onderstreep.

* Hy sit nou. Dit onderstreep dat Sy werk afgehandel is - dit waarvoor Hy na hierdie wêreld toe gekom het. Om te sit is om in 'n posisie van rus te verkeer. Dat Sy werk afgehandel is, word sterk in Hebreërs beklemtoon,al is dit met ander woorde. So byvoorbeeld word daar oor en oor in Hebreërs gesê dat Hy Homself as Hoëpriester eens en vir altyd geoffer het - deur Homself oor te gee om gekruisig te word.

* Hy het gaan sit aan die regterkant van die troon van God. Dit is die posisie van gesag en regering. Ook hierdie idee word sterk in Hebreërs beklemtoon - as dit baie prominensie verleen aan Sy voortgaande Hoëpriesterlike en Koninklike werk. Onder meer was Sy taak om die mense wat die Vader aan Hom toevertrou het veilig te bewaar (2:17-18; 4:14-16), en om hulle verlossing tot vervolmaking te voer (7:24-25).

# Waarin lê die Here Jesus se vreugde dus? Waarvoor het Hy die kruis verdra; die skande verag; die vyandige optrede van mense verduur?

* Sy vreugde lê daarin dat Hy die werk wat die Vader Hom gegee het, afgehandel het. Hy het Sy Vader behaag en verheerlik. En hierin, meer as in enigiets anders, het Sy genoegdoening gelê en lê dit steeds. Hierdie vreugde van Hom word reeds in Ps 40 voorsien en in Hb 10:5-10 beskryf.

* Sy vreugde lê voorts daarin dat Hy deur die eeue die "buit" van Sy groot oorwinning kan inpalm (Hb 2:5-18)
En hierdie "buit" sal Hy tot in alle ewigheid geniet - want dis nie net Sy buit nie, maar inderdaad Sy bruid!

Dis ons roeping

Dit word sterk in die Skrif beklemtoon dat ons Christus moet navolg. En soos Hý moet ons die oorwinnaarsprys najaag. Dit is nie selfsugtig en ongeestelik nie. Inteendeel, niks behaag die Here meer nie, niks is 'n duideliker bewys van geloof nie - as dat ek die Here op Sy woord vat.

# In hierdie verband bring die Griekse teks vir ons iets baie betekenisvol en prakties na vore. Ongelukkig sien 'n mens dit nie in ons vertalings raak nie.
Die skrywer sê in v.1 dat daar 'n wedloop vir ons "voorlê". En in v.2 sê hy dat daar vreugde vir die Here Jesus "in die vooruitsig was." In die Grieks word in beide gevalle presies dieselfde woord gebruik. Dit verwys gewoon na iets wat voor 'n mens neergesit is. Nie net was daar lyding voor Jesus neergesit nie, maar ook vreugde.
Wat ons nou moet raaksien, is dit: terwyl die Here Jesus sekerlik baie bewus was daarvan dat daar vir Hom groot lyding en smarte voorlê, het Hy kennelik gekonsentreer op die vreugde wat ná die kruis en die opstanding op Hom gewag het. Dit is ter wille daarvan dat Hy die kruis verdra het. Nog meer, doelbewus het Hy daarop gekonsentreer. En dit het Hom baie gehelp om die smarte van die kruis te deurstaan, want Hy het geweet Hy is eintlik op pad na onuitspreeklike vreugde toe.
Soos Hy Sy lewenstaak verrig het, moet ons ons wedloop aflê. En ongeag deur watter swaarkry ons pad van dissipelskap ons ook al neem, moet ons ook voortdurend konsentreer op die feit dat dit tydelik is en dat ons spoedig 'n onuitspreeklike en ewige heerlikheid en vreugde sal ervaar.
Konsentreer dus op die wagtende loon, en nie op die swaarkry nie. Dit sal jou baie help om die huidige smarte met geduld en waardigheid te verduur. Dit is 'n baie voor die hand liggende waarheid, maar ons is so geneig om dit te vergeet wanneer ons deur die vuur moet gaan.
Onthou dit: hierdie lewe is net 'n stippeltjie aan die begin van 'n oneindige lang lyn!

# Waarin sal die loon vir óns lê?

* Een, oorwinnaars sal die ewige en onuitputlike bevrediging hê: Ek het my Vader behaag en verheerlik!

* Twee, ons sal die loon van 'n ewige en onbeskryflik heerlike erfenis in Christus ontvang. Die Skrif sê dis 'n erfenis wat geen oog gesien, geen oor gehoor en geen verstand bedink het nie (1Kor 2:9).

Wat is die imlikasies van hierdie skrifgedeelte vir ons?

1. Dis nie ongeestelik om ook met die oog op die loon te leef nie; inteendeel.
Ons is gewoond daaraan dat dit beklemtoon word dat ons Christelike gehoorsaamheid moet voortkom uit ons dankbaarheid vir God se groot verlossingsdade in ons lewens. Dis natuurlik heeltemal reg. Maar wat nie korrek is nie, is die idee dat daar geen eiebelang as motivering teenwoordig mag wees wanneer ons die Here dien nie. Nee, ons het pas gesien dat selfs Jesus gehoorsaam was ter wille van ewige loon. En hierin moet ons Hom vir seker navolg.
Kyk maar net na Hb 11.
Abraham was gehoorsaam omdat hy uitgesien het na die stad met fondamente waarvan God die bouer is (11:10). Die geloofshelde het almal uitgesien na die stad wat God vir hulle berei het (11:13-16). Moses het die skatte van Egipte die rug gekeer omdat hy uitgesien na die beloning wat God aan hom sou gee vir gehoorsaamheid (11:24-26).
Ook Paulus se hele lewe is deur hierdie ambisie beheers. Hy skryf byvoorbeeld in 2Tm 4 dat sy oë tydens sy wedloop hier op aarde gedurig vasgenael was op die prys - die oorwinnaarskroon van geregtigheid (v.6-8; OAV).

2. Dit is uiters belangrik om tydens die wedloop drie dinge te onthou.

# Eerstens, ons gaan nie almal dieselfde prys kry nie.

# Tweedens, dis omdat jou en my wedlope baie deeglik beoordeel gaan word. Ons alwetende en absoluut regverdige Here sal toesien dat geeneen van ons meer kry as waarvoor sy wedloop hom of haar laat kwalifiseer nie; maar terselfdertyd ook nie 'n greintjie minder nie.

# Derdens, God het aan ons geopenbaar watter norme Hy gaan aanlê as Hy ons wedlope beoordeel. Die wedloop is dus soos 'n oopboek-eksamen waarvan ook die memorandum aan ons uitgedeel is. Die Here het presies aan ons geopenbaar wat Hy van ons verwag.

3. Terwyl ek met alle inspanning moet hardloop, is daar geen twyfel oor die uiteinde van my wedloop nie.
Terwyl ons ons heil met vrees en bewing moet uitwerk (Fl 2:12-13); terwyl ons moet ywer om ons roeping en verkiesing vas te maak (2Pt 1:10) - hoef ons nooit oor die uitkoms te wanhoop nie.
Ten diepste, heel ten diepste, word my uiteindelike volharding in die wedloop nie bepaal deur my getrouheid of inspanning nie, maar deur die Here Jesus wat die wedloop reeds suksesvol afgelê het. My verlossing en ewige heil word in die finale analise nie deur mý volharding en prestasie bepaal nie, maar deur Sý oorwinning. Vir ons bly dit 'n geheimenis - Sy volkome en soewereine verdienste en ons onontkombare verantwoordelikheid, maar ons moet dit eenvoudig in die geloof vat.
Dis 'n vaste geloofswet: hoe meer ek my eie swakheid begryp en op die Here staat maak, hoe beter sal ek hardloop. Dis omdat dit 'n geloofswedloop is, en die essensie van geloof is dat ek my oë op Christus vasnael.
Onthou Jesus Christus het op die troon aan die regterkant van die Vader gaan sit. Aangesien ek deur die geloof met Hom verenig is, is die basis van my verlossing onomkeerbaar gelê. Die oorwinning wat Hy behaal het, het Hy ter wille van my behaal.
Nog meer. Hy sit aan die regterkant van die Vader. Dis die posisie van uitvoerende volmag. Hy sien dus toe dat ek enduit volhard. Ek is immers onlosmaaklik aan Hom verbind.
Waar Jesus Christus nou reeds is, daar moet ek - en sal ek - uiteindelik eindig (Jh 17:24).
Ja, soos John Newton sing, ons geloofspad loop "through many dangers, toils and snares", maar oor die uiteinde is daar geen twyfel nie. Deur die geloof wat deur die wonder van die wedergeboorte aan my geskenk is, is ek vir tyd en ewigheid aan Hom verbind.

4. My ewigheidsgerigtheid speel 'n deurslaggewende rol in my lewe.
Vir seker is dit so dat elke mens deur sy verlede gevorm word. Maar dit is ewe waar dat dit waarheen ek in die toekoms doelbewus op pad is - dit waarop ek my oë vasgenael hou - 'n wesentlik belangrike rol in my lewe speel. Jou ambisies en prioriteite, veral met betrekking tot jou toekoms - spesifiek die dinge wat jy wil bereik - het 'n baie sterk vormende effek op jou vandag.
Dis waarom ware geloof en jou hoop so 'n ingrypende effek op jou het. Dis waarom bekering nie net 'n verandering van oortuigings is nie, maar inderdaad 'n hele koersaanpassing van lewe. Na 'n ware bekering is niks ooit weer dieselfde nie.
Die vraag is dus, waarheen mik jy - ek bedoel, waarheen mik jy in absolute erns en opregtheid? Huldig jy die apostel se oortuigings in Fl 3:7-15a?
Hardloop ek en jy ter wille van 'n "beter opstanding" soos die naamlose heiliges van die Ou Verbond in Hb 11:33-38a - hulle wat selfs bereid was om dood gemartel te word, ten einde die opstanding tot 'n beter lewe deelagtig te word?
Nico van der Walt

Monday, August 15, 2011

E-PREEK No.193 - FL 1:21b, 23b - FILIPPENSE HOOFSTUK 1 [11]

"... om te sterwe, is vir my wins." (Fl 1:21).

Mense is bang vir die dood. Niemand dink of praat graag daaroor nie. Só stel Hb 2:15 dit: mense is "uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny ".
Maar ons teks plaas die saak vierkantig voor ons. En dis goed so. Enersyds móét ons eenvoudig nadink oor hierdie saak wat so onontkombaar op elkeen van ons wag. Andersyds bring 'n oordenking van hierdie Skrifgedeelte wonderlike bevryding, bemoediging en vertroosting vir ware gelowiges.

Enkele algemene opmerkings

# Anders as wat baie dink, leer die Bybel nie net twee toestande van bestaan nie: die huidige lewe hier op aarde, en die uiteindelike lewe ná die opstanding. Daar is ook 'n derde toestand: dié wat onmiddelik na die dood intree, tot en met die opstanding - as 'n liggaamlose gees.
Oor hierdie tussentoestand het Paulus dit in die eerste instansie hier.

# Ons is geneig om aan die dood as 'n verlies te dink. Inderdaad ís dit dikwels 'n verskriklike verlies vir diegene wat agter bly. Maar as dit 'n ware Christen is wat sterf, is dit "wins" vir hom of haar. Vir ons is die lewe ná die dood beter as wat dit hier is - "verreweg" beter (23).

# Paulus het nie 'n sieklike doodsverlange nie. Ewe min is daar by hom 'n minagting vir die lewe hier en nou. Daarvoor is hy té bewus van die berge sinvolle werk wat hier gedoen moet word (22-24).
As hy in v.23 sê dat hy in 'n tweestryd verkeer - om heen te gaan, of om hier te bly - dan is dit nie 'n kontras tussen goed en sleg nie, maar tussen goed en beter. Hy is soos 'n goeie soldaat wat verlang om klaar te kry met die oorlog en om huis toe te gaan, maar wat in sy pligsbesef op sy tande kners, vorentoe beur, en weier om dros te oorweeg.

# Nêrens leer die Bybel dat die dood op sigself 'n seën is nie. Behalwe wanneer dit oorrompel word deur verlossingsheil in Christus, is dit 'n meedoënlose vyand. Dis 'n roofdier wat die liggaam en die gees wreed uitmekaar skeur (Pred 12:7).
Die dood bly dus ook vir ons wat met Christus verenig is 'n laaste vyand (1Kor 15:26). Op sigself was dit sekerlik vir die apostel - soos vir ons - afstootlik en skrikaanjaend. Om te sterf is ook vir die ware gelowige 'n donker, diep rivier waardeur hy of sy moet gaan - soos Bunyan dit beskryf.
In terme van God se oorspronklike skepping is die dood nie iets normaals nie. Dis die gevolg van die sondeval. Die dood is loon van die sonde. Maar die Here se verlossingsplan gaan oor opheffing van sonde en sy gevolge. Dus gaan dit ook oor vernietiging van die dood (1Kor 15:51-57).

# Selfs die tussentoestand in die hemel is nog voorlopig. Die gees is nog sonder sy verheerlikte liggaam. As sodanig is dit 'n toestand van onvolmaaktheid en onvoltooidheid (2Kor 5:1-10).
Daarom kyk die Nuwe Testament amper konsekwent dwarsdeur die tussentoestand - dis net 'n tydelike deurgang, 'n verdere tree onderweg na my volmaakte erfenis in Christus. Daarom nael die apostels hulle blik vas op - die opstanding!
Tog sê Paulus om te sterf is wins! Selfs die tussentoestand is beter as ons lewe hier en nou.

# Die woord in v.23, "om heen te gaan", is beskrywend. Eén gebruik daarvan destyds was vir die opbreek van 'n kamp. Hier, asook elders in die Nuwe Testament, dra dit dus die gedagte van 'n klaarkry met die tydelike en onsekere lewe van 'n swerwer.
Só stel 2Kor 5:1 dit: "Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar 'n tent is, afgebreek word, ons 'n vaste gebou in die hemel het. Dit is 'n woning wat nie deur mense gemaak is nie maar deur God, en dit bly ewig staan." En 2Pt 1:13-14: "En ek beskou dit as reg, solank as ek in hierdie tentwoning is, om julle ... op te wek, omdat ... die aflegging van my tentwoning ophande is ..." (OAV).
Die Bybel beklemtoon deurgaans dat hierdie lewe tydelik is; trouens, die gelowige is hier 'n vreemdeling en 'n bywoner (1Pt 2:11). Ons is bloot pelgrims. Hierdie wêreld is nie ons woning nie.

Waarom is dit wins om te sterwe?

# Vir die gelowige is die dood 'n huis toe gaan. Dis 'n verlaat van die verblyf in die liggaam, ten einde by die Here te gaan inwoon (2Kor 5:6-9). Dis 'n vertrek na ons ewige woning (Pred 12:5) - na ons vaderland, ons tuisstad (Hb 11:13-16). En waar is mens gelukkiger as op jou eie plek? Dis waar ons hoort - daar by die Here!

# Een van die heel wonderlikste dinge is dat ons finaal klaar sal wees met sonde wanneer ons ons laaste asem uitblaas. Wat veroorsaak méér frustrasie en hartseer in 'n gelowige se lewe as sy of haar sondemislukkings? Maar as ons eers by die Here is, sal ons nie meer kán sondig nie.

# 'n Koning se vrou deel in sy besittings en status.
Toe Christus uit die dood opgestaan het, het Hy dit nie bloot in Sy persoonlike hoedanigheid gedoen nie, maar as amptelike Hoof van die nuwe mensheid (Ef 2:5-6). Toe Hy na die hemel opgevaar het, het Hy nie net die loon en erfenis vir Homself in besit geneem nie, maar ook vir Sy bruid. Óns inbesitname daarvan is 'n proses - en óns het skaars begin - maar die beginsel staan vas: ons wat in Christus is, is nou reeds "erfgename saam met Christus" (Rm 8:17).
Presies hoeveel van ons erfenis in Christus ons dadelik gaan ontvang, en hoeveel sal moet wag vir die finale opstanding, is nie geopenbaar nie. Maar dat daar vir ons 'n "onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis" in die hemel bewaar word, dit weet ons wel (1Pt 1:4). "Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet" (1Kor 2:9).

# Die dood is 'n deurgang na 'n begrip en kennis van die Here wat ons nou nie kan bedink nie. Weereens weet ons nie hoeveel daarvan sal moet wag vir die vervolmaking van ons verlossing met die wederkoms en opstanding nie. Maar gewis sal ons oorstelp besig wees met nuwe waarhede en oopgebreekte geheimenisse terwyl ons naasbestaandes diep hartseer met begrafnisreëlings besig is. "Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken" (1Kor 13:12).
Ons gaan die ewigheid deurbring in die land van verstommende en onuitputlike ontdekkings! En aan die hart hiervan is 'n steeds dieper kennis van ons Drie-enige God. Om Hóm te ken, is immers die ware en ewige lewe. Om Homself voor Sy skepsele te verheerlik, is per slot van rekening waaroor alles gaan. Sal daar ooit 'n punt van afplatting en uitputting kom? Die ewigheid is nie lank genoeg om God en Sy werke te deurgrond nie!

# Maar ons teks openbaar die éintlike rede waarom Paulus so daarna uitsien om heen te gaan: dit sal hom na Christus toe vat! (23). Die essensie van die gelowige se hiernamaals is dat hy of sy "by die Here gaan woon" (2Kor 5:8). Vir die misdadiger kon Jesus sê: "Vandag sal jy saam met My in die paradys wees" (Lk 23:43).
As ons nóú reeds Christus se bruid is, hoe groot sal ons verwelkoming in die hémel nie wees nie! Gewis sal ons daar 'n inniger gemeenskap met Hom beleef as wat selfs die dissipels destyds hier op aarde geniet het.

# Ons sal egter nie net 'n behae in die Seun hê nie - ons gaan ook na die Vader toe.
Luister hoe verwoord 'n messiaanse psalm dit: "... you will fill me with joy in your presence, with eternal pleasures at your right hand" (Ps 16:11, NIV). Op Pinkster haal Petrus hierdie verse aan en maak dit op Christus van toepassing (Hd 2:25-28).
Die heiliges, in hulle eenheid met die Seun, sal in hierdie vreugde deel. Ook húlle is as kinders aangeneem (Gl 4:4-7). Hulle is trouens nog méér. As bruid van Christus is hulle ook die Vader se skoondogter! Hulle is volledig deel van die gesin!

Slot

# Ons moet seker maak ons bedrieg nie onsself nie. Miljoene doen dit. Wat kan méér dwaas wees as om jouself sonder Bybelse begronding wys te maak dat alles uiteindelik tog maar reg sal uitwerk.
As ons waag om daaroor te dink, het ons baie vrae oor ons eie dood: Wanneer? Waar? Waaraan? Maar volgens God se Woord is net een vraag regtig van belang: Hoe? Ek praat nie van wat op jou doodsertifikaat as "oorsaak van dood" ingevul gaan word nie. Ek praat van die geestelike toestand waarin jy gaan sterf. En daar is slegs twee moontlikhede: in geloof, of in sonde (Jh 8:24).
Die ergste ding wat met 'n mens kan gebeur, is nie dat hy sterf nie, maar dat hy in sy sonde sterf. Onthou, om dood te gaan, is om na 'n plek te gaan vanwaar jy nooit weer kan terugkeer nie.

# Vers 21 is 'n onverbreekbare eenheid. Daarom het nét hulle vir wie die lewe Christus is, grond om te glo dat doodgaan vir hulle wins sal wees.
Die heidenprofeet, Bileam, begeer: "Mag ek ook eendag as opregte sterwe ..." (Num 23:10). Wat hy egter vergeet, is dat mens slegs as 'n regverdige kan sterf indien jy as 'n regverdige geleef het.

# Sóvele dink aan genade as iets wat jy ontvang wanneer jy ná die dood voor God moet verskyn. Dis 'n fatale mistasting. Genade is iets wat jy in hiérdie lewe ontvang, of glad nie. Dis óf nou, óf nooit nie. En as jy dit inderdaad kry, het dit ingrypende effekte op jou - want dit maak die lewe vir jou Christus.

# Maar ons vir wie die lewe inderdaad Christus is, kan ons heengaan met vertroue en opgewonde afwagting tegemoet gaan. Ons gaan bloot ons Here volg deur die poort waardeur Hy alreeds is.
Ja, wanneer dit kom, mag ons dit vir 'n oomblik as 'n verskrikking beleef. Maar dit sal nie vir ons 'n fatalistiese sprong oor 'n afgrond van duisternis wees nie. Ons sal in die geloof daardeur. Psalm 23:4 sal werklikheid wees: "Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my."

# Die ou Puritein, Richard Baxter (1615-1691), het dit só gestel: "As 'n man ellendig siek is, maar weet dat hy môre-oggend gesond gaan wees; of as hy brandarm is, maar weet dat hy môre-oggend 'n prins gaan wees as hy wakker word - sal hy bang wees om bed toe te gaan?
Die pionier-sendeling in Burma, Adoniram Judson (1788-1850), het weer só daarna gekyk: "Ek is nie gedaan gewerk nie, en ek is allermins moeg vir hierdie wêreld - maar, wanneer Christus my roep, sal ek gaan met die uitbundige blydskap van 'n skoolseun wat vir die somervakansie deur die skoolhek hardloop."
                                                                                                               Nico van der Walt

Sunday, August 14, 2011

E-PREEK No.194 - FL 1:27-28 - FILIPPENSE HOOFSTUK 1 [12]

Fl 1: 27b-28a: "... dat julle in volkome eensgesindheid... saam stry vir die geloof van die evangelie, en dat julle jul in geen opsig laat afskrik deur die teëstanders nie."

In Fl 1:27-30 spel die apostel die hoofsaak van gemeentewees uit. Allereers moet die heiliges onthou dat hulle as burgers van die koninkryk van die hemel só moet leef dat dit die gewig van die evangelie balanseer. En wanneer mens dan - as individu, maar ook gesamentlik as gemeente - jou identiteit en roeping ernstig opneem, het dit 'n kosbare effek: standvastigheid in 'n onsekere en onstabiele wêreld.
Nou moet ons 'n tree verder. In die gedeelte onder ons vergrootglas beskryf Paulus hoe standvastigheid prakties in gelowiges se lewens tot uitdrukking kom.
Deur gebruik te maak van twee parallelle deelwoord-frases sê Paulus dat ware Christelike standvastigheid nie iets passiefs is nie, maar dinamies op twee maniere manifesteer. Eerstens is daar 'n gesamentlike en eendragtige hartstog om die geloof van die evangelie te bevorder (laaste gedeelte v.27). Tweedens gaan dit gepaard met so 'n vasbeslotenheid en durf dat dit deur niks van stryk gebring word nie (eerste gedeelte v.28).

Saam stry vir evangeliegeloof
# "Saamstry" spreek van gesamentlike en gekoördineerde inspanning. In buite-Bybelse Grieks is dit 'n sportterm (sunathleo) wat van 'n spanpoging praat. Dis ook soms 'n militêre begrip wat dui op 'n klompie soldate wat met hul rûe na binne 'n sirkel vorm om vyande af te weer wat van alle kante kom.

# Die uitdrukking "vir die geloof van die evangelie" (OAV) kan op twee maniere verstaan word.

* Dit kan daaroor gaan dat mense die evangelie sal glo; dat die Filippense gesamentlik hulle gewig sal ingooi om die heidene tussen wie hulle leef te evangeliseer. Sonder twyfel leer die hele Nuwe Testament dit as 'n sentrale roeping van die kerk. En dat die vroeë Christene dit uitgeleef het, staan soos 'n paal bo water.

* Óf dit kan daaroor gaan dat die Filippense hulle sal beywer vir die bewaring van die waarheidsinhoud van die evangelie. Ook hieroor het die apostels hartstogtelik sterk gevoel. Hoe onvermoeid het hulle nie geywer vir die suiwer leer nie! Watter felle stryd het hulle nie teen dwaalleer en dwaalleraars gevoer nie! Hulle briewe is van hoek tot kant vol daarvan.

* Watter van hierdie twee alternatiewe moet ons kies? Sou mens Paulus kon vra, is ek oortuig sy verontwaardige reaksie sou wees: "Beide, natuurlik!"
Waarom wil ons altyd in terme van alternatiewe dink? Laat ons nie skei wat God saamgevoeg het nie! Sal 'n boodskap met iets anders as waarheidsinhoud iemand red? Daarenteen is dit 'n ope vraag of 'n ywer vir waarheid wat nie ook brand om dit ver en wyd uit te dra nie, inderdaad 'n ywer is wat die Heilige Gees bewerk.

Nee, nee - evangelisering en waarheidsbewaring is onlosmaaklik verbonde!
Ons moet God se geopenbaarde waarheid as kurators koester en as heroute verkondig.

* In 1Tm 3:15 word die gemeente "die draer en beskermer van die waarheid" genoem.
Die begrippe "draer" en "beskermer" is betekenisvol en onderstreep hierdie dubbele roeping van die kerk. Eersgenoemde beteken pilaar. Die gemeente hou m.a.w. die waarheid bo, lig dit uit tot 'n vlak waar almal dit kan sien. Laasgenoemde dui op 'n fondasie. Die gemeente veranker, stut en dra dus die waarheid.

Om nie vir teenstanders te skrik nie

# "Teenstanders" dui gewoon op mense wat jou opponeer. Dit sou sekerlik ook op omstandighede en struikelblokke van toepassing kan wees.
Wie het teenstand beter geken as die Christene van destyds? Maar so is dit eintlik tot vandag toe. As die probleme nie van mense kom nie, is daar 'n duisend ander weerstande en hindernisse om te oorkom in jou navolging van Christus.

* Die uitdrukking "in geen opsig" is sterk in die Grieks. Daar mag geen sprake van wees nie!

# Weer en weer sien mens hierdie onblusbare durf om die geloof van die evangelie te bevorder, nie net in die apostoliese gemeente van die Nuwe Testament nie, maar ook deur die kerk- en sendinggeskiedenis. Een van die uitstaande kenmerke van die ware kerk was nog altyd die verbysterende vermoë om onder vervolging te gedy. Dit lyk amper na 'n wetmatigheid: hoe feller die teenstand, hoe beter vaar die gemeente.
En natuurlik, dit gaan altyd én oor die uitdra van die evangelie én oor die waarheid. Die twee dinge hang saam, soos gesien. In tye van felle vervolging is dit meestal vir 'n onwrikbare vashou aan die waarheid dat gelowiges as martelare sterf. Maar dan word dit amper altyd die katalisator vir die uitdra van die evangelie en kerkgroei. Tot so 'n mate gebeur dit tipies, dat 'n spreekwoord ontstaan het: die bloed van die martelare is die saad van die kerk!

In volkome eensgesindheid

# Bogemelde roeping is 'n gesamentlike een. God het verordineer dat gemeentes as gemééntes (die versameling van Sy heiliges soos hulle op elke plek hulleself bymekaar voeg) 'n sentrale rol sou speel in die koms van die koninkryk. En hierin is eenheid van "gees" en "siel" (lett.) - van hart en oortuiging - 'n onmisbare voorwaarde vir sukses. 'n Passie vir die geloof van die evangelie brand dus in elkeen se hart. 'n Onverdeelde doelgerigtheid dring 'n ieder om sy of haar alles daarvoor te gee. Die apostel roep dus die Filippense op om soos een man hulle vir hierdie saak te beywer.

Wat sê dit alles vir ons?
1. Elke gemeente moet, soos gesien, die evangelie én voortdra én uitdra.

# 'n Gemeente verloor sy bestaansreg as die uitdra van die evangelie nie een van die heel belangrikste punte op sy agenda is nie. Dit was immers Christus se laaste opdrag. Iemand het tereg gesê: "Soos 'n vuur daarin bestaan dat dit brand, so bestaan die ware kerk daarin dat dit evangeliseer."
Tog is daar regoor die wêreld - ook in ons land - talle instellings wat hulleself die kerk noem, maar beswaarlik 'n vinger lig om aan hierdie wesensroeping gehoorsaam te wees. Dis lankal nie meer kerk in die Nuwe Testamentiese sin van die woord nie. Die lampstaander is lankal verwyder.

# As dit, daarenteen, aan die orde van die dag is dat evangeliese gemeentes 'n hoë premie op die uitdra van die evangelie plaas, is dit 'n rariteit dat sulke gemeentes 'n ewe sterk klem op die suiwer leer het. Maar vir die tweede deel van ons dubbelloop-roeping is daar 'n ewe sterk Nuwe Testamentiese oproep - byvoorbeeld:

* 2Ts 2:15: "Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle oorgedra het". Die woord (Gr. paradosis) wat hier met "leer" vertaal word (en in 3:6 met "opdragte"), beteken letterlik tradisie. Dis nou verwant aan 'n ander woord (Gr. paradidomi) wat aangee of oorgee of aflewer of toevertrou beteken - soos 'n aflosstokkie. So gesien, praat Paulus hier van die leer of doktrines wat van geslag tot geslag oorgedra word. In 1Kor 11:2 word dieselfde woord met "oorgelewerde leer" vertaal.

* Jud 1:3: "... nou voel ek my verplig om julle ... aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer (Gr. paradidomi) is aan dié wat God vir Hom afgesonder het."
Hier het ons weereens die oproep om "kragtig te stry" (OAV). Waarvoor moet gestry word? Vir "die geloof". As die apostels die lidwoord voor "geloof" plaas, bedoel hulle feitlik altyd die waarheidsinhoud daarvan. Dit word dan ook bevestig deur die woord "oorgelewer" (weereens Gr. paradidomi).
Aan wie is dit as trust toevertrou? Aan die "heiliges", "dié wat God vir Hom afgesonder het."
Betekenisvol is Judas se beklemtoning dat hierdie geloof "een maal" oorgelewer is. Dit dui op die afgehandelde en onveranderlike karakter van die Christelike geloof se waarheidsinhoud.

* Die Nuwe Testament is uiters ernstig oor die objektiewe waarheidsinhoud van die geopenbaarde geloof - dat dit nie verwater of verdraai mag word nie? Vir die apostels was die evangelie 'n heilige trust wat hulle met hulle lewens sou bewaar en verdedig. En as Paulus by wyse van spreke die fakkel na die volgende geslag toe aangee, sê hy by meer as een geleentheid vir Timoteus oor hierdie trust: "... bewaar wat aan jou toevertrou is" (1Tm 6:20; 2Tm 1:14; vgl. ook 1Kor 4:1; 9:17). Dit geld steeds. Geringskatting van die suiwer leer is hoogverraad teen die Koning van die konings!

2. Dit verg besondere konsentrasie en genade om beide hierdie roepings in ewewig te hou.

# Sommige is yweraars om tydig en ontydig te getuig, en om ver en wyd sendingwerk te doen. Maar hulle kom selde tot stilstand om hulleself af te vra wat hulle boodskap behels nie. Sou jy hulle vra wat hulle presies glo, is hulle dikwels oor selfs die basiese geloofswaarhede maar vaag en stamelend.
Wát getuig ons? Dit word tog van 'n getuie vereis om betroubaar te wees. Jy sê mens praat oor jou ervaringe. Almiskie. Almal doen dit immers. Nee, volgens die Nuwe Testament moet jou getuienis nie self-gevuld wees nie, maar Christus-gevuld. Kan jy saam met Paulus sê dat jy net één boodskap het: Christus die gekruisigde?
Ons is almal opgewonde en dankbaar omdat daar beswaarlik 'n plek op aarde is waar nie sendingwerk gedoen word nie. Maar word 'n suiwer boodskap altyd uitgedra? Ek het my bedenkinge!
Te veel evangeliste en sendelinge bou vandag met hout, gras en strooi, omdat hulle boodskap alles behalwe die volle raad van God behels.

# Ander yweraars is weer baie daarop gesteld dat die evangelie suiwer bewaar moet word. Maar dan raak hulle oorbehep daarmee. Hulle Christenskap gaan op in die ivoortoring van hiper-ortodoksie. Leerstellig het hulle alles vlymskerp in posisie. Al wat hierdie Skrifgeleerdes uit hulle studeerkamers uitkry, is die avontuur van ketterjagtery. Maar van 'n liefdevolle en verdraagsame uitreik na sondaars kom daar in soveel gevalle weinig tereg.

# Mag die Here ons help om altyd hierdie dubbele roeping in volmaakte jukstaposisie te hou. Ons moet kompromieloos vashou aan die geopenbaarde waarheid; ons moet onvermoeid in liefde en verdraagsaamheid uitreik na die stukkende wêreld.
As ons dit maar naastenby kon regkry soos die Here Jesus! Onwankelbaar en vreesloos het Hy as God se groot profeet die waarheid verkondig - en niks minder nie. Maar met wie het Hy meer geduld en empatie gehad as met die sg. sondaars?
Nico van der Walt

Friday, August 12, 2011

E-PREEK No.195 - FL 1:28b - FILIPPENSE HOOFSTUK 1 [13]

28b. Dit is vir hulle 'n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God.

Die hoofsaak van gemeente wees mag die Filippense nooit vergeet nie. Wat is dit? Hulle moet in hierdie wêreld onder alle omstandighede as burgers van die hemelse koninkryk leef! Hoe doen mens dit? Hulle lewens moet in ooreenstemming met die evangelie van Christus wees - dit moet dieselfde gewig hê as die onberekenbaar waardevolle evangelie (27).
As dit gebeur, sal hulle lewens gekenmerk word deur iets waarvan 'n onbestendige wêreld nie anders kan as om kennis te neem nie - standvastigheid!

Uitleg

# "Dit": Waarna verwys hierdie voornaamwoord? Dit praat van 'n gemeente se lewenswyse as burgers van die koninkryk en van 'n standvastige ingesteldheid op die "hoofsaak" (NAV).
Standvastigheid kom tipies op twee maniere tot uitdrukking - dit het praktiese effekte.
Een, so 'n gemeente sal in hartseenheid saamstry vir die geloof van die evangelie (27b). Dit beteken enersyds dat lidmate 'n hartstog sal hê vir die bewaring van die waarheidsinhoud van die evangelie. En andersyds beteken dit dat hulle alles tot hulle beskikking sal inspan sodat die mense óm hulle tot geloof in die waarheidsevangelie sal kom.
Twee, hulle sal hulle deur niks of niemand laat stuit in die uitlewing van hierdie roeping nie (28a).

# "Teken" is 'n regsterm wat op 'n onweerlegbare bewysstuk dui. Wanneer die aanklaer hierdie troefkaart speel, is die saak so goed soos afgehandel. En die aangeklaagde wéét sy turf sit.
Wat die apostel dus met hierdie woordkeuse wil tuisbring, is dat 'n gemeente se standvastigheid - met alles wat dit meebring - 'n onontkombare boodskap aan die ongelowiges om hulle stuur.

# Wat word bewys? Enersyds die ongelowige teenstanders se komende ondergang, en andersyds die feit van die Christene se redding.
"Ondergang" word in die OAV met "verderf" vertaal. Dis een van die verskriklikste woorde in die Bybel. Dit word gebruik om die lot te beskryf van diegene wat sonder Christus sterf. Dit dui op vernietiging - nie van syn nie, maar van welsyn; nie van bestaan nie, maar van alles wat bestaan die moeite werd maak. Dit dui op ewige verdoemenis.
"Redding" is die teenpool van "ondergang". Dit dui in die finale analise op die volle, uiteindelike en onherroeplike heerlikheid en welgeluksaligheid wat God vir Sy gunsgenote berei.

# Wie word oortuig? 'n Versigtige lees van die teks laat blyk 'n verskil tussen die OAV en die NAV. Dit het te doen met die Griekse grondtekste wat gebruik is. Sonder om aandag aan tegniese besonderhede te gee, kan ons aanvaar dat die NAV se weergawe waarskynlik beter is. Dus: nie die teenstanders wat oortuig word van hulle ondergang, en die Christene van hul redding nie (OAV), maar wel die teenstanders wat oortuig raak van sowel hulle ondergang as die gemeente se redding.

# "Dit kom van God". In Afrikaans is ook hierdie tweede voornaamwoord dubbelsinnig. Waarna verwys "dit"? Die Grieks is egter duidelik. Die gedagte is dat al die voorafgaande dinge van God is. Dis Hý wat bepaal het dat die gemeente se heilige lewenswyse, asook hulle eendragtige en onstuitbare ywer vir die geloof van die evangelie, 'n onweerlegbare bewys vir die ongelowiges moet en sal wees. Só het Hy verordineer moet dit werk.
Laat ons dit nie miskyk nie. Dit is God se plan dat die karakter en gedrag van elke ware gemeente 'n groot rol moet speel in die oorreding en bekering van 'n ongelowige wêreld!

Wat sê dit vir ons?

# Ons kyk na 'n fundamentele Skrifoproep!

God plaas in Sy soewereine wysheid 'n grootste en onontkombare roeping op die kerk, spesifiek op elke plaaslike kerk, om deur wat die gemeente is en doen, 'n kragtige en onmiskenbare sein oor ewige realiteite aan die omringende wêreld te stuur.

Let spesifiek op 4 belangrike aspekte daarvan:

# Een, 'n gemeente wat is en doen wat hy moet, kan nie deur 'n gevalle wêreld geïgnoreer word nie. Trouens, dit sal altyd 'n kragtige appél op ongelowiges maak.
Dit het 'n belangrike implikasie: as onbekeerde mense in staat is om van dag tot dag onaangeraak met ons skouer te skuur, het ons rede tot selfondersoek. Nog meer, indien ongelowiges in staat is om ons dienste by te woon sonder om 'n appèl te beleef, is daar fout.
Dis Bybels. Dink maar aan Hd 4:13; 5:11-14 en 1Kor14:23-25. Natuurlik het die teenwoordigheid van die apostels en die besondere werkinge van die Heilige Gees destyds meermale unieke en baie dramatiese dimensies aan hierdie Skrifuitspraak verleen, maar dit hef nie die beginsel op nie.

# Twee, as ons as gemeente ís en doen wat ons moet, sal die gevalle wêreld om ons weet dat daar 'n diepliggende verskil is tussen Christus se ware gemeente en ongelowiges.
Dis kardinaal belangrik dat die kerk radikaal anders as die wêreld sal wees. Is ons nie God se nuwe skepping in Christus nie? Het ou dinge nie verby gegaan nie? Het alles nie nuut geword nie? (2Kor 5:17). Ons moet soos 'n stad op 'n berg wees; ons moet skyn soos 'n lig in die duisternis.
Die kerk se oortuigingskrag is die grootste wanneer dit die meeste van die wêreld verskil. Tot die mate wat ons is wat die saligsprekinge beskryf, tot daardie mate - en slegs tot daardie mate - sal ons die sout van die aarde wees.
Hoe skokkend laks het ons nie geword oor die verskriklike sonde van wêreldgelykvormigheid nie! (Jk 4:4; 1Jh 2:15-17). Trouens, mens het die indruk dat groot dele van die kerk alles inspan om soveel as moontlik net soos die wêreld te wees.

# Drie, ons andersheid moenie in selfgemaakte eksentrisiteite en eksklusiwiteite lê nie, maar in dit wat die voorafgaande verse ons beveel.
As die waardes van die andersom koninkryk ons lewenswyses beheers, sal ons in hierdie wêreld uitstaan asof ons met neon geverf is. As elke dag se prioriteite uitgeplet word op die aambeeld van die evangelie wat ons verkondig, sal ons integriteit die mense om ons laat regop sit. As ons in verantwoordelike waardigheid jaar in en jaar uit standvastig lewe, sal mense na ons gryp soos na drywende boomstompe in 'n siedende rivier. As ons kompromieloos op die absolutes van ons geloof staan, sal die massas wat om ons soos skuimbolle op 'n see van relativisme ronddryf, weet hier is iets wesentlik anders. As ons die evangelie van God se reddende genade vir sondaars oraloor uitdra, sal diegene wat ons dophou presies verstaan wat die hoop is wat in ons lewe (1Pt 3:15). As ons weier om deur hierdie wêreld se fronse en dreigemente geïntimideer te word, sal ons teenstanders weet hier is mense wat deur iets gedring word wat veel groter as eiebelang is.

# Vier, dit gaan nie net daaroor dat ongelowiges weet daar is 'n diep verskil tussen ons en hulle nie, dit gaan ook daaroor dat hulle oorweldig sal word deur die besef dat hulle te doen het met ewige realiteite.
Ons wil en moet dus nie net anders wees om anders te wees nie - ons moet deur dit wat ons ís en doen die boodskap uit trompetter dat daar 'n hemel en 'n hel is. En dit sal slegs gebeur as ons self in die lig van die ewigheid leef. Dan sal mense aan ons baadjiepante begin vasgryp en soebat om saam met óns die pad na die ewigheid te stap.

Besef ons regtig hóé siek die kerk is?
Is dit nie onuitspreeklik tragies nie dat die kerk in ons land tot 'n groot mate oor die afgelope dekades misluk het om die "hoofsaak" uit te leef!
Wie kan ontken dat ons in 'n tyd van geloofsafval en -verwarring leef? Hoeveel kerkmense is nie ontnugter nie! Hoeveel raak nie kerklos en kerkloos nie! Hoeveel gooi nie die geloof eens en vir altyd oorboord nie! Waarlik, ons leef in dramatiese tye! Here, help ons besef dat die ewige lot van tienduisende in hierdie dae bepaal word! Waarlik, ons leef in die dal van beslissing!
Die gewigtigheid van hierdie saak word verder onderstreep as mens onthou dat die kerk wat ons kinders en kleinkinders eendag op ewigheidspaaie moet lei, vandag gevorm word.

Wat is die oorsaak van ons swakheid?

# Wat het hierdie tragiese afval en reaksie teen die kerk veroorsaak? Ek meen dat 5 faktore, dalk meer as enigiets anders, agter dit sit:
Een, dooie ortodoksie en vormgodsdiens gil al vir dekades in ons land dat die evangelie alles behalwe reddend en lewensveranderend is.
Twee, ongeloofsteologie, wat toenemend in ons akademiese inrigtings hoogty vier, is besig om hartsgeloof en -ywer in 'n menigte kerke en predikers te versmoor.
Drie, mensgesentreerde belewingsbeheptheid, met sy sensasionele en naïewe aansprake, maak 'n klug van die Bybelse oproep om in waarheid, heiligheid, selfverloëning en Godsvrees te leef.
Vier, afgewaterde, moralistiese en sentimentele melkkos-prediking het 'n geslag "Christene" geskep sonder insig in of honger na die diep waarhede van die Nuwe Verbond. Onderskeidingsvermoë is gevolglik 'n rariteit en alles word vir soetkoek opgeëet. Onthou, staan jy vir niks nie, val jy vir alles!
Vyf, die Afrikaners se volkskerk-geskiedenis - en al die skeeftrekkings wat daarmee saamhang - is besig om vernietigend te boemerang.

# Maar laat ons nie wanhoop nie. Die woorde van Ester 4:14 geld steeds: ons is met die oog op 'n tyd soos hierdie in Suid-Afrika geplaas. Nóú, meer as ooit, moet ons met onverdeelde harte in die voetspore van Christus volg - Hy vir wie niemand kon ignoreer nie; Hy wat só met sondaars geïdentifiseer het dat hulle Hom 'n vraat en wynsuiper genoem het, maar wat tog so radikaal anders was; Hy wie se lewe die voorafgaande verse by uitnemendheid gedemonstreer het; Hy met wie jy nie vyf minute te doen gehad het voordat jy van ewigheidsrealiteite en -alternatiewe bewus geraak het nie.
Waarlik, as gemeentes in hierdie land ooit 'n roeping en 'n uitdaging gehad het, dan is dit vandag. Mag die Here ons genade gee om deel van die alleroplossing te wees!
Nico van der Walt

E-PREEK No.196 - FL 1:29-30 - FILIPPENSE HOOFSTUK 1 [14]

Fl 1:29-30. ... omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly, terwyl julle dieselfde stryd het as wat julle in my gesien het en nou van my hoor (OAV).

Paulus is 'n vlymskerp logiese denker. Soos een gedagte na die ander volg, bou hy sy waterdigte argumente stap vir stap. Kenmerkend van sy styl is sy gereelde gebruik van voegwoorde, sodat ons nie hoef te sukkel om sy logiese koersveranderings te begryp nie. Op hierdie oorgange sal die wyse leser goed let.
In v.27-28 rig die apostel duidelik 'n oproep tot die Filippense. En in v.29-30 maak hy 'n stelling oor God se reddende genade in hulle lewens.
Hierdie twee gedeeltes verbind hy aan mekaar met 'n kort Griekse woordjie - in die OAV vertaal met "omdat", en in die meeste Engelse vertalings met "for" (29a). Hierdie voegwoord is van die allergrootste leerstellige belang. Dis redegewend en maak v.29-30 die basis vir v.27-28 se oproep. Paulus se bevel hang dus nie in die lug nie; dis stewig veranker in die feit dat sy lesers 'n genadegawe van God ontvang het.
Nooit sal jy die apostels anders hoor argumenteer nie. Altyd is hulle oproepe vierkantig gebaseer op God se voorafgaande verlossingsdade in Christus. Nóóit koester hulle enige verwagtinge van die natuurlike mens voordat hy nie eers herskeppend deur die Here aangeraak is nie.

# Redding in 'n sondaar se lewe neem 'n aanvang met die ontvangs van 'n geskenk. Iets is aan die Filippense "gegee". Grieks het verskeie woorde wat Paulus kon gebruik het. Hierdie spesifieke woord dui op 'n persent wat in genade gegee word. Dus: julle het wel 'n geskenk gekry, maar julle het dit allermins verdien. Tewens, julle moes die teenoorgestelde gekry het - God se oordele.
Wat is hierdie geskenk? Die oorspronklike taal gee 'n fassinerende antwoord!

# Paulus gebruik 3 frases - 'n eerste wat die volgende twee beheers. Elkeen van hierdie frases begin met "die" - wat ongelukkig nie in die Afrikaans voorkom nie, aangesien dit 'n baie lomp vertaling sou meebring. Maar in die apostel se gedagtes vervul dit 'n belangrike rol, aangesien die lidwoord elke keer die hele frase effektief in 'n selfstandige naamwoord verander. Letterlik staan daar dus dat aan hulle gegee is: die ter wille van Christus - wat nie net die om in Hom te glo behels nie, maar ook die om vir Hom te ly.

* Stel jou 'n groot boks voor. Dis toegedraai in geskenkpapier. En rondom is daarop geskryf: "Die ter wille van Christus!" As ons dit dan versigtig oopmaak, kry ons tussen die houtwol nóg twee boksies, pragtig toegedraai. Op een staan geskryf: "Die om in Hom te glo!" En op die ander een staan in dieselfde skrif geskryf: "Die om vir Hom te ly!"
Hier is 'n belangrike beginsel! As God genade aan 'n sondaar gee, gee Hy altyd, sonder uitsondering, twee dinge. Nooit kom die een sonder die ander nie. Hy gee geloof én Hy gee lyding. En beide hierdie dinge is ter wille van Christus - die geloof is in Hom; die lyding is vir Hom.

# In sy verbeelding kan Paulus hoor hoe sy lesers na hulle asem snak. Dit kan tog nie vir álle Christene geld nie! Ja, uiteraard gló alle Christene in die Here Jesus, maar lý almal vir Hom?
Dis waarom die apostel v.30 byvoeg. Die tweede pakkie is nie verbeelding nie. Elke ware Christen ken dit uit ervaring - ook Paulus en sy lesers.
Onthou hulle nie hoeveel dit destyds gekos het om die evangelie na Filippi te bring nie? Hd 16 beskryf hoe Paulus en Silas na die stadsplein gesleep, hulle klere afgeskeur, en hulle ná lyfstraf in die tronk gegooi is (19-24). En, soos die Filippense weet, dit was alles behalwe die einde van Paulus se ontberinge. Hy skryf immers hierdie brief aan hulle uit gevangenskap.
Maar lyding is nie tot Paulus beperk nie. Sy lesers - almal van hulle - ken dit ewe goed.

Die res van die Nuwe Testament
# Dat ons geloof in Christus as 'n vrye gawe van God se soewereine genade ontvang, is 'n wonderlike waarheid waarin ons nie ophou om ons te verbly nie. Maar dat ons ook lyding vir Christus as 'n genadegawe ontvang, word nie so dikwels erken nie. En selde verbly ons ons daarin.
Leer die res van die Skrif dit - dat lyding eie is aan die ervaring van alle Christene? Beslis!
Jesus het oor en oor geleer dat lyding deel sou wees van Sy dissipels se lewens (bv. Mk 10:28-30).
Die apostels het dit uitdruklik geleer (2Tm 3:12). Geen Christen moet verbaas wees oor vervolging, asof dit iets snaaks is nie (1Pt 4:12-13). Oor en oor word gepraat van gemeenskap aan Christus se lyding (2Kor 1:5-7; 4:8-11; Fl 3:10; Kol 1:24).
Baie betekenisvol is Rm 8:16-17. Onmiskenbaar duidelik word geleer dat lyding saam met Christus nie alleen 'n merkteken is van God se ware kinders nie, dit is ook 'n noodsaaklike en onontkombare voorloper van verheerliking saam met Christus.

Vier fasette van lyding vir Christus
Enigeen wat hoegenaamd ernstig is oor sy of haar Christenskap sal nou 'n brandende vraag in die hart hê. Wat van my? Is daar in mý lewe enige sprake van lyding vir Christus? Meeste van ons geniet immers 'n veilige en gemaklike lewe. En as ons swaar kry, bly die vraag, is dit ter wille van Hom?
Hierdie is 'n ernstige saak. Hoe durf ek aanvaar ek is regtig 'n Christen as ek nie dit wat so kennelik Bybels is, ervaar nie? Dit sou voorbarig wees!
Die allervraag is, wat behels Christelike lyding?
Alhoewel God inderdaad die swaarkry wat ons met die ongelowiges deel in ons lewens gebruik, kan ons uiteraard nie aan dié dinge dink as merktekens van egte Christenskap nie. Nee, ons praat hier van lyding wat uniek aan Christene is.

# Volgens die Bybel sou ons kon sê dat Christelike lyding op 4 maniere tot uitdrukking kom. En sekerlik bevestig die kerk- en sendinggeskiedenis dit.
Een, daar is vervolging. Dit het talle gesigte: fisiese vervolging, verwerping, spot, diskriminasie.
Twee, daar is die tugtiging van ons Hemelse Vader - iets wat elke Christen ken (Hb 12:4-13).
Drie, daar is die nimmereindigende aanslae van ons sielsvyande: die verleidinge van my eie vlees; die suigkragte van hierdie gevalle wêreld; die vurige pyle en vuishoue van die Satan en sy demone.
Vier, daar is die selfaflegging en ontberinge van my gehoorsaamheid aan Christus. Dit kom op 'n duisend maniere tot uitdrukking. Dink byvoorbeeld aan die dra van mekaar se laste; aan seermaak-gee vir die Here se werk; aan party se rugdraai op inkomste en status om voltyds in die koninkryk te werk. Ensovoorts, ensovoorts. Het die Here Jesus nie oor en oor van kruisdra gepraat nie!
Vyf, nóg seer wat net ware gelowiges ervaar, is die pyn oor dierbares wat in rebellie teen Christus leef - of nog erger, wat in so 'n toestand van ongeloof sterf. Samehangend hiermee is die las wat mens soms dra oor 'n samelewing wat die Here se naam en ordes en eer deur die modder sleep.
Natuurlik wissel lyding se aard en intensiteit van persoon tot persoon, van tyd tot tyd en van geslag tot geslag. Maar as jy die koste van dissipelskap nie ken nie, is jou Christenskap onder verdenking. Élke ware gelowige ervaar iets daarvan.

Wat sê dit vir ons?
1. Hier word nogeens beklemtoon wat op amper elke bladsy van die Nuwe Testament staan: God is die alleen-inisiatiefnemer van ons redding.
Selfs reddende geloof is 'n genadegeskenk.
Sommige sal aanvoer dat mens steeds die keuse het of jy 'n persent wil aanvaar of nie. O ja? Onthou jy Fl 2:13? God werk in ons "om te wil sowel as om te werk na sy welbehae" (OAV).

2. Ons wat - heeltemal tereg - met blydskap en dankbaarheid bely dat geloof 'n gawe van God is, moet eerlik en konsekwent wees en die lyding wat ons dissipelskap meebring met ewe veel dankbaarheid en blydskap aanvaar.
Dit is 'n voorreg om vir Christus te ly. Dis nie 'n vonnis nie, dis 'n genadegawe. Op meer as een plek sê die Skrif ons moet dit met vreugde aanneem (Mt 5:10-12; 1Pt 4:12-16). Ons lees in Hd 5 hoe die apostels vervolg en geslaan is, maar toe hulle van die Joodse Raad weggaan, was hulle "bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly" (v.41). Was hulle smartvrate? Allermins! Hulle het verstaan!

3. Nie slegs word lyding saam met geloof gegee nie, geloof word ook saam met lyding gegee.
As lyding 'n genadegawe van God is, is die vermoë om onder die las van lyding te volhard ook 'n genadegawe. Dis wat die Bybel leer en wat die kerkgeskiedenis oor en oor bevestig. Daarom moet die van ons wat nog nooit intense lyding vir Christus verduur het nie, nie die dag vrees dat dit mag gebeur nie. Saam met die lyding sal die Here ook die krag gee om dit tot Sy eer te verduur.

4. Hier het ons 'n suurtoets vir egte Christenskap: gaan my geloof gepaard met lyding vir die Here?
Christenskap sonder lyding is ernstig onder verdenking, maar lyding op sigself waarborg nie redding nie. Dwaasheid en dwaling kan óók hoon en smaad meebring. En baie mense laai swaarkry-laste op hulleself wat die Here Jesus nooit beveel het nie. Eerstens dus: hierdie toets moet saam met die ander toetse in die Skrif gebruik word.
Vandag is daar baie pakkies in omloop met "die ter wille van Christus" daarop geskryf. Die vraag egter is, wat is binne-in. Talle van hierdie pakkies is tot barstens toe volgestop met allerlei spoggerige, pragtige en opwindende goetertjies. Maar die ware Jakob het 'n baie spesifieke inhoud - dit waarvan ons teks praat. Hierdie ander "goodies" is goedkoop namaaksels, sielsvernietigende misleidings.
Natuurlik mag ons nie swaarkry gaan soek nie. Maar as ons vreemdelinge vir outentieke Christelike lyding is, is dit feitlik vir seker te wyte aan kompromie in ons lewens. En onthou, selfbedrog, rasionalisering en kompromie loop altyd saam.

5. Dat ons ter wille van Christus leef, is die essensie van Christenskap. Dít is dissipelskap.
Vandat hy opstaan totdat hy gaan slaap, jaar in en jaar uit, word 'n ware Christen se lewe deur hierdie beginsel beheers: die ter wille van Christus. Die Here Jesus is en bly sentraal. Hy is alles - sekuriteitsanker, vreugdesbron, verkondigingsinhoud. As Profeet is Sy woord die inhoud van my geloof; as Priester is Sy offer en voorspraak my sekuriteit; as Koning is Sy heerskappy my hartstog. Dis wat Paulus in v.21 bedoel: "... om te lewe, is vir my Christus ...".
En let op, hoewel ons natuurlik ook hier met ons verantwoordelikhede te doen het, is so 'n Christus-fokus nie in die eerste instansie 'n opdrag nie, maar 'n genadegeskenk. Ken jy dit?
Waarlik, Christenskap is 'n ervaringswerklikheid. Dis nie in die éérste instansie 'n denksisteem nie; ook nie 'n morele kode nie - dis 'n lewenswyse in verbondenheid met en afhanklikheid van Christus.
Nico van der Walt