Friday, June 3, 2011

E-PREEK No.42 - HD 2:37-41 : DIE EVANGELIE VAN DIE APOSTELS

OP DIE PINKSTERDAG WORD DIE GROOT BELOFTE VAN DIE OU TESTAMENT 'N WERKLIKHEID. Die verhoogde Christus ontvang van Sy Vader die mandaat om die Heilige Gees uit te stort op Sy agtergelate gemeentetjie - en Hy doen dit! [1]
Petrus begin dan preek vir die skare. Dis 'n besondere preek - vol oortuigingskrag. Talle kom vra wat hulle moet doen. Petrus se antwoord is vol gewigtige betekenis (Hd 2:37-41).

Die effek van Petrus se preek (37)

# Daar is 'n dramatiese reaksie. Vers 37 sê dat die hoorders "diep in die hart getref" is (OAV). Met hierdie beskrywing wil Lukas twee dinge tuisbring:
Eerstens sny Petrus se woorde tot in die mense se harte - die sentrum van hulle persoonlikhede en oortuigings. Kennelik is dit 'n werk van die Heilige Gees, met ingrypende en blywende effekte.
Tweedens gaan dit gepaard met diep belewinge. Die werkwoord (Gr. katanusso) is 'n samestelling van die woord "om te steek" plus 'n intensiferende voorvoegsel. Die waarheidsevangelie oor Christus steek dus dwarsdeur die hoorders se harte.

# Die mense besef hulle is skuldig voor God. Vandaar hulle vraag oor wat hulle te doen staan.

Petrus se antwoord (38-39)

'n Tweeledige bevel

# Eerstens, die mense moet hulle bekeer. Die begrip (Gr. metanouo) dui ten diepste op 'n verandering van oortuiging. Dit impliseer 'n radikale paradigma-verskuiwing, 'n kopswaai, 'n nuwe bril waardeur gekyk word. Johannes die Doper (Mt 3:2) en die Here Jesus (Mt 4:17) preek die noodsaak van bekering. En die apostels volg hulle puntenerig (Hd 3:19; 8:22; 17:30; 20:21; 26:20).
Omdat ons nie anders kan as om volgens ons oortuigings te handel nie, kom Bybelse bekering noodwendig tot uitdrukking in 'n lewensommekeer. Hierdie 180 grade omdraai het twee kante:
Negatief sal iemand wat hom of haar bekeer altyd wegdraai van sonde af. Daar sal dus 'n rugkeer wees op die vlees se aandrange, die wêreld se suigkragte en die Duiwel se verleidinge.
Positief sal so 'n persoon altyd heendraai na Christus toe. En dit het ten minste drie komponente: hy (of sy) sal homself vanuit sy geestelike bankrotskap algeheel aan Christus en Sy volmaakte middelaarswerk toevertrou; hy sal die beloftes wat God belowe aan almal wat in Sy Seun in vlug vir homself persoonlik toe-eien; hy sal homself enkelhartig en ongekwalifiseerd aan Christus persoonlik as Koning toewy.
Bybels gaan hierdie lewensommekeer ook gepaard met hartseer en verootmoediging oor jou sondemislukkings en -rebellie van die verlede. Dit is meer as net interessant dat metanouo amper konsekwent in die Septuaginta (die voor-Christelike Griekse vertaling van die Ou Testament) gebruik word om die Hebreeuse woord te vertaal wat beteken om jouself te vertroos (2).

# Tweedens, die mense moet hulle laat doop. Vantevore het hulle Christus verwerp. Nou moet hulle hulself verneder deur hulle formeel, openlik en onomkeerbaar as dissipels aan Hom toe te wy. Dit gebeur as iemand hom of haar in die Naam van Jesus Christus laat doop. Dit beteken ten minste vier dinge: dit geskied in gehoorsaamheid aan Sy opdrag en dus op Sy gesag; dis 'n onderskrywing van Sy leer; dis 'n vertroue in Sy verdienste; dis 'n oorgawe aan Sy eise.

'n Tweeledige belofte

# Vir diegene wat aan die dubbele opdrag gehoorsaam is, is daar 'n dubbele belofte: sondevergiffenis en ontvangs van die Heilige Gees.

* Hierdie twee beloftes is gekoppel aan beide opdragte: bekering en doop. Nêrens suggereer die Nuwe Testament dat die bloot formele ondergaan van die doopsakrament op sigself sondevergiffenis en ontvangs van die Gees tot gevolg het nie. Maar ewe min het ons die reg om aanspraak te maak op die beloftes as ons die doopopdrag geringskat.

* Die "belofte" (OAV) was nie net vir die groep mense op wie die Heilige Gees geval het nie (39). Petrus doen besondere moeite om te beklemtoon dat dit 'n historiese en universele trefwydte het. Dit is vir ál sy luisteraars (wat aan die voorwaardes voldoen), en vir hulle "kinders" (komende geslagte deur die geskiedenis), en "vir almal wat daar ver is" (nie net Jode nie, maar ook vir die heidene) (3). Die belofte geld dus sonder onderskeid. Maar dit geld nie sonder uitsondering nie, want Petrus gaan onmiddellik voort met 'n uiters belangrike kwalifikasie: dit geld vir "almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep."

Die Here se nuwe gemeenskap (40-41)

# In v.40 sê Lukas dat bogenoemde nie al was wat Petrus gesê het nie. Hy het "nog baie ander woorde" gepraat - woorde van intense erns en aansporing. En die essensie van sy oproep? "Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit."
Dis belangrik om raak te sien dat Petrus nie bloot pleit vir 'n simplistiese en individualistiese bekering nie - iets wat gou-gou, stil-stil afgehandel word in die privaatheid van my eie wêreldjie.
Hy pleit vir 'n emigrasie vanuit die kring van die "ontaarde mense". Hy dring aan op 'n losmaak van en 'n rugkeer op die gevalle wêreld wat erg verbuig is ná die sondeval. Dis dus 'n oproep om te vlug vanuit die mensheid onder God se toorn.
Dit impliseer noodwendig die immigrasie in 'n ander mensheid in. [En laat ons onthou, voor God is daar net twee menshede - die ou mensheid in Adam, en die nuwe mensheid in Christus.] Onderwerping aan Koning Jesus hou dus in dat ek my toewy aan Sy volk - Sy ware bruidsgemeente.

# Daar is 'n verstommende respons op Petrus se pleidooi (41). Drieduisend mense neem die evangelieboodskap aan. Hulle kom tot geloof, ondergaan 'n kopswaai, laat hulle doop, en voeg hulle by die Jerusalemse gemeente.

Enkele gevolgtrekkings en implikasies

# Openbarings-histories is Pinkster 'n unieke gebeurtenis. Dis 'n eenmalige, maar enorme tree vorentoe in God se heilsplan.
Maar die uniekheid van Pinkster beteken nie dat daar geen lesse en voorskrifte vir ons in die Pinkstergebeure sit nie. Inteendeel! Sekerlik moet Petrus se prediking en aanslag op die Pinksterdag as normatiewe evangeliseringsriglyn vir ons dien.

# Eerstens moet ons die apostel se Christus-gesentreerdheid raaksien. In sy preek gee Petrus baie aandag aan Jesus se kruis en opstanding. Wat die historisiteit daarvan betref, beroep hy hom op 'n dubbele getuienis. Eerstens is daar die getuienis van die Ou Testament. Kruis en opstanding was vervulling van talle profesieë (Petrus verwys na Ps 16, Ps 110 en Joël 2). En tweedens is daar die getuienis van die apostels self (2:32).
Só moet ook ons preek. Maar omdat ons nie oog- en oorgetuies is nie, is ons algeheel afhanklik van die apostels se getuienis. Ons moet bloot hulle eggo's wees. Prediking is Woordverkondiging!

# Voorts verkondig Petrus die beloftes wat die Here gee vir mense wat opreg na Hom toe kom. Daar is twee beloftes. Die vergewing van sondes en die gawe van die Heilige Gees.

# Maar hierdie gawes word nie sonder meer gegee nie. Daar is voorwaardes aan verbonde.
Innerlik dring die Here aan op bekering. En uiterlik is daar die vereiste van die doop.
Sáám is die twee dinge die uitdrukking van ons geloof - wat ons vanuit die ou mensheid verplaas na die nuwe heilsgemeenskap van Christus.

# Bekering en doop het enorme implikasies. Dis die aanneem van 'n nuwe Koning, 'n nuwe volk, 'n nuwe burgerskap, 'n nuwe kultuur. Dis 'n besliste en ingrypende verplasing van lojaliteit, trou en toewyding. Dis om jou openlik te skaar by Jesus se dissipels. Dit is om vanuit dit wat oud en korrup is (NIV), oor te gaan na dit wat nuut en in die proses van redding is (vgl. 2:47).
Die doop is soos eedaflegging tydens naturalisasie. Dis 'n publieke en formele identifisering met Christus en met Sy gemeente.
Die dopeling moet dus weet dat hy of sy van daardie oomblik af 'n vreemdeling en 'n bywoner in hierdie wêreld is. Dis waarom dit 'n tipiese ervaring van gelowiges deur die eeue is: solank jy ongedoop is, word jy op 'n manier geduld. Maar die oomblik as jy formeel en publiek jou trou aan Christus bely, en jou lojaliteit na Sy gemeente verplaas, bars verwerping en selfs vervolging in felheid los. Dis asof mense aanvoel dat jy voor die tyd nog op twee gedagtes huiwer. Maar die oomblik as jy jou laat doop, weet hulle jy het die stuk niemandsland na die ander kant van die linies finaal oorgesteek.

# Op die Pinksterdag preek Petrus 'n viervoudige boodskap. Dit behels twee gebeurtenisse (Christus se dood en opstanding), soos bekragtig deur twee getuies (die profete en die apostels), op grond waarvan die Here twee beloftes maak (sondevergiffenis en die gawe van die Heilige Gees), op voorwaarde dat ons twee opdragte gehoorsaam (bekering en doop).

* Ons het geen reg om hierdie viervoudige apostoliese evangelie te versnipper nie. Wat God saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. God se heilsboodskap is 'n geïntegreerde eenheid.
Ons durf nie kruis en opstanding van mekaar lossny nie. Sonder die eerste kon die laaste nie plaasvind nie; sonder die laaste was die eerste tevergeefs (1Kor 15:12-20).
Ons durf nie Ou en Nuwe Testamentiese getuienis van mekaar lossny nie. Sonder die eerste is die laaste onverankerd; sonder die laaste loop die eerste op niks uit nie.
Ons durf nie sondevergiffenis en die gawe van die Heilige Gees van mekaar lossny nie. Sonder die eerste is die laaste onmoontlik; sonder die laaste geniet ons nie die voorregte van die eerste nie.
Ons durf nie bekering en doop van mekaar lossny nie. Sonder die eerste mag die laaste nie; sonder die laaste is die eerste nog nie voltooi nie.

# Ons mag nie 'n enkele komponent van die apostoliese proklamering oorboord gooi of selfs verwaarloos nie. Die ware evangelie is 'n historiese boodskap (dit handel oor feitelike gebeure in die verlede); dis 'n teologiese boodskap (soos deur die héle Woord van God verduidelik); dis 'n heilsboodskap (dit dra die belofte van verlossing); dis 'n gesagvolle boodskap (dit vereis van ons enkelhartige en onvoorwaardelike gehoorsaamheid).
-o0o-

(1) Vir hierdie preek het ek baie hulp gekry in die kommentaar van John R.W. Stott, The Message of Acts, Intervarsity Press, 1996, p.79-81.

(2) Naham in die Nifal-vorm.

(3) Daar is soms na die heidene verwys as "diegene wat daar ver is" (Jes 49:1, 12; 57:19; Ef 2:13, 17).

Nico van der Walt

E-PREEK No.36 - 1TM 4:16 : 'N PREDIKANT KAN SY KUDDE MAAK OF BREEK

PAULUS DRUK TIMOTEUS ERNSTIG OP DIE HART OM NOUGESET OOR SY LEER EN LEWE TE WAAK, OMDAT DIT BEPALEND KAN WEES, NIE NET VIR SY EIE REDDING NIE, MAAR OOK VIR DIE REDDING VAN SY KUDDE.
Besef julle dat dit in beginsel moontlik is dat een of meer van die predikers in hierdie gemeente die ewigheid in die hel kan deurbring - indien hulle, (a) in hulle navolging van Christus nie is wat hulle moet wees nie, of (b) dwaalleer verkondig? Die skokkende is dat dit waarmee die deursnee lidmaat nog sal kan wegkom op daardie verskriklike dag as ons moet verantwoording doen, verdoemend kan wees in die geval van predikante. Leermeesters gaan strenger as ander beoordeel word! (Jk 3:1).
Voorts, besef julle dat ons as predikers in hierdie gemeente hopelik 'n groot rol speel in elkeen van julle se redding, maar eweneens die oorsaak kan wees dat van julle vir ewig verlore gaan?
Kyk mooi na ons vers: die voorwaarde vir Timoteus en sy kudde se ewige redding is dat hý sal let op sy lewe en sy leer, en daarin sal volhard.
Baie predikante dink hulle reddingstaak is afgehandel wanneer iemand tot bekering gekom het en by die gemeente inskakel. Al wat dan oorbly, is om sulke mense op te bou en voort te help in heiligmaking. Slegs verlorenes moet immers gered word, word gedink - nie die gemeente nie. Hulle is mos reeds gered.
Maar die Skrif leer dat as mens nie enduit in gehoorsaamheid volhard nie, die gevolg nie net mindere heiligmaking is nie, maar die ewige verdoemenis. Die taak van 'n pastor is dus nie bloot om die heiliges op te bou nie, maar om hulle inderdaad te red!

Is dit Bybels?

# Eerstens, is dit nie hemelskreiende arrogansie om te sê dat ék mense kan en moet red nie? Dis tog iets wat nét die Here kan doen. Sekerlik! Maar tog sê die Skrif óók meermale dat Sy werkers mense red. Paulus skryf in 1Kor 9:22: "Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red." En Jakobus sê: "... weet dan dat hy wat 'n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red ..." (Jk 5:20) (vgl. ook Hd 26:18; Rm 11:14).
Ons moet dit só verstaan: in bykans alles wat die Here hier op aarde doen, werk Hy middellik - Hy gebruik instrumente. So maak Hy dan van Sy dissipels gebruik, veral van Sy predikers, om soos stukke gereedskap in Sy hand te wees as Hý mense red. En in hierdie sin red húlle mense.

# Tweedens, is dit reg om te sê dat iemand wat reeds gered is, steeds gered moet word?
Dit word vertel dat die befaamde 19de eeuse teoloog, Biskop Westcott, teologiese professor in Cambridge, een keer deur 'n voorbarige student voorgekeer is met dié woorde: "Professor, is u gered?" "Goeie vraag", het Westcott geantwoord, "maar dit hang af wat jy bedoel?" Toe slaan die geleerde oor in Grieks en hy gebruik 3 passiewe deelwoorde van die werkwoord "om te red": ek is gered, ek word gered, ek sal gered word. Onnodig om te sê, die student is druipstert daar weg.
Redding word op drie maniere in die Skrif aan ons voorgehou. Ons is gered (Rm 8:24; Lk 7:50; Ef 2:5, 8); ons word gered (1Kor 1:18; 2Kor 2:15); ons sal gered word (Rm 5:9-10; 13:11; 1Pt 1:5). Dis omdat ons redding 'n proses is - wat begin het, maar nog nie voltooi is nie. In 'n sin moet ons dus nog gered word.
Op talle plekke leer die Bybel dat die Christelike lewe soos 'n maratonwedloop is, en dat slegs hulle wat tot die einde toe volhard, gered sal word.

# Hierdie betrokkenheid van herders in die redding van hulle kuddes is nie maar 'n terloopsheid nie; dit verg alles van hulle. Luister maar weer na Paulus: "Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes sodat ook hulle die verlossing ... en die ewige heerlikheid kan ontvang" (2Tm 2:10). In 2Kor 1:6 skryf hy: "As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle gehelp en gered kan word."

# In die geval van die Korintiërs het ons 'n voorbeeld van hoe mense só deur die bemoeienis van 'n herder gered word. Hulle het in sonde geval en Paulus het 'n brief aan hulle geskryf wat hulle diep ontstel het (en gewis was hierdie sogenaamde tranebrief ook vir hom uiters pynlik om te skryf). Die brief het egter die gewensde uitwerking gehad en die Korintiërs het hulle bekeer. In 'n volgende brief sê Paulus dan dat hy nie met kwade bedoelings so streng met hulle was nie. Maar dit het vir hom daaroor gegaan dat hulle nie die saligheid mis nie - "want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei ..." (2Kor 7:10).
Miskien is die Hebreërbrief die uitnemende voorbeeld van sulke pastorale gestrengheid ter wille van gelowiges se redding. Die Hebreërs is op die punt om die geloof te versaak en na die Joodse godsdiens terug te keer. Hiervan wil die skrywer hulle ten alle koste laat afsien. Hy draai geen doekies om nie en bombardeer hulle met die mees skrikwekkende pastorale vermanings en waarskuwings in die ganse Nuwe Testament. Verskriklik, sê hy vir hierdie mense wat jare se dissipelskap agter hulle het, is dit om in die hande van die lewende God te val! (Hb 10:31).
Wat die Hebreërskrywer betref, hang die ewige saligheid óf verdoemenis van hierdie mense een honderd persent van sy pastorale effektiwiteit af.
Waarlik, dit is die verantwoordelikheid van elke predikant (en elke ouderling) om só te werk dat nie een van sy broers of susters verlore gaan nie. Daarvoor is hy voor die Here verantwoordelik, en as een van hulle dan wel voor die wenpaal opgee, is dit in 'n sin sý skuld. Te sterk gestel? Almiskie. Maar dís die gesindheid waarmee hy sy werk moet doen.

# Maar, terwyl die Skrif se aksent op die herder en leraar se verantwoordelikheid val, is dit meteen ook iets wat op elke gelowige rus.
Sowel die Romeine as die Korintiërs word deur Paulus gewaarsku om, selfs in so 'n geringe saak soos wat jy eet of drink, nie 'n mede-gelowige in die geloofswedloop te laat struikel nie. Vir die Romeine sê die apostel: "Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie" (Rm 14:15). En vir die Korintiërs sê hy dat mens 'n broer of suster se geloofswedloop deur jou voorbeeld kan laat skipbreuk ly. As jy jou Christelike vryheid só misbruik dat 'n mede-lidmaat jou strydig met sy oortuigings navolg, laat jy hom iets teen sy gewete doen - en dit kan hom sy saligheid kos. "Dan gaan die swakke verlore deur hierdie kennis van jou, en dit 'n broer vir wie Christus gesterf het" (1Kor 8:11).
Hoeveel te meer kan voorgangers van gemeentes, wat uiteraard meer in die oog en invloedryk is, die oorsaak wees dat medegelowiges die pad byster raak?

Op die spel in pastorale bediening en prediking, is nie bloot 'n gemeente se groei in heiligmaking nie, maar ook hulle inbesitname van die ewige saligheid.

Enkele punte van toepassing

1. Niks behoort vir ons belangriker te wees as om heilig in die geloofswedloop te volhard nie.
As daar een ding is wat die apostels met geweldige erns bejeen het, dan is dit ons verantwoordelikheid om met alles in ons vermoë die koninkryk binne te beur. Hierin het hulle die Here Jesus nagevolg: die koninkryk van die hemel moet bestorm en met geweld gegryp word (Mt 11:12, OAV). En as jou hand of oog jou in die proses laat struikel, kap dit af of ruk dit uit (Mt 5:29-30).
Dis reg dat ons beklemtoon en ons daarin verheug dat die Here reddend in ons lewens ingegryp het. Maar dit mag nie die enigste belewing van ons Christenskap wees nie. As ons nie voortdurend besig is om ons heil met vrees en bewing uit te werk nie, is die kanse goed dat ons nooit die Here sal sien nie. Dis 'n verskriklike gedagte, maar besef julle dat, tensy die Here ons baie, baie genadig is, van die mense in hierdie saal die ewigheid in die verdoemenis gaan deurbring!
Waarlik, niemand, maar niemand sal die koninkryk op 'n traak-my-nie-agtige wyse beërf nie.

2. Ek moet met alles in my daarteen waak om vir my broers en susters tot struikeling te wees in húlle wedloop.
Dit waarna ons tans kyk, beteken nie dat diegene wat waarlik gered is, verlore kan gaan nie. Maar dit beklemtoon dat volharding tot die einde toe die uiteindelike merkteken van ware redding is. Vals gelowiges sak uit. Maar let goed op wat die Here in hierdie verband sê: as jý die oorsaak is dat iemand struikel, is dit vir jou beter om eerder met 'n klip om jou nek in die see te verdrink (Mt 18: 6-7).

3. Die antwoord: die vaste spys van die Woord.
Mens sou nou maklik kon redeneer dat predikers, in die lig van wat ons gesien het, eerder net appellerende bekeringsboodskappe moet preek. Nee! Dit was juis een van die groot probleme van die Hebreërs: hulle het vasgesteek by die melkkos van die eerste beginsels (Hb 5:11-6:3).

4. Ontelbaar baie gaan die ewige verdoemenis tegemoet, omdat hulle dink dat dit nie regtig saak maak aan watter kerk hulle behoort nie.
Solank mens net persoonlik met die Here wandel, dink baie, is alles in orde. Maar wat hulle vergeet, is dat jou wedloop tot 'n groot mate bepaal word deur die prediking waaronder jy Sondae sit, asook deur die standaard van Christenskap óm jou. Die probleem is dat ons vergeet dat dié soort dissipelskap wat op die ewige heerlikheid uitloop, alles van mens verg. En as jy nie gedurig gevoed en versterk word deur jou gemeente nie - om van vergiftiging nie eers te praat nie - is die kanse goed dat jy dit nie gaan maak nie.

5. Een van die belangrikste gebede wat jy weer en weer moet bid, is vir jou predikant(e).
In hierdie gemeente is ons uiters huiwerig om te veel te maak van die predikante-amp. Veeleerder beklemtoon ons die feit dat ons almal broers en susters is. Maar dit verander nie die feit dat daar 'n enorme verantwoordelikheid op die predikers (en natuurlik die ouderlinge) in hierdie gemeente rus nie.
Bid asseblief gedurig vir ons dat die gewigtigheid van ons roeping steeds dieper in ons harte ingegrafeer sal word. Want een van ons grootste bedreigings is 'n onderskatting van ons aanspreeklikheid voor die Here. Hb 13:17 sê dat ons verantwoording sal moet doen!
Bid nie net ter wille van óns nie, maar ook ter wille van julleself. Ek vertrou dat jy my nie verkeerd sal verstaan as ek sê dat niemand - behalwe natuurlik jyself - 'n groter rol in jou geestelike groei en geloofsvolharding speel as die ouderlinge van hierdie gemeente en veral die predikers nie.

6. Dié geheim in die geloofswedloop, is om jou oë op Jesus Christus vas te nael.
Kom ek sluit net af met 3 aanhalings uit Hebreërs: "Hy (die Seun) (het) vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword" (5:9). "Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het" (3:14). "laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die begin en Voleinder van die geloof" (12:1-2).
Nico van der Walt

E-PREEK No.5 - EKS 17:1-7 : JESUS CHRISTUS, ROTS VIR ONS GESLAAN

DIS KORT NADAT DIE VOLK UIT EGIPTE VERTREK HET - VOORDAT HULLE BY SINAI AANKOM. Hulle murmureer teen die Here. En dis nie die eerste keer nie.
In hfst.15 kom die volk by Mara, waar die Here hulle op die proef stel - en dus 'n les wil leer (25). Die water is so bitter dat hulle dit nie kan drink nie. Hulle murmureer en die Here wys vir Moses 'n stuk hout wat hy in die water moet gooi - wat die water laat soet word. Op pad verder kom hulle dan by die oase, Elim, met sy 12 fonteine en 70 palmbome.
In hfst.16 verlang die volk na Egipte se vleis en murmureer nogeens teen Moses - maar ook teen die Here (3, 7, 8). Nou begin die Here om die manna en kwartels te gee waarvan hulle deur die volgende dekades sou leef. Dit was vir hulle 'n teken dat God hulle uit Egipte bevry het, dat Hy die Almagtige is, en dat Hy hulle verset teen Hom opgemerk het (6-8).
Die volk se rebellie hier by Refidim (later Massa en Meriba genoem), so kort op die hakke van die vorige kere, is dus des te meer skokkend en onverskoonbaar. Sou Hy wat die see in twee kon deel, en wat manna en kwartels uit die niet kon voorsien, nie ook water kon verskaf nie? Is dit nie Hý wat hulle Refidim toe gebring het nie?

Die gebeure

# Die volk is woedend vir Moses. Hulle dreig om hom te stenig (4). Maar hy protesteer heftig: hulle probleem is met die Here, nie met hom nie (2b). Hy is reg. Trouens, die volk sondig op 'n dubbele manier teen God.

* Die volk tart die Here. As hulle wil hê Moses moet vir hulle water gee, is hulle uitdagend: "Is die Here in ons midde of nie?" (7, OAV). Met ander woorde: indien Hy in ons midde is - 'n ope vraag - kan jy mos net jou vingers klap en ons sal water hê!

* Tweedens dui die begrip "rusie maak" (2) in Hebreeus op die maak van 'n hofsaak. Dis die stamwoord in die naam, Meriba (7), en Miga 6:1-8 gebruik dit vir die Here se hofsaak teen Israel.
Die volk kla vir Moses aan. Maar hy is net die Here se verteenwoordiger. Eintlik plaas hulle dus vir God in die beskuldigingsbank!

# God is regverdig. Die mense kla Hom aan. Goed dan, goed dan, die saak sál aangehoor word!
Maar wie sal op die bank sit? Moses sal die regter wees! En die leiers die jurie! (5).
Moses moet sy staf saamneem (5). Dis simbool van gesag, oordeel en regspraak. Dis die staf waarmee die Nyl se water in bloed verander, die see gekloof en die geveg teen Amalek beheer is (9).

# Wat volg, is sekerlik een van die mees verstommende insidente in die ganse Bybel. Die Here gaan op 'n rots staan. Moses moet dit dan met sy staf slaan - waarna daar water sal uitvloei (6).
Die NAV (sien ook NASB; Amplified; AV; NKJV) vertaal die voorsetsel beter as die OAV en die NIV: die Here het bo-op die rots gaan staan.
Mense staan voor God, nooit andersom nie! En tóg, hier gebeur die ondenkbare: die Here gaan voor die mens staan - om verhoor te word, en om die plek van 'n skuldige in te neem en geslaan te word.

# Is God dan skuldig? Allermins! Dis die volk wat skuldig is. Wat gebeur dan hier? God is 'n God van geregtigheid. Sy wet móét bevredig word. Maar as Verbondsgod wil Hy Sy volk red. Daar is net één uitweg - Hý moet in hulle plek die oordeel dra!
"Is die Here in ons midde ...?", het die volk smalend gevra. Inderdaad! Maar ánders as wat hulle ooit sou kon dink. Hy staan nie net tussen hulle nie - Hy staan in hulle plek. Hy dra hulle skuld!
Hoe het Moses dit reggekry om die Here se bevel uit te voer? Wat gaan deur hom as hy die staf bokant sy kop uitlig - en dan met al sy krag slaan? As enige mens ooit geloof gehad het, sien ons dit hier. Hier is gehoorsaamheid sonder weerga.

# As Moses se staf die rots tref, bars dit oop en 'n stroom lewegewende water begin daaruit vloei. Sekerlik was dit nie 'n soebatstroompie nie. Die volk was immers 'n ontsaglike skare, om nie van hulle diere te praat nie.
Ons teks beskryf nie die water nie, maar Ps 105 - wat God se groot verlossingsdade besing - beskryf hoe dit was: "Hy het 'n rots oopgebreek en daar het water uitgestroom wat soos 'n rivier deur die dorre gebied gevloei het" (41).

Die openbarings-historiese betekenis

# Uiteraard moet mens nie Christus in elke Ou Testamentiese vers probeer inlees nie. Maar baie van ons is so geïntimideer deur hedendaagse ongeloofsteologie dat ons bang is om Christus hoegenaamd in die Ou Testament raak te sien. So 'n beskouing bots egter lynreg teen onontkombare Nuwe Testamentiese getuienis. Voordat jy dus Christus uit die Ou Testament kan uithaal, moet jy eers die Nuwe Testament oorboord gooi.
Oorweeg byvoorbeeld die volgende: "Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê" (Lk 24:27). "Filippus het by hierdie Skrifgedeelte (Jes 53) begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig" (Hd 8:35). Vergelyk ook onder meer Jh 5:39 en 1Pt 1:10-12.

# Wat hierdie spesifieke Skrifgedeelte betref, het ons glasheldere Nuwe Testamentiese mandaat om Christus daarin te lees: "... hulle (die hele volk Israel) het gedrink uit 'n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus" (1Kor 10:4).
God belowe in Eks 17 die komende soenoffer van Sy Seun! Vers 6 antisipeer in 'n enkele sin die hele evangelie!
Luister na 2Kor 5:21: "Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel" - as ons strafdraende plaasvervanger!

# Ons vind selfs meer as Christus hier. Ons vind ook die Heilige Gees. In Jh 7:37-39 belowe die Here Jesus die Heilige Gees soos strome lewende water - as 'n uitvloeisel van Sy kruisiging en verhoging. En inderdaad is dit presies hoe dit gebeur het.

Numeri 20:1-13

❏ Veertig jaar later is Moses in 'n soortgelyke konfrontasie met die volk. Daar is weer nie water nie, en daar is weer 'n rots en 'n staf ter sprake - maar nóú staan die besonderhede van Moses se opdrag in skrille kontras met dié van Eks 17.

* Anders as destyds, toe hy die rots moes slaan, moet Moses nou met die rots praat.

* Hierdie keer moet Moses vir Aäron saamneem, terwyl die staf wat hy moet vat nie sy eie is nie, maar Aäron s'n (8, 9; 17:10). Waar die eerste gebeurtenis dus 'n regskarakter gehad het, is dit hierdie keer van 'n priesterlike aard.

# In plaas van met die rots te praat, slaan Moses dit egter in sy woede vir die volk - twee keer (11). Nogtans kom daar genoeg water uit vir volk en vee.
Moses se oortreding is egter geen geringe saak nie. Hy (en sy broer) sal Kanaän nie binnegaan nie!
As ons eerlik is, voel dit of Moses se straf totaal buite verhouding met sy oortreding is. Vir veertig jaar het hy die Here getrou gedien - soos min, indien enige, voor of na hom. Vir dekades het hy vir net een ding geleef - om die Here se verbondsvolk die beloofde land binne te lei. En nou word hy op die drumpel van sy triomf gestuit!
Waarom hierdie verskriklike straf? Is dit bloot omdat hy voor die volk aan die Here ongehoorsaam was? Nee, nee! Dit gaan om veel meer: die Christus-profesie wat ook by hierdie geleentheid voor die volk se oë moes afspeel, is op 'n skreiende wyse geweld aangedoen!
Christus is net eenmaal gekruisig - eens en vir altyd (Rm 6:9-10; Hb 9:26, 28). Dit was 'n volmaakte werk - en bly die volkome en genoegsame basis en bron van alle seën vir diegene wat deur geloof met Hom verenig is. En al wat nodig is om dit te bekom, is om met die Here te "praat" - om dit in gebed te vra - op grond van Christus se eens en vir altyd afgehandelde en volkome werk!

* Twee verskillende Hebreeuse woorde word in Eks 17 (tsur) en Num 20 (sela) vir "rots" gebruik. Hoewel soms uitruilbaar, wonder mens of dit dalk betekenisvol is dat tsur meer op 'n soliede rots wys, terwyl sela meermale dui op 'n rots met 'n skeur in. [1]

* In hierdie tragiese gebeurtenis sien ons eerstens hoe ononderhandelbaar belangrik die evangelie vir God is. Ons sien tweedens tot watter aanstoot dit vir Hom is as mense iets by Sy Seun se volmaakte werk wil voeg. Ons sien derdens watter premie Hy op die Ou Testamentiese voorafskaduings van die evangelie plaas.

# Ten spyte van die volk se murmureringe, en ten spyte van Moses se ongehoorsaamheid, kom daar nogtans water uit die rots uit. Hoe genadig is die Here nie! En hoe trou bly Hy nie aan Sy verbondsbeloftes nie! Waarlik, al is ons ontrou, Hy bly getrou (2Tm 2:13).

Slot

# 'n Bekende joernalis het 'n ruk gelede die evangelie openlik verwerp - omdat dit kwansuis nie sin maak nie. Sy kan nie sien waarom God - as Hy dan soewerein en almagtig is - nie sonder meer ons sondes kan vergewe nie. Waarom moes Sy Seun op so 'n groteske wyse sterf? 'n Pa - om haar aan te haal - werk mos nie so met sy kinders nie!
Dis tragiese onkunde wat so praat!
Nooit sal God in enige van Sy handele strydig met enige van Sy attribute optree nie. Wat Hy doen, is altyd in volle harmonie met ál Sy karaktertrekke. Daarom, omdat Hy ook 'n heilige God van geregtigheid is, kan en sal Sy verlossing nie bloot 'n kwytskelding van skuld wees nie. Hy sal nie bloot mense se sondeskuld onder die mat invee nie. Sonde móét gestraf word - alle sonde, elke sonde.
Dis waarom die Seun gekom het - om sondaars se straf namens hulle te dra. Dis waarom Hy waarlik mens moet wees, want net 'n mens kan as plaasvervanger vir mense instaan. Dis waarom Hy waarlik God moet wees, want net God kan strafdraend miljoene se skuld betaal.
Óf Christus dra jou straf, óf jyself. En geloof - omhelsing van Christus - is die bepalende faktor.

❏ Les bes, die plaasvervangende middelaarswerk van ons Here Jesus Christus was nie maar 'n laaste uitweg nie - 'n plan B. Nee, Hy is "... deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer ... en gekruisig ..." (Hd 2:23). En hierdie evangelie is al eeue voor Golgota aan Israel verkondig. Trouens, lank voor hulle het Abraham al die komende Verlosser gesien (Jh 8:56). En lank voor hóm is al aan Adam en Eva gesê dat die saad van die vrou die kop van die slang sal vermorsel (Gn 3:15).

[1] Harris, Archer & Waltke, Theological Wordbook of the Old Testament, Vol 2, p. 627.
Nico van der Walt

E-PREEK No.4 - FL 1:21b; 23b : DIS WINS OM TE STERF

MENSE IS BANG VIR DIE DOOD. Niemand dink of praat graag daaroor nie. Só stel Hb 2:15 dit: mense is "uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny ".
Maar ons teks plaas die saak vierkantig voor ons. En dis goed so. Enersyds móét ons eenvoudig nadink oor hierdie saak wat so onontkombaar op elkeen van ons wag. Andersyds bring 'n oordenking van hierdie Skrifgedeelte wonderlike bevryding, bemoediging en vertroosting vir ware gelowiges.

Enkele algemene opmerkings

# Anders as wat baie dink, leer die Bybel nie net twee toestande van bestaan nie: die huidige lewe hier op aarde, en die uiteindelike lewe ná die opstanding. Daar is ook 'n derde toestand: dié wat onmiddelik na die dood intree, tot en met die opstanding - as 'n liggaamlose gees.
Oor hierdie tussentoestand het Paulus dit in die eerste instansie hier.

# Ons is geneig om aan die dood as 'n verlies te dink. Inderdaad ís dit dikwels 'n verskriklike verlies vir diegene wat agter bly. Maar as dit 'n ware Christen is wat sterf, is dit "wins" vir hom of haar. Vir ons is die lewe ná die dood beter as wat dit hier is - "verreweg" beter (23).

# Paulus het nie 'n sieklike doodsverlange nie. Ewe min is daar by hom 'n minagting vir die lewe hier en nou. Daarvoor is hy té bewus van die berge sinvolle werk wat hier gedoen moet word (22-24).
As hy in v.23 sê dat hy in 'n tweestryd verkeer - om heen te gaan, of om hier te bly - dan is dit nie 'n kontras tussen goed en sleg nie, maar tussen goed en beter. Hy is soos 'n goeie soldaat wat verlang om klaar te kry met die oorlog en om huis toe te gaan, maar wat in sy pligsbesef op sy tande kners, vorentoe beur, en weier om dros te oorweeg.

# Nêrens leer die Bybel dat die dood op sigself 'n seën is nie. Behalwe wanneer dit oorrompel word deur verlossingsheil in Christus, is dit 'n meedoënlose vyand. Dis 'n roofdier wat die liggaam en die gees wreed uitmekaar skeur (Pred 12:7).
Die dood bly dus ook vir ons wat met Christus verenig is 'n laaste vyand (1Kor 15:26). Op sigself was dit sekerlik vir die apostel - soos vir ons - afstootlik en skrikaanjaend. Om te sterf is ook vir die ware gelowige 'n donker, diep rivier waardeur hy of sy moet gaan - soos Bunyan dit beskryf.
In terme van God se oorspronklike skepping is die dood nie iets normaals nie. Dis die gevolg van die sondeval. Die dood is loon van die sonde. Maar die Here se verlossingsplan gaan oor opheffing van sonde en sy gevolge. Dus gaan dit ook oor vernietiging van die dood (1Kor 15:51-57).

# Selfs die tussentoestand in die hemel is nog voorlopig. Die gees is nog sonder sy verheerlikte liggaam. As sodanig is dit 'n toestand van onvolmaaktheid en onvoltooidheid (2Kor 5:1-10).
Daarom kyk die Nuwe Testament amper konsekwent dwarsdeur die tussentoestand - dis net 'n tydelike deurgang, 'n verdere tree onderweg na my volmaakte erfenis in Christus. Daarom nael die apostels hulle blik vas op - die opstanding!
Tog sê Paulus om te sterf is wins! Selfs die tussentoestand is beter as ons lewe hier en nou.

# Die woord in v.23, "om heen te gaan", is beskrywend. Eén gebruik daarvan destyds was vir die opbreek van 'n kamp. Hier, asook elders in die Nuwe Testament, dra dit dus die gedagte van 'n klaarkry met die tydelike en onsekere lewe van 'n swerwer.
Só stel 2Kor 5:1 dit: "Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar 'n tent is, afgebreek word, ons 'n vaste gebou in die hemel het. Dit is 'n woning wat nie deur mense gemaak is nie maar deur God, en dit bly ewig staan." En 2Pt 1:13-14: "En ek beskou dit as reg, solank as ek in hierdie tentwoning is, om julle ... op te wek, omdat ... die aflegging van my tentwoning ophande is ..." (OAV).
Die Bybel beklemtoon deurgaans dat hierdie lewe tydelik is; trouens, die gelowige is hier 'n vreemdeling en 'n bywoner (1Pt 2:11). Ons is bloot pelgrims. Hierdie wêreld is nie ons woning nie.

Waarom is dit wins om te sterwe?

# Vir die gelowige is die dood 'n huis toe gaan. Dis 'n verlaat van die verblyf in die liggaam, ten einde by die Here te gaan inwoon (2Kor 5:6-9). Dis 'n vertrek na ons ewige woning (Pred 12:5) - na ons vaderland, ons tuisstad (Hb 11:13-16). En waar is mens gelukkiger as op jou eie plek? Dis waar ons hoort - daar by die Here!

# Een van die heel wonderlikste dinge is dat ons finaal klaar sal wees met sonde wanneer ons ons laaste asem uitblaas. Wat veroorsaak méér frustrasie en hartseer in 'n gelowige se lewe as sy of haar sondemislukkings? Maar as ons eers by die Here is, sal ons nie meer kán sondig nie.

# 'n Koning se vrou deel in sy besittings en status.
Toe Christus uit die dood opgestaan het, het Hy dit nie bloot in Sy persoonlike hoedanigheid gedoen nie, maar as amptelike Hoof van die nuwe mensheid (Ef 2:5-6). Toe Hy na die hemel opgevaar het, het Hy nie net die loon en erfenis vir Homself in besit geneem nie, maar ook vir Sy bruid. Óns inbesitname daarvan is 'n proses - en óns het skaars begin - maar die beginsel staan vas: ons wat in Christus is, is nou reeds "erfgename saam met Christus" (Rm 8:17).
Presies hoeveel van ons erfenis in Christus ons dadelik gaan ontvang, en hoeveel sal moet wag vir die finale opstanding, is nie geopenbaar nie. Maar dat daar vir ons 'n "onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis" in die hemel bewaar word, dit weet ons wel (1Pt 1:4). "Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet" (1Kor 2:9).

# Die dood is 'n deurgang na 'n begrip en kennis van die Here wat ons nou nie kan bedink nie. Weereens weet ons nie hoeveel daarvan sal moet wag vir die vervolmaking van ons verlossing met die wederkoms en opstanding nie. Maar gewis sal ons oorstelp besig wees met nuwe waarhede en oopgebreekte geheimenisse terwyl ons naasbestaandes diep hartseer met begrafnisreëlings besig is. "Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken" (1Kor 13:12).
Ons gaan die ewigheid deurbring in die land van verstommende en onuitputlike ontdekkings! En aan die hart hiervan is 'n steeds dieper kennis van ons Drie-enige God. Om Hóm te ken, is immers die ware en ewige lewe. Om Homself voor Sy skepsele te verheerlik, is per slot van rekening waaroor alles gaan. Sal daar ooit 'n punt van afplatting en uitputting kom? Die ewigheid is nie lank genoeg om God en Sy werke te deurgrond nie!

# Maar ons teks openbaar die éintlike rede waarom Paulus so daarna uitsien om heen te gaan: dit sal hom na Christus toe vat! (23). Die essensie van die gelowige se hiernamaals is dat hy of sy "by die Here gaan woon" (2Kor 5:8). Vir die misdadiger kon Jesus sê: "Vandag sal jy saam met My in die paradys wees" (Lk 23:43).
As ons nóú reeds Christus se bruid is, hoe groot sal ons verwelkoming in die hémel nie wees nie! Gewis sal ons daar 'n inniger gemeenskap met Hom beleef as wat selfs die dissipels destyds hier op aarde geniet het.

# Ons sal egter nie net 'n behae in die Seun hê nie - ons gaan ook na die Vader toe.
Luister hoe verwoord 'n messiaanse psalm dit: "... you will fill me with joy in your presence, with eternal pleasures at your right hand" (Ps 16:11, NIV). Op Pinkster haal Petrus hierdie verse aan en maak dit op Christus van toepassing (Hd 2:25-28).
Die heiliges, in hulle eenheid met die Seun, sal in hierdie vreugde deel. Ook húlle is as kinders aangeneem (Gl 4:4-7). Hulle is trouens nog méér. As bruid van Christus is hulle ook die Vader se skoondogter! Hulle is volledig deel van die gesin!

Slot

# Ons moet seker maak ons bedrieg nie onsself nie. Miljoene doen dit. Wat kan méér dwaas wees as om jouself sonder Bybelse begronding wys te maak dat alles uiteindelik tog maar reg sal uitwerk.
As ons waag om daaroor te dink, het ons baie vrae oor ons eie dood: Wanneer? Waar? Waaraan? Maar volgens God se Woord is net een vraag regtig van belang: Hoe? Ek praat nie van wat op jou doodsertifikaat as "oorsaak van dood" ingevul gaan word nie. Ek praat van die geestelike toestand waarin jy gaan sterf. En daar is slegs twee moontlikhede: in geloof, of in sonde (Jh 8:24).
Die ergste ding wat met 'n mens kan gebeur, is nie dat hy sterf nie, maar dat hy in sy sonde sterf. Onthou, om dood te gaan, is om na 'n plek te gaan vanwaar jy nooit weer kan terugkeer nie.

# Vers 21 is 'n onverbreekbare eenheid. Daarom het nét hulle vir wie die lewe Christus is, grond om te glo dat doodgaan vir hulle wins sal wees.
Die heidenprofeet, Bileam, begeer: "Mag ek ook eendag as opregte sterwe ..." (Num 23:10). Wat hy egter vergeet, is dat mens slegs as 'n regverdige kan sterf indien jy as 'n regverdige geleef het.

# Sóvele dink aan genade as iets wat jy ontvang wanneer jy ná die dood voor God moet verskyn. Dis 'n fatale mistasting. Genade is iets wat jy in hiérdie lewe ontvang, of glad nie. Dis óf nou, óf nooit nie. En as jy dit inderdaad kry, het dit ingrypende effekte op jou - want dit maak die lewe vir jou Christus.

# Maar ons vir wie die lewe inderdaad Christus is, kan ons heengaan met vertroue en opgewonde afwagting tegemoet gaan. Ons gaan bloot ons Here volg deur die poort waardeur Hy alreeds is.
Ja, wanneer dit kom, mag ons dit vir 'n oomblik as 'n verskrikking beleef. Maar dit sal nie vir ons 'n fatalistiese sprong oor 'n afgrond van duisternis wees nie. Ons sal in die geloof daardeur. Psalm 23:4 sal werklikheid wees: "Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my."

# Die ou Puritein, Richard Baxter (1615-1691), het dit só gestel: "As 'n man ellendig siek is, maar weet dat hy môre-oggend gesond gaan wees; of as hy brandarm is, maar weet dat hy môre-oggend 'n prins gaan wees as hy wakker word - sal hy bang wees om bed toe te gaan?
Die pionier-sendeling in Burma, Adoniram Judson (1788-1850), het weer só daarna gekyk: "Ek is nie gedaan gewerk nie, en ek is allermins moeg vir hierdie wêreld - maar, wanneer Christus my roep, sal ek gaan met die uitbundige blydskap van 'n skoolseun wat vir die somervakansie deur die skoolhek hardloop."
Nico van der Walt

E-PREEK No.3 - FL 1:21 : VIR MY IS DIE LEWE CHRISTUS

"want om te lewe, is vir my Christus ..." (Fl 1:21)

DR. MARTYN LLOYD-JONES SÊ IN 'N PREEK OOR V.21: "We stand here face to face with one of the sublimest and greatest statements ever made, even by this mighty Apostle of our Lord and Saviour Jesus Christ." Dis slegs 9 woorde in die Grieks, maar hoe kom mens by die bodem daarvan uit?
Kom ons kyk nou na die eerste helfte van v.21.

Inleiding

# In hierdie brief stel Paulus die Filippense in hulle bekommernis oor hom gerus.
Ja, sê hy, hy is wel in die tronk en het inderdaad deur baie beproewinge gegaan, maar die Here het in Sy soewereiniteit alles gebruik om Homself te verheerlik. Anders as wat mens sou verwag, het dit selfs gelei tot 'n wyere uitdra van die evangelie (v.18). Wat sy toekoms betref, is hy heeltemal onseker: hy mag vrygelaat word, maar hy mag ook tereggestel word. Uiteindelik maak dit nie veel saak nie. Al wat saak maak is dat Christus verheerlik sal word. Solank dít gebeur, is dit vir hom om 't ewe of hy leef en of hy sterf (v.23) - want die lewe is vir hom Christus en die sterwe is wins. Daarom moet die Filippense hulle nie te veel oor hom bekommer nie.
In v.22-26 openbaar die apostel iets van sy hartsgesteldheid. As dit van hom afgehang het, sou hy verkies het om heen te gaan en by Christus te wees. Maar hy weet dat sy broers en susters hom nog nodig het - en daarom glo hy tog dat die Here hom sal spaar.

# 'n Nadere kyk na v.21a is betekenisvol:

* Paulus se uitspraak begin met "want", en is daarom 'n voortsetting en verduideliking van die voorafgaande. Hy sê dus: Christus sal "groot gemaak ... word in my liggaam" (v.20, OAV) ... want om te lewe, is vir my Christus, en ..."

* In die Grieks lê die klem op die woorde "vir my". Christus word dus nie in elke mens se lewe sondermeer verheerlik nie; dit gebeur net as die lewe vir jou Christus is.

* Die uitdrukking, "om te lewe", dui op voortgaande handeling. Paulus praat dus nie net van 'n opinie of filosofie oor die lewe nie, hy praat van 'n manier van lewe.

# Wat presies bedoel die apostel met hierdie kernagtige stelling wat so ontsaglik baie omvat? Miskien sal dit help as ons die vraag in twee meer spesifieke vrae opbreek: Eerstens, wat bedoel hy as hy oor sy manier van lewe praat? Tweedens, wat bedoel hy as hy sê dat dit Christus is?

Die lewe is vir my Christus

# Wat is die lewe? Waarom leef ek? Hieroor net eers drie algemene opmerkings:

* Eerstens, baie, baie mense dink natuurlik nooit oor die betekenis van die lewe nie. Hulle het hierdie verbysterende gawe van bestaan ontvang, van persoonlikheid, van individualiteit, van syn (soos die filosowe sê) - en hulle verwonder hulle nooit daaroor nie! Hulle gaan maar net van dag tot dag aan - soos diere. Hulle dryf bloot voort soos kurkproppe op die see.

* Tweedens beskryf 1Jh 2:16 wat die lewe vir die meeste mense is: "... die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe ..." (OAV). Hierdie 3 dinge laat die aarde vir Jan en alleman draai:
Vir sommige gaan die lewe oor die laere drifte van die vlees. Wine, women and song!, is hulle motto. Hulle is die Epikureërs, met as lewensfilosofie: Laat ons eet en drink, want môre sterf ons. Hulle is hedoniste wat deur elke week se werk wroeg om só genoeg geld vir naweke te verdien. Hulle is adrenalienslawe, en die summum bonum kan enigiets wees van 'n kan wyn tot 'n 4x4.
Vir andere gaan die lewe oor die sogenaamde mooi en verhewe dinge: menswaardigheid (en diere-waardigheid!), welwillendheid, offervaardigheid; die kuns, die akademie, die wetenskap, die omgewing, ens., ens. En natuurlik is al hierdie dinge prysenswaardig. Maar as daar meer van die geskapene gemaak word as van die Skepper, word dit afgodery.
En vir nog ander gaan die lewe oor status en mag. Ambisie, bevordering, meer besittings, nog toekennings! Dis wat vir hulle alles die moeite werd maak. En om dit te bereik, sal hulle niks of niemand ontsien nie. Besigheid is besigheid!, is hulle leuse; All is fair in love and war!, hul motto.

* Derdens, vir dermiljoene is godsdiens hulle lewe. Hierdie tyd op die ondermaanse is gegee, sê hulle, om na God toe op te klim - teen die leer van moralisme en seremonies en sakramente. Mens moet jouself aanvaarbaar maak vir jou Skepper; jy moet 'n beter hiernamaals beding.

# Vra mens egter vir Paulus, Wat is die lewe? Waaroor gaan dit vir jou?, antwoord hy kort en kragtig, beslis en sonder huiwering: Christus!
Om die volle implikasie van die apostel se antwoord te verstaan, moet ons vra: waarin kom die lewe tot uitdrukking, hoe word dit beleef?
Die antwoord het ten minste drie kante:

* 'n Mens se lewe kom tot uitdrukking in wat jy dink en glo, in jou gedagtes en oortuigings. Die middelpunt van Paulus se oortuigings was Christus en Christus se werk - Sý koninkryk, Sý evangelie, Sý gemeente, Sý eer. Dit neem maar weer en weer die apostel se gedagtes in beslag. As hy loop en peins, is dit Christus; as hy met vriende gesels, is dit Christus; as hy skryf, is dit Christus.

* 'n Mens se lewe kom tot uitdrukking in wat jy voel, in jou emosies. Oor niks of niemand het Paulus intenser belewinge gehad as oor Christus, Sy faam en Sy saak nie. Om die Here te behaag en te verheerlik, was die hartstog van sy lewe. Om Hom steeds inniger te ken, was sy verlange dag na dag.

* 'n Mens se lewe kom tot uitdrukking in wat jy doen, in jou elke dag se aktiwiteite, in die prioriteite wat jy najaag. Ook hierin was Christus vir Paulus in die middelpunt. Dis vir Hóm wat hy hom ingespan het, vir Wie hy elke greintjie energie aangewend het. Dis vir die verbreiding van Sý evangelie wat hy alles gegee het en geen swaarkry ontsien het nie.

# Dink vir 'n oomblik na oor Paulus se lewe. Dan besef jy dat sy belydenis in v.21 waarlik die werklikheid van sy hele bestaan was.

Die lewe is vir my Christus

# Wat is van 'n mens waar as Christus vir jou die lewe is. Hoe het Paulus dit beleef? Hoe ervaar alle ware Christene dit deur die eeue?

* Christus is die onwankelbare sekuriteit van jou lewe. Die belangrikste van alle vrae - hoe sal ek eendag regverdig voor my Maker staan? - is net nie meer die allesoorheersende verskrikking van jou lewe nie. Nou is daar 'n ewige rots onder jou voete.

* Christus is die vreugde en sin van jou lewe. Christus is vir jou die wysheid wat van God kom, die geregtigheid, die heiligmaking en die verlossing (1Kor 1:30-31). Kortom, Hy is jou alles.
Mens kan jou van alles stroop - van jou besittings, jou waardigheid, jou dierbares en jou vryheid - dan bly die Here Jesus Christus steeds jou vreugde, sin en sekuriteit. Trouens, des te meer.

* Christus is die bron van jou lewe. Hy is die wingerdstok en jy die loot (Jh 15). Jy leef nie meer nie, maar Christus leef in jou (Gl 2:20). Dis waarom die apostel in Fl 3:10 kan sê dat dit sy ambisie is om te leef vanuit die krag van Christus se opstanding.
Miljoene ken dit as 'n ervaringswerklikheid. Lees maar die biografieë van God se begenadigdes.

* Christus is die gerigtheid van jou lewe. Om Hóm te ken, die verbreiding van Sý evangelie, die welsyn van Sý gemeente, die bevordering van Sý eer - dit is die dryfveer, motief en ambisie van jou hele bestaan. Dis wat Paulus in Rm 14:8 bedoel: "As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here . Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here."
Andersom gestel, neem Christus weg, en die lewe word vir jou die dood. Want Hy het inderdaad vir jou die weg, die waarheid, en die lewe geword.

# Dis wat dit beteken om die Here Jesus Christus lief te hê met jou hele hart, siel, verstand en al jou krag. Dis wat 'n persoonlike verhouding met die Here beteken. Dit is ware Christenskap!
Christenskap is nie primêr 'n stel oortuigings of morele waardes nie - dis 'n hartstogtelike verhouding met 'n Persoon, die Here Jesus Christus!

Wat sê dit vir ons?

# Hierdie vers gee vir ons miskien die mees fundamentele lakmoestoets vir outentieke Christenskap in die ganse Bybel.
Al kan hulle dit nie onder woorde bring nie, weet alle ware Christene dat hulle proefondervindelik iets hiervan ken. Daarenteen verstaan 'n nie-Christen niks hiervan nie - maar hy weet wél dat dit nie van hom waar is nie.
Die getuienis van die sending- en kerkgeskiedenis is onweerlegbaar: dis die mense wie se lewens beheers is deur die dinge waarvan ons praat, wat werklik die verskil gemaak het. Dis húlle wat blywende vrug gedra het. Dis deur húlle wat die Here sy grootse werke gedoen het.
Haal 90% kerkmense se lewens uit die afgelope 2000 jaar se kerkgeskiedenis, en die koms van die koninkryk van God sou net so ver gestaan het soos vandag. Trouens, sonder hulle was dinge sekerlik veel verder gevorder. In die Here se saak vaar 'n Gideonsbende altyd beter!

# Kardinaal belangrik is dit om te onthou dat die apostel nie hier vir ons 'n bevel gee nie, maar 'n feitestelling maak.
Dit waarvan Paulus hier praat, kan ons nie self opklits nie. Nee, dis die gevolg van God se genadewerk in 'n mens. Húlle ervaar dit wat deur die Here in Sy genade aangeraak is.
Hierdie liefde vir die Here is 'n wederliefde. Dis die liefde van dankbaarheid en verwondering. Dis die liefde van lewenslange gefassineerdheid en verknogtheid en toewyding.
Kan ek dan niks doen om dit te ervaar nie? Tog wel, ja. Doen wat God se Woord sê: gee jouself opreg en ongekwalifiseerd vir tyd en ewigheid vir die Here Jesus Christus as groot Profeet, Priester en Koning. En jy sal ervaar wat tallose mense deur die eeue beleef het. Die Here sal gewis deur Sy Gees Sy liefde in jou hart uitstort. En nooit sal jou lewe weer dieselfde wees nie.
Nico van der Walt

Thursday, June 2, 2011

E-PREEK No.2 - AMOS 8:11-14 : DIE HEEL ERGSTE HONGERSNOOD

ALMAL VAN ONS HET AL FOTO'S GESIEN VAN HARTVERSKEURENDE HONGERSNOODTONELE. Mens kan jou beswaarlik iets ergers indink as om geleidelik van honger te sterf, om jou kinders voor jou te sien wegkwyn tot vel en been, en om elke tweede dag dierbares te moet begrawe.
Hongersnood is verskriklik! Maar 'n gebrek aan kos is nie die ergste nood nie. Amos skryf hier van 'n erger nood - nood aan die Woord van God. Dis nie dat mens dit erger belééf nie, inteendeel. Jy kom dit nie eers agter nie. Wat maak dit dan so erg? Die effekte daarvan, en die langtermyn-gevolge - nie net op jouself nie, maar ook op jou kinders en kindskinders. En net 'n genade-ingryping van die Here, 'n Geesgewerkte herlewing, kan dit regstel.

'n Kort historiese agtergrond

Dis in die tyd ná die skeuring van die verbondsvolk na Salomo se dood. Amos was 'n gewone boer by Tekoa, so 'n 10 km suid van Bethlehem in die suidelike koninkryk van Juda. Vandaar word hy dan so ongeveer sewe-en-'n-half eeue voor Christus na die noordelike tienstammeryk - ook genoem Israel - gestuur om teen hulle sonde te profeteer.
In ons teksgedeelte praat hy oor die geestelike hongersnood wat, te wyte aan hulle sonde, op Israel wag. Dit, natuurlik, tensy hulle hul bekeer.

'n Waarskuwing

Amos beskryf nie 'n bestaande situasie nie. "Daar kom dae", sê hy (11). Dis 'n waarskuwing.
Bybelse toekomsprofesie is nie om nuuskierigheid te bevredig nie; dit vertel van die toekoms, sodat mense in die lig daarvan kan lewe. Bybelse profesie is moreel van aard.
Daar is, trouens, 'n sterk verband tussen mense se huidige moraliteit en hulle oortuiginge met betrekking tot die toekoms. Sonder toekomsverwagtinge, en 'n sin vir aanspreeklikheid, verdwyn moraliteit. As jy nie eendag verantwoording hoef te doen nie, en as jy nie glo dat jou huidige lewe enige invloed op die toekoms het nie, waarom maak dit saak hoe jy jou nóú gedra?
Dis waarom Paulus in 1Kor 15:32 sê dat, as daar geen opstanding uit die dood is nie, ons net sowel maar kan eet en drink en vrolik wees, aangesien ons môre, oormôre sterf (Jes 22:13).

Die hongersnood (11-12)

# Die Here het al vantevore hongersnood as oordeel gestuur (4:6-8). Maar die volk het nie gehoor gegee nie. Nou gaan Hy 'n baie erger een stuur. Die volk gaan nie sonder kos raak nie; hulle gaan die waarheid verloor. Die woorde van die Here gaan nie meer te vinde wees nie (11-12).

# In hulle soeke na God se Woord sal die mense "ronddwaal" en "rondslinger" (12). Hulle sal koersloos, onseker en onstabiel wees - raad-op, sonder wysheid en insig.

# Hulle sal van see tot see swerf, en van noord na oos (12).
Die Dooie See en die Meer van Gallilea lê in die ooste en die Middelandse See in die weste. Dan sal hulle in die noorde gaan soek - en dan weer in die ooste by die see. Die suide word nie genoem nie. Waarom nie? Dis waar die tempel is, en God se waarheid. Die halstarrigheid en trots van die noordelike ryk sal hulle weerhou om in Jerusalem na die Here en Sy Woord te gaan soek!
Wat skets Amos hier? Die eiesinnige en koppige blindheid van die mens sonder God se Woord. Ja, hulle sal enige plek gaan soek - maar om 't dood nie in Jerusalem nie, waar God en Sy openbaring is. Hulle sal enigiets probeer, behalwe om in Sy Woord te soek en daarvoor te buig.
Let wel, hierdie mense is steeds baie godsdienstig. En hulle soek nog steeds - selfs naarstigtelik. Maar hulle is uitsoekerig. Ware waarheid wil hulle nie hê nie. Daarom vind hulle nie.

Mensgemaakte godsdiens (14)

As jy soek, maar nie vind nie, sal jy jou eie dinge begin ontwikkel en optower om jou honger te stil.
Drie dinge is aan die orde in Israel: godsdiens-vermenging (sinkretisme); godsdiensverdraaing en -misbruik; bygeloof en afgodery.
Let op, hierdie dinge is die gevolg van die feit dat die volk God se waarheid verloor het. En omdat hulle weier om dit te soek, word hulle ellende al hoe erger. En so vererger hulle geestelik hongersnood. Dit raak al hoe donkerder. Hopeloosheid neem toe. En hoe blinder hulle raak, hoe minder waarheid begryp hulle. Dis 'n bose kringloop!

# Eerstens, Godsdiens-vermenging. Hulle "sweer by die skuld van Samaria" (14a, OAV).
Bes moontlik sê Amos dat aanbidding van Asima deel van Israel se godsdiens geword het (2Kon 17:30). In Hebreeus het die woord "sonde" of "skuld" presies dieselfde konsonante as hierdie afgod se naam (klassieke Hebreeus het nie klinkers gehad nie). Dit kan dus ook vertaal word: "sweer by Asima van Samaria" (sien NIV voetnota).
Godsdiens-sinkretisme is om iets uit elkeen van 'n klomp godsdienste te vat en daarvan 'n nuwe konkoksie te maak. Israel het steeds daarop aanspraak gemaak dat hulle Jahweh aanbid, maar hulle het ook 'n klomp afgode bygesleep.
God is egter heilig en jaloers. Wie Hóm waarlik wil aanbid, moet Hom alléén aanbid. Hieroor sal Hy nóóit enige toegewing maak nie.

# Godsdiens-verdraaing en -misbruik. Hulle sê: "So waar as jou god leef, o Dan" (14b, OAV).
Volgens 1Kon 12:26-29 het Jerobeam, koning van Israel, lank tevore kalwerbeelde opgerig by Bet-El en Dan - om die volk daarvan te weerhou om in Jerusalem (in die suidelike tweestammeryk) te gaan aanbid. So word die godsdiens in diens van die politiek gestel - want Jerobeam was kennelik bang dat die volk weer tot Juda aangetrokke sou raak. Van God word dus 'n middel tot 'n doel gemaak. Dis verdraaiing van aanbidding vir eie gewin. Die Woord is egter duidelik: jy aanbid God vir wie en wat Hy is - soos Hy Hom aan ons geopenbaar het - of jy los dit. God sal Homself nooit laat misbruik vir menslike of wêreldse gewin nie!

# Bygeloof en afgodery. Hulle sweer: "So waar as die weg van Beséba leef" (14c, OAV).
Berseba was een van die aanbiddingsplekke van Israel. Die reis daarheen was lank, duur en vol ontbering. Hierin het hulle oënskynlik godsdienstige meriete gesien. Meer nog, onderweg was daar waarskynlik ook 'n klomp offerhoogtes (2Kon 23:8).
Nou word ede by hierdie pad afgelê. Daar word 'n amperse goddelike gesag aan hierdie pad toegesê - om in te staan vir die waarheid van die godsdienstige beloftes wat hulle kamtig maak. Wat is dit anders as bygeloof en afgodery?

Jongmense is die slagoffers (13)

# Dis onduidelik uit die oorspronklike teks of dit die jongmense is wat skuldig is aan die dwalinge van v.14 (OAV, NAV), en of v.13 alleen 'n stelling is oor die jongmense en v.14 in die algemeen praat oor die hele volk (NIV, NASB). Waarskynlik is laasgenoemde die korrekte.
Hoe ook al, dit is gewoonlik in elk geval die jongmense wat ergste getref word deur algemene geloofsafval. Dis hulle wat meer as enigiemand anders "van dors beswyk" (13). Daarom, as God 'n samelewing oorgee aan sy sonde (Rm 1:24, 26, 28), as Hy Sy genade terugtrek in 'n gemeenskap, sien jy dit altyd eerste in die jongmense.

* Daar is verskeie redes voor. Enersyds volg baie jongmense hulle ouers blindelings. Andersyds is hulle tog ook soekers na egtheid en realiteit. En daarbenewens eksperimenteer hulle graag met nuwe dinge. Dit maak hulle baie vatbaar vir misleiding. Omdat hulle onervare, naïef en onwys is, het hulle min onderskeidingsvermoë en val hulle maklik vir enige nuwe foefie - ook in die kerk.

* Dis egter so dat godsdienstige verval altyd op 'n manier gewortel is in die ontrou van vorige geslagte - natuurlik sonder opheffing van die jongste geslag se skuld. En, tensy die Here ingryp, is dit altyd 'n bose kringloop; dit ontaard van kwaad tot erger. Die jongmense van wie Amos hier praat, was die ouers en grootouers van diegene wat 'n ruk later in die Assiriese ballingskap weggevoer is.

❏ Ek en jy dra 'n enorme verantwoordelikheid vir ons nageslag! Die kerk wat ons kinders en kleinkinders op die weg van waarheid en saligheid moet lei, word vandag gevorm.

Ten slotte

# Hoe bewerkstellig die Here 'n waarheids-hongersnood soos hierdie? Die geskiedenis leer ons dat Hy meer as een manier gebruik.

* Soms word die Bybel gewoon weggeneem.
Dit het al gebeur dat die spreektaal van mense geleidelik verander, sonder dat nuwe vertalings gemaak word. So moes die gewone mense van die middeleeue (en talle daarna, tot baie onlangs) met die Latynse Vulgaat worstel - 'n taal wat vorige geslagte wel goed kon praat. Een van die vrugte van die sestiende eeuse Reformasie was die nuwe vertalings van die Bybel wat oraloor ontspring het.
Ander kere verbied onderdrukkende regerings die druk, verspreiding en selfs besit van die Bybel. Die Kommunisme van die twintigste eeu was veral hieraan skuldig.

* Soms steel die teologie die Bybel by die kerkvolk. Die gesag en betroubaarheid van God se Woord word al hoe meer verdag gemaak deur ongeloofsteoloë wat 'n sug daarna het om iets nuuts te sê. So word mense se geloof ondergrawe, en mettertyd is hulle onkundig, verward, suspisieus, selfs skepties, oor enigiets wat hulle in die Woord lees. As dit eers waar is van jou, kan jy 'n rak vol Bybels hê, maar tog van geestelike honger vergaan.

* As die Here hierdie verskriklike straf stuur, hou Hy feitlik ook altyd op om waarheidspredikers te gee (onthou, wat ons hier beskryf, is Sy oordele oor die sonde van 'n samelewing). Wat Ef 4:8-16 beskryf, gebeur net eenvoudig nie. En sonder voortgaande prediking - Woordgefundeerde, Godgesentreerde en Christusgefokusde prediking - bly daar vir 'n kerk en van 'n kerk niks oor nie.

* Mense verloor hulle aptyt vir ware waarheid. Let op, hulle bly steeds soekers en sal enigiets beproef. Tewens, sonder geestelike realiteit verdroog die mens en sal hy algaande wanhopig met die mees absurde dinge eksperimenteer. Maar soos Israel van ouds, sal hulle weier om dit naby "Jerusalem" te waag - daar waar ware waarheid alleen te vinde is.

# Kyk na ons situasie vandag. Baie mense is steeds baie religieus. Maar vir sovele is enigiets aanvaarbaar, behalwe Christus Jesus, die enigste en allerantwoord - die weg, die waarheid en die lewe.
En jy, is jy 'n getroue Jerusalem-ganger?
Nico van der Walt

E-PREEK No.1 - LK 12:1-59 : DIE LES VAN DIE RYK DWAAS

Dan spreek Hy 'n kwelvraag aan wat in baie van Sy luisteraars leef: ons durf nie teen die Fariseërs en die godsdienstige sisteem draai nie - ons sal vervolg word. En hierdie godsdiensleiers se onverdraagsaamheid teenoor jukskeibrekers blyk duidelik uit hulle latere hantering van Jesus. Dis waarom die Here dan vanaf v.5 met die mense begin praat oor Sy hemelse Vader se liefdesorg vir mense wat ter wille van Sy Seun vervolg word. En dis hoekom Hy voornemende dissipels waarsku om Hom nie te verloën nie (9-10).
Terwyl die Here Jesus egter besig is met hierdie ernstige lering, val 'n man Hom kru in die rede. In plaas van diep nadenke oor die Here se woorde, is hierdie kêrel met iets heel anders behep: sy en sy broer se getwis oor erfgeld (13).
Jesus ontken nie dat dit 'n ernstige probleem kan wees nie. Maar daarvoor is daar 'n regstelsel. Hierdie man het egter 'n dieper en groter probleem: hebsug! En na aanleiding hiervan vertel Jesus dan die gelykenis. In die proses spreek Hy iets aan wat deur die eeue, maar in die besonder ook vandag, die lewe uit groot dele van die kerk uitwurg en ontelbaar baie kerkmense die ewige saligheid kos.

Die gelykenis in 'n neutedop

'n Ryk man het 'n geweldige oes gehad. Hy het 'n probleem wat meeste mense dikwels wens hulle kan hê: sy skure is te klein. Dan doen hy die voor die hand liggende en bou groot genoeg stoorruimte. Daarmee klaar, sit hy by wyse van spreke vergenoegd agteroor en klop homself op die skouer: "Ou bulperd, uiteindelik het jy genoeg om af te tree. Daar is genoeg om jou oudag sorgeloos tegemoet te gaan. Jy het goed gedoen vir jouself. Nou is dit vir alles waaroor jy nog altyd net gedroom het. Jy het hard gewerk; geniet nou jou lewe!"
Dis waaroor ons samelewing droom, nie waar nie; dis waarvoor miljoene hulleself afsloof.
Maar daardie nag sterf die man onverwags. En hy kan nie 'n sent, nie 'n kriesel, nie 'n rafel saamneem die ewigheid in nie.
Die ergste het egter nog gewag. Niks kan erger wees as God se beoordeling van hom nie: "Jou dwaas!" Bulperd het één lewe en één kans gehad - maar dit verspeel. Al wat nou oorbly, is onuitspreeklike smarte tot in die verste ewigheid.

Waarom is hierdie man 'n dwaas?

Wat is dwaasheid? Dis die weiering om die wêreld om jou te sien en te beoordeel vir wat dit werklik is. Dis om met 'n vals maatstaf te meet; dis om verkeerde prioriteite na te jaag; dis om jouself wys te maak die goeie is sleg en die slegte goed; dis om jouself te bluf.
Hierdie man is 'n dwaas, omdat hy met twee stelle beskouings werk wat baie ver van die waarheid is. En dit gaan nie oor sekondêre sake nie; dit gaan oor sake wat tot in alle ewigheid gewig dra.
Sy beskouing oor besittings slaan die bal op 'n bedenklike wyse totaal mis.
En Sy siening op wat ware lewe is, hou noodlottige gevolge vir hom in.

Wat besittings betref, dwaal hy op 4 maniere

# Eerstens maak hy homself wys dat sy aardse besittings aan hóm behoort - dat hy dus volle seggenskap daaroor het. Dit blyk daaruit dat hy praat van sy oes, sy skure, sy graan, sy goed, sy siel. Maar hy bedrieg homself. In die absolute sin is niks syne nie. Op wie se grond het sy gewasse gedra? Wie het die reën gestuur? Selfs, wie het hom wysheid en vaardigheid en krag gegee? Wat het ons wat ons nie ontvang het nie?
Waarlik, as die Here gee, en as Hy neem, doen Hy dit as soewereine Eienaar - en wie kan dit betwis? Ons is net diensknegte, rentmeesters - uiters bestuurders, in die Here se diens.

# Tweedens maak hy homself wys dat sy besittings noodwendig vir altyd sal hou - in elk geval "vir baie jare" (19). Maar brande breek soms in pakskure uit, aardbewings vernietig huise, aandelebeurse tuimel inmekaar.

# Derdens maak hy homself wys dat sy besittings daar is vir sy plesier - om van hierdie wêreld 'n lekker plek te maak. Maar die Here gee vir ons besittings om daarmee te woeker - in Sý belang, vir Sý eer, Sý evangelie, Sý kerk, Sy armes.

# Vierdens maak hy homself wys dat sy besittings sy siel kan bevredig. Dis immers sy siel wat hy aanspreek as hy dink aan al die lekker wat op hom wag (19). Maar 'n mens se siel kan nie biefstuk eet, of goeie wyn waardeer nie. Die vrede van jou siel is nie afhanklik van goue ringe en syjaponne nie. Adrienalienopwellings het 'n siel nog nooit bevredig nie.

Wat die lewe betref, dwaal hy op 3 maniere

# Wat die lewe hier en nou betref, dink hy net aan 'n liggáámlike bestaan. Al spreek hy sy siel aan, wil hy dit bloot beloon met lyflike bevrediging: rus, eet, drink, plesier. Die innerlike mens en sy geestelike welstand kry geen plek op sy voorkeurlys nie. Maar dis die mens se gees wat eintlik belangrik is. Dís die deel van ons menswees wat onvernietigbaar en blywend is.

# Voorts lewe hy asof hierdie lewe al is wat daar is. Hy leef, soos die Prediker sê, "onder die son." Hy berei homself hoegenaamd nie voor op die hiernamaals nie. Hy vee hom af aan die feit dat daar 'n intieme verband bestaan tussen ons lewe hier, en ons lewe hierna - dat ons lewe nóú bepaal waar en hoe ons die ewigheid gaan deurbring.

# En, derdens, soos dit met almal gaan wat soos hierdie man lewe, weier hy om rekening te hou met die komende dood. As hy van tyd tot tyd daarmee gekonfronteer word, skreeu hy vir homself dat sý heengaan so ver in die toekoms lê dat dit so goed soos nooit sal plaasvind nie.


Om ryk te wees in God

Lees mens die gelykenis oppervlakkig, lyk dit asof Jesus hierin 'n waarskuwing rig, maar niks positief in die plek daarvan stel nie. Maar die trefreël lê in die laaste vers (21). Met hierdie gelykenis plaas die Here 'n onontkombare en radikale keuse voor ons. Dit sny regdeur tot in die hart van ons bestaan. Wil jy skatte vergader, óf wil jy ryk wees in God?
As mens deur al die opsies van hierdie lewe gewaad het, bly daar uiteindelik één groot en finale keuse oor wat jy móét maak: gáán jy vir hierdie wêreld, of gáán jy vir die lewe hierna? En 'n kompromie is nie moontlik nie. Jy gaan óf vir die een, óf vir die ander. Dis wat Jesus sê.
En dis hieroor wat Hy dit het in die res van die hoofstuk. Ons tyd is te beperk om in besonderhede daarna te kyk. 'n Oorsigtelike benadering sal egter ook nuttig wees - om 'n geheelbeeld te kry.

# Eerstens sê Jesus dat Sy dissipels nie bekommerd hoef te wees oor hulle versorging as hulle dit najaag om ryk in God te wees nie (22-34). Dis mos so dat hierdie wêreld se kompensasies amper altyd te doen het met geld en besittings. Sal mens dus nie krepeer as jy nie met alle ywer opgaar nie? Nee, sê Jesus, julle Hemelse Vader sal tot in die fynste besonderhede na julle omsien - mits, natuurlik, julle allesbeheersende gerigtheid die koninkryk van God is (31).
Daarom, sê Jesus, moenie vergader nie, maar wees uitbundige uitdelers (33). Nie alleen is dit die manier om die suigkragte van hierdie wêreld te smoor nie, dis ook 'n wonderlike manier om in die hemel te belê, en dus ryk in God te wees.
Onthou, sê die Here ten slotte, alles gaan oor die gerigtheid van jou hart - en dis 'n onontkombare wetmatigheid: waar jou skat is, sal jou hart wees (34).

# Tweedens, sê die Here, moet ons verstaan dat Hy nie hier van 'n stokperdjie praat nie - iets waaraan mens net nou en dan aandag gee as jy tyd en lus het (35-48). Nee, nee! Hy praat van 'n ywer en 'n afwagting wat elke dag uitkoop vir die eer van die Here en die koms van Sy koninkryk. Dis soos 'n slaaf wat weet sy baas kan enige dag terugkeer, en daarom sorg dat alles dag na dag deur 'n ring getrek kan word. Niks is vir hom belangriker as om sy baas tevrede te stel nie.
Anders as die ryk boer wat nou agteroor wil sit en die lewe geniet, lewe Jesus se dissipels dus met enkelhartige toewyding in die lig van die ewigheid.

# Derdens, hou so 'n lewenstyl en -gerigtheid gewigtige implikasies in (49-53). Dit bring jou in stryd met die mense en waardes van hierdie wêreld. En hierdie sondegevalle wêreld is alles behalwe verdraagsaam teenoor stroomop-lopers - teenoor mense wat 'n appèl op hulle gewetens maak.
Jesus se dissipels moet daarom weet dat die lewe meestal die teenoorgestelde vir hulle sal oplewer as wat die ryk boer met sy groot oes op hoop. Hulle belê immers in die hemel en nie hier op aarde nie.

# Die Here Jesus sluit dan hierdie lewensbelangrike stuk lering in die vierde plek af met 'n verwyt en 'n dringende oproep (54-59).
Waarom is hulle blind vir die belangrikheid van die oomblik? Waarom besef hulle nie dis die langverwagte Messias wat met hulle praat nie? Waarom dring dit nie tot hulle deur dat God se ryk met radikaal nuwe waardes en prioriteite op hulle gedaag het nie? Waarom wil hulle aangaan soos nog altyd? Waarom wil hulle steeds op die tromslag van hierdie gevalle wêreld bly voortmarsjeer?
Kom, roep Jesus die mense op, oordeel self. Is wat Ek sê nie in pas met wat God se Woord nog altyd leer nie? (57). Maak dit nie sin nie? Natuurlik! Natuurlik!
Daarom moet mense dringend besin en nie uitstel om kwaliteitsbesluite te neem nie. Niemand weet hoe lank hy of sy nog het om uit hierdie wêreld se gelid te breek nie. En om in die hiernamaals op te daag sonder 'n belegging in die hemel, is té skrikwekkend om te bedink. Om nakend voor God se regbank te moet verskyn - omdat al jou besittings in die graansuiers van hierdie wêreld lê en verrot - sal erger wees as enigiets wat in hierdie lewe met jou kan gebeur. Uit die tronk van God se oordeel sal jy nooit weer kom nie!
Een woord wat eendag, wanneer ons voor die Here se regterstoel verskyn, weer en weer deur die hofsaal sal eggo, is die vyfletterwoord: Dwaas! Dwaas! Dwaas!
Waarlik, niks, maar niks, is in hierdie oomblik vir jou en my belangriker as om die woord van Koning Jesus glashelder duidelik te hoor, en om daadkragtig daarvolgens te leef nie!