Friday, January 11, 2013

E-PREEK No.19 - HB 2:14-15 - DIE DOOD, 'N OORWONNE VYAND

Doodsvrees is 'n universele ervaring. Job noem dit die koning van die verskrikkinge (18:14, OAV). Net die gedagte daaraan bring ons tot stilstand. Kry ons nuus van 'n bekende se afsterwe, is ons geskok. Praat daaroor in 'n geselskap, en mense raak uiters ongemaklik.
    Meermale praat die Bybel oor die vooruitsig van die dood as sy skaduwee. En inderdaad is dit 'n donkerte wat ons almal moet in  -  binnekort (tensy, die wederkoms in ons leeftyd plaasvind). Wat wag aan die anderkant?
    Wat die dood betref, volg meeste mense 'n volstruistaktiek. Hulle dink nie daaroor nie; hulle praat nie daaroor nie; en as hulle kán, vermy hulle begrafnisse. Maar, natuurlik, dit verander geensins aan die komende realiteit nie.
    Daar is egter ook diegene wat nuuskierig oor die dood is, selfs behep daarmee. Elkeen van hulle het dan 'n eie filosofie daaroor. En dikwels is dit gebou op sogenaamde "wetenskaplike navorsing"  -  wat dan niks anders blyk te wees nie as die getuienisse in die sensasiepers van diegene wat sogenaamd teruggekom het.
    Die feit is eenvoudig: niemand het nog ooit terug gekom nie. Sekerlik is daar diegene wat teruggekeer het uit 'n skyndood. Maar as die elektro-chemiese prosesse in die brein eers opgehou het (so ongeveer 20 minute nadat die hart ophou klop het, verneem ek) kom niemand ooit terug nie.
    Wat wil ek sê? As ons wil weet wat ná die dood met ons gaan gebeur, is ons volkome afhanklik van God se openbaring in Sy Woord!

DIE AARD VAN DIE DOOD

❏    Ons praat van 'n "natuurlike dood" en 'n "onnatuurlike dood". Goed en wel, maar volgens die Skrif is alle menslike dood onnatuurlik! God het die mens geskape om te lewe, nie om te sterf nie. Tog is die dood 'n universele verskynsel. Dis die gevolg van sonde. Die dood is die loon van die sonde  -  en totdat die sonde en sy gevolge iets van die verlede is, sal die dood helaas met ons wees.

❏    Die dood is die beëindiging van die eenheid tussen liggaam en gees. Dis "die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het" (Pred 12:7). Volgens Gn 2:7 het God die mens gevorm van die stof van die aarde, en toe die asem van die lewe in hom ingeblaas  -  en so het die mens 'n lewende wese geword. Dit is híérdie skeppingsdaad wat deur die dood ongedaan gemaak word. As sodanig is dit hoogs onnatuurlik en vreesaanjaends.

DIE TUSSENTOESTAND

❏    Die dood is nie bestaansbeëindiging nie. Ewe min is dit die einde van 'n persoonlike en bewustelike lewe.

❏    Ons noem die bestaan tussen die fisieke dood en die opstanding van die liggaam wanneer die Here Jesus terugkeer, die tussentoestand. Die Skrif sê bloedweinig daaroor. Die apostels het as 't ware dwarsdeur hierdie toestand gekyk en hulle oë op die opstanding vasgenael  -  wanneer diegene in Christus se verlossing tot vervolmaking sal kom. Maar ons kan wel drie stellings met dogmatiese stelligheid oor die tussentoestand maak:

    •    Diegene wat deur 'n ware geloof met Christus verenig is, gaan onmiddellik ná die dood na Hom toe. Waarheen hulle gaan, noem die Bybel die "paradys" (Lk 23:43) en die "hemel" (2Kor 5:1,2).

    •    Gelowiges en ongelowiges het nie dieselfde bestemming nie. Gelowiges gaan na 'n plek van saligheid, en ongelowiges na 'n plek van ellende.

    •    Die tussentoestand is 'n voorlopige interim fase totdat die liggaam en die gees weer verenig word, en ons verlossing finaal afgerond word as die Here Jesus terugkom.

OPSTANDING EN OORDEEL

❏    Beide regverdiges en onregverdiges sal opstaan. "Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling" (Jh 5:28-29; vgl ook Hd 24:14-15).

❏    Die opstanding van die regverdiges word aangrypend beskryf in 1Ts 4:13-18. Die apostel skryf dit sodat ons nie onkundig daaroor sal wees en soos die heidene treur as een van ons geliefdes in Christus heengaan nie.

❏    Wat die opstanding van die onregverdiges betref, skets die Woord van God vir ons 'n skrikwekkende prentjie. Dink jy na oor die uitdrukkings wat die Woord van God gebruik vir die straf waaraan hierdie mense vir ewig onderworpe sal wees, besef jy dat dit voorwaar verskriklik is "om in die hande van die lewende God te val" (Hb 10:31). Vir diesulkes sou dit beter gewees het  -  verreweg beter  -  as hulle ongebore gebly het.

    •    Grimmigheid en toorn; lyding en benoudheid (Rm 2:8-9).

    •    'n Gehuil en gekners van tande (Mt 22:13).

    •    'n Ewige verdoemenis (2Ts 1:9).

    •    'n Brandende oond (Mt 13:42).

    •    Die ewige straf (Mt 25:46).

    •    Die poel van vuur en swael; pyniging tot in ewigheid (Op 20:10, 15).

❏    Laat ek dus met al die dringendheid waaroor ek beskik, vir diegene sê wat nog nie met beslistheid in Christus ingevlug het nie: Onthou, niks is so seker soos die feit van die dood nie; en niks is so onseker as wanneer dit gaan gebeur nie.

HIERDIE LEWE EN DIE EWIGHEID

❏    Die gevalle en ongelowige mens sien die dood as die einde van alles. Die Woord van God hou dit egter vir ons voor as in 'n sin die begin van alles  -  as die oorsteek van die drumpel na die ewige lewe. Dan sal ons oes wat ons in hierdie lewe gesaai het. Dan sal ek en jy 'n duisend maal verintensifeerd hierdie lewe se verhouding (of non-verhouding) met God ervaar. Dan sal ek en jy presies kry wat ons in hierdie lewe gekies het  -  om vir God te lewe, en Sy Christus en Sy eer; of om vir onsself en die kompensasies van hierdie wêreld te lewe.

❏    Wanneer ek my laaste asem sal uitblaas, sal die laaste geleentheid om te kies, finaal verby wees. En God sal tot in ewigheid my keuse respekteer. Al is dit bloot 'n vlietende moment in vergelyking met die ewigheid, bepaal hierdie lewe my ewige bestemming en my ewige staat!

❏    Ons lewe dus in 'n bedeling van keuses  -  en die opsies is steeds oop. Het jy al vir Christus gekies? Ek praat nie van 'n impulsiewe en oppervlakkige gebedjie of 'n vyf minute formuletjie nie. Ek praat van 'n kwaliteitsbesluit  -  een wat die res van jou lewe radikaal en ingrypend sal bepaal.
    Anders gestel: is jy gereed om God te ontmoet?

OORWINNING OOR DIE VREES VIR DIE DOOD

❏    Die Hebreërskrywer sê dat Jesus Christus mense bevry van die vrees vir die dood. Dit is dan ook die ervaring van dermiljoene deur die eeue. Dit gebeur wanneer die Heilige Gees die evangeliewaarheid lewend maak in jou hart. Dit gebeur wanneer jy vernuwe word in jou denke. En soos jy dit dan meer en meer in geloof omhels, word jy stadig, maar seker, uit die moeras van vrees gelig.

❏    Op watter gronde verloor 'n ware Christen sy of haar vrees vir die dood?

    •    Eerstens het Jesus Christus die dood gestroop van sy intimiderende bedreiging.
    Die vrees wat die dood inboesem, berus tot 'n groot mate op die onsekerheid wat dit inhou. Maar waarheid maak vry. Diegene wat in Christus is, ervaar die innerlike getuienis van die Gees dat die evangeliewoord betroubaar is, naamlik dat God se kinders nie 'n onbekende duisternis binnegaan nie, maar dat hulle na die Vaderhuis toe gaan.

    •    Tweedens het Christus die dood gestroop van sy regsaanspraak op my persoon en lewe.
    Ek het in alle opregtheid Sy verdienste in afhanklike geloofsvertroue omhels. En ek het die versekering van Sy algeheel betroubare Woord dat ek geregverdig is, asook die innerlike getuienis van die Gees wat in my roep "Abba, Vader!"

    •    Derdens het Christus die dood gestroop van sy krag om my gevange te hou.
    Met Sy opstanding het Hy beslag gelê op die sleutels van die dood en die doderyk. In Sý opstanding sit die waarborg van die opstanding van húlle wat deur 'n ware geloof met Hom verenig is. Tot so 'n mate is dit waar dat die Skrif sê dat ek reeds saam met Hom opgestaan het (Ef 2:4-6).

    •    Vierdens het Jesus Christus die dood gestroop van sy roem.
    Ja, ons ervaar steeds 'n diep hartseer as 'n geliefde tot sterwe kom. Maar ons weet dat 'n ware Christen se uitgang uit die graf oneindig heerliker is as die ingang daarin. Nie alleen kan die dood my nie vashou nie, dit kan ook nie regkry om my in my huidige gebroke staat te hou nie.

SLOT

❏    Lorraine Boettner gebruik in sy troosryke boek, Immortality, hierdie treffende illustrasie (p.29-30):
    Ek staan op 'n strand. Hier naby my hys 'n pragtige skip sy seile. Dan vaar hy uit na die diepsee. Sy boeg breek golf na golf. So staan ek hom en dophou totdat hy naderhand op die horison soos 'n wit stippeltjie tussen die donkerblou see en die ligblou hemel hang. Dan sê iemand hier langs my: "Hy's weg, hy's weg!"
    Weg? Nee, hy het bloot uit my sig verdwyn. Hy is nog net so groot en mooi. Nee, nee, die weggaan en die verdwyning sit in my, nie in hom nie.
    En net as die man langs my klaar gepraat het, roep iemand opgewonde op 'n verre kus: "Daar kom hy, daar kom hy!" So is dit om te sterf.

❏    Hierdie is 'n baie gepaste illustrasie. Die woord wat in die Nuwe Testament met "heengaan" vertaal word (Fl 1:23; 2Tm 4:6), beteken letterlik om los te maak. En destyds is dit ook gebruik wanneer 'n skip van 'n kaai losgemaak is en sy anker gelig het.

❏    Voorwaar kon Paulus in 1Kor 15:55 namens die Here se dissipels vra: "Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?"

                                                                                                         Nico van der Walt

*    Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.
*    Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115.   E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 011 476 2907; 082  848 9396.
*    Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
*    Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
*    Geen kopiereg.    Dupliseer gerus.    Of stuur elektronies verder.
*    Preekopnames: E: info@nunide.org.za ;  T: 012-808 3906







E-PREEK No.10 - Pred 11:1-6 - DIE HART VAN LEWENSWYSHEID

In hoofstukke 1-10 takel die prediker (feitlik vir seker Salomo) met onbetwisbare logika die lewens- en wêreldbeskouing af van iemand wat net vir hierdie huidige wêreld leef — asof daar nie 'n hiernamaals is nie. Hy praat omtrent 30 keer van die mens wat bloot "onder die son" leef (OAV; NAV: "in hierdie wêreld"), sonder in agneming dat hy eendag aan God verantwoording sal moet doen.
    So 'n lewe is "tevergeefs" (OAV; 36 maal; NAV: dit "kom tot niks"). Dis 'n woord wat dui op 'n asemteug — dis leeg, waardeloos, sinneloos.
    Dan gebruik hy 'n derde uitdrukking oor en oor. So 'n tevergeefse lewe onder die son is 'n "gejaag na wind". Dit bereik absoluut niks nie. Dis 'n gehardloop agter 'n seepbel of 'n lugspieëling aan. Dis sinneloos. Dis futiel.

    •    Dit beteken nie dat die prediker nét swartgallig en sinies is nie. In die loop van hierdie eerste tien hoofstukke hou hy darem hier en daar die leser se hoop lewend met kort brokkies lig (bv. 2:24-26; 5:17-19). Dan kry ons sy ontknoping in hoofstukke 11-12. En les bes kry ons sy trefreël in die heel laaste twee verse van die boek (12:13-14).

    •    Ons kyk dus nou na die heel eerste gedeelte van die prediker se ontknoping. Nóú is hy vir 'n slag positief. Nóú sê hy hoe ons moet leef om sin en betekenis in hierdie lewe te vind.

DIE BASIESE SLEUTEL TOT LEWENSIN

Die beeld wat in 11:1 gebruik word — "werp jou brood op die water" — is destyds goed verstaan.
    Die Hebreeuse woord wat met "brood" vertaal word, kan ook dui op saadkoring (Jes 28:28: "broodkoring", OAV). Waarop hierdie beeld dan sinspeel, is die gebruik om koring in byvoorbeeld die Nyldelta te saai wanneer die vloedwaters na die reëntyd begin sak. Die saad land dan in die vlak en stilstaande water, sak af tot in die slik op die bodem, en word dan algaande met verdere slik bedek soos die water heeltemal wegsak. As die waters weg is, groei die saad natuurlik en lewer wonderlike vrug.

    •    Die beeld praat daarom van 'n handeling met die oog op vrug mettertyd. En dis noodwendig iets wat jy in die geloof doen. Jy glo dat dit wat jy nou onherroeplik weggooi, sal terugkom as volgende jaar se brood. Wat die prediker dus wil tuisbring, is dat daar maar één manier is om sin te maak van ons bestaan hier en nou: om in die geloof te leef dat dit wat jy nou saai, eendag sy opbrengs sal lewer.

    •    Net só 'n lewensinstelling bring sin in die oënskynlik koerslose geharwar wat ons "hierdie lewe" noem. Haal geloof daar uit, en al wat jy sien, is die futiliteit van hoofstukke 1-10.
    Wat is ál wat 'n mens sien as jy nie met 'n geloofsoog kyk nie? Tye, seisoene en lewenssiklusse wat sonder ophou roteer (1:4vv). Onbeheerbare omstandighede wat die geskiedenis na willekeur stuur (3:1vv; 9:11vv). Die dood vir almal, sonder dat dit enige verband hou met hoe mens geleef het, goed of sleg (7:15; 8:8). Mense wat soos diere sterf — baie dikwels goeies soos slegtes en wyses soos dwase (2:14, 17; 9:2vv). Boosheid wat ongebreideld amok maak (3:16; 4:1; 5:8; 8:11; 9:3). Slegte mense wat suksesvol is, en goeie mense wat teëspoed kry (8:14).
    Niemand kan dus kop of stert uitmaak van wat aan die gang is nie. Die ongelowige wat bloot "onder die son" leef, kan tot geen ander gevolgtrekking kom nie: dit móét die god van toeval wees wat so regeer — vir seker nie 'n algoeie en alwyse God wat dit wat reg is beloon en dit wat sleg is straf nie!

ONS DILEMMA: 'N VERSKUILDE GOD

Waarom praat die Bybel so dikwels oor geloof? Waarom is dit vir die Here so belangrik dat ons Hom in die geloof dien. Waarom bly daar eenvoudig niks oor nie as jy geloof uit ons Christenskap haal? Waarom kan jy sonder geloof tot geen ander gevolgtrekking kom nie as dat alles futiel is?
    Sekerlik is daar meer as een rede — maar dalk is die grootste enkele rede die feit dat ons God nie sintuiglik kan waarneem nie. Hy leef eenvoudig in ander dimensies as ons. Hy is die Deus Absconditus — die verskuilde God.
    Die bietjie wat ons van Hom weet, moet ons uit die skepping aflei — en uit dit wat in die Bybel staan. En hierop moet ek my hele lewe bou, hiermee moet ek die ewigheid in.
    Nie baie mense sien hiervoor kans nie!
    Wat 'n dilemma sit ons nie in nie! Óf ek leef bloot met wat ek kan sien, voel, hoor, proe en ruik — en verval in die uitsiglose waansin van sinloosheid. Óf ek aanvaar dat daar tog 'n Hoërhand is wat uiteindelik sin en orde en geregtigheid sal skep uit die chaos van die lewe "onder die son." Maar hieraan kan ek net in die geloof vashou!

WARE WYSHEID

Dít is wat die prediker by ons wil tuisbring: omdat ons 'n verskuilde God het, moet ons in die geloof leef. Ons moet vrede maak met die feit dat God besig is om 'n nuwe skepping te bou uit die asse van 'n gevalle wêreld. En as alles so sinneloos, koersloos en onregverdig lyk, moet ons onthou dat konstruksieterreine altyd chaoties voorkom. Net as jy 'n geloofsbril dra, bly dinge in fokus. Die oomblik as jy hom afhaal, verwring en verdof alles.
    Kyk hoe stel die prediker dit. Só lyk 'n lewe van geloof. Só saai mens met die oog op 'n opbrengs.

    •    V.5: Maak eens en vir altyd vrede daarmee dat daar 'n duisend dinge is wat jy nooit sal verstaan nie. Allermins sal jy alles verstaan wat God doen.

    •    V.2 (OAV): Hou op tob en watertrap. Begin voluit leef in die vertroue dat God regverdig is en dat Sy geregtigheid tog uiteindelik sal seëvier.
    Daarom, lewe 'n lewe van uitdeling. Wat jy ook al het, gee net — en hou aan daarmee. Gee tot op sewe — die volheidsgetal. Dus nie afknypgawetjies nie, maar voluit. En as jy dan alles gegee het, steek deur na agt toe. Gee ekstra, gee meer as voluit. Stap die tweede myl saam.
    Wees dus 'n uitdeler sonder weerga! Wees 'n voetwasser; wees 'n dienskneg. Lê jou lewe neer vir jou naaste volgens die wil van die Here.
    En moenie uitstel nie, want onheil kom onverwags. Môre, oormôre, is jy nie meer in staat tot die dinge wat die Regverdige eendag sal beloon nie.

    •    V.3-4: Moenie uitstel en gedurig huiwer nie. 'n Boer wat heeldag die wolke dophou, kom nooit tot ploeg en plant nie. As dit dan wel kom reën, dan loop die water doelloos weg.
    En as 'n boom val, is dit sinneloos om te wens hy het eerder anderkant toe getuimel. Die feit is — hy het nie. En hy sal lê waar hy lê. Tob oor alles wat kon gewees het, en jy bly op een plek rondmaal. Los jou gedurige "waaroms" en "as maar nets".

    •    V.6: Daarom, kyk jou verantwoordelikhede vierkantig in die oë. Doen wat jy moet. Leef op die voorvoet. En laat dit waaroor jy geen beheer het nie by God — in die geloof.

WAT SÊ DIT VIR ONS?

1.    Daar is eenvoudig nie 'n ander pad as die pad van geloof nie — geloof in Jesus Christus.
Het jy ook al partykeer die gevoel gekry dis malligheid om jou alles — jou lewe, jou toekoms, jou ewigheid — te laat hang aan jou oortuiging dat 'n Man tweeduisend jaar gelede aan 'n kruis gesterf het en toe uit die dood opgestaan het?
    Maar presies net dit is rasegte Christenskap! Dit gaan alles oor afhanklike geloof in Christus — as God se groot Profeet, Priester en Koning.
    Geloofsvertroue in alles wat Hy is en doen — en in Hom alleen — is regtig al opsie wat ek het. Laat ek Hom los, tuimel ek onmiddellik in die waansin van sinloosheid in. In 'n sin, dit moet ek beken, is ek 'n Christen omdat niks anders in hierdie lewe sin maak nie. Alle ander alternatiewe is, soos Oom John Vorster gesê het, "too ghastly to contemplate"!
    En selfs al leef ek vir die ewigheid, is elkeen van hierdie wêreld se godsdienste ondenkbaar as alternatief. Té diep is ek oortuig van my sondigheid, gebrokenheid en onvolmaaktheid, om te dink dat ek self teen 'n leer van moraliteit en seremonies na 'n heilige God toe kan opklim. Geloof in Christus is al wat oorbly! Net Hý bewaar my van waansin!

2.    Die geloofspad is egter nie irrasioneel nie.
Dink aan die geïntegreerdheid en konsekwentheid van die Bybelboodskap. Dit ten spyte van ses-en-sestig boeke deur 'n stuk of veertig skrywers van uiteenlopende agtergronde wat oor 'n millennium en 'n half skryf! Dis omdat die Bybel eintlik net één Skrywer het — God die Heilige Gees.
    Dink aan al die Bybeluitsprake wat sonder twyfel histories wáár is. Dosyne Ou Testamentiese  profesieë oor Christus is in die fynste besonderhede in Hom vervul. Jesaja 53 is eeue voor Sy koms geskryf! Daarbenewens toon argeologiese ontdekkings in honderde gevalle die verstommende historiese akkuraatheid van die Bybel.
    Dink aan die verryking wat die Bybel vir jou gebring het. Op ons intellektuele en filosofiese vrae bied dit weer en weer lig. Die norme en riglyne daarvan lei tot 'n lewe van sin en uitnemendheid, terwyl dit soos klokslag op katastrofe uitloop as mens daarvan afwyk. En, kosbaarste van alles, dit gee vir ons die allerantwoord op die vraag hoe 'n skepsel regverdig voor sy Maker kan staan.
    Dink aan die positiewe effekte wat 'n lewe van gehoorsaamheid aan God vir jou gebring het. Lei die Bybelse ordes nie altyd weer tot voorspoed nie — geestelik, emosioneel, moreel en materieel?
    En dit geld nie net individue nie. Tot die mate wat 'n samelewing die Bybelboodskap gelowig omhels, tot daardie mate veredel dit so 'n samelewing. En tot die mate wat die Bybel oorboord gegooi word, tot daardie mate tree verval en verrotting soos klokslag in.
    Meer nog, deur die eeue kon geen aanslag ooit diepgaande Bybelse oortuigings in gelowiges onderploeg nie. Tewens, hoe feller die vervolging, hoe kragtiger word die kerk. Daarenteen bly geen twyfelaar in tye van aanslag staan nie.

3.    Laat ons die Drie-enige God al die eer gee vir die feit dat ons glo.
My en jou geloof is die werk van God die Heilige Gees. Dis gebaseer op die Seun se volmaakte middelaarswerk in my plek. En dit vloei voort vanuit die Vader se uitverkiesende inisiatiefneming.

SLOT

Psalm 126:5-6: "Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra."

                                                                                                            Nico van der Walt

*    Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.

*    Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115.  

E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 011 476 2907; 082  848 9396.

*    Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)

*    Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.

*    Geen kopiereg.    Dupliseer gerus.    Of stuur elektronies verder.

*    Preekopnames: E: info@nunide.org.za ;  T: 012-808 3906


Wednesday, January 9, 2013

E-PREEK No240 - MK 10:17-31 - JOU AFGOD OF JOU LEWE [1]

Die Here Jesus se ontmoeting met die ryk jongman kom in al drie sinoptiese evangelies voor: Mt 19; Mk 10 en Lk 18.
    Hierdie jongman toon wonderlike Koninkrykspotensiaal: Hy is ywerig  -  hy hardloop na Jesus toe. Hy is nederig  -  hy val op sy knieë. Hy is moedig  -  hy kom nie in die donker soos Nikodemus nie. Hy is "geestelik"  -  hy verlang oënskynlik opreg na die ewige lewe. Hy is moreel  -  hy probeer met toewyding van kleins af die Wet onderhou.
    Hier het ons dus 'n model van 'n jongman. Voor ons sien ons leierskapmateriaal, 'n trofee vir elke gemeente.
    En hy is 'n evangelis se droom. Enige hedendaagse sielewenner sou binne minute van hom 'n Christen kon maak. Hoe lank vat dit immers om 'n kort sondaarsgebed te herhaal?
    Maar Jesus laat hom tussen Sy vingers deurglip! Waarlik, hier is lesse wat ons nie moet miskyk nie.

Die evangelie begin by God

Die eerste sleutel is in v.18. Jesus stel die jongman dadelik voor God. Voor mens oor die ewige lewe kan praat, sê Hy effektief vir hom, moet jy eers rekening hou met die algoeie en heilige God en alles wat dit impliseer.
     Die evangelie begin met God. Dit kan slegs na behore verstaan word as mens die skitterglans van Sy volmaaktheid en die tragedie van menslike verdorwenheid teenoor mekaar stel.
    Mense het baie probleme. Maar die oomblik as jy God sien, raak jy in 'n oogwink daarvan ontslae. Dan besef jy hoe gering en tydelik dit alles is.
    Maar onmiddellik kry jy 'n nuwe las, duisend maal swaarder  -  die las van die ewigheid en ons aanspreeklikheid voor God.
    Al wat hierdie las kan verlig, is die evangelie en jou omhelsing van Christus.
    As jy nie eers die las van God se geregtigheid, enersyds, en jou doemwaardigheid, andersyds, ervaar het nie, bly Christus vir jou bloot van akademiese belang. Reddende geloof is immers wesentlik iets anders as 'n bloot intellektuele opinie oor God. Ja, geloof begin met kennis en oortuiging, maar word afgerond deur 'n desperate en persoonlike vlugtog in Christus in.
    Vir te veel goeie kerkmense is God beswaarlik meer as 'n welwillende en saghartige oupa.
    Ja, duisend maal, ja   -  Hy is 'n barmhartige God van vergiffenis en genade. Maar Hy is ook 'n God van heiligheid en geregtigheid.
    Onthou, en vergeet dit nooit nie, as jy 'n denkbeeldige God dien, sal jy tevrede moet wees met 'n denkbeeldige redding.

Die wet  -  'n kragtige stuk gereedskap in Jesus se evangelisering

Die volgende sleutel kry ons in v.19-21. Vir die meeste hedendaagse evangeliste is dit 'n baie vreemde verwikkeling in hierdie stukkie geskiedenis.     Mens sou verwag dat Jesus sal begin praat oor regverdiging deur geloof alleen, en dat jy Hom as persoonlike Saligmaker moet aanneem.
    Nee! Maar van alle dinge praat Hy oor die wet!
    Twee maal lees ons in die evangelies dat iemand Jesus kom vra hoe mens die ewige lewe kan beërf. Ook 'n wetgeleerde vra die vraag  -  wat dan tot die gelykenis van die  barmhartige Samaritaan lei (Lk 10:25).
    Dis uiters betekenisvol: in beide gevalle vat Jesus die vraagsteller na die wet toe. Waarom? Die Skrif antwoord ons: "Deur die wet leer 'n mens wat sonde is" (Rm 3:20). "Sonde is immers oortreding van die wet" (1Jh 3:4).
    Wat sê dit vir ons? Sonde is inhoudloos sonder God se wet. En verstaan jy sonde nie, verstaan jy ook nie die kruis nie  -  en daarom ook nie die evangelie nie, want redding is vir die desperates en slegs vir hulle (Mt 5:3).
    Té dikwels is die hedendaagse aanbieding van die evangelie mensgesentreerd. Die verlossingsplan word aangebied as ten diepste ter wille van die mens. "Kom na Jesus toe  -  Hy brand om jou behoeftes te vervul!" Natuurlik ervaar gelowiges God se goedheid, maar in die reddingsplan gaan dit ten diepste oor Hom en Sy eer. En voordat 'n mens dit nie verstaan nie, ontgroei jy nooit jou doeke nie. En jy loop 'n wesentlike kans om op jou geloofspad  -  as ons dit so mag noem  -  te verdwaal.
    In 'n neutedop: die wet toon mens jou sonde. En tot die mate wat jy jou sonde sien, tot daardie mate sien jy jouself as van God vervreemd.
    Wanneer dit met jou gebeur, lei dit dikwels eers tot 'n periode van godsdienstige inspanning en vroomheid. Maar as jy begenadig word en omdat niemand die wet sonder God se genade naastenby kan uitleef nie, lei dit mettertyd al hoe meer tot wanhoop. Algaande maak dit van jou 'n bedelaar om God se genade. En só kwalifiseer dit jou vir die koninkryk van God. En uiteindelik wys die Heilige Gees jou dan Jesus Christus die Gekruisigde.
    Die ryk jongman het egter 'n baie oppervlakkige siening van die wet: "dit alles het ek van my kinderdae af nagekom." (Mk 10:20). Daarom vind die Here dit nodig om die wet toe te pas. En in die proses skiet hy op die man se Achilleshiel. Hy gebruik die tiende gebod. Want die man is baie materialisties. "Gaan verkoop alles ... en gee ... vir die armes!"
    Dit kan die ryke nie hanteer nie. Hy draai dan hartseer om, maar nie oor sy sonde nie. Hy sien nie kans om van sy besittings afstand te doen nie. Hy is nog nie gereed vir die koninkryk nie.
    Let  wel, die Here hardloop nie agter die man aan nie. Miskien sal die ploeg van die lewe hom gereed maak vir 'n volgende keer. Jesus laat hom met ander woorde rustig oor aan die oortuigingswerk van die Gees en die wet. Só word gou-gou 'n einde gemaak aan selfvoldaanheid en selfregverdiging en rasionalisering.

'n Oproep tot bekering

Kom ons keer net vinnig terug na wat die Here vir die jongman sê. As hy alles verkoop het en die geld weggegee het, moet hy terugkom en Jesus begin volg.
    Wat Jesus dus vir hom sê, is dit: Jy vra My hoe om by die ewige lewe uit te kom? Ek is die enigste pad en die enigste gids. Kom val by My in. Maar van die afgode wat jou nog vashou moet jy eers ontslae raak.
    Weer en weer spel die Here Jesus die voorwaardes vir egte dissipelskap uit. Hy doen dit nie in fyndruk nie. Inteendeel, Hy doen dit openlik en reguit: verloën jouself, neem jou kruis op, en volg My.
    God se genade is gratis; maar dis nooit goedkoop nie. 'n Mens neem Hom tevergeefs aan as jy Hom net as Verlosser wil hê, maar jou nie volkome aan Sy koningskap onderwerp nie.
    Dit kom dus hierop neer: onderwerp jou aan die Here Jesus se voorwaardes en órdes, of gaan terug en geniet jou lewe voluit. Daar wag immers 'n baie, baie lang ewigheid.
    Waarom sukkel soveel goeie kerkmense om te verstaan dat diepgaande bekering 'n ononderhandelbare Bybelse noodsaaklikheid is. Bekering red nie, maar daarsonder is daar geen redding nie. Die koninkryk van die hemele is steeds 'n skat in die saailand waarvoor jy alles moet verkoop om dit in besit te kry.

'n Oproep tot navolging

Hierna is reeds heelwat verwys, maar dis nodig om dit spesifiek uit te lig. As 'n negatiewe wegdraai van sonde noodsaaklik is vir egte Christenskap, is 'n positiewe heendraai na en navolging van Christus ewe onmisbaar. Dis twee kante van dieselfde munt. Die een kan nie sonder die ander nie. Luister wat skryf Johannes: "Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het" (1Jh 2:6).
    Waartoe roep Jesus hierdie man en elkeen van ons? Kom, sê Hy, gee My jou hart, emosies, verstand en liggaam  -  jou hele lewe. Gee My jou lojaliteite, jou energie, jou toewyding, jou drome, jou ambisies, jou potensiaal. Gee My jou besittings, jou geleerdheid, jou gawes, jou verlede en jou toekoms. Kom dan, dien My onvoorwaardelik. En Ek sal jou verliese honderdvoudig kompenseer. En daarbenewens sal jy die ewige lewe kry (29-31).
    Wat 'n opwindende uitnodiging! Wat 'n skrikwekkende opdrag!
    Elkeen van ons gaan eendag voor die Regterstoel van die Allerhoogste staan. Volgens die Bybel sal die Regter nie bloot konsentreer op my regte verstaan van en geloof in die waarheid nie  -  noodsaaklik soos dit is. Nee, dit sal uiteindelik gaan oor die uitlewing van Sy opdragte! Onder die loep sal geneem word my gehoorsaamheid terwyl ek in hierdie lewe was. Ons gaan volgens ons werke geoordeel word! (Mt 16:27; 25:31-46; Rm 2:5-11; 2Kor 5:10; Op 19:8; 20:12-13; 22:12-15).
    Maklik en dikwels word so erg oorreageer teen die dodelike dwaling van redding deur werke, dat in die slagyster van die ewe bedenklike kettery van redding sonder werke getrap word!
    Besef ons hoe belangrik hierdie saak is? Navolging van Christus is ononderhandelbaar!
    Destyds kon die Here Jesus nie dubbelhartiges verduur nie. Waarom sou dit nou anders wees? Hy spoeg steeds die louwarmes uit (Op 3:15-16).
    Nie een van ons het die gesag om Sy standaarde te verlaag nie. Tog word dit so dikwels gedoen. Die ryk jongman sou hom gemaklik kon tuismaak in feitlik elke gemeente van ons dag  -  en spoedig sou hy dalk nog in die kerkraad ook gedien het.
    Maar Jesus Christus kan ons nie kry nie  -  tensy ons die wêreld versaak.
    Iemand het Jesus gevra: "Sal min gered word?" (Lk 13:23vv). Wat antwoord Hy? "Span al jul kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie."
    Sonder vrees vir teëspraak kan mens sê dat baie min kerkgangers afsydig staan teenoor hul ewige lot. Maar dit beteken nie dat hulle sonder meer gered is nie. Want benewens hulle wat gered is, en hulle wat duidelik ongered is, is daar 'n derde kategorie  -  'n baie groot kategorie. Dit is die "baie" wat sal probeer ingaan, maar dit nie regkry nie, sê die Here Jesus hier.
    Here, gee my tog genade op genade sodat ek nie verkleefd aan my besittings sal wees nie, sodat ek ware barmhartigheid sal betoon, sodat ek my sal bekeer van elke sonde waarvan ek bewus raak, sodat ek getrou in U voetspore sal volg, sodat ook ek eendag die koninkryk sal beërf!

                                                                                                              Nico van der Walt

*    Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.
*    Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115.   E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 011 476 2907; 082  848 9396.
*    Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
*    Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
*    Geen kopiereg.    Dupliseer gerus.    Of stuur elektronies verder.
*    Preekopnames: E: info@nunide.org.za ;  T: 012-808 3906

E-PREEK No.241 - LK 18:18-30 - JOU AFGOD OF JOU LEWE [2]

Laas het ons gekonsentreer op v.18-23 ‒ op Jesus se hantering van hierdie ryk jongman en op die implikasies daarvan vir ons evangelisering. Kom ons kyk nou na die afloop van hierdie ontmoeting en wat dit prakties vir ons inhou (24vv).
    Die ryk jongman is nou weg, en nou is dit 'n gesprek tussen die Here Jesus en Sy dissipels.
    Jesus sê weliswaar hier dat dit baie moeilik is vir 'n ryk man om die koninkryk in te gaan. Maar Hy kon net sowel gepraat het van 'n bitter en onvergewensgesinde persoon ‒ of van 'n egbreker en wellustige, of van 'n ongehoorsame kind, of van 'n oneerlike en 'n leuenaar. Hier gaan dit spesifiek oor hebsug, maar dit geld vir enige sonde.

DIE KAMEEL EN DIE NAALD
Nou gaan die Here voort om te beklemtoon hóé moeilik dit vir 'n ryk man is om gered te word. 'n Kameel gaan makliker deur die oog van 'n naald!
    Deur die eeue was daar meer as een poging om hierdie verskriklike stelling van Jesus af te water. Die algemeenste afwatering is waarskynlik die teorie dat die Here hier praat van 'n veel kleiner hekkie in die massiewe stadspoorte waardeur 'n mens met gemak kon in en uit, maar wat so klein was dat 'n kameel net op sy knieë daar kon deur. Die dissipels het Jesus egter letterlik verstaan. Daarom vra hulle: "wie kan dan gered word?" Dit kan hulle wel vra, want as die Here dan inderdaad 'n letterlike naald en sy oog bedoel, praat Hy van iets wat algeheel onmoontlik is. Daar is egter een, en net een moontlikheid: die almagtige God moet dit doen!

'N HEERLIKE BELOFTE
Waarskynlik verstaan die dissipels bloedweinig van wat Jesus presies bedoel, maar hulle aanvaar Sy versekering. En dan dink hulle met groot verligting daaraan dat húlle ten minste al hulle besittings agter gelaat het, al was dit nie veel nie.
    Hoewel Jesus nie direk op hulle aanspraak reageer nie, erken Hy per implikasie dat hulle reg is. Want Hy gee in respons vir hulle een van die die wonderlikste en rykste beloftes in die Skrif.
     Dis betekenisvol dat Jesus nou nie meer net van besittings praat nie, maar veral van dierbares wat agter gelaat word. Die implikasie is duidelik: dit gaan oor meer as materiële besittings. Enige opregte opoffering ter wille van die Here, Sy evangelie (Mk 10:29), Sy koninkryk en Sy eer, sal ryklik beloën word.
    Daar sit groot troos in hierdie belofte. In hierdie lewe reeds sal dissipels baie keer soveel terug ontvang. Die dividende is uitmuntend! Honderdvoudig ‒ met ander woorde baie, baie meer! (Mt, Mk). En dis nie iets totaals anders as wat hulle opgegee het nie. Volgens Markus is die kompensasie dieselfde soort dinge as dit wat hulle agter gelaat het ‒ indien nie identies dieselfde nie, ten minste soortgelyk.
    Om alles te kroon sal die loon tot sy hoogtepunt kom in die ontvangs van die ewige lewe. Kan die prysgawe van enigiets hierteen opweeg? Wat kan belangriker wees as die ewige lewe? Wat kan meer waterdigte sin maak as Jesus se oproep om jou hand af te kap of jou oog uit te ruk as dit dreig om jou die ewige lewe te kos? (Mt 18:8-9). Want daar is niks, maar niks hoër of belangriker as die ewige lewe nie!
    Hierdie wonderlike belofte hou egter één verrassing in: saam met al die heerlikhede kom ook vervolging! (Mk 10:30). Terwyl die dinge wat ons opgee op 'n manier na ons toe sal terugkom, selfs honderdvoudig, is dit nie 'n geval van quid pro quo nie. Dis nie tit for tat nie. Dis nie 'n transaksie nie. Ek het geen aanspraak op die Here se kompensasies nie. Trouens, as dít is waaroor dit vir jou gaan, is jou motiewe nie suiwer genoeg nie.
    Laat ons nooit vergeet nie: die Here Jesus het nooit iemand probeer omkoop om Hom te volg en dien nie. En so is dit tot vandag toe. Jy val agter Hom in op Sy terme, of jy loop jou eie pad. En soos in die geval van die ryk jongman, sal Hy nie agter jou aan hardloop nie. Hy is oor niemand verleë nie!
    Nee, Jesus het nie mense omgekoop om Hom te volg nie ‒ Hy het hulle uitgedaag. Ja, ja, het Hy gesê daar is loon, maar dit gaan jou alles kos om dit in besit te kry. Die koninkryk is nie vir lafhartiges en opportuniste nie. Nee, "bestormers gryp dit met geweld" (Mt 11:12, OAV); "forceful men lay hold of it" (NIV).

WAT SÊ DIT ALLES VIR ONS?
1.    'n Hele morsige lewe van sonde is nie nodig om verlore te gaan nie; nee, 'n enkele, net één, boesemsonde kan jou en my in die ewige verdoemenis laat beland.
Alles dui daarop dat hierdie jongman 'n uitnemende morele lewe gelei het. Dis net dat hy baie lief was vir vir sy goed ‒ só lief dat dit vir hom belangriker was as om Jesus radikaal, enkelhartig en lewenslank te dien. Baie, baie mense is werklik opreg en ernstig bereid om alles op te gee vir Jesus, behalwe één boesemsonde, wat dit ook al mag wees. Dan draai die Here Sy rug op hulle. En wat word dan van hulle in die hiernamaals? Ons lees dat Herodus 'n ontsag vir Johannes die Doper gehad het, sy woorde en vermaninge ernstig opgeneem het, en gereeld in 'n tweestryd was wanneer hy na die prediker geluister het ‒ maar dat hy nie kans gesien het om afstand te doen van Herodias, sy broer se vrou nie. Saam met hierdie vrou is hy, so lyk dit my bo alle twyfel, die ewige verdoemenis in (Mk 6:20).
    Ons is geneig om te dink as ons vroomheid darem net 'n bietjie swaarder weeg as ons verkleefdheid aan die wêreld, sal ons dit maak hemel toe. Maar nee, een lekkasie, net één, is nodig om 'n groot skip te laat sink. Een sonde, net één, waarvan ek my nie wil bekeer nie, kan my my siel kos. Laat ek vlymskerp eerlik met myself wees!
    Let wel, die Bybel sê nie dat mense wat waarlik gered is nie 'n stryd teen sonde sal hê nie. Inteendeel, die Skrif leer dat hulle elke dag in 'n intense en meedoënlose oorlog teen die vlees, die wêreld en die duiwel gewikkel sal wees. Die Bybel leer ook nie dat hulle nie meermale in hierdie stryd die onderspit sal delf nie. Maar wat die Bybel wel leer, is dat hulle die sonde met 'n felle haat sal haat, dit nooit sal goedpraat nie, en hulle nooit bloot sal oorgee aan so 'n sonde nie.

2.    In hierdie verse sien ons die almag van God se genade in Christus.
As dit makliker vir 'n kameel is om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die hemel te kom, is dit inderdaad onmoontlik vir 'n ryk man om gered te word. En presies dieselfde geld vir enige mens met 'n boesemsonde waarvan hy of sy nie kans sien om afstand te doen nie.
    Maar as dit dan vir 'n mens onmoontlik is, is dit wel vir God moontlik om so iemand te red. Dis maklik om te verstaan, sê jy. God is die Regter, en Hy is soewerein. Al wat Hy hoef te doen, is om so iemand kwyt te skeld ‒ om hom of haar oor te sien, om die sonde nie teen hom of haar te hou nie. Wie sal Hom beskuldig as Hy die ewige lewe gee vir wie Hy wil?
    Iets hiervan mag dalk waar wees. Maar heeltemal só eenvoudig is dit vir seker nie, verre daarvandaan. God red niemand ten spyte van sy sonde nie. Hy red niemand in sy sonde nie. Nee, as Hy jou red, gaan dit altyd gepaard met 'n felle haat teen sonde in jou lewe ‒ alle sonde. Sonder uitsondering word dit een van jou grootste begeertes om eens en vir altyd klaar te kry met elke kriesel sonde. Presies dit is waarom jy so 'n onvermoeide stryd voer teen die sonde in jou.
    In die geval van die ryk jongman is sy boesemsonde hebsug. In net die volgende hoofstuk van Lukas lees ons hoe die Here nóg 'n ryk man van hebsug verlos. Ons praat van Saggeus (Lk 19:1-10). Presies hóé dit gebeur het, word nie aan ons geopenbaar nie, maar ons sien hoe hierdie skelm tollenaar totaal strydig met sy persoonlikheid tot nou toe, hom voorneem om restitusie te doen teenoor almal wat hy al in die verlede verneuk het. Nie alleen wil hy dit veel deegliker doen as wat die Ou Testamentiese wet vereis nie (hy wil vierdubbel teruggee); hy wil die helfte van sy goed vir die armes gee.
    As die Here Jesus dan sien dat die doodsgreep van hebsug in Saggeus gebreek is, herken Hy die herskeppende werk van die Heilige Gees in hom  -   redding het gekom; ook hý is 'n kind van Abraham! Siedaar, die kameel is dwarsdeur die naald se oog!
    Sien jy? Al weet ons dat ons deur God se genade alleen gered word, op grond van Christus se verdienste alleen, deur die geloof alleen, neem die Here se redding altyd 'n bepaalde vorm aan. Dit word sigbaar in bekering en 'n standpunt-inname teen die sonde wat tot nou toe jou lewe beheers het.
    Dit beteken egter nie dat hierdie sonde nie meer vir jou gevaar inhou nie. Dis soos 'n slang waarvan jy die rug gebreek het met jou kierie. Bly jy op 'n veilige afstand, is hy magteloos. Maar speel jy met hom, kan hy jou steeds noodlottig pik. Maar mense wat wedergebore is, ervaar so 'n afsku van sonde dat hulle niks meer te doen wil hê nie met daardie sondes waarmee hulle eens so hand om die lyf geloop het.
    Sien jy? Redding kan nie onder 'n maatemmer weggesteek word nie. Sonder uitsondering word dit sigbaar in bekering en heiligmaking.

3.    Die geskiedenis van die ryk jongman en Saggeus leer ons die wonder van God se genade.
Wie kan dan gered word? vra die dissipels. Vir God is alles moontlik, antwoord Jesus. En inderdaad, selfs die opperste bedrieër, Saggeus, word 'n nuwe skepsel.
    Onthou, die Woord vertel ons van baie ryk mense wat kinders van God was: Abraham, Job, Dawid en talle meer. Maar hulle het een en almal die Here enkelhartig gedien. In geen geval was hulle geld en besittings hulle baas nie. Dink maar aan hoe die Skrif hulle vir ons skets. Was hulle rykdom ooit voorop in hulle lewens? Nee, veeleerder was hulle mense wat met beide hande uitgedeel het ‒ omdat die Here hulle harte bevry het van die wurggreep van hebsug, en dit vervang het met 'n allesoorheersende liefdesempatie vir diegene wat gebrek gely het.
    En wat hier vir hebsug geld, geld netso vir enige ander sonde waaraan jy in hierdie oomblik mag dink.
    O, niemand, maar niemand is buite bereik van God se herskeppende genade nie. Geen sonde kan jou vashou as die Here jou eenmaal gegryp het nie.
    Sit jy dus tans nog met 'n doodsonde wat jou magteloos in sy greep het. Maak nie saak wat dit is nie: hebsug, wellus en onsedelikheid, woede en bitterheid, jaloesie, verslawing, luiheid, trots, ongeloof, liefdeloosheid, of wat ook al  -  vat dit nou in nederigheid en eerlikheid na die Here toe. Verootmoedig jou in opregte gebrokenheid voor Hom. Draai jou rug met beslistheid op jou sonde  -  neem standpunt in daarteen. Bely dit sonder om terug te hou. En vra Hom dan om jou te vergewe, en om jou te verlos uit die wurggreep. En Hy sal dit doen, want niks behaag en verheerlik Hom meer as om sondaars te red nie.

                                                                                                       Nico van der Walt

*    Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.
*    Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115.   E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 011 476 2907; 082  848 9396.
*    Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
*    Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
*    Geen kopiereg.    Dupliseer gerus.    Of stuur elektronies verder.
*    Preekopnames: E: info@nunide.org.za ;  T: 012-808 3906

E-PREEK No.238 - RM 13:1-7 - 'N EEUOUE MISTASTING [1]

Dit was sopas weer 16 Desember, oftewel Geloftedag. Kom ons gebruik dus die dag as die haak waaraan ons ons onderwerp ophang. Dit gaan oor hierdie dag, ja, maar onderliggend daaraan is kardinaal belangrike beginsels wat ons goed onder die knie moet hê.

Geloftedag vandag.
Dis 'n dag wat sterk religieus ingeklee en as sodanig tradisioneel hoog geag  word deur baie Afrikaners.
    Op 16 Desember 1838 is 470 Voortrekkers deur duisende Zoeloes by Bloedrivier aangeval. In die geveg is geen Voortrekker dood nie, terwyl meer as 3000 Zoeloekrygers gesneuwel het.
    Vooraf het die Voortrekkers híérdie gelofte afgelê: "Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde, om 'n gelofte aan Hom te doen dat, as Hy ons beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons dié dag en datum elke jaar as dankdag, soos 'n sabbat, sal deurbring en dat ons 'n huis tot Sy eer sal oprig waar dit hom behaag, en dat ons aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer vir oorwinning aan Hom te gee."
    Die Voortrekkers het hulle aan hierdie gelofte gehou. Die kerkgebou wat hulle opgerig het, staan steeds in Pietermaritzburg. En natuurlik het hulle  -  en ek glo meeste van hulle kinders  -  16 Desember daarna elke jaar as 'n Sondag beskou.
    Op hierdie dag dink baie Afrikaners inderdaad met verwondering en dankbaarheid teenoor die Here terug aan daardie dag. En baie van ons is deel van die "opkomende geslagte" waarvan die gelofte praat. Hoe anders kon ons geskiedenis nie verloop het nie!
    Tog is 16 Desember ook 'n dag waaroor uiteenlopende opinies en selfs verwarring in Afrikaner-Christengeledere bestaan. Eenvoudig gestel, is daar diegene wat glo dat álle Afrikaners tot in lengte van dae hierdie dag as 'n sabbat moet onderhou  -  ook die oorgrote meerderheid wie se voorouers nie by Bloedrivier was nie. En dan is daar diegene wat glo dat die gelofte as sodanig geensins op hulle betrekking het nie. Hulle voorouers was nie by Bloedrivier nie, en in elk geval was die gelofte net bindend op daardie 470 mense en miskien 'n paar geslagte wat na hulle gekom het. Ja, hulle sal die Here eer vir Sy soewereine raadsplan, maar van 1838 se gebeure gaan hulle vir seker nie méér maak as van 'n duisend ander lotsbepalende momente in die wêreldwye kerkgeskiedenis nie.

'n Klompie inleidende opmerkings
•    Die verhouding tussen kerk en staat was deur die eeue 'n bron van intense stryd, en een van die mees invloedryke faktore in die vorming van die kerk (en sekerlik die staat) soos ons dit vandag ken.
    Tot vandag toe heers daar baie verwarring in Christengemoedere oor hierdie saak. Spesifiek hier by ons hier in Suid-Afrika was skewe sieninge voor 1994 aan die orde van die dag, en sedertdien gaan die kerke  -  veral onder die Afrikaners  -  deur 'n moeilike identiteitskrisis in hul soeke na hulle plek in 'n nuwe Suid-Afrika.

•    Wat ook al ons oortuigings oor hierdie dag, laat ons eerstens dankbaar wees vir die seëninge van die Here in ons volksverlede. Laat ons soos dit Christene betaam, dankbaar wees vir elke geleentheid om gesamentlik voor die Here bymekaar te kom. En laat ons nie die Here se eer aantas deur broers en susters wat anders as ons oor die saak voel, te minag of kritiseer nie.
   
•    'n Versigtige lees van die gelofte mag dalk die verwarring oplos. Het die Voortrekkers bedoel dat ál hulle nageslagte tot in lengte van dae die gelofte moes hou? Hulle praat immers van hulle "kinders" as mense met wie hulle kon praat. En húlle viering van hierdie dag as Sabbat sou as 'n getuienis vir volgende geslagte dien. Wou hierdie klompie Voortrekkers regtig die gewetens van alle "opkomende geslagte" bind? Ons weet nie vir seker nie, en kan maar net daaroor wonder.

•    En dan, wie is vandag die voortrekkers se nageslag? Wie van ons kan sê dat daar slegs van húlle bloed in ons are vloei? Ék kan byvoorbeeld met sekerheid sê dat ek nie 'n druppel van hulle bloed dra nie. My voorgeslagte  -  soos ek  -  was almal kollonialers.

•    Hoe die Voortrekkers die saak ook al gesien het, is in die finale analise irrelevant. Sekerlik was hulle vroom, opregte en godvresende mense, maar dit beteken nie dat hulle noodwendig skerpsinnige en ingeligte prinsipiële denkers was nie. Ons mag dus nie toelaat dat hulle beskouing ons sonder meer aan die neus rondlei nie. Ons moet self die saak uitmaak en ons lewens volgens ons eie oortuigings inrig. Dít is die benadering wat die Here van 'n nageslag verwag. (Eseg 18:14-18 beskryf die beginsel).

Die verhouding tussen kerk en staat in die geskiedenis
‘n Historiese voëlvlug oor die verhouding tussen kerk en staat klaar baie vrae op.Sakralisme

•    Deur die eeue was daar twee uiterste posisies wat hierdie verhouding betref - en nie een het gehelp om die verwarring op te klaar nie; inteendeel.
    Enersyds het sommige denkers die rolle van kerk en staat in die ordes van God laat oorvleuel en vervloei. Dit lei dan dikwels tot iets van 'n identifisering van kerk en volk - soos in die stelling: "die Afrikaners is 'n Christennasie."
    Andersyds was sommige in 'n oorreaksie teen bogenoemde. Hulle het gevolglik vir 'n radikale skeiding tussen die staat en die kerk betoog - tot so ‘n mate dat dit neergekom het op 'n skeiding tussen die staat en God. Hiervolgens het Christene niks met politiek te doen nie (piëtisme) en die staat heers outonoom met sy gesag gebaseer op die wil van die volk - die vox populi (humanistiese sekularisme).

•    Alle voor-Christelike gemeenskappe was sakraal van aard. Dit is wanneer 'n volk saamgebind word deur ‘n gemeenskaplike religieuse lojaliteit  -  wanneer almal toegewy is aan dieselfde godsdiens.
    Antieke Babilon is 'n voorbeeld hiervan. In Dn 3 lees ons hoe een en elkeen koning Nebukadnesar se goue beeld moes aanbid.
    Ook die Ou Testamentiese verbondsvolk was so 'n monolitiese, sakrale gemeenskap. Wat die godsdiens betref, was daar geen sprake van 'n vrye keuse nie.

•    Dis hulle sakralistiese denke wat die Jode van Jesus se dag in 'n krisis gedompel het oor die betaling van belasting aan 'n heidense Romeinse keiser. Toe hulle Jesus in 'n strik wou lei, het hulle Hom gevolglik gevra of Hy dink dis geoorloof om dit te doen (Mt 22:15-22). Maar die Here se antwoord is vol betekenis: "Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort." Die implikasie is duidelik: hier is twee afsonderlike lewenssfere wat mens uitmekaar moet hou; trouens, jy moenie dit laat vervloei nie.

•    Die Nuwe Testament, in die besonder die Here Jesus, het dus 'n radikaal nuwe idee in die wêreld van destyds ingedra. Wat vandag vir ons voor die hand liggend en alledaags is, was tóé rewolusionêr. Niemand het ooit vantevore godsdiens en owerheid só van mekaar geskei nie.
    Die gemeenskap is 'n samestelling van verskillende belangegroepe en lewenssfere. Dit is nie homogeen nie, maar heterogeen. Almal hoef nie in dieselfde tempel te aanbid nie. En al verskil twee mense religieus soos dag en nag, kan hulle rustig en in vrede op die markplein met mekaar handel dryf.
    Die samelewing is dus 'n gemeenskap waarin keuse ingebou is. Die voor-Christelike wêreld was voor die voet feitlik keuseloos. Maar die Nuwe Testament bring 'n totaal nuwe orde. Die samelewing bestaan uit twee groepe mense: hulle wat aan die Here behoort, en die res. So praat Mt 7 byvoorbeeld van twee poorte, twee paaie, twee huise, twee fondasies, twee bestemmings.
    Oor en oor vind ons hierdie radikaal nuwe beklemtoning in die lering van die Here Jesus.
    Sy dissipels is ín, maar nie ván die wêreld nie.
    Sy dissipels is die sout van die aarde. Sout is totaal anders as die vleis wat dit moet bewaar; en tog werk dit net as daar intieme kontak is.
    In die gelykenis van die onkruid tussen die koring (Mt 13:24-30), groei die onkruid tot en met die oesdag sy aan sy met die koring.

•    Die grens tussen koninkryksburgers en wêreldlinge loop regdeur gesinne en families: Jesus het gekom om tweedrag te bring "tussen 'n man en sy vader en tussen 'n dogter en haar moeder, tussen 'n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, 'n man se huismense sal sy vyande wees" (Mt 10:35-36).
    Waarlik, die Here Jesus het gekom om 'n nuwe mensheid midde-in die ou mensheid te skep  -   vreemdelinge, bywoners en pelgrims in hierdie wêreld.
    Die vroeë kerk het dit verstaan. Diognetus skryf: "Hulle bewoon die land van hulle geboorte, maar as bywoners en reisigers; hulle neem aan alles as burgers deel, maar beleef dit tog soos besoekers. Elke vreemde land is vir hulle soos 'n vaderland, en elke vaderland soos 'n vreemde land. Hulle woon op aarde, maar hulle burgerskap is in die hemel."

•    Die grootste enkele rede vir die vervolging van Christene in die eerste eeue deur die Jode en die Romeine, is die feit dat sakrale stelsels geen vreemde boodskap kan duld nie. Dit bedreig die kulturele en godsdienstige homogeniteit.
    Die idee agter al die godsdienste wat vanuit die mens ontwikkel, is "do ut des": ek gee sodat jy sal gee. Mens dien dus die gode sodat hulle op hulle beurt weer na jou sal omsien.
    Nou volg dit noodwendig: godsdienstige afvalligheid vertoorn die gode en lei gevolglik tot straf. Natuurrampe en ander katastrofes beteken daarom dat die gode kwaad is. Volgens die Romeine het die Christene  - "ateïste"  deur hulle genoem  -  die gode uitgedaag. En, is geredeneer, as sodanig was die Christene se godsdienstige jukskeibrekery die oorsaak van min of meer alle rampe. Om sulke mense te vervolg, paai dus die gode en het as sodanig versoeningswaarde.

Slot

Kom ons hou vir eers hier op. Dan gaan ons DV volgende week verder. Dit sal goed wees as u die fundamentele beginsels wat ons aangesny het sal weeg en goed sal deurdink. Die waarhede wat ons hier aansny is van fundamentele belang. 'n Duisend ellendes in die kerk sou uitgeskakel word as alle Christene hierdie beginsels onder die knie sou hê.

                                                                                                             Nico van der Walt

*    Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.
*    Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115.   E: nico.vanderwalt@reformed.org.za Tel. 011 476 2907; 082  848 9396.
*    Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
*    Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
*    Geen kopiereg.    Dupliseer gerus.    Of stuur elektronies verder.
*    Preekopnames: E: info@nunide.org.za ;  T: 012-808 3906

E-PREEK No. 239 - RM 13:1-7 - 'N EEUOUE MISTASTING [2]

Laas het ons na die kerkgeskiedenis gekyk. Nou kyk ons na 4 beginsels uit Rm 13 voordat ons ‘n paar konkluderende opmerkings maak.

1.    Alle regerende gesag word deur die soewereine God daargestel (Rm 13:1).
God is die oorsprong van alle menslike gesag. Dit geld uiteraard ook vir staatsgesag.
    Hierdie is 'n hoogs betekenisvolle stelling van God se Woord, veral as mens in ag neem vir wie dit geskryf is. Die Romeinse Christene was onder die hiel van 'n goddelose en heidense regering  -  wat deur gewelddadige verowering en onderwerping aan bewind gekom en gebly het, en diktatoriaal sy onderdane op hulle plek gehou het. Hulle was korrup, en het almal vervolg wat van hulle verskil het  -  in die besonder die gemeente van Christus.
     Die vraag is dus nie of die regering onder wie ons ons bevind de jure, oftewel wettig is nie. Die Bybel praat van alle de facto regerings, diegene wat op ‘n gegewe moment aan die stuur van sake is, ongeag hoe hulle aan bewind gekom het.
    Beteken dit dat Christene 'n klomp ruggraatlose papperds moet wees wat maar passief alles aanvaar wat oor hulle kom. Inteendeel! Dit gaan hier daaroor dat Christene weet dat die eintlike koninkryk waaraan hulle behoort nie van hierdie wêreld is nie, en dat die uitlewing van hulle roeping hier op aarde grootliks onafhanklik is van wie op 'n gegewe moment op die wêreldse troon sit. Die Here gebruik wie Hy wil om die gevalle mensheid in bedwang te hou en te stuur soos Hy wil. En Sy gemeente gaan onverstoord voort met hulle dien van die Here en die uitdra van die evangelie.
    Hieruit moet ons nie aflei dat Christene hoegenaamd nie by politiek betrokke behoort te raak nie. Nee, die Here het orals getuies en instrumente nodig, en Hy lei gewis van Sy kinders om ook daar hulle lig te laat skyn. Wat wel waar is, is dat 'n Christen tweemaal sal dink voordat hy hom in die politiek begewe. Dit is per slot van rekening 'n uiters gevaarlike omgewing vir die gelowige, en 'n lewe van dissipelskap kan daar baie, baie moeilik en ingewikkeld wees.
    Dit is baie betekenisvol dat die vroeë Baptiste, wat baie swaar gekry het onder die hiel van die owerhede, ronduit bely dat dit in orde is vir 'n Christen om ‘n "magistraat" te wees  -  'n term wat alle politieke ampte dek (1689 Baptistebelydenis, h.24, par. 2).

2.    Die taak van 'n regering is om behoorlike orde te handhaaf daar waar hy verantwoordelik is (Rm 13:3, 4, 6).
Elke ingestelde outoriteit het uiteraard sy eie gesagsfeer. Daar is hy verantwoordelik, nie wyer nie. Gesag en toerekeningsvatbaarheid loop altyd hand aan hand, en noodwendig kan niemand aanspreeklik gehou word vir dit wat buite sy gesagsgrense gebeur nie. Dit geld orals, of dit nou die werksplek is, of die gesin, of die gemeente, of die samelewingsowerhede. 'n Eenvoudige voorbeeld sal dit duidelik maak. 'n Man is hoof van sy gesin, en as sodanig verantwoordelik vir wat sy gesinslede doen (tensy hy kan aantoon dat dit sondwer sy wete gedoen is). Maar hy is nie verantwoordelik vir wat sy buurman se kinders aanvang nie.
     Die staatsowerhede  -  wat in ons teks ter sprake is  -  moet sosiale en burgerlike geregtigheid, vrede en orde handhaaf. Hierdie taak het twee kante. Positief moet hulle dit wat sosiaal en burgerlik goed en reg is, bevorder en verdedig. Negatief moet hulle ongeregtigheid, misdaad en geweld bekamp.
    In Rm 13 is daar 'n sterker beklemtoning van die negatiewe. Terwyl 'n regering vryheid en lewensruimte vir sy burgers moet verseker, doen hy dit grootliks deur die kragte van selfvernietiging en wanorde in 'n gevalle wêreld te bedwing  -  dinge soos misdaad, anargie en rebellie. Dit is dus in Sy algemene genade dat God regerings instel.
    Soos wat regerings hulle opdrag uitvoer, skep hulle 'n konteks waarbinne die raadsplan van God sy loop kan hê  -  'n kanaal daar waarin die koms van die koninkryk kan vloei en bly vloei (1Tm 2:1-2).
    Uiteraard het 'n regering baie geld nodig om sy taak te verrig. En aangesien die owerhede in God se diens staan, beveel Hý ons om ons belastings getrou te betaal  -  nie net inkomstebelasting nie, maar ook alle ander vorms daarvan, soos B.T.W., lisensies, tolgelde, eiendomsbelasting, ens.
    Dit word spesifiek deur ons teks (6, 7), asook ander gedeeltes in die Nuwe Testament  beklemtoon (Mt 22:15-22; Mk 12:13-17; Lk 20:19-26).

3.    Die mag van die swaard word aan regerings verleen om hulle in staat te stel om goeie orde te handhaaf (Rm 13:4)
Die Skrif is duidelik dat die staat 'n Godgegewe reg het om dwang te gebruik. Die Here weet dat hy sy taak in 'n sondegevalle wêreld moet volbring.
    Die voorwaarde vir goeie orde in 'n samelewing is onderlinge respek en konsiderasie, maar die gevalle mens is ongeneeslik selfsugtig. Helaas, wat baie mense betref, is méér dus nodig as opvoeding en suggestie. 'n Ferm en sterk hand van afdwinging is noodsaaklik.
    Wanneer nodig kan die staat se mag van dwang uiterste vorms aanneem. Die "swaard" in v.4 is meer as 'n simbool van gesag; dit dui op die mag van lewe en dood. Die algemene manier destyds om die doodstraf te voltrek, was onthoofding met 'n swaard (nogal ironies dat die skrywer hiervan só gesterf het).

4.    Dit isGod se opdrag dat alle mense hulle moet onderwerp aan die owerhede wat oor hulle gestel is (Rm 13: 1, 5b).
Die woord "onderwerp" (1) impliseer dat die verantwoordelikheid vir 'n ordelike samelewing in die eerste instansie by elke individuele burger lê  -  en wel daarin dat hy "homself onder die owerheid plaas" (die letterlike betekenis van die woord). Christene neem hierdie roeping uiteraard ernstig op.
     As 'n Christen homself, sover dit enigsins moontlik is, aan selfs 'n heidense owerheid onderwerp, impliseer dit ten minste 2 dinge:
    Eerstens sê dit dat hy 'n respek het vir God se instelling. As sodanig bring hy hulde aan die groot en soewereine Wetgewer.
    Tweedens lewer dit 'n getuienis teenoor die wettelose en gevalle wêreld.
    Dit beteken nie dat 'n Christen se gehoorsaamheid aan die owerheid ongekwalifiseerd is nie. Soos alle menslike gesag, is ook hierdie gesag relatief. Daar is bepaalde grense wat regerings nie mag oorsteek nie. Wanneer is burgerlike ongehoorsaamheid geregverdig? As die regering iets beveel wat God in Sy Woord verbied; en as hy iets verbied wat God in Sy Woord gebied. (Hd 4:19; 5:29, 40-42).
    Die Bybelse aksent is egter op onderwerping, eerder as op die reg tot ongehoorsaamheid.
    Les bes moet ons gesindheid teenoor die owerhede nie net passief wees nie, maar ook aktief: ons word beveel om vir hulle te bid (1Tm 2:1-2).

'n Aantal konkluderende opmerkings
1.    Sowel kerk as staat is instellings van God.

2.    Kerk en staat word egter geroep om in verskillende sfere in God se diens te wees.
    Die kerk werk in die area van God se besondere genade: aanbidding, evangelieverkondiging, pastorale sorg, ensomeer.
    Die staat werk in die area van God se algemene genade. Dit moet sover moontlik menslike verdorwenheid weerhou om tot totale ontbinding te ontaard. En dit moet goeie orde in die samelewing handhaaf, sodat dit leefbaar bly in 'n gevalle wêreld.

3.    Beide instellings het van God 'n swaard ontvang om sy taak te verrig.
    Die staat het 'n swaard van staal; die kerk die swaard van die Gees. En nooit, maar nooit, mag hierdie twee swaarde omgeruil word nie.
    Die gevalle mens verstaan bloedweinig  -  eintlik niks  -  van die swaard van die Gees (1Kor 2:6-16).
    En elke keer as die kerk die swaard van staal opneem, is dit grootliks tot oneer van God. In elk geval kan geen uiterlike dwang 'n ware Christen voortbring nie. Die swaard van staal kan oor 'n mens se liggaam heers, nooit oor sy gees nie.
    Aanbidding, om vir God aanneemlik te wees, moet uit die mens se hart kom. Gedwonge verering sal Hom tot in ewigheid nie behaag nie. Meer nog, die kerk verloor sy essensie  -  hy raak tewens antagonisties daarteen  -  as sy voorskrifte tot wette verhef word vir hulle wat net gebore en nie ook wedergebore is nie.
    Slegs die Gees van God kan die mens se hart verander en beheer  -  en Hy doen dit deur die Woord van God. En die staat moet dit respekteer. Daarom mag die regering mense se gewetens en godsdiens nooit met die swaard probeer beheer nie  -  ongeag hoe verwronge en vals dit ook al mag wees. Hy moet bloot die ruimte daarvoor daarstel.

4.    Die ware kerk het geen behoefte aan 'n vennootskap met die staat nie; hy vermy dit trouens ten alle koste.
    Die skeiding tussen kerk en staat is 'n nie-onderhandelbare beginsel.
    Sekerlik sal die kerk nooit vervolging soek nie, maar eerder as om kompromie aan te gaan wat bogemelde betref, sal hy eerder vervolging verduur. En betekenisvol is dit dat vervolging, pynlik soos dit mag wees, feitlik sonder uitsondering die kerk soos 'n wingerdstok onder 'n snoeiskêr laat gedy.
    Dit beteken dat die staat se vyandskap die gemeente van Christus nooit in die diepste sin van die woord kan bedreig nie. Dit kan bloot die konteks verander waarin hy sy roeping moet vervul.

5.    Tog leer die Skrif nie dat die staat en die kerk niks met mekaar te doen het nie.
    Die kerk skep nie kultuur nie, maar dit beïnvloed kultuur - en politiek is 'n belangrike deel van ‘n samelewing se kultuur (ruim beskou) of etos.
    Waar die evangelie ook al verkondig word, daar raak die samelewing gemeng, bestaande uit diegene in Christus en diegene steeds  in Adam. Daarom kan daar nie iets soos 'n Christelike kultuur wees nie (as kultuur dan die erfenis en karakter van 'n samelewing in sy geheel is). Daar kan slegs 'n kultuur wees waar die evangelie se invloed tot 'n meerdere of mindere mate waargeneem kan word.
    Nooit plaas die Nuwe Testament 'n sogenaamde Christelike kultuur teenoor 'n heidense kultuur nie. Dit leer dat die kerk en sy evangelie 'n suurdeeg is in enige kultuur en dit bloot beïnvloed. Die Christen en evangelie sing dus bloot saam met al die ander stemme in die kultuurkoor.
    Hieruit volg dat die kerk die evangelie positief moet verkondig, en uiters versigtig moet wees om as kerk enige politieke verklarings te maak. Waarskynlik is dit die heel beste as hy hom geheel-en-al daarvan weerhou. Nee, die kerk se spreke word gehoor in die stemme van sy lidmate in hulle hoedanigheid as burgers met godvrugtige waardes en oortuigings.

                                                                                                            Nico van der Walt
*    Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.
*    Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115.   E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 011 476 2907; 082  848 9396.
*    Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
*    Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
*    Geen kopiereg.    Dupliseer gerus.    Of stuur elektronies verder.
*    Preekopnames: E: info@nunide.org.za ;  T: 012-808 3906