Monday, July 16, 2012

E-PREEK No.223 - JH 13:34-35 - 'N UITNEMENDE MERKTEKEN VAN KERKWEES

Met hierdie verse gaan dit soos met meeste van die bekende Skrifgedeeltes: kindertjies kan dit opsê, maar onder die grootmense is uitlewing daarvan baie skaars.
    Die gewigtigheid van hierdie opdrag kan ons beswaarlik oorbeklemtoon. Ons móét dit eenvoudig goed verstaan en die ononderhandelbaarheid van gehoorsaamheid daaraan op ons harte grafeer.

Inleiding

Jesus en Sy dissipels is in die bovertrek. Net Sy geliefde binnekring is saam met Hom. Selfs Judas Iskariot het so pas finaal vertrek (13:30).
     Vroeër, met die opklim na die bovertrek toe, het die dissipels onder mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is (Lk 22:24-30). Toe het Jesus tot hulle konsternasie en skaamte soos 'n nederige slaaf almal se voete gewas  -  om simbolies vir hulle te wys hoe Hy hulle gaan dien in die aflegging van Sy lewe vir hulle.
    En nou kom Hy met hierdie uitspraak. Daarin verdien ten minste 4 dinge ons aandag en ons sal agtereenvolgens daarna kyk.

Wat bedoel Jesus as hy van 'n nuwe gebod praat?

Van die vroegste tye af het die Here se volk al Sy liefdesgebod: mens moet jou naaste liefhê soos jouself (Lev 19:18).
     Die nuutheid híér in die Nuwe Testament sit in die kwalifikasie: "... soos Ék julle lief gehad het ...".
    Jesus roep Sy dissipels dus hier tot 'n selfs dieper liefde as die Ou Testament  -  nie bloot 'n liefde soos vir jouself nie, maar 'n lewensafleggende liefde, soos Hy net die volgende dag sou demonstreer.
    Daar is twee woorde in Grieks wat ons met "nuut" vertaal. Die een dra die idee van resentheid (Gr. neos)  -  soos 'n splinternuwe pak klere wat jy gister gekoop het. Maar die woord wat Jesus hier gebruik, dra die idee van varsheid (Gr. kainos)  -  soos 'n pak klere wat jy laat droogskoonmaak het.
    Jesus bedoel dus nie hier dat dit 'n gebod is wat nog nooit vantevore gegee is nie. Wat Hy sê, is dat Hy 'n vars en dieper kwaliteit en dimensie daaraan verleen.

Die dissipels se onderlinge liefde

Dis uiters belangrik om raak te sien dat hierdie nie 'n ongekwalifiseerde oproep is nie. Inderdaad moet ons ons naaste  -  dus alle mense met wie ons te doen kry  -  soos onsself liefhê, maar híérdie lewensafleggende liefde is bedoel vir die onderlinge verhoudinge van Jesus se dissipels. Onthou, dis net die intieme dissipelkring wat hier saam met Jesus is. Hulle moet "mekaar" so liefhê. Presies hieroor kan dit dien as onderskeidende karaktertrek. Hieraan kan mens Jesus se dissipels herken.
     Heeltemal tereg beklemtoon ons weer en weer dat ons as gemeente nie van ons roeping teenoor die wêreld om ons moet vergeet nie. Maar daar is ook so iets soos 'n heilige na-binne-gekeerdheid, wat ons nooit mag verwaarloos nie. My broers en susters geniet voorrang bo alles en almal daarbuite! (Gl 6:10: "Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.")
    Die liefde waarvan die Here Jesus hier praat, skep dus 'n gespierde onderlinge lojaliteit en verknogtheid in 'n gemeente.

'n Baie spesifieke soort liefde

In die Griekse taal was daar destyds verskeie woorde wat ons met "liefde" sou kon vertaal. Die woord in ons teks is skaars in buite-Bybelse Grieks (Gr. agape, die selfstandige naamwoord; en agapao, die werkwoord).
    Mens sou verbaas kon wees oor die begrip wat Johannes in Jesus se mond lê (die Here en Sy dissipels het natuurlik Aramees met mekaar gepraat). Die woord philia (snw.) was dalk die mees voor die hand liggende begrip. Dit was immers 'n woord met 'n pragtige betekenis: die liefde van toegeneentheid, verknogtheid en kameraadskap  -  van 'n innige vreugde in die persoon wat jy liefhet. Dit word byvoorbeeld gebruik vir die liefde tussen ouers en kinders (Mt 10:37), vir Jesus se liefde vir Lasarus (Jh 11:3, 36) en ook vir die Here se aangetrokkenheid tot die geliefde dissipel, Johannes (Jh 20:2).
    Die begrip in ons teks adem egter nie hierdie warmte nie. Omdat die Nuwe Testament hierdie woord grootliks gebruik, het dit sedertdien wonderlik veredel, maar in die eerste eeu was die gebruik daarvan baie verrassend. Waarom hierdie woord? Die antwoord is hoogs betekenisvol.
    Die ander Griekse woorde het almal op een of ander manier te doen met hartsbelewing. Maar agape het primêr te doen met die verstand. Dis nie 'n opwelling van gevoel nie, maar 'n besluit van die wil.
    Om jou vriende oor wie jy mal is, lief te hê, is hoegenaamd nie verkeerd nie. Dit het, trouens, Nuwe Testamentiese mandaat. Jesus het so liefgehad. Maar so 'n liefde is op sigself nie agape nie; dis philia.
    Agape gebeur wanneer ek 'n wilsbesluit neem  -  soos die Here Jesus as Hy Homself aan die kruis oorgee  -  om myself te verloën en in belang van ander op te tree, ongeag enige liefdesemosies of voordeel vir my.
    My emosionele belewing  -  wat daar mag wees, maar nie hoef te wees nie  -  is glad nie ter sake nie. Natuurlik is philia en agape gewoonlik saam teenwoordig in 'n liefdesdaad  -  maar agape het nie nodig dat philia sy hand vashou as hy sy ding doen nie. In navolging van Jesus doen agape sonder meer wat reg is. Hy omarm onaangename, selfs afstootlike broers en susters in die Here; hy bemoedig, ondersteun en vergewe; hy wend sy vermoëns en bronne aan om mede-dissipels voort te help in hulle navolging van die Here.
    Binne die gemeente word elke dissipel dus 'n slaaf wat sy lewe neerlê vir Jesus se bemindes  -  omdat dit reg is, nie omdat dit lekker is nie.
     By die beoefening van agape is my hele menswees betrokke  -  nie net my emosies, soos in die geval van philia nie. My hart brand in my  -  nie noodwendig vir die betrokke broer of suster nie, maar vir die Here wat Sy lewe vir my neergelê het. Hóm wil ek behaag en verheerlik. My rede beoordeel die situasie en kom tot 'n slotsom met betrekking tot my mede-dissipel se beswil. My wil neem 'n kwaliteitsbesluit en gaan dan deur daarmee ongeag die implikasies vir my.
    As mens só dink oor Christelike liefde, strooi dit sout op drie slakke wat gedurig kop uitsteek oor hierdie saak.

•     Anders as wat baie mense dink, is agape-liefde onmoontlik vir ongelowiges. Slegs mense wat deur die Heilige Gees beheers word, kan hoegenaamd iets daarvan in hulle lewens tot uitdrukking bring. Ware agape is totaal onnatuurlik. Net Goddelike bekragtiging kan jou daartoe in staat stel.
    Dis waarom ons hier 'n onfeilbare watermerk van dissipelskap-egtheid het  -  dit kan nie geveins word nie.

•     Agape maak dit onmoontlik vir huigelaars om lank in 'n ware gemeente uit te hou. Hierdie liefde is hoegenaamd nie sentimenteel nie. Dit beoordeel elke situasie en tree nugter op in 'n betrokkene se belang. Dis waarom die Skrif byvoorbeeld sê as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie (2Ts 3:10)  -  want agape weier om 'n oortreder van die vierde gebod in sy kwaad te sterk en hom só verder die afgrond in te help (Eks 20:9).

•     Dis onnodig om veroordeel te voel as my hart nie oorloop van emosie en welwillendheid en toegeneentheid wanneer ek agape-liefde teenoor 'n broer of suster betoon nie (wenslik soos dit is). Of my hart brandende is om die Hére te behaag en te verheerlik, is die eintlike vraag Natuurlik praat ons nie van morrende en iesegrimmige dienswerk nie. Dit sou noodwendig 'n simptoom wees van 'n onaanvaarbare hartsgesteldheid voor die Here  -  en as sodanig van my 'n huigelaar maak. Maar vir die ontvanger van my agape-liefde hoef my hart nie altyd van empatie en hartstog te smelt nie.

Die uitnemende watermerk van egtheid

In die ure voor die kruisiging was die voortgaande liefdeswelsyn van Sy dissipels kennelik voorop in die Here Jesus se gedagtes.
    In Sy hoëpriesterlike gebed bid Hy: "Ek bid dat hulle almal een mag wees, ... sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. ... Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het ..." (Jh 17:21; 23).
    Die eenheid waarvoor Jesus hier bid, is nie die gejaag na wind van die ekumeniese beweging nie. Nee, Hy bid vir die eenheid van onderlinge agape-liefde en diensbaarheid. Dít  -  anders as bloot organisatoriese eenheid  -  kan ongelowiges nie namaak nie. Dít beïndruk 'n selfsugtige wêreld. Dít oortuig dat die Seun deur die Vader gestuur is.
    Presies dit is wat die Here Jesus vroeër daardie aand op Sy dissipels se harte gedruk het.
    Talle dinge is natuurlik waar van 'n ware Christen. Baie daarvan kan deur die wêreld nagemaak word.  Maar as daar één watermerk van egtheid is wat geen swendelaar in die gemeente kan namaak nie, dan is dit agape-liefde. Het jy dit, is jy 'n dissipel; het jy dit nie, is jy 'n huigelaar. As die Woord ons oproep om onsself te ondersoek of ons waarlik in die geloof is, is hierdie een van die heel belangrikste lakmoestoetse wat ons moet aanlê.
    Hier, presies net hier, lê die verskil tussen diegene wat aan die linkerkant, en diegene wat aan die regterkant van die hemelse Regter gaan staan.
    "Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: 'Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?' En die Koning sal hulle antwoord: 'Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.'" (Mt 25:37-40).
    Ongelowiges wat die kerk van die Here probeer afkraak op grond van die liefdeloosheid van lidmate, het nie grond onder hulle voete nie. Volgens ons teks is sulke liefdelose mense nie regtig deel van die Here se gemeente nie  -  en Hyself distansiëer Hom van hulle. Hulle is nie Sy dissipels nie. Ja, hulle mag deel wees van die institusionele kerk, maar ware kerk het jy net dáár waar die lidmate hulle lewens in onderlinge agape-liefde vir mekaar neerlê.

Slot


Wat sê buitestaanders oor my en jou gemeentes?  - sê maar kritiese wêreldlinge? Onthou, hulle het mandaat van die Here om nie net ons filia-liefde te beoordeel nie, maar veral ook ons agape-liefde. Is hulle slotsom dat ons ware dissipels van Jesus is?
    Ek glo ons het baie filia-liefde. Maar wat agape-liefde betref, is daar gewis baie ruimte vir groei, nie waar nie! Ja, ons kan nooit Jesus se volmaakte standaard bereik nie, maar Hy bly ons norm. Hier het ons 'n lewenslange uitdaging! Mag die Here ons help om toenemend te wys dat ons Sy dissipels is!

                                                                                                             Nico van der Walt